Vinnige feite

  • Lewe het ongeveer 3,8 miljard jaar gelede vir die eerste keer ontstaan. Ons reis begin in Suid-Afrika, waar fossiele van die vroegste bekende lewensvorme op ons planeet gevind is.
  • Suid-Afrika het fossiele van sommige van die vroegste bekende dinosourusse opgelewer, wat minstens 200 miljoen jaar terug dateer.
  • Fossiele van ons verre soogdieragtige voorouers, wat meer as 200 miljoen jaar gelede geleef het, is ook in Suid-Afrika gevind.
  • Volgens argeoloë en paleontoloë is Afrika die geboorteplek van die mensdom.
  • Hominiede – die voorouers van moderne mense – het die eerste keer sowat sewe miljoen jaar gelede in Afrika ontstaan.
  • Die eerste klipwerktuie is ten minste 2,6 miljoen jaar gelede in Afrika gemaak en gebruik.
  • Homo sapiens, die spesie waaraan ons almal behoort, het ongeveer 200 000 jaar gelede in Afrika ontwikkel.
  • Van die oudste rotskuns ter wêreld is in Suider-Afrika ontdek.
  • Die hele mensdom deel ʼn Afrika-erfenis. Ons is een diverse spesie reg oor die wêreld, met ons wortels in Afrika. 19
  • Terwyl die kalkmynery by die Kromdraaigrotte aan die gang was, het mense allerhande fossiele opgemerk. En wat maak die eienaar van die terrein toe? Hy open ʼn teekamer waar hy plaatkoekies, fossiele en guano aan nuuskierige besoekers verkoop! 5
Foto: iStock

As mens die woord “wieg” hoor, dan dink jy dadelik aan ʼn baba se eerste bedjie. Net soos hierdie kleine bababedjie is daar ʼn veel groter “bababed” in ons land wat, volgens argeoloë en navorsers, die Wieg van die Mensdom genoem word, m.a.w. waar daar tekens of oorblyfsels van die heel eerste mense behoue gebly het.

Kom ons vind meer uit en leer sommer terselfdertyd die betekenis van ʼn paar groot woorde…

Die heelal, die aarde en die mens

Die heelal is ongeveer 14 miljard jaar gelede gevorm, die aarde 4,6 miljard jaar gelede en lewe op die aarde ongeveer 3,8 miljard jaar gelede. Ons weet dit danksy ʼn metode genaamd radiometriese datering, wat die hoeveelheid radioaktiewe verval van isotope in ʼn monster (voorbeeld) meet om dan te bereken hoe oud daardie monster moet wees.

Sommige van die vroegste tekens van lewe word by die Wieg van die Mensdom gevind, wat Afrika verbind aan die vroegste geskiedenis van die mens. Die eerste klipgereedskap (ongeveer 2,6 miljoen jaar gelede) is in Afrika gebruik.

Die Homo sapiens-spesie is die spesie waaraan ons behoort en dit het hier in Afrika ontwikkel. Baie tekens van hierdie ontwikkeling is by die Wieg van die Mensdom ontdek. [1]

Sterkfonteingrotte, Gauteng

Maropeng

“Maropeng” is die Setswana-woord vir “terugkeer na die plek van ons herkoms” en daar word geglo dat Sentraal-Afrika die plek is waar die eerste mensespore verskyn het.

Volgens baie wetenskaplikes was dié tekens iewers naby die Sterkfontein-, Swartkrans- of Kromdraaigrotte, geleë aan die Wes-Rand van Gauteng (nie ver van Krugersdorp, Pretoria en Johannesburg nie).

Hierdie hele omgewing staan bekend as Die Wieg van die Mensdom en is ʼn unieke en kosbare juweel in die geskiedenis van die mensdom. Dit is in 1999 as ʼn Wêrelderfenisgebied verklaar en het ʼn geskiedenis wat miljoene jare oud is. 2

Wat is die Wieg van die Mensdom en hoe lyk dit?

Ligging

Hierdie pragtige landstreek (deel van die Hoëveld) is sowat 50 km van Johannesburg en beslaan ʼn oppervlakte van ongeveer 470 km2) in die provinsies Gauteng en Noordwes. Dit is egter nie net bekend is vir sy natuurlike skoonheid nie, maar ook vir die rykdom van argeologiese skatte wat daar ontdek is.

Die gebied het ongeveer 20 grotte in ʼn area van 47 000 hektaar. Daar is ook ʼn bykomende 80 000 hektaar wat deel van die terrein uitmaak. Die Wieg van die Mensdom sluit in: Sterkfontein, Kromdraai, Swartkrans, Bolt se Plaas, Coopers B, Minnaars, Plovers Lake, Gladysvale, Wondergrot, Haasgat en Gondolin.

Die area bestaan uit baie paleontologiese terreine – daar is altesaam 15 fossielterreine in die rotsagtige dele van dié Wêrelderfenisgebied. 3

Wetenskaplikes doen steeds uitgrawings op baie van dié terreine. 4

Die rots van die gebied is oorwegend dolomiet. Dit is ongeveer 3 miljard jaar gelede gevorm. Die kalksteen (ʼn bestanddeel van die dolomiet) is vatbaar vir erosie en dit het deur die jare tot die vorming van grotte gelei. [Lees hier oor erosie.]

Donderstorms kom in die somer hier voor met gepaardgaande weerlig, wat moontlik die oorsprong was van die “verkryging” van vuur deur hominiede. 2 Van die interessantste ontdekkings is bewyse van die eerste mensgemaakte vure van sowat 1,3 miljoen jaar gelede, by Zwartkrans. 3

Maropeng Tumulus-gebou, by die Maropeng-uitstalsentrum, die Wieg van die Mensdom is ‘n wêrelderfenisterrein

Fauna en flora

Die Wieg van die Mensdom is ryk aan blomplante, baie daarvan met ondergrondse knolle. Die meeste van die houtagtige plante kom in sinkgate en klowe voor waar vuur en ryp dit nie so erg kan beskadig nie.

Die dolomietiese sinkgate verskaf diep grond en klam, koel toestande wat geskik is vir ʼn verskeidenheid bome, soos die witstinkhout en struike. Dié area is ook ryk aan medisinale plante.

Daar is baie natuurlike fonteine, waterlope en strome wat in die Magalies- en Krokodilrivier inloop. Hier word ook verskillende voëlsoorte soos geelbekbosduiwe, kwêvoëls en blinkvlerkspreeus aangetref.

ʼn Verskeidenheid wildsbokke soos hartebeeste en rooibokke loop hier rond. Roofdiere kom ook hier voor en luiperds, bruin hiënas en jakkalse gebruik die sinkgate as skuilplekke. Die grotte bied weer skuilplek vir 16 verskillende vlermuisspesies. Dan is daar ook die pragtige skoenlapper, die Roodepoort Kopervlerkie wat uniek is aan die area.

Grondgebruik sedert die 1890’s het ongelukkig gelei tot die agteruitgang en verlies van die natuurlike omgewing. Vandag word volhoubare grondgebruikpraktyke ingespan om verdere agteruitgang van die veld te voorkom. Afvalstorting, besoedeling van water deur landbouchemikalieë en oorbeweiding het alles ʼn impak op die Wêrelderfenisgebied gehad. 3

Ontdekking van die Sterkfonteingrotte

​In 1881 is daar ʼn klein riffie goud in die Kromdraaigrotte (wat later die Sterkfonteingrotte sou word) ontdek, maar die goud was min en goudmynery het in 1912 tot stilstand gekom. Tog is daar vroeg heelwat kalk gevind en mynery in Die Wieg het voortgegaan. Massiewe stukke rots is uit die grot geblaas en in kalkoonde verbrand vir die verkryging van gebluste kalk. Maar in die proses is baie waardevolle fossiele tot niet gemaak. Te danke aan David Draper, ʼn pioniergeoloog wat besef het dat die Kromdraaigrotte van groot geologiese belang is, is dit later gestaak. 5

Die Tumulus-gebou by Maropeng se toerismesentrum by die Wieg van die Mensdom naby Johannesburg

Die gefossileerde brein en die Taung-kind

Prof. Raymond Dart, ʼn Australiër wat ʼn professor in anatomie aan die Universiteit van die Witwatersrand was, se studente het tydens ʼn velduitstappie op baie interessante fossielmonsters in die Buxton-steengroef naby Taung in die hedendaagse Noordwes afgekom. Hulle het dit aan hul professor gestuur wat onmiddellik besef het die binnekant van die gefossileerde skedel wat hy in sy hand vashou, nie dié van ʼn gewone aapspesie is nie, maar heelwat groter. Hy het verder tussen die stukkies “rots” gekrap en nog stukkies van die gesig van hierdie vreemde wese gevind.

Prof. Dart het gou vasgestel dat dié gefossileerde skedel behoort het aan ʼn jong lid van ʼn spesie wat iewers tussen die moderne mens en ape val en hom die wetenskaplike naam Australopithecus africanus (“suidelike aap van Afrika”) gegee. Daar word ook verwys na die Taung-kind.

Die ontdekking van hierdie aapmens-/hominiedfossiel is in 1924 gemaak en is een van die heel oudste ter wêreld. Daarbenewens is daar ook oorblyfsels van plant- en dierspesies gevind. 6

Hierdie ontdekking het baie teenkanting gekry en is deur sommiges as verregaande beskou omdat dit toe nog aanvaar is dat mense in Asië ontstaan het. Tog het daar ʼn paar ondersteuners van hierdie teorie na vore gekom, onder wie dr. Robert Broom. 7

Argeologiese opgrawingsterrein

Omdat hierdie gebied so ryk is aan fossiele, kan argeoloë gebruikmaak van ʼn toestel genaamd Total Station wat die presiese posisie en hoogte van elke fossiel aandui en help bepaal. Sodoende word onnodige opgrawings en die saamgooi van verskillende fossiele in sakke tot ʼn minimum beperk. Andersins sal dit verwarring veroorsaak as die argeoloë probeer vasstel waar elke stukkie van die verskillende fossiele hoort.

Toe Broom die grotte in 1936 besoek, het hy dadelik die paleontologiese waarde van die terrein besef en die steengroefmeester gevra om op die uitkyk te wees vir interessante fossiele. 8

Dit is ook hier waar dr. Robert Broom in 1947 die skedel van ʼn volwasse vrou in Makapansgatvallei gevind het. Dié 2,3-miljoenjarige mev. Ples, het die wetenskaplike wêreld laat gons.

Hierdie skedel word as die skakel tussen aap en mens beskou.

Mev. Ples

Een van die mees grensverskuiwende ontdekkings, en ʼn ikoon van menslike evolusie, is die beroemde “Mev. Ples.” Dié ontdekking het die oortuiging, wat nou algemeen aanvaar word, ondersteun dat ons menslike voorouers oorspronklik van Afrika kom.

Twee wetenskaplikes, Robert Broom en John Robinson, het die fossielskedel op 18 April 1947 ontdek. Hulle het gedink die skedel behoort aan ʼn vrou, en daarom het hulle dit “Mev.” Ples genoem. Die naam kom van die wetenskaplike naam wat Broom die eerste keer vir die skedel gebruik het: Plesianthropus transvaalensis, wat beteken “byna mens van die Transvaal”. Transvaal, vandag bekend as Gauteng, was die provinsie waar die skedel gevind is.

