Vinnige feite

Carnarvonstraat 25, Waltham Forest, Londen
  • Sol Plaatje was die eerste swart Suid-Afrikaner wat ’n roman in Engels geskryf het – Mhudi. Hy het die roman in 1919 geskryf, maar dit is eers in 1930 gepubliseer.
  • Professor Z.K. Matthews was Plaatje se neef.
  • In ’n tyd toe huwelike tussen lede van verskillende stamme nog baie ongewoon was, is Sol Plaatje met ’n lid van die Fingo-stam getroud. Sy vrou, Elizabeth, was die suster van H.I. Bud-Mbelle, ook ’n onderwyser, