Vinnige feite
- Die Universiteit Stellenbosch het in 1986 ’n nagraadse beurs en ’n gedenklesing ter nagedagtenis aan Opperman ingestel. Die gedenklesing word steeds elke tweede jaar gehou.
- Roelof Temmingh het Joernaal van Jorik in 1989 musikaal verwerk. Die teks is voorgelees terwyl dit deur instrumente, soos die orrel, klavier, fluit en tjello, begelei is.
- Hy het ’n groot invloed op digters soos Antjie Krog, Lina Spies, Fanie Olivier, Leon Strydom, Niel van Tonder, André le Roux, Marlene van Niekerk en Charles Fryer gehad.
- Opperman se dogter, Trienke Laurie (1946-2023), het ook gedig en het in 1999 die Ingrid Jonker-prys gewen. Sy het haar eerste gediggie as vyfjarige geskryf.
- Hy was vir baie jare die redakteur van die invloedryke literêre tydskrif Standpunte.
- Opperman was ook musikaal. Hy het glo selfs vir hom ’n kitaar van ’n teekis, ’n krom melkhoutstomp en ’n stuk tou gemaak.
- Hy was baie lief vir visvang en het graag by Mooimeisiesbaai, Franskraal, visgevang.
- Opperman se vrou, Marié, het ook geskryf en vertalings van baie boeke gedoen. Sy het Zoeloe vlot gepraat, en het ook artikels geskryf en werk vir die radio gelewer. 3
As jy nog nie hierdie bekende gedig genaamd “Sproeireën” teëgekom het nie, sal jy dit wel een of ander tyd in die klas behandel.
My nooi is in ’n nartjie,
my ouma in kaneel,
daar’s iemand … iemand in anys,
daar’s ’n vrou in elke geur!
Dié gedig is deur D.J. Opperman geskryf – een van die invloedrykste digters in Afrikaans. Hy het nege digbundels en drie dramas geskryf. Opperman is ook bekend vir die talle bloemlesings wat hy saamgestel het, veral die bekende Groot Verseboek. Dié boek is in 1951 saamgestel, maar is telkens daarna hersien.
Hy was ’n bekroonde digter en het vier keer die Hertzog-prys (wat soos ’n Oscar-toekenning vir literêre werk in Afrikaans is) gewen – twee keer vir poësie en twee keer vir drama. Opperman het ’n groot invloed op ander digters gehad, hy was ’n dosent in Afrikaans en het ook digbundels vir uitgewers gekeur. As boekkeurder het hy saam met digters gewerk en het ook slypskole vir aspirantdigters aangebied. 1
Grootwordjare
Die digter is as Diederik Johannes Opperman op 29 September 1914 op die plaas Geduld nr. 2 naby Dannhauser in Dundee in Noord-Natal (vandag die noordelike deel van KwaZulu-Natal) gebore. Sy pa, Diederick Johannes, was ’n skaapboer en só ook sy oupa en ooms. Sy pa het egter groot verliese op die plaas gely en hy het besluit om ’n ander werk te soek. 2
Sy ma se naam was Heila Susanna Magdalena (née Botha). Opperman was die oudste van sewe kinders (vyf seuns en twee dogters).
Die gesin het na Ladysmith verhuis, maar nie lank daar gebly nie. Hulle is in 1918 na Memel in die Vrystaat en sy pa het daar as ’n grofsmid gewerk. Dit was net die begin van vele verhuisings, want sy pa het werk by die spoorweg gekry en hulle moes telkens trek.
Opperman, wat Dirk genoem is, het by Engelse skole op Estcourt en later Colenso skoolgegaan.
Toe hy 11 jaar oud was, het hy maagkoors opgedoen. Die mediese wetenskap was in daardie tyd nog nie so gevorderd soos vandag nie en min mense het toe dié siekte oorleef. Hy het ’n paar maande in ’n Rooms-Katolieke hospitaal in Pietermaritzburg deurgebring, en dit gelukkig oorleef.
Hulle het in daardie stadium nog op Colenso gebly, maar toe Opperman se pa in 1926 hartprobleme ontwikkel het, moes hy sy werk by die spoorweë bedank. Hulle het hul huis daar verkoop en weer na Estcourt getrek. Opperman was toe in standerd ses (graad 8) en was ’n uitblinker op skool. Sy pa het hom en sy broers egter uit die skool gehaal omdat hulle hom met die opknapping van hul nuwe huis moes help en ook ’n klein boerdery help bedryf het.