In 1950 het dr. Robert Broom die tandholtes van mev. Ples se oogtande gemeet en vergelyk met dié van ander fossiele wat reeds as manlik of vroulik geklassifiseer is. Die resultate het bewys dat Mev. Ples manlik was! 9

Mev. Ples is later geherklassifiseer as ʼn lid van ʼn spesie wat voorheen as Australopithecus africanus geïdentifiseer is. 10

Die skedel van Mev. Ples is nou glo tussen 2,5 miljoen en 2,8 miljoen jaar oud – om te dink dat iemand op die ouderdom van 2,5 miljoen jaar onmiddellik wêreldberoemd kon word! 8

Die skedel is klein, amper so groot soos ʼn sjimpansee se skedel. Mev. Ples en ander lede van die spesie Australopithecus africanus het egter regop gestaan soos mense. Hoewel bevind is dat Mev. Ples volgroeid was, was sy net sowat 1,4 meter lank. 9

Die skedel word in die Ditsong Nasionale Museum vir Natuurgeskiedenis (vroeër Transvaalse Natuurhistoriese Museum) in Pretoria gehuisves. 11

Die Mev. Ples-fossiel bly ’n simbool van ons gedeelde oorsprong en die voortdurende soeke na kennis oor ons menslike erfenis.

Kleinvoet (Little Foot)

In 1994 was die paleoantropoloog professor J. Ronald Clarke in die werkkamer op Sterkfontein besig om ʼn boks dierebene van die Silberberggrot in die Sterkfonteingrotte te sorteer, toe hy op vier voetbene afkom wat hy besef het behoort aan ʼn Australopithecus africanus.

Deur na dié voetbene te kyk, kon daar bepaal word dat hierdie spesie bipetaal was, met ander woorde dat hierdie spesie op twee bene geloop het.

Toe, in 1997, ontdek Clarke in die Wits-Departement van Anatomie nog bene in ʼn boks aapfossiele, wat hy besef het ook aan Kleinvoet behoort. Dit het gelyk of een van die beenbene, ʼn skeenbeen, onlangs gebreek was. Clarke het geraai dat omdat daar bene van beide linker- en regtervoete en -bene was, die res van die skelet steeds in die grotte kon wees.

Prof. Clarke met Little Foot

Hy het sy tegniese assistente, Stephen Motsumi en Nkwane Molefe, genader met ʼn afgietsel van die gebreekte skeenbeen, en hulle gevra om te soek na die gedeelte waaruit dit in die uitgestrekte en donker Silberberggrot gehaal is – ʼn taak soortgelyk aan die vind van die spreekwoordelike naald in ʼn hooimied! Die twee mans het met net handlampe gesoek en die bypassende been ná net twee dae gevind! Dit was ingebed in breccia, diep binne die Silberberggrot.

Die volledige vroulike skelet van Kleinvoet is in 2017 aan die wêreld bekendgestel en het unieke insigte in die wêreld van ons vroeë voorouers gebied.

Kleinvoet was waarskynlik net meer as vier voet (sowat 1,2 m) lank. Sy sou in bome geslaap het om veilig te bly teen reuse-roofdiere soos sabeltandtiere. En sy was heel moontlik ʼn vegetariër wat aan plante gesmul het. Sy het baie sterk hande gehad en ʼn spesiale groottoon wat boomklim makliker gemaak het.

Kleinvoet was oud toe sy gesterf het, en haar oorskot is saam met dié van ʼn bobbejaan gevind, wat daarop dui dat sy waarskynlik in ʼn geveg gesterf het. Haar tande het ook daarop gedui dat sy óf honger gely het óf ernstig siek was tydens haar kinderjare. 12

Navorsers het nog ontdekkings oor haar liggaam gemaak: Kleinvoet kon ander kopbewegings as moderne mense maak. Dit was waarskynlik te wyte aan die feit dat Kleinvoet soveel tyd in bome deurgebring het en ʼn kranige klimmer was. Die moderne mens het hierdie spesiale vermoëns verloor omdat dit nie meer nodig is om jou kop so ver vorentoe of agtertoe te beweeg nie. 13

Die volledige skelet van Little Foot is ʼn bewys van die evolusionêre oorgangsproses tussen vroeë primate en die mens.

