Vinnige feite

  • Rykie van Reenen was die eerste vroulike joernalis wat dit kon regkry om in die algemene nuusafdeling van ’n Suid-Afrikaanse koerant aangestel te word.
  • Sy het twee boeke oor die Britse aktivis Emily Hobhouse geskryf.
  • Van Reenen is op verskeie maniere vir haar skryfwerk vereer en het onder meer die Scheepers-pyrs vir Jeuglektuur en die Recht Malan-prys vir Niefiksie ontvang.
  • Sy is in 1973 bevorder tot assistentredakteur van die Sondagblad In daardie stadium was dit die mees senior pos wat ’n vrou nóg in die Suid-Afrikaanse media beklee het.
  • Lizette Rabe se boek Rykie: ’n lewe met woorde is in 2011 deur Tafelberg uitgegee en is ’n omvattende biografie oor dié skrywer se lewe.

Daar was ’n tyd – ja, dit is moeilik om dit vandag te glo – toe vroulike joernaliste net oor ditjies en datjies, troues en verlowings kon skryf. Afrikaanse koerante was geskryf deur die mans, vir die mans … en toe kom Rykie van Reenen en keer die wêreld van Afrikaanse koerante op sy kop! Van Reenen het met haar fokus op mense, fyn sin vir humor en haar vermoë om stories te vertel, ’n pad vir haarself én vroulike joernaliste ná haar oopgeskryf. Sy is al beskryf as “die grootste joernalis van die vorige eeu”, 1 maar wie was hierdie skrywer?

Grootwordjare en die plaaslewe

Rykie van der Bijl (gewoonlik gespel van der Byl) van Reenen is op 31 Desember 1923 op die plaas Waterkloof in die Darling-distrik 2 gebore. Darling is sowat 70 km noord van Kaapstad, in die Wes-Kaap, geleë. Die klein babadogtertjie is na haar ouma aan moederskant, Rykie Hester van der Bijl, vernoem.

Darling, Wes-Kaap

Van Reenen se pa, Daniel Jacob Samuel van Reenen, se noemnaam was “Dan”. Hy het met skape en beeste geboer, graan geplant en selfs ’n wingerd op Waterkloof gehad – ’n plaas wat al geslagte lank in die familie se besit was. 3 Van Reenen was haar ouers se enigste kind. Haar bababoetie is met geboorte dood en kort daarna is haar ma, Hester (Hetta), op 15 Maart 1925 oorlede. Klein Rykie was maar net 14 maande oud.

Die tragedie het die Van Reenen-familie diep getref en daar is besluit om Van Reenen na haar ma se familie in die Paarl te stuur. In Januarie 1927 trou Dan weer, hierdie keer met Hetta se sussie, Elizabeth Antoinette (Bettie) van Velden. 4 Hoewel Dan blykbaar getrou het om “vir die klein dogtertjie ’n ma te gee”, het Van Reenen en haar stiefma nie ’n baie intieme verhouding gehad nie. Van Reenen en haar pa se verhouding was egter baie sterk. Alba Bouwer, ’n vriendin van Van Reenen en ook ’n bekende joernalis en skrywer, het Dan beskryf as “held nommer een in Rykie se lewe”. 3

Van skool tot universiteit en uiteindelik die koerant

Van Reenen het aan die Hoër Meisieskool Malmesbury gematrikuleer en verwerf in 1943, op 20-jarige ouderdom, ’n graad in tale aan die Universiteit van Stellenbosch. Agtien maande later het sy haar meestersgraad behaal.

Hoofgebou van die Universiteit van Stellenbosch

As jong meisie het Van Reenen nie ’n beroep in die joernalistiek oorweeg nie, en dié beroepskeuse het uiteindelik heel toevallig gebeur. In 1943 moedig Marcha Schoeman, ’n koshuismaat by Huis ten Bosch-koshuis, Van Reenen aan om by haar (Schoeman) oor te neem as Die Burger se universiteitskorrespondent. 3 ’n Korrespondent is iemand wat oor ’n spesifieke plek of onderwerp, soos die universiteit, nuusberigte skryf. Van Reenen het dus nuusgebeure by die universiteit bygewoon en dopgehou en dan vir die dagblad Die Burger daaroor geskryf.

In hierdie tyd het Van Reenen die destydse redakteur van Die Burger, A.L. Geyer, so beïndruk met haar skryftalent dat sy in April 1945 by dié koerant aangestel is. Hier het Van Reenen saam met Schoeman in die vroueredaksie van Die Burger gewerk. In daardie dae was daar nog nie veel vroulike joernaliste by koerante nie en dié wat wel daar gewerk het, het vir die vroueblad geskryf. Die vroueredaksie is dikwels die “ghetto” genoem. 5 ’n Ghetto is gewoonlik ’n krotbuurt waar minderbevoorregtes van veral ’n minderheidsgroep ingevolge wetgewing moet bly. Wanneer daar na die vroueredaksie as die “ghetto” verwys is, beteken dit dat daar gewoonlik neergesien is op dié afdeling van die koerant, asof hierdie afdeling en dus ook die vroue wat daar gewerk het, minderwaardig is.

By Die Burger was Van Reenen en Schoeman verantwoordelik vir berigte in die sosiale rubriek getiteld “In gesellige luim”. In dié afdeling is geskryf oor troues, troues en nogmaals troues! Die bruid, bruidegom, gevolg en gaste is in besonderhede beskryf. Dit was dalk nie die opwindendste afdeling vir joernaliste om te skryf nie, maar Van Reenen het dit reggekry om op ’n oorspronklike manier oor dié sosiale gebeure te skryf. 3

Van Reenen se pen was vlymskerp. ’n Trouberig oor ’n dubbele troue van twee susters is op dié pittige manier begin: “‘My naam is Abraham. Ek kan dus natuurlik nie weier om my dogters af te staan aan ’n Isak en ’n Jacob nie,’ het ’n trotse pa by die bruilof van sy twee dogters gesê.” 3

Al kon Van Reenen dit regkry om die een sosiale geleentheid na die ander interessant aan te bied vir die lesers, het sy na meer gesmag. “Naderhand was ek só verveeld, ek lees filosofie onder die bank … en bo-op tik ek,” het sy later vertel. 5

Van Reenen “ontsnap” uit die ghetto

Daarna gebeur iets wat nog nooit tevore in die Afrikaanse media gebeur het nie – ’n vrou is vir die heel eerste keer geskuif van die vroueredaksie na die algemene nuusredaksie. Rykie van Reenen het hiermee die heel eerste vroulike joernalis in Suid-Afrikaanse geskiedenis geword om haar loopbaan by die algemene nuusafdeling van ’n Suid-Afrikaanse koerant voort te sit.

Die bekende Afrikaanse skrywer – en toevallig ook Van Reenen se leermeesterM.E. Rothmann (beter bekend as M.E.R.), was die eerste professionele vroulike joernalis in Suid-Afrika, maar sy het net op die vroueblad gewerk. Van Reenen het met hierdie skuif die weg vir soveel vroulike joernaliste ná haar gebaan om ook as joernaliste op enige gebied te kan werk. Sy het in byna elke afdeling haar skryftalent geslyp en geskryf oor algemene nuusgebeure, sport, kuns en selfs in die afdeling wat op kinderlesers gemik is (Die Klein Burger).

M.E.R.

Terwyl sy by Die Burger gewerk het, kry Van Reenen vir die eerste keer die kans om bydraes vir die rubriek “Van alle kante” te skryf. ’n Rubriek is ’n spesiale tipe artikel wat in koerante en tydskrifte voorkom wat gewoonlik deur ’n spesifieke skrywer geskryf word en waarin die skrywer sy of haar eie opinie oor sake kan gee, nuus kan ontleed of selfs vermaak kan verskaf. 6 Dit is soortgelyk aan ’n blog wat skrywers deesdae aanlyn plaas.

Van Reenen het vanaf 1960 “Van alle kante” oorgeneem, en toe sy in 1965 as deel van die eerste redaksiespan by die nuwe Sondagkoerant Die Beeld aangestel is, het sy die rubriek “Op die randakker” geskryf. (Moenie die Sondagkoerant Die Beeld met die latere dagblad Beeld verwar nie! Beeld bestaan vandag nog. Die Beeld het in 1970 met ander koerante saamgesmelt om Rapport te vorm.) 7 Sy het 14 jaar lank “Op die randakker” geskryf en dit ook by Rapport voortgesit. 5 Haar rubrieke was so gewild dat die bestes in 1980 in die bundel Op die randakker uitgegee is. Hierdie rubriekreeks is selfs as die koerant se “geheime wapen” bestempel en het mense die koerant soos soetkoek laat koop. 5

Van Reenen die boer

Op 29-jarige ouderdom het Van Reenen sowat tien jaar lank op Waterkloof gaan boer (die eerste vyf jaar voltyds en daarna deeltyds). 3 Haar pa is op 21 Junie 1953 oorlede 8 en sy het besluit om die leisels van die boerdery oor te neem. Om “die leisels te neem” beteken om iets te bestuur, leiding te neem of te regeer. Sy het verantwoordelik gevoel om die boerdery ná haar pa se dood oor te neem, en hoewel dit nie moeilik was nie, was dit baie harde werk. Sy was so erg oor die diere dat sy selfs “gehuil [het] as die skape se wol verkoop moes word”! 3

Tussen die boerdery deur het Van Reenen steeds op ’n vryskutbasis geskryf. Uiteindelik moes sy besluit – is sy ’n boer of ’n skrywer? Hoewel dit vir haar moeilik was om die besluit te neem – veral aangesien dit Van Reenen se laaste band met haar pa was ­– het sy uiteindelik in die vroeë 1960’s die familieplaas verkoop om weer voltyds as joernalis te gaan werk. Hierdie keer het sy aangesluit by die room van Afrikaanse joernaliste wat gekies is om die beginredaksie van die nuwe koerant Die Beeld te vorm. 3

Van Reenen tree af

Gedurende Van Reenen se loopbaan as joernalis het sy daarin geslaag om uit die spreekwoordelike ghetto van die vroueredaksie te ontsnap; sy het haar gevestig as ’n uitsonderlike joernalis wat oor byna enige onderwerp kon skryf; sy was ’n gerekende rubriekskrywer; en is selfs in 1973 tot assistentredakteur van Rapport bevorder. Sy was die eerste vrou om tot op hierdie senior vlak in ’n Suid-Afrikaanse media-instelling te vorder. Boonop het Van Reenen ook gereeld waargeneem as redakteur van dié koerant. 2

In 1980, toe Van Reenen maar 56 jaar oud was, besluit dié gesoute joernalis egter om af te tree. Sy verlaat Johannesburg en trek Kaap toe. Sy het toe reeds die vroeë tekens van meervoudige sklerose (MS) getoon. In die eerste jaar ná haar aftrede skryf sy nog oor kerksake vir die Afrikaanse koerante, maar laat vaar dit ook later. 3

Teen 1988 trek sy na Yzerfontein, digby haar grootwordwêreld van Darling en die geliefde familieplaas Waterkloof. Haar gesondheid het in die jare daarna agteruit gegaan, en sy sterf op 28 Desember 2003 in haar geliefde “Ysterhuisie”, omring deur geliefdes. 3

Van Reenen die geskiedskrywer

Emily Hobhouse was die onderwerp van twee boeke uit Van Reenen se pen. Dié Britse menseregte-aktivis het gedurende die Anglo-Boereoorlog vir die verbetering van vroue en kinders se omstandighede in die konsentrasiekampe geveg.

Anglo-Boereoorlog

Die eerste boek, Heldin uit die vreemde: die verhaal van Emily Hobhouse, het die eerste keer in 1971 verskyn. Dit het daarna verskeie herdrukke beleef en is in 1971 met die Scheepers-prys vir Jeuglektuur vereer. Die boek is vir jongmense geskryf, maar kenners meen dat dit ook ’n belangrike bydrae tot Suid-Afrikaanse geskiedskrywing in die algemeen gemaak het. 3

Haar tweede boek oor Hobhouse is getiteld Emily Hobhouse: Boer War letters. Dit het in 1984 verskyn en is die volgende jaar met die Recht Malan-prys sowel as die Old Mutual-prys vereer. 2 Dié boek is ’n bundel briewe van Hobhouse. Johannes Grosskopf, in daardie stadium professor in joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch, het dié boek geprys en gesê dat dit “die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing, letterkunde en ons belewing van ons eie samelewing” verryk. 3

Emily Hobhouse

Eerbewyse aan ’n groot skrywer

Benewens die toekennings wat Van Reenen vir haar boeke ontvang het, het die Universiteit van Stellenbosch haar in 1986 met ’n eredoktorsgraad in letterkunde vereer. 3 Vier jaar later, in 1990, is die jaarlikse Rykie van Reenen-huldigingslesing by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) ingestel. (Die lesings is egter ná 1992 gestaak.)

In 1999 word die Rykie van Reenen-genootskap opgestel. Daarmee word ’n senior joernalis vir ’n jaar lank aangestel as dosent in joernalistiekpraktyk by die Universiteit van Stellenbosch se Departement van Joernalistiek. Deur dié aanstelling maak gevestigde joernaliste ’n belangrike bydrae tot die opleiding van jong joernaliste. Bekende joernaliste soos Bun Booyens, Anastasia de Vries en Hannelie Booyens, was al in die verlede as genote aangestel. 3

Hoekom was Van Reenen se skryfwerk so goed?

Sy het geglo dat alle skryfwerk “eintlik oor mense gaan”. 2

Sy kon met deernis oor gewone mense én belangrike mense skryf. (Sy het byvoorbeeld ewe goed oor petroljoggies én politieke leiers geskryf!) 5

Van Reenen kon baie fyn oplet na mense en dinge. 5

Sy het humor in haar skryfwerk ingebring. 5

Sy het hard gewerk om “foutloos” te skryf en soms inleidingsparagrawe van haar rubrieke en artikels tot tien keer herskryf! 5

Van Reenen se ryke lesse as skrywer

Van Reenen het soveel ander joernaliste se skryfstyl onbewustelik beïnvloed en belangrike lesse geleer.

Haar belangrikste lesse was: 5

  1. Minder is mooier (of soos Van Reenen dit genoem het: “Less is more.”)
  2. Mooiskrywery is uit en haal byvoeglike naamwoorde uit.
  3. Skryf net wat noodsaaklik en waar is.

Boeke uit Van Reenen se pen

Gedurende haar loopbaan was Van Reenen die skrywer, samesteller en redakteur van ’n aantal boeke.

Die boeke waarvan Van Reenen die skrywer was, sluit in:

  • Heldin uit die vreemde: die verhaal van Emily Hobhouse (verskyn die eerste keer in 1971)
  • Die wêreld van Jansje Wissema (1976)
  • Op die randakker (1980)
  • Boerneef en sy skilderye: relaas van ’n groot liefde (1987)

Van Reenen was ook die samesteller/redakteur van verskeie boeke.

Die belangrikste is:

  • M.E.R.: familiegesprek – briewe aan haar dogter (met Anna Rothmann as mederedakteur, 1976)
  • Emily Hobhouse: Boer War letters (eerste uitgawe in 1984)
  • M.E.R.: Kom nader, ’n keur uit die werke van M.E.R. (1975)
  • ’n Kosbare erfenis: briewe van M.E.R., 1916-1975 (1977)
M.E.R.

Woordbank

deernis Om jammer te voel oor iemand anders se swaarkry; diep meegevoel en simpatie.
gebaan Om die “weg te baan”, beteken om iets vir die eerste keer te doen en geleenthede vir ander te skep om dieselfde te doen. 9
ghetto ’n Deel van ’n stad waar mense van ‘n sekere groep, dikwels arm of minderbevoorregtes, apart van die res van die stad se mense bly.
humor Die vermoë om te laat lag; komieklikheid. 10
universiteitskorrespondent ’n Skrywer wat nuusberigte oor ’n spesifieke plek of onderwerp skryf. 10
leermeester ’n Mentor of iemand wat die vermoë het om ander te leer of op te voed. 10
leisels Om iets te bestuur, die leiding te neem of te regeer. 10
meervoudige sklerose ’n Siekte wat die senuwee in die brein en rugmurg aantas wanneer die materiaal (miëlien) om die senuselle beskadig word. Pasiënte wat hieraan ly, kan onder meer sukkel met sigprobleme, swak koördinasie, verswakte spiere, verlamming, spraakprobleme en spierspasmas. 10
pittige Snaaks, humoristies, amusant of vermaaklik. 11
rubriek ’n Spesiale tipe artikel wat in koerante en tydskrifte voorkom wat gewoonlik deur ’n spesifieke skrywer geskryf word en waarin die skrywer dikwels sy of haar eie opinie oor sake kan gee, nuus kan ontleed of selfs vermaak kan verskaf. 6
soetkoek Iets wat “vir soetkoek verkoop”, verkoop baie vinnig. 10
tragedie ’n Treurige voorval of smartvolle gebeure. 10
vryskutbasis Iemand wat gewoonlik as joernalis of akteur werk, maar nie voltyds deel is van ’n spesifieke organisasie of maatskappy nie. Dié persoon werk dan vir sy of haar eie rekening. 10

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Rykie van Reenen

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Rykie van Reenen

Rapport se 50ste bestaansjaar

’n Dokumentêr oor Emily Hobhouse, die Britse aktivis waaroor Van Reenen twee boeke geskryf het

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 20 Julie 2023 | Bygewerk op 3 April 2024