Vinnige feite

  • Die kern van die son kan 15 miljoen °C bereik!
  • ’n Weerligstraal se hitte kan meer as 27 000 °C bereik.
  • Die aarde se kern is ongeveer 5 200 °C.
  • Die hoogste aangetekende temperatuur (volgens die Wêreld Meteorologiese Organisasie) op aarde was in Death Valley in die VSA, waar die temperatuur in 1913 sowat 56,7 °C bereik het (hoewel daar ’n dispuut is oor die geldigheid van die lesing). 8
  • Vloeibare waterstof is die koudste stof wat teen -260 °C voorkom.
  • Dunbrody, naby Kirkwood in die Oos-Kaap, het op 3 November 1918 die warmste temperatuur in Suid-Afrika gehad –  ʼn volle 50 ˚C! 9
  • Die twee koudste plekke in Suid-Afrika is Buffelsfontein met ’n gemiddelde jaarlikse temperatuur van 2,8 °C en Sutherland so ʼn rapsie warmer met 3,4 °C. 10
Foto: iStock

Temperatuur is die meting van hoe warm of koud iets is. Daar is verskillende maniere om temperatuur te bepaal. Een manier is om jou sintuie te gebruik. Voorwerpe met meer energie sal warm voel. Dinge met minder energie sal koel of koud voel as jy daaraan raak. In fisika is die temperatuur die gemiddelde kinetiese energie van die bewegende deeltjies in ’n stof. 1

Temperatuur het ’n invloed op die toestand van materie. Materie (soos vaste stowwe, vloeistowwe en gasse) sal deur verskillende fases gaan namate die temperatuur styg. Een voorbeeld hiervan is water wat van ys (vaste stof) na water (vloeistof) in waterdamp/stoom (gas) verander namate die temperatuur styg.

Hoe word temperatuur gemeet?

Temperatuur word gemeet met behulp van ’n termometer. Termometers maak gebruik van ’n wetenskaplike eienskap genaamd termiese uitbreiding. Die meeste stowwe sal uitbrei en meer volume opneem namate hulle warmer word. Vloeistoftermometers het ’n soort stof (dit was vroeër kwik, maar vandag is dit gewoonlik alkohol) wat in ’n klein glasbuisie toegemaak is.

Namate die temperatuur styg, brei die vloeistof uit en vul dit meer van die buis. As die temperatuur daal, trek die vloeistof saam en neem dit minder spasie op (omdat die partikels of deeltjies nader aan mekaar beweeg). Die temperatuur kan dan gelees word deur die lyne wat aan die kant van die buis gekalibreer is.

Deur die geskiedenis

Galileo Galilei was in die vroeë 1600’s die eerste wetenskaplike wat ’n toestel gebruik het om hitte en koue te meet. Niemand weet vir seker of hy die toestel uitgevind het of dit by iemand anders geleen het nie. Hy het die toestel ’n termoskoop genoem. 2

Deur die jare heen het verskeie wetenskaplikes termometers gemaak met hul eie skaal om temperatuur te meet. Daar was, onder andere, die Italianer Santorio Santorio wat in 1612 ’n termoskoop met ’n numeriese skaal gebou het en dr. Robert Fludd wat een in 1638 in Engeland gebou het. Nie een van hierdie instrumente was egter baie akkuraat nie. 3

Die eerste moderne termometer met ’n gestandaardiseerde skaal is in die vroeë 1700’s ontwerp deur die fisikus Daniel Gabriel Fahrenheit, wat in Pole gebore is, maar later in Nederland gewoon het. Die termometer se buis het alkohol bevat en later het hy een met kwik in ’n buis gebou. Kwik is baie sensitief vir temperatuurveranderings. Hy het sy skaal op 32 °F vir die vriespunt van water en 212 °F vir die kookpunt van water gestel. Die gestandaardiseerde skaal – die Fahrenheit-skaal – is na hom vernoem en dit word steeds algemeen deur wetenskaplikes wêreldwyd aanvaar.

