Vinnige feite

  • Daar is vandag ’n Royal Shakespeare-teater in Stratford-upon-Avon wat natuurlik na die dorp se bekendste oudinwoner genoem is. Hierdie teater is in 1879 gebou. In Londen is daar ook die bekende Globe-teater, waarin so ver terug as 1599 die toneelstukke van William Shakespeare opgevoer is. 4
  • Shakespeare was deel van ’n teatergroep Lord Chamberlain’s Men wat gereeld by ’n plek genaamd The Theatre opgetree het. Hulle het egter ’n geskil met die eienaar gehad en besluit om ’n teater neffens The Theatre te bou. Hulle het hul nuwe teater die Globe-teater genoem. Die Globe was ’n groot opelugteater en het plek vir baie mense gehad. Die arm mense wat goedkoper kaartjies gekoop het, het op die vloer gesit en die ryk mense met hul duurder kaartjies het op gemaklike stoele hoër op in galerye gesit. Toneelstukke is reeds vanaf 1599 daarin opgevoer.
  • In Shakespeare se tyd is vroue-akteurs nie op die verhoog toegelaat nie. Die rolle van vroue is deur mans vertolk. Die gehore in daardie jare was ook anders as vandag. Hulle kon skree, juig, uitjou en selfs kos na akteurs gooi as hulle nie van hulle hou nie!
  • Daar was toentertyd ook allerlei slim truuks om toneelstukke meer opwindend te maak soos met die gebruik van rook, vuur en selfs kanonne. Ongelukkig het ’n kanonskoot die dak van die Globe in 1613 getref en die hele gebou afgebrand!
  • In 1949 het ’n man genaamd Sam Wanamaker Londen besoek om na die oorspronklike ligging van die Globe-teater te kyk en was verras om net ’n klein bordjie daar te kry. Hy het in 1970 besluit om ’n nuwe Globe-teater te bou wat soos die oorspronklike een lyk, maar dit sou uiteindelik jare en jare vat om genoeg geld te maak om dit klaar te bou. Ongelukkig het hy in 1993 gesterf voor die teater voltooi is. Dit is in 1997 deur wyle koningin Elizabeth geopen en mense kan vandag nes in Shakespeare se tyd in die opelugteater sy toneelstukke geniet. 5
  • Shakespeare se opvoerings by sy teater is deur koninklikes soos Koningin Elizabeth I en konings James VI van Skotland bygewoon.
  • Dis heel moontlik dat ons almal Shakespeare se van verkeerd spel. Bronne uit sy leeftyd spel sy van op meer as 80 verskillende maniere en wissel van Shappere tot Shaxberd!
  • Shakespeare se graf kan vandag nog by die Holy Trinity Church op Stratford-upon-Avon besigtig word. Hy het self die woorde geskryf wat op sy grafsteen moes verskyn en dit is nog vandag daar! Daar staan: “Good friend for Jesus’ sake forbear, To dig the dust enclosed here. Blessed be the man that spares these stones, And cursed be he that moves my bones”. 6
  • As jy die naam Shakespeare google dan kry jy meer as 125 miljoen resultate. 7
  • Nadat Shakespeare oorlede is, het twee van sy vriende besluit om sy werke te publiseer. Hul name was John Heminges en Henry Condell. Hulle het al sy toneelstukke bymekaargesit en uitgewers het begin werk aan Shakespeare se boek First Folio. Die boek is in 1623 voltooi. Navorsers glo dat daar 750 (of dalk minder) kopieë van die First Folio gedruk is. Daar is gelukkig van die boeke wat dit tot nou toe oorleef het – 233 bestaan nog en 82 daarvan is in die Folger Shakespeare Library se versameling opgeneem.
  • Het jy geweet? Noord-Amerika het spreeus as gevolg van William Shakespeare se werke … In 1890 het ’n Amerikaner, genaamd Eugene Schieffelin, besluit om elke liewe voël wat in Shakespeare se oeuvre genoem word, maar wat nie in Amerika voorkom nie, in te voer! As deel van hierdie projek het hy twee swerms van 60 spreeus elk in New York se Central Park vrygelaat. 8

Spoke, woeste gevegte, moorde en drama, drama, drama. Dit kan jy alles in sy toneelstukke vind. Daar’s meer aksie in sy dramas as in die sepies waarna mense so graag kyk! Van wie se toneelstukke praat ons?