Opperman was gewoond aan harde werk en moes dikwels vakansies op sy oupa se plaas gewerk het.
Uitblinkerleerling
Hy het die skool baie gemis en kon nie wag om terug te keer nie. Hy kon egter eers twee jaar later weer skool toe gaan. Hy was toe 16 jaar oud en die gesin het na Vryheid in die Vrystaat getrek. Hy was daar in standerd sewe (graad nege) en het ook vir die eerste keer van sy klasse in Afrikaans ontvang.
Hy het hard gewerk en dikwels tot drieuur in die oggend gelees. Hy was baie slim en was altyd die toppresteerder in sy klas.
Dit is ook op Vryheid waar Opperman vir Marié van Reenen, wat later sy vrou sou word, op skool ontmoet het. Sy was, nes hy, in die debatsvereniging. Opperman se slag met woorde was al op skool duidelik, en dit verbaas nie dat hy die redakteur van die skooljaarblad was nie. Sy eerste gedigte is ook daarin gepubliseer.
Sy onderwysers by sy nuwe skool het ’n groot invloed op hom gehad en daar was van hulle wat hul liefde vir Afrikaans met hom gedeel het en hom geïnspireer het om in Afrikaans te skryf.
Opperman het in 1934 die Universiteit van Suid-Afrika se matriekeksamen afgelê en die beste in die Hoër Taalbondeksamen gevaar. Hy het ’n onderwysbeurslening ontvang om van 1935 af aan die Natalse Universiteitskollege in Pietermaritzburg te studeer. Opperman het eers die grade BA (met Hollands en sielkunde), MA (Hollands, met Afrikaans) en ‘n Hoër Onderwysdiploma (HOD) behaal.
Hy het aanhou skryf en het ook tydens sy studiejare artikels vir koerante gelewer.
Vroeë loopbaan
Opperman het van 1940-1945 as onderwyser by Hoërskool Voortrekker gewerk en het daar saam met Marié van Reenen, sy skoolmaat, skoolgegee. Die paartjie is in 1942 getroud en het drie dogters, Trienke, Heila en Diederi, gehad.
Opperman, wat al op laerskool sy eerste gedigte geskryf het, het ook gedigte op universiteit geskryf. Hy het ook kortverhale en resensies oor nuwe boeke geskryf. Opperman se eerste verhaal is in 1934 in Die Huisgenoot gepubliseer. Dit was die begin van verskeie verhale wat in dié tydskrif gepubliseer is.
Sy eerste digbundel, Heilige beeste, is in 1945 uitgegee en is twee jaar later met die Hertzog-prys bekroon. Opperman het in Junie 1945 by Hoërskool Helpmekaar (vandag ʼn privaat skool en bekend as Helpmekaar Kollege) in Johannesburg begin skoolhou, maar is kort daarna ’n pos op die redaksie van Die Huisgenoot aangebied. Hy het die pos aanvaar en Kaap toe getrek.
Hy het ook aanhou dig en sy tweede bundel, Negester oor Ninevé, is in 1947 gepubliseer.
Dit was moeilik om te dig en as joernalis te werk en hy is op 1 Maart 1949 as lektor (en later as senior lektor) in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad aangestel. Hy het dié posisie tot 1959 beklee.
Skryfwerk
Die volgende poësie waaraan hy gewerk het, was ʼn vyfdelige epiese gedig, Joernaal van Jorik, wat een van sy bekendstes sou word. Dit is in 1949 gepubliseer, terwyl nog ’n bundel, Engel uit die klip, in 1950 gepubliseer is.
Hy het ook met ’n groot werk begin deur ’n reeks bloemlesings uit die Afrikaanse poësie vir Nasionale Pers saam te stel. Die gevolg was die Junior verseboek, Senior verseboek en Groot verseboek in 1951 en Lied van die land in 1954. Lied van die land was ’n bloemlesing van gedigte waarin Suid-Afrika se natuur besing is.