Eienaars

Die Sterkfonteingrotte, sowat 11 km vanaf Krugersdorp, is deel van die plaas Zwartkrans in die Bloukransvallei. 14

Guglielmo Martinaglia, ’n Italiaanse mynwerker, het in 1896 deur die oppervlakte-openinge van die Sterkfonteingrotte geblaas op soek na kalksteen. Op min of meer dieselfde tyd het lede van die Geologiese Vereniging van Suid-Afrika (GVSA) interessante grotformasies en fossiele in die grotte gerapporteer.

Die grotte is in 1900 vir besoekers oopgestel en vanaf ongeveer die 1920’s het die grotte ʼn toeristeaantreklikheid geword. Aandenkingsversamelaars het fossiele van die terrein geneem of gekoop. Die destydse eienaar, R.M. Cooper, het in ’n brosjure besoekers aanmoedig om na die Sterkfonteingrotte te kom om “The Missing Link” (“die vermiste skakel”) te vind. 15

ʼn Groot deel van hierdie grond is steeds in private besit, behalwe die Sterkfonteingrotte wat deur die oorspronklike eienaars van die plaas Zwartkrans aan die Universiteit van die Witwatersrand geskenk is. Die universiteit bestuur ook sedert 1958 die ses groot ondergrondse kamers wat met gange verbind word, asook die ondergrondse meer. 16

Museum en besoekersentrum

In 1966 het die argeologiese museum sy deure geopen. Hierdie museum is vernoem na dr. Robert Broom. 17

Die Maropeng-besoekersentrum is ’n bekroonde, wêreldklas-uitstalling, wat fokus op die ontwikkeling van mense en ons voorouers oor die afgelope paar miljoen jaar.

Sien fossiele, leer oor hoe die mensdom gebore is, bekyk klipgereedskap wat tot een miljoen jaar oud is, en nog baie meer oor die mensdom se fassinerende oorsprongverhaal. 17

Hoewel die Maropeng-besoekersentrum naby die grotte in 2014 opgeknap is, bly die hele gebied steeds ʼn navorsingsterrein waar nuwe opgrawings nog gemaak word.

In 2005 het die Wieg van die Mensdom uitgebrei om ook die Taung-steengroef naby Kimberley en Makapansgat naby Polokwane in te sluit. Beide hierdie terreine bestaan uit dieselfde rotslae en beide bevat fossielmonsters wat bewys dat lewende wesens vir byna 3,5 miljoen jaar ononderbroke in hierdie gebiede gewoon het.

Die feit dat die Wieg van die Mensdom as ʼn Wêrelderfenisgebied verklaar is, het beslis voordele – dit verplig die regering om die terreine te bestuur en om die gemeenskap bewus te maak hiervan. Dit lei ook tot werkskepping en die bevordering van toerisme. 18