Wel, hierdie man is meer as 400 jaar gelede gebore en het ’n groot invloed op die toneelwêreld en letterkunde gehad. Sy naam was William Shakespeare (1564-1616) en hy is al telkens as die wêreld se beste dramaturg geloof. 1 Daar is immers al meer van sy toneelstukke as van enige ander dramaturg opgevoer.

Sy ouers sou nooit kon droom dat hul seuntjie van ’n dorpie in Engeland so wêreldberoemd sou word nie. En dat kinders en studente in die 21ste eeu steeds sy werk sou bespreek en dat daar talle boeke, flieks en TV-programme oor sy lewe en werk gemaak is.

Grootwordjare

Ons weet nie presies op watter dag William Shakespeare gebore is nie, maar ons weet wel hy is in die jaar 1564 op die dorp Stratford-upon-Avon in Engeland gebore. Sy verjaardag word vandag wel tradisioneel op 23 April gevier en dit was ook sy sterfdatum in 1616. 1

Shakespeare se pa was John Shakespeare en sy ma se naam was Mary Arden. Sy pa het allerlei verskillende werke gehad. Hy het onder meer geboer, met leer gewerk, houtwerk gedoen en was ook in ’n stadium die burgemeester van sy dorp. Hy het egter in ’n skuldstrik getrap en groot geldprobleme gehad. William het drie jonger broers en twee jonger sussies gehad. 2

Daar bestaan nie meer inligting oor skole van daardie tyd nie, maar daar was glo ’n goeie skool in die omgewing waar hy Latynse grammatika en klassieke werke kon geleer het.

Hy het op 18-jarige ouderdom met Anne Hathaway (1556-1616) getrou. Sy was agt jaar ouer as hy. Hulle het ’n dogter, Susanna, gehad en daarna ’n tweeling, Hamnet en Judith. Hamnet is op 11-jarige ouderdom oorlede. 2

Sy ‘verlore’ jare

Geskiedkundiges verwys na die jare tussen 1585 en 1592 as Shakespeare se ‘verlore’ jare omdat daar geen boekstawing daaroor bestaan nie. Ons weet dus nie watter werk hy in daardie sewe jaar gedoen het nie. Party mense dink hy was ’n onderwyser en ander dink weer hy het regte studeer. Nog ’n klomp beweer hy het saam met ’n toneelgroep gereis. Volgens een gerug moes hy ook uit die dorp vlug omdat hy ’n politikus se wildsbok gesteel het! Ons weet wel dat hy teen 1592 as ’n akteur gewerk het, verskeie toneelstukke geskryf het en al genoeg tyd in Londen deurgebring het om oor die stad en sy mense te kan skryf. 2

Shakespeare se werk

Die jaar 1592 was die jaar toe builepes (ook die Swart Dood genoem) baie lewens in Londen geëis het. Builepes word deur vlooie van rotte en ander knaagdiere oorgedra en mense het ’n grusame dood binne gesterf. Gelukkig kan dit vandag deur antibiotika behandel word.

Openbare plekke soos teaters is gesluit om verspreiding van die siekte te keer. Shakespeare kon dus nie werk nie en het sy hand aan gedigte gewaag.

Sy eerste verhalende gedig “Venus en Adonis” is toe geskryf en is aan sy vriend Henry Wriothesley, die graaf van Southampton, opgedra. Shakespeare se versameling van sonnette is in 1609 uitgegee. Hy het uiteindelik omtrent 150 gedigte skryf.

Londen se teaters het in 1594 heropen en Shakespeare was in daardie stadium deel van ’n toneelgroep, Lord Chamberlain’s Men. Hulle het dikwels toneelstukke vir koninklikes opgevoer. Shakespeare het ook betrokke geraak by die teater se sakebedrywighede en dit het van hom ’n welvarende man gemaak.

The Globe Teater

Shakespeare het in sy leeftyd ongeveer 37 toneelstukke geskryf. Dit is egter net ’n beraming, want baie van sy werk het deur die jare verlore gegaan en daar word ook gespekuleer dat hy van sy werk saam met ander dramaturge kon geskryf het.

Sy toneelstukke kan in drie kategorieë verdeel word:  tragedies, komedies of geskiedkundige dramas. In sy tragedies sien ons hoe die hoofkarakter tot ’n val kom, soos in die bekende HamletKing Lear en Macbeth. Komedies is toneelstukke wat snaaks is, en sy bekendes is A Midsummer Night’s DreamAs You Like It, en The Taming of the Shrew. Sy geskiedkundige dramas gaan oor van Engeland se magtigste konings, soos Henry IV en Richard II.