Opperman het sy doktorsgraad op 12 Desember 1952 verwerf met ’n tesis “Die vernuwing van dertig in die Afrikaanse poësie”. Dis uiteindelik ook in boekvorm onder die titel Digters van Dertig uitgegee.
Opperman het besluit om ’n drama te skryf en die gevolg was ’n versdrama, Periandros van Korinthe, wat in 1954 gepubliseer is. Die stuk is op die planke gebring en ook op die radio uitgesaai. Dit is hoog aangeskryf en is onder meer met die W.A. Hofmeyr-prys in 1954 en die Hertzog-prys in 1956 bekroon.
Sy tweede drama was Vergelegen, wat in 1956 verskyn het. Dit is op 22 Augustus 1964 in Kaapstad opgevoer en het saam met Opperman se 50ste verjaardag geval.
Opperman het nie opgehou dig terwyl hy aan sy versdramas gewerk het nie. In Mei 1956 is Blom en baaierd gepubliseer, wat in dieselfde jaar met die W.A. Hofmeyr-prys bekroon is.
Oorsese reis
Die sakemagnaat Anton Rupert van die maatskappy Rembrandt het besluit om van dié maatskappy se winste in die vorm van skenkings aan Afrikaanssprekendes wat presteer, te gee, en ’n reisbeurs vir Opperman is goedgekeur.
Hy wou nog altyd oorsee gereis het en hy en sy vrou het op Desember 1956 per boot vanaf Kaapstad na Southampton, Engeland, vertrek. Hulle het van daar af ook ander lande, soos Nederland en Duitsland, besoek. Die Europese reis het baie vir Opperman en sy kreatiwiteit beteken en ’n digbundel het ook later gevolg.
Dosent en skrywer
Die Universiteit van Stellenbosch (nou die Universiteit Stellenbosch) het in 1959 vir Opperman ’n pos aangebied en hy het in Januarie 1960 daar as professor in Afrikaanse letterkunde begin werk. Hy het hierdie pos tot sy aftrede in 1979 behou.
In dieselfde jaar is ’n bloemlesing van sy werk (sy eerste vier digbundels) gepubliseer. Dit is Astrak van die gedigte van D.J. Opperman genoem.
Opperman het ook by die universiteit ’n “letterkundige laboratorium” begin om aspirantdigters te help. Dit was só gewild dat hy ná sy aftrede in 1979 by die laboratorium aangebly het om jong digters te help.
Opperman se digbundel Dolosse is in 1963 uitgegee en dis ook met verskeie pryse, soos die CNA- en W.A. Hofmeyr-prys bekroon. Sy volgende bundel is Kuns-mis genoem en dit is in 1964 uitgegee.
Voëlvry (1968) was Opperman se derde versdrama en die tema was Louis Tregardt se trek na Delagoabaai. Dit is in opdrag vir die 1966-Republiekfees geskryf en is in 1969 met ’n Hertzog-prys vir drama bekroon. Die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg het Opperman in 1968 met ’n eredoktorsgraad vereer. Hy het ook in 1971 ’n buitelandse erelid van die Koninklijke Vlaamse Academie voor Taal- en Letterkunde geword.
Sy volgende bundel is Edms. Bpk. genoem en is in 1970 gepubliseer.
Opperman het in 1974 sy 60ste verjaardag gevier en verskeie bundels het verskyn om dié mylpaal te gedenk, soos ’n bundel opstelle oor sy werk, Woord en wederwoord, besprekings oor sy bundels in DJ Opperman: dolosgooier van die woord, vroeëre opstelle van hom in Naaldekoker, en Verse vir Opperman, wat verse deur 24 vooraanstaande Suid-Afrikaanse digters bevat.
Terugslag, terugkeer en toekennings
Opperman het teen die einde van 1975 siek geword en is aan die begin van 1976 in die hospitaal met hoë bloeddruk en akute lewerversaking opgeneem. Sy toestand het binne die eerste tien dae só versleg dat hy in ’n koma verval het. Niemand buiten sy vrou het gedink hy sou dit oorleef nie. Daar is vyf keer gemeen dat hy sou sterf. Hy het egter herstel – wat as ’n wonderwerk beskryf is – en is in Augustus 1976 uit die hospitaal ontslaan. Hy moes egter van voor af leer skryf en dit was ’n swaar herstelpad.
Hy het gelukkig weer begin skryf en sy bundel Komas uit ’n bamboesstok: Die mirakelagtige terugkeer ná lewerversaking van ene Marco Polo, is in 1979 uitgegee. Die bundel is met onder meer die CNA-prys (1979), die Louis Luyt-prys (1980), die W.A. Hofmeyr-prys en die Hertzog-prys in 1980 bekroon.
Op 27 Junie 1980 het die Universiteit van Kaapstad ook ’n eredoktorsgraad aan Opperman toegeken en in 1982 het die Universiteit van Pretoria dieselfde gedoen. Opperman het in 1982 die Dekorasie vir Voortreflike Diens van die staatspresident ontvang en in 1985 die Gustav Preller-prys vir Literatuurwetenskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy literêre kritiek en wetenskap.
Sterfte en laaste werk
Opperman was besig om aan ’n nuwe digbundel, Sonklong, te werk, maar hy het op 22 Junie 1981 ’n beroerte gehad. Hy is in September 1982 in ’n tehuis in Stellenbosch opgeneem en is op 22 September 1985 oorlede. Hy het sy vrou, drie dogters en ses kleinkinders agtergelaat. Sy weduwee, Marié, is in Augustus 1999 oorlede.
Sy vrou het in 1994 vir John (J.C.) Kannemeyer toegelaat om na sy onvoltooide manuskrip te kyk en daar is besluit om dit as ’n “wordende kunswerk” uit te gee. So is Sonklong oor Afrika in 2000 gepubliseer.
Ná Opperman se dood het verskeie boeke verskyn wat hom vereer het, soos J.C. Kannemeyer se DJ Opperman: ’n biografie, Die bonkige Zoeloelander: DJ Opperman in beeld, Kolonnade – ‘n studie van Opperman se poësie (deur Lina Spies) en sy Versamelde poësie.
Opperman se skryfwerk
Naam | Literêre vorm | Publikasiedatum | Uitgewer |
Heilige beeste | Poësie | 1945, 1947 | Kaapstad: Nasionale Pers Boekhandel |
Negester oor Ninevé | Poësie | 1947, 1958, 1964, 1967, 2004 | Kaapstad: Nasionale Pers Boekhandel
Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk Stellenbosch: African Sun Media |
Joernaal van Jorik | Poësie | 1949, 1955, 1960, 1964,1970, 1972, 1973, 1974, 1987, 1988, 1989 | Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
Pretoria: Academica Kaapstad: Tafelberg |
Engel uit die klip 1947-1950 | Poësie | 1950, 1954, 1956, 1971, 1978, 1989 | Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
Kaapstad: Tafelberg |
Digters van Dertig | Literêre kritiek (proefskrif) | 1953, 1962, 1967, 1973 | Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
Kaapstad: Nasou |
Periandros van Korinthe | Versdrama | 1954,1955, 1956, 1960, 1961, 1963, 1964, 1967, 1969, 1971, 1972
|
Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
Kaapstad: Tafelberg |
Vergelegen | Drama | 1956, 1961, 1964,1971,1978, 1987 | Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
Kaapstad: Tafelberg |
Blom en baaierd | Poësie | 1956, 1957, 1971, 1973, 1979, 1984 | Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
Kaapstad: Tafelberg |
Wiggelstok | Letterkundige opstelle | 1959, 1975 | Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
Kaapstad: Tafelberg |
Astrak van die gedigte van D.J. Opperman | Poësie | 1960 | Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk |
Dolosse | Poësie | 1963 | Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
Kaapstad: Tafelberg |
Kuns-mis (1947-64) | Poësie | 1964 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Voëlvry: Kroniekspel van ’n voortrek | Drama | 1968, 1974, 1986 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Edms. Bpk. | Poësie | 1970 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Komas uit ’n bamboesstok: synde die mirakelagtige terugkeer ná lewerversaking van ene Marco Polo | Poësie | 1979, 1981 | Kaapstad: Human & Rousseau |