Woordbank

afgietsel Beeld deur giet vervaardig; vormafdruk.
argeoloë Navorsers wat die oorblyfsels van vroeër tye bestudeer.
atome Die kleinste deeltjie van ’n chemiese element wat chemies kan reageer; ’n bron van baie groot energie.
bipetaal Tweevoetig.
breccia Gesteente wat uit growwe, skerp stukke klip bestaan.
dinosourusse Enige dier wat deel is van ʼn groep uitgestorwe reptiele.
diverse Etlike, verskeie, verskillende.
elektrone Elementêre deeltjies aangetref in alle atome, wat bestaan uit ’n lading negatiewe elektrisiteit en in vaste stowwe optree as ’n draer van elektrisiteit.
erosie Wegvreet/wegkalwe/verweer van grond/rotse, ens. deur byvoorbeeld wind en water.
evolusie Die ontstaan van plant- en diersoorte uit ouer vorme.
fauna en flora Diere en plante.
fossiele Enige oorblyfsel van ’n dier/plant wat in gesteentes van die aarde bewaar gebly het.
gebluste kalk Dit word gebruik vir onder meer die vervaardiging van yster en staal, papier- en pulpproduksie, behandeling van water en rookgasse en in die mynbedryf.
gefossileerde Versteende.
geologiese Aardkundige.
gons In beroering wees; in rep en roer; almal praat daarvan.
guano Voëlmis (dit word vir bemesting gebruik).
hominiede Lede van die familie soogdiere van die orde primate waartoe die mens behoort.
Homo sapiens Menslike wese.
ingebed Holte/plek waar iets lê of neergesit word.
isotope Isotope is atome wat dieselfde aantal protone en elektrone het, maar verskillende getalle neutrone en dus verskillende fisiese eienskappe het.
klipgereedskap Enige gereedskap wat geheel en al uit klip gemaak is.
knolle Vlesige onderaardse bol van verskeie plante.
kranige Baie goed of uitmuntend.
landbouchemikalieë Algemene landbouchemikalieë sluit brandstof, oplosmiddels, insekdoders, onkruiddoders, swamdoders, kunsmis en veeartsenykundige chemikalieë in.
monster Proef, proefstuk, voorbeeld, eksemplaar.
naald in ʼn hooimied ʼn Onmoontlike taak onderneem.
neutrone Subatomiese deeltjie in die kern van die atoom. Dit het geen lading nie, dus nie negatief of positief nie. Ons sê dan dit is neutraal.
ononderbroke  Sonder om te stop; aanhoudend.
oorwegend Oorheersend, hoofsaaklik.
paleoantropoloog Iemand wat menslike evolusie deur middel van fossiel- en argeologiese verslae bestudeer.
paleontologiese Wat verwys na die wetenskap van oerdiere en -plante deur hul gefossileerde reste bestudeer.
planeet ʼn Groot sfeer wat rondom ʼn ster, soos die son, wentel. Die aarde waarop ons woon, is ’n planeet.
pioniergeoloog Aardkundige wat baanbrekerswerk doen.
primate Soogdiere soos ʼn aap, bobbejaan, gorilla, ens.
protone Deeltjies in alle atome en bestaan uit ’n lading positiewe elektrisiteit. Die word saam met die neutron in die kern van die atoom gevind.
radioaktiewe verval Radioaktiewe verval vind plaas wanneer ‘n atoom een of ‘n kombinasie van deeltjies verloor.
radiometriese datering Radiometriese datering is ‘n metode om vas te stel hoe oud iets is – miskien ‘n houtartefak, ‘n rots of ‘n fossiel.
sabeltandtiere Oersoog-/roofdiere.
sinkgate Diep gate wat dikwels in ‘n dolomietstreek deur insakking voorkom.
skedel  Kopbeen.
skelet Geraamte.
skeenbeen Lang been aan die onderkant van die voorbeen.
soogdieragtige Wat verwys na diere wat ʼn ruggraat (werwelkolom) het en wat bedek is met hare. Hul kleintjies word lewendig gebore en gesoog (met melk van die ma gevoer).
spesie ’n Klassifikasie vir diere en plante.
steengroef Plek waar klippe uitgegrawe word.
tegniese Vakkundige.
teorie Grondreëls van ʼn wetenskap om waargenome feite/verskynsels te verklaar; voorstelling van iets in ʼn mens se gedagte sonder om rekening te hou of voordat rekening gehou is met die werklikheid.
unieke  Enig in sy soort; merkwaardig; buitengewoon, eiesoortig; onvergelykbaar.
verregaande Belaglik, nie waar nie; skokkend, te dik vir ʼn daalder.
 Wêrelderfenisgebied Dit is ’n plek wat internasionaal groot waarde het en wat vir die huidige mense op aarde en ook vir hulle nageslag bewaar behoort te word.

Lees hierdie artikels om jou kennis te verryk

Video’s

Twee video’s oor die Maropeng-besoekersentrum

Mev. Ples (animasiegrafika)

Mev. Ples was waarskynlik Mnr. Ples

Kleinvoet, Suid-Afrika se oudste en mees volledige skelet word bekendgemaak

Alles wat jy wil weet van Kleinvoet

Nuwe ontdekkings oor Kleinvoet

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 28 Julie 2021 | Bygewerk op 29 Februarie 2024