In die 1740’s het Anders Celsius, ’n Sweedse sterrekundige, ’n nuwe skaal ontwikkel. Die Celsius-skaal is na hom vernoem en is die mees algemene skaal wat wêreldwyd gebruik word, hoewel die VSA steeds Fahrenheit gebruik. 4

Temperatuurskale

Daar is drie belangrike temperatuurskale wat vandag gebruik word: Celsius, Fahrenheit en Kelvin.  5

  • Celsius – Die algemeenste temperatuurskaal ter wêreld is Celsius. Celsius gebruik die eenheid grade Celsius en word afgekort as °C. Die skaal stel die vriespunt van water op 0 °C en die kookpunt van water op 100 °C.
  • Fahrenheit – Die temperatuurskaal wat die algemeenste in die VSA gebruik word, is die Fahrenheit-skaal. Fahrenheit gebruik die eenheid grade Fahrenheit (°F) en stel die vriespunt van water op 32 °F en kookpunt op 212 °F.
  • Kelvin – Die standaardeenheid van temperatuur wat die meeste deur wetenskaplikes gebruik word, is Kelvin. Kelvin gebruik nie die °-simbool soos die ander twee skale nie. As ’n mens temperatuur in Kelvin skryf, gebruik jy die letter K. Kelvin gebruik absolute nul as die 0-punt van sy skaal. Dit het dieselfde inkremente as Celsius deurdat daar 100 inkremente tussen die vries- en kookpunte van water is. Absolute zero is die koudste moontlike temperatuur wat enige stof kan bereik. Dit is gelyk aan 0 Kelvin of -273,15 °C (-459,67 °F).

Temperatuur en die weer

Wanneer weeraanbieders oor die temperature in die omgewing berig, sal hulle windkoue as ’n weerwaarskuwing noem. Windkoue laat die temperatuur wat jy op jou blootgestelde vel voel, daal. Hoe vinniger die wind waai, hoe laer is die temperatuur. Onbedekte vel, soos die neus en wangbene, kan in gebiede waar die temperatuur onder vriespunt is, aan vriesbrand (“frostbite”) blootgestel word.

Die ander term wat jy gedurende die somer sal hoor, is die hitte-indeks. Dit is ’n kombinasie van lugtemperatuur en die hoeveelheid vog in die lug. Dit is nie die werklike temperatuur buite nie, maar dit is ’n beskrywing van hoe die lug op jou liggaam sal voel. As iemand vir lang tydperke buite in warm temperature is, bestaan die gevaar dat jy sonsteek, wat lewensgevaarlik kan wees, kan opdoen.

Wasem wanneer jy uitasem

Waarom kan jy jou asem sien as dit koud is buite? Jou asem is redelik warm en vogtig omdat onsigbare waterdamp ’n groot deel van die gas uitmaak. Die warm vogtige lug, wat die koeler lug buite die liggaam ontmoet, veroorsaak dat die onsigbare waterdamp kondenseer. Dit vorm die wasem wat jy sien. Die relatiewe humiditeit, wat afhang van die voginhoud en temperatuur, styg dus tot 100%. Namate jou asem verder van jou gesig af blaas, verminder die voginhoud en daal die relatiewe humiditeit en word die druppels weer waterdamp (die waterdruppels verdamp dus weer en word ’n gas). 6

Liggaamstemperatuur

Temperatuur beïnvloed ’n aantal fisieke prosesse in jou liggaam, daarom is dit baie belangrik om jou liggaam gesond te hou sodat dit goed kan funksioneer. Die normale temperatuur van ’n menslike liggaam is 36,1 °C tot 37,2 °C. By hierdie temperatuur kan jou liggaam normaal funksioneer. 7

As ons liggaamstemperatuur styg, kan dit ’n aanduiding wees dat ons nie gesond is nie – dit word koors genoem. Dit is omdat ons liggame harder werk om ’n infeksie te beveg. Jou vlakke van witbloedselle verhoog om die infeksie te beveg, en dit beïnvloed die hipotalamus. Die hipotalamus is die deel van die brein wat ’n aantal dinge beheer, onder meer die temperatuur van jou liggaam.

Woordbank

fisika Wetenskap wat handel oor die verskillende vorms van lewelose materie en oor dié van hulle verskynsels waarby geen verandering van hul chemiese samestelling betrokke is nie; natuurkunde.
infeksie Binnedringing van siektekieme, of organismes soos bakterieë/skimmels/wurms/ens. wat siektes veroorsaak; aansteking; besmetting.
inkremente Mate van toename of verhoging.
skaal Instrument/toestel waarmee of maatstaf waarvolgens byvoorbeeld gewig gemeet word. In die geval van temperatuur, is dit die metingsmaatstaf om te bepaal hoe koud of warm iets is.
termometer Instrument waarmee die temperatuur van iets gemeet word.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Verskillende soorte termometers en hoe dit gebruik word

Hoe word temperatuur gemeet?

Die verskil tussen hitte en temperatuur

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 10 Desember 2021 | Bygewerk op 14 Maart 2024