Shakespeare het in ongeveer 1610 afgetree en na sy tuisdorp Stratford-upon-Avon teruggekeer. Hy is op 23 April 1616 op die ouderdom van 52 jaar oorlede en hoewel dit vir ons jonk klink, was die lewensverwagting in sy tyd tussen 30 en 40 jaar. Sy dogter, Susanna, het glo omtrent alles van hom geërf.

Daar is al dikwels gesê dat ’n plattelander van daardie tyd onmoontlik so goed soos Shakespeare oor geskiedenis of koninklikes geskryf het. En daarom is daar mense wat glo dat iemand anders Shakespeare se naam gebruik het en dat dit nie regtig Shakespeare was wat alles geskryf het. Daar is egter baie geskiedkundiges wat nie saam met hulle stem nie, maar wel glo dat dit Shakespeare was wat dit geskryf het, maar dat hy wel saam met ander dramaturge kon gewerk het.

Daar word gesê dat Shakespeare meer as enige skrywer in die geskiedenis die Engelse taal beïnvloed het. Hy het baie Engelse woorde en frases gewild gemaak, soos “fashionable”, “sanctimonious”, “eyeball” en “lackluster” asook die uitdrukkings “foregone conclusion”, “in a pickle”, “a wild goose chase” en “one fell swoop”. 2

Shakespeare in Suid-Afrika

Shakespeare se werk is al in minstens 80 tale vertaal. Die eerste amptelike vertaling van Shakespeare se werk in ’n Suid-Afrikaanse taal is deur Solomon T. Plaatje onderneem. Hy was een van die stigterslede van die South African Native National Congress (later die ANC).

Plaatje is in Brittanje gevra om ’n stuk na Setswana te vertaal wat in die internasionale Book of Homage to Shakespeare (1916) verskyn het. Plaatje het uiteindelik ses van Shakespeare se toneelstukke vertaal: Diphosho-phosho (The Comedy of Errors), Mashoabi-shoabi (The Merchant of Venice), Matsepa-tsapa a Lefeala (Much Ado about Nothing), Dintshontsho tsa bo-Juliuse Kesara (Julius Caesar), Othello en Romeo and Juliet (wat nie ’n Setswana-titel gehad het nie). Daar is daarna nog tekste vertaal, maar nie almal is meer beskikbaar nie.

B.B. Mdlelele se isiXhosa-weergawe van Julius Caesar is glo besonders en so ook R.L. Peteni se isiXhosa-boek Hill of Fools / Kwazidenge (1976/1980) wat op Romeo and Juliet gegrond is.

Welcome Msomi se uMabatha (Macbeth) in Zoeloe is ook baie bekend.

Heelwat Afrikaanse skrywers het ook Shakespeare se werke na Afrikaans vertaal. Uys Krige het byvoorbeeld Twelfth Night na Twaalfde Nag (1967) vertaal. Breyten Breytenbach het Titus Andronicus (1970) vertaal asook Andre P. Brink. Eitemal het heelwat vertalings gedoen, soos Macbeth (1965), Hamlet (1973), Midsomernagdroom (A Midsummer Night’s Dream, 1975) en Die Wintersprokie (The Winter’s Tale, 1975). 3

Woordbank

dramas Gebeurtenis met dramatiese elemente of ’n direkte voorstelling deur handeling, dialoog, mimiek en gebare van menslike gebeure.
dramaturg Iemand wat toneelstukke skryf. 9
komedies ’n Grappige vertoning.
letterkunde Dit is geskrewe werke, veral dié waarvan die waarde lê in die skoonheid van die taalgebruik.
oeuvre Die gesamentlike werke van ’n kunstenaar of geleerde.
toneelstukke ’n Verhaal wat deur ’n groep toneelspelers op ’n verhoog opgevoer kan word.
tragedies ’n Toneelstuk waarin die hoofkarakter ten gronde gaan of hartseer eindig.
truuk (Skelm)streek; slim plan om iemand te uitoorlê.
welvarend Dit is iemand wat welgesteld (ryk) is.

Lees hierdie artikels om meer oor William Shakespeare te leer

Kyk hierdie video’s om meer oor William Shakespeare te leer

Feite oor William Shakespeare

Wie was William Shakespeare?

Shakespeare se bekende Romeo & Juliet: Spesiaal vir kinders!

Gepubliseer op: 8 Februarie 2023 | Bygewerk op 8 Mei 2024