Versamelde poësie | Poësie | 1987 | Kaapstad: Tafelberg; Human & Rousseau |
Sonklong oor Afrika: faksimilee, transkripsie en konstruksie van ’n bundel verse-in-wording. Redakteur: J.C. Kannemeyer | Poësie | 2000 | Kaapstad: Tafelberg |
Woordbank
akute | Kritieke, ernstige, erge, lewensgevaarlike. |
artikels | Berigte, skryfstukke. |
bekroonde | Iemand wie se werk ʼn prys/medalje ontvang het. |
beroerte | Skielike vermindering/verlies van bewussyn wanneer are wat suurstof na die brein bring, bars of deur ‘n bloedklont verstop word. |
besing | Prys, loof, ophemel. |
bloemlesings | ’n Versameling van poësie/prosa. |
boekkeurder | Persoon wat verantwoordelik is vir die lees van manuskripte wat vir publikasie oorweeg word. |
biografie | Die geskiedenis van iemand se lewe wat beskryf word; lewensbeskrywing. |
dekorasie | Medalje, ereteken. |
dosent | Persoon wat les gee aan ʼn inrigting vir tersiêre onderwys. |
dramas | Toneelspel. Direkte voorstelling deur handeling, dialoog, mimiek en gebare van menslike gebeure; gebeurtenis met dramatiese elemente. |
epiese gedig | Ook bekend as epos, is ’n lang verhalende gedig wat dus ’n lang storie vertel. |
eredoktorsgraad | ’n Mens kry ’n eredoktorsgraad vir uitsonderlike prestasies, maar jy hoef nie ’n eksamen af te lê nie. |
gepubliseer | Om iets soos ’n verhaal in ʼn boek/tydskrif/ens. te laat druk sodat mense dit kan lees. |
grofsmid | Iemand wat ysterwerk doen. |
hoog aangeskryf | Voortreflik, uitmuntend, uitstekend. |
invloedrykste | Wat groot invloed het/uitoefen. |
koma | ʼn Onnatuurlike diep slaap; ʼn toestand van volkome bewusteloosheid. |
kreatiwiteit | Om die vermoë te hê om iets te skep. |
literêre | Wat met literatuur/letterkunde verband hou. |
literêre kritiek | Dit is die interpretasie, ontleding en beoordeling van ’n teks. |
lewerversaking | Wanneer die lewer ophou om te funksioneer. |
maagkoors | Aansteeklike siekte wat hewige koors veroorsaak en wat deur kieme veroorsaak word. Ook ingewandskoors genoem. |
manuskrip | ’n Skrywer se handgeskrewe of getikte teks wat nog nie gepubliseer is nie. |
mylpaal | ʼn Belangrike gebeurtenis/prestasie wat bereik is. |
op die planke gebring | Opgevoer. |
poësie | Die werke van digters of, ʼn versameling gedigte. |
prosa | Eenvoudige geskrewe taalgebruik, veral as letterkundige genre. |
redaksie | Die skrywers van ’n dagblad; koerantskrywers. |
redakteur | Iemand wat rigting gee en toesig hou oor die beleid van ’n publikasie. |
resensies | Skryfstukke oor ’n boek waarin die boek beoordeel word. |
sakemagnaat | ’n Buitengewoon ryk of magtige sakepersoon; geldbaas. |
slag met | Om iets goed te verstaan en te weet hoe om daarmee te werk. |
slypskole | Werksessies waar ʼn groep (onder leiding van ʼn ervare persoon) bymekaarkom om hul werk te ontwikkel deur terugvoer en kommentaar te gee. |
telkens | Keer op keer; dikwels; herhaaldelik. |
tesis | Dis ’n wetenskaplike verhandeling (skryfstuk) soos ’n proefskrif ter verkryging van ’n doktorale graad. |
uitblinker | Iemand wat besonder goed presteer. |
uitgewers | Iemand wat boeke laat druk en versprei. |
verliese | Skade, die verlore gaan van iets. |
versdrama | ’n Drama wat in versvorm geskryf is. |
Lees dié artikels om meer te leer
- Kort beskrywing van Opperman (Engels)
- In die “D.J. Opperman-gedenklesing” kan jy heelwat inligting kry (Afrikaans)
- Vind nóg meer uit
- Lees Opperman se “Sproeireën”
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Luister na die toonsetting van “My nooi is in ʼn nartjie” (“Sproeireën”) soos gesing deur Jan de Wet
Loer hier na ’n ontleding van een van sy gedigte