Vinnige feite

  • A.G. Visser het skoolgegaan saam met J.D. du Toit (meer bekend as Totius) en D.F. Malherbe. Albei dié mans het later jare ’n groot invloed op Afrikaans en die taal se letterkunde uitgeoefen.
  • A.G. Visser was ’n gekwalifiseerde mediese dokter.
  • Die gesogte Hertzogprys is twee keer aan Visser toegeken vir sy eerste en tweede digbundels, Gedigte en Rose van herinnering.
  • Visser was twee keer getroud – eers met Lettie Conradie (maar sy sterf kort ná die geboorte van hul derde kind), en later trou hy met Marie de Villiers.
  • Visser is veral bekend vir sy digkuns, maar hy het ook prosa en kinderliedjies geskryf.
Foto: iStock

Sy ouers het hom Andries Gerhardus Visser laat doop, die mense van Heidelberg het hom dr. Visser genoem, maar die res van ons ken hierdie Afrikaanse digter veel eerder as A.G. Visser. Wie was hy regtig? Waaroor het hy geskryf? En was hy werklik ‘n dokter? Kom vind uit!

Visser se huis, Heidelberg

Jeugjare en tyd in die onderwys

Op 1 Maart 1878 word ’n seuntjie in ’n tent op die plaas Zaaifontein in die Fraserburg-distrik gebore (Fraserburg is sowat 300 km van die Kaap af soos die kraai vlieg). Sy naam was Andries Gerhardus Visser en hoewel niemand dit toe al kon weet nie, sou dié seuntjie ’n baie bekende Afrikaanse digter word en bekendstaan as A.G. Visser. 1

Vanaf 1891 2 gaan Visser skool by die Hugenote-gedenkskool in Dal Josafat, Paarl, saam met nóg twee manne wat later baie bekende Afrikaanse digters geword het, naamlik J.D. du Toit (beter bekend as Totius) en D.F. Malherbe. 1

Gedenkschool der Hugenoten

In 1896 slaag hy matriek aan die Normaalkollege in Kaapstad. Hy voltooi ook sy onderwyseksamen (toe genoem die -eksamen) en word ’n onderwyser.

In Julie 1896 word Visser al in sy eerste pos as onderwyser aangestel. Hoewel dit net ’n tydelike pos was wat hy tot September daardie jaar beklee het, kry dié jong onderwyser kans om by sy alma mater voor sy eie klas te staan. 3

Teen Oktober daardie jaar word Visser aangestel as assistentonderwyser by die Carnarvon-skool en binne twee jaar word hy, op twintigjarige ouderdom, aangestel as die hoof van dié skool. 4 Hierdie dorpie is, soos Fraserburg, in die Karoo geleë.

Gedurende die Anglo-Boereoorlog, wat vanaf 1899 tot 1902 tussen Brittanje en die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en die Oranje-Vrystaat (OVS) gewoed het, het Visser sterk uitsprake ten gunste van die ZAR gemaak. Hy het ook ongunstige uitlatings oor die Britte gemaak. In daardie jare was die Kaapkolonie, waar Visser gewoon het, onder beheer van Brittanje. Dit beteken dat Visser ’n Britse onderdaan was en daarom was die regering aan die Kaap glad nie ingenome met Visser se standpunte nie. Hy is selfs deur die dorp se kommandant in hegtenis geneem en vir ’n tyd lank tronk toe gestuur!

Visser is as ’n rebel beskou, maar parool is aan hom toegestaan. Hy gedwing om as skoolhoof te bedank. 5 Die Carnarvon-skool was spyt oor Visser se bedanking en skryf in ’n afskeidsbrief die volgende (vertaal uit Engels): “Ons, die onderwysers en leerders van die Carnarvon Openbare Skool, wil hiermee ons diepe spyt uitspreek dat u ons verlaat en wil ook ons dankbaarheid uitspreek vir die diens wat u gelewer het. Ons bedank u hartlik vir alles wat u vir beide die onderwysers en leerders gedoen het.” 2

Die Kaapse regering het ook ’n ultimatum aan Visser gestel – hy moes óf na Port Alfred (’n afgeleë plek in die ooste van die Kaapkolonie) trek óf hy moes die land verlaat. Uiteindelik besluit Visser om eerder die land te verlaat, en hiermee begin die volgende interessante hoofstuk van sy lewe.

Visser die dokter

In September 1901 verlaat A.G. Visser die Kaapkolonie en vertrek na Skotland. Hier studeer hy medies in die Skotse hoofstad, Edinburgh, aan die Universiteit van Edinburgh. Hy voltooi sy studies suksesvol en keer in 1906 terug na Suid-Afrika.

Visser het wel nie net in Europa gestudeer nie, maar ook die geleentheid gebruik om meer oor ander tale en kulture in Wes-Europa te wete te kom. Dié blootstelling het ook ’n invloed op sy latere skryfwerk gehad. 2

Terug in Suid-Afrika, keer Visser weer terug na die Karoo en begin sy eerste mediese praktyk op Carnarvon, dieselfde dorp waar hy agt jaar tevore (in 1898) as skoolhoof aangestel is. Teen dié tyd is Carnarvon nog ’n klein dorpie. Twee jaar vóór Visser teruggekeer het as dokter, het daar nagenoeg 5 800 mense gewoon. 6

Visser bly egter nie te lank op dié dorpie nie en verkoop in 1909 sy praktyk en trek meer as 300 km suidoos, in die rigting van Port Elizabeth, en gaan vestig hom op Steytlerville in die Oos-Kaap. Kort ná sy aankoms op dié dorp ontmoet Visser vir Laetitia Fransina (Lettie) Conradie, 7 ’n 20-jarige onderwyser by ’n basaar. 8 In daardie stadium was Visser reeds 31 jaar oud, en dus 11 jaar ouer as Lettie, maar dit stuit nie die paartjie nie. Hulle trou in 1913. 7

Intussen praktiseer Visser sewe jaar lank op Steytlerville as mediese dokter voordat hy weer verhuis. Hierdie keer trek Visser noord en begin in 1916 ’n nuwe praktyk op Heidelberg in die destydse Transvaal. Hier sou dr. Visser praktiseer tot sy dood. Hy is beskryf as ’n toegewyde dokter en iemand wat ’n diepe en persoonlike belangstelling in sy pasiënte gehad het. 3

In 1924 kry Visser ’n hartaanval, waarna hy sowat drie maande lank in die hospitaal moes deurbring. Sy gesondheid het ’n knou gekry, maar in die jare daarna publiseer hy gereeld gedigte in tydskrifte en koerante, twee digbundels sien die lig, hy trou ’n tweede keer én wen die gesogte Hertzogprys twee keer.

Heidelberg was uiteindelik Visser se laaste tuiste waar hy tot met sy dood (weens nóg ’n hartaanval) op 10 Julie 1929 gewoon, gewerk en bowenal geskryf het. 7

Visser en die liefde

Soos reeds genoem, het Visser in 1913 met Lettie Conradie getrou. Lettie was ’n musikale vrou wat onder meer klavier en tjello kon speel. 7 Die paartjie was baie gelukkig getroud en twee seuns en een dogter is uit die huwelik gebore. Ná die geboorte van hul derde kind, Willem Johannes Conradie (Willie), in Januarie 1920 het Lettie ernstige komplikasies opgedoen. 9 Sy sterf sowat drie weke later op 3 Februarie 1920.

Visser was gebroke oor die dood van sy jong vrou. Dit was die eerste ernstige terugslag wat Visser in sy lewe ervaar het en nou moes Visser alleen na sy drie klein kindertjies omsien. 2 Hy was baie eensaam ná Lettie se dood.

In 1923 ontmoet Visser ’n jong Kaapse nooi. Martha Maria (Marie) de Villiers was maar net 23 jaar oud toe haar oupa, die filantroop Japie Helpmekaar, 7 haar tydens hul vakansie op Heidelberg aan Visser voorgestel het. Dit was so te sê liefde met die eerste oogopslag en op 4 Julie 1927 tree Visser vir die tweede keer in die huwelik. 1

Visser die digter

A.G. Visser word beskou as een van die gewildste Afrikaanse digters. Die digter Eugène Marais was ’n goeie vriend van Visser. Volgens Marais was Visser “die liefling van sy volk” en sy (Visser) se gedigte is oral in die land “gelees en geresiteer en sy gesegdes (is) as spreekwoorde herhaal”. 10

Visser se eerste digbundel, getiteld Gedigte, is eers in 1925 gepubliseer. Afrikaanse lesers was gaande oor Visser se werk en hy is ook in 1926 met die Hertzogprys vereer vir dié bundel. Hy is in 1928 vir ’n tweede keer met die Hertzogprys vereer, en dié keer vir sy tweede bundel, naamlik Rose van herinnering. 11

Tog het Visser reeds as opgeruimde skoolseun by die Hugenote-gedenkskool begin om veral humoristiese rympies te skryf. 3 Op 18-jarige ouderdom (in 1896 en 1897) word sy eerste gedigte ook in die Afrikaanse blad Ons Klyntji gepubliseer 12 en hiermee maak die Afrikaanse leser vir die eerste keer kennis met Visser se gedigte soos “’n Saak het twe kante” en “Di eerste fersoek van Japi aan syn frou”. (Die spelling was in daardie stadium duidelik nog nie soos wat ons dit vandag ken nie!) ’n Paar van dié gedigte word in 1906 opgeneem in S.J. du Toit se bundel Afrikaanse gedigte byeenfersameld. 3 Kenners meen wel dat Visser se eerste gedigte nie juis ’n groot bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gemaak het nie. 11

In 1910 word een Visser-gedig, “De jongste burger”, in die tydskrif Die Brandwag gepubliseer. Hierna breek ’n tydperk van spreekwoordelike doodse stilte in Visser se lewe aan – in die jare wat hierop volg, het Visser getrou, daar is vir hom en sy vrou, Lettie, drie kinders gebore én Lettie sou sterf. Eers ná dié intense jare sou Visser omvorm word tot die skrywersnaam wat op almal se lippe sou wees.

Visser is eers op ’n heel later stadium in sy lewe “ontdek” as digter. Die man wat waarskynlik die krediet vir hierdie “ontdekking” moet kry, is die bekende digter Eugène Marais. Marais het Visser die eerste maal op Heidelberg ontmoet toe Marais vanaf 1922 op Heidelberg as prokureur gepraktiseer het. ’n Noue vriendskap het tussen dié mans ontstaan. Visser het Marais onder meer vir sy morfinisme (verslawing aan morfien) behandel. 11

Eugène Marais

In gesprekke tussen Marais en Visser het Marais ontdek dat sy vriend (soos hyself) graag gedigte skryf. Hy het Visser se talent gou raakgesien en by sy vriend aangedring om die gedigte te laat publiseer. “Ek ten minste het van die begin af geen twyfel gehad nie dat hier ’n Afrikaner-digter is wie se skoenriem ek onwaardig was om te ontbind,” skryf Marais later oor sy vriend. 10

Later het Marais daarin geslaag om een van Visser se gedigte vir publikasie aan ’n bekende Afrikaanse tydskrif voor te lê. Dit is aanvaar vir publikasie en hierna het daar kort-kort nuwe gedigte uit Visser se pen in koerante en tydskrifte verskyn. 10

Daar word gereken dat die gedigte wat Visser vanaf 1923 geskryf het (en op Marais se aandrang gepubliseer het), dié was wat van grootste belang was. Sy gedigte was baie gewild onder die publiek. Dit is waarskynlik te danke aan die feit dat sy gedigte oor die algemeen eenvoudig, verstaanbaar en daarom toeganklik was vir sy lesers. 3

Nóg ’n gerekende digter van die Dertigers, W.E.G. Louw, was ook oortuig van Visser se gewildheid. Hy het geskryf dat Visser “die grootste en ruimste populariteit verkry (het) as enige digter nog ooit in Suid-Afrika by die breë volksmassa verkry het, waarskynlik selfs meer as Jan Cilliers”. 13

Visser se gedigte kan in veral ses kategorieë verdeel word: 14

  1. Liefdespoësie
  2. Elegiese poësie
  3. Kindergedigte
  4. vertellings
  5. Puntdigte
  6. Luimige gedigte

In die voorwoord van die latere uitgawes van Visser se debuutbundel skryf Marais dat die meeste van Visser se gedigte binne die bestek van een jaar geskryf is. Dit is egter nie heeltemal waar nie. Met die uitsondering van Visser se kindergedigte, is so te sê al sy gedigte vanaf 1923 tot 1926 eers in koerante of tydskrifte – soos die Afrikaanse tydskrifte Die Boerevrou en Die Huisgenoot, koerante soos Die Burger – gepubliseer. 15

Daar is uiteindelik vier bundels met gedigte deur Visser gepubliseer, twee daarvan is wel postuum (dit wil sê ná sy dood) uitgereik.

Dié bundels en die jare waarin dit die eerste keer uitgegee is, is soos volg:

  • Gedigte (1925, in 1926 aansienlik uitgebrei)
  • Rose van herinnering (1927)
  • Die purper iris (1930)
  • Uit ons prille jeug (1930)

In 1981 word dié bundels as Visser se Versamelde gedigte uitgegee. Dit is belangrik om te noem dat die bundel Uit ons prille jeug (wat eers ná Visser se dood gepubliseer is) een van die eerste digbundels is wat uitsluitlik vir kinders bedoel is.

Die dood van Visser se eerste vrou, Lettie, het dié digter met hartseer vervul en dit was ook duidelik in sy skryfwerk. Sy gedig “Laetitia” was juis opgedra aan sy vrou. Dit is ’n voorbeeld van die elegiese gedigte wat Visser geskryf het. Dié gedig is later gekritiseer omdat dit skynbaar van oormatige clichés gebruik maak. “Laetitia” word wel as een van lesers se gunsteling Visser-gedigte geag. 13 Die gedig word selfs vandag nog as ’n klassieke stuk werk beskou.

Die ritme en melodie wat in Visser se gedigte voorkom, is ook ’n belangrike kenmerk van sy werk. Hoewel sy gedigte dikwels op die oog af baie eenvoudig voorkom, skuil daar ook gereeld dieper betekenis daarin.

Later jare was daar baie kritiek teen Visser se werk en is daar aangevoer dat sy werk nie ’n noemenswaardige bydrae tot die letterkunde gelewer het nie, of nie juis ’n nuwe rigting ingeslaan het nie. Tog is daar gedigte waarin Visser se slim woordgebruik en toespelings vir voortreflike werk gesorg het. Enkele van Visser se gedigte wat veral hoog aangeskryf word, is “Toe die wêreld nog jonk was”, “Lotos-land” en “In die katkisasie-klas”.

Laasgenoemde is ’n kort gediggie en lui soos volg:

“Ja, veertig dae agtereen

En veertig nagte lank gereën –

Dis ‘n rekord tot op hede.”

“Meneer, mag ek Meneer iets vra?”

“Maar alte seker, Japie. Ja?”

“Was die boere toe tevrede?”

Al stem alle kritici nie saam oor die gehalte van Visser se werk nie, is Marais se toets vir die waarde van ’n gedig belangrik om in gedagte te hou. Hy meen dat gedigte uitsonderlik is as dit die leser keer op keer terugdwing na die werk; as die gedig weer gelees word; geleer word; en geresiteer word “nie omdat iemand hulle aanbeveel nie, maar vanweë die genot wat die leser self daaruit skep”.

As dit die definisie van ’n goeie gedig is, kan daar beslis gereken word dat Visser talle goeie gedigte vir die nageslag nagelaat het wat vandag steeds geniet kan word! 10

Visser – die prosaskrywer

As jy dink aan A.G. Visser, sal jy (en tientalle ander mense) dadelik dink aan hom as digter. Min mense verbind dié man aan ander vorme van letterkunde. Tog was die digkuns beslis nie Visser se enigste talent nie.

In die tyd wat Visser as dokter op Carnarvon gewerk het, was hy onder meer lid van die Carnarvonse Jongeliedevereniging. Hier het hy onder die skuilnaam Vaaljas vernuftige prosasketse geskryf. Enkele van dié sketse is later in Die Huisgenoot gepubliseer en uiteindelik in 1961 te boek gestel in ’n bundel getiteld Joernaalaand.

Verjaardagwens aan Attie Louw van A.G. Visser

Die eerste onafhanklike kindertydskrif, Die Afrikaanse kind, het in November 1916 verskyn. Visser was ’n medewerker vir dié tydskrif wat in Heidelberg uitgegee is. Hy het ’n rubriek “Die Afrikaanse lied” behartig. Hierin het Visser onder meer beklemtoon dat daar ’n dringende behoefte aan eie Afrikaanse liedjies bestaan het. In dié rubriek is verskeie nuwe liedjies ook gepubliseer. Ook ’n aantal van Visser se liedjies het die eerste keer in dié tydskrif verskyn, insluitende “Verlange naar die vaderland” en “Klaaglied”. Die liedjies is baie goed ontvang en die publiek het gereeld versoeke vir afdrukke van die liedere aan die tydskrif gerig. 16

Wat sê ander oor Visser?

Die skrywer D.F. Malherbe het ná Visser se dood die volgende oor sy vriend geskryf: “Die kenmerke van sy siel was opgewektheid, blye aanvaarding van die lewe, geloof in die toekoms van sy volk, liefde vir Afrikaans wat hy ingedrink het reeds in die Gedenkskool, en ’n sterk sin vir humor.” 2

Woordbank

hoog aangeskryf In die guns wees by iemand/mense.
alma mater Iemand se ou skool of universiteit.
ballade ’n Vertellende lied; ’n vertelling/storie in die vorm van ’n lied.
clichés Afgesaagde uitdrukking.
elegiese poësie Treurgedigte of lykdigte wat gewoonlik gaan oor die dood van ’n geliefde. 14
filantroop Iemand wat die lot van minderbevoorregtes probeer verlig.
ingenome Gelukkig (oor iets), tevrede, in jou noppies, in jou skik.
soos die kraai vlieg Reguit, nie padlangs nie.
luimige Grapperig, vol humor.
morfien ’n Slaap- en verdowingsmiddel wat van opium gemaak is.
morfinisme Verslaafdheid aan of die oormatige gebruik van morfien.
onderdaan ’n Persoon wat onder gesag staan van ’n vors of staat.
parool Om iemand onder voorwaardes uit die tronk vry te laat.
postuum Wat ná die dood van iemand plaasvind of verskyn.
prille jeug In jou vroeë jeug; toe jy nog baie jonk was.
puntdigte Puntdigte (ook genoem epigramme) is gedigte wat ’n inskripsie, opskrif of byskrif bevat, of ’n kort gediggie. A.G. Visser en C.J. Langenhoven was bekende puntdigters in Afrikaans.
toespelings ’n Indirekte verwysing na iets, ook bekend as ’n sinspeling.
ultimatum Finale eis wat aan iemand gestel word.

Lees die volgende om nog meer te leer

Kyk na die hierdie video’s

Toer saam deur die historiese Heilberg

’n Pragtige uitbeelding van A.G. Visser se roerende gedig, “Amakeia”. Die gedig handel oor ’n Xhosa-vrou wat ’n wit kind gedurende die Sesde Grensoorlog probeer beskerm het.

Luister hier na A.G. Visser se bekendste liedjies: “Waar ou Heidelberg hang aan die Suikerbosrand”

Daar is ’n spookbrug op Heidelberg!

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 31 Oktober 2022 | Bygewerk op 27 Februarie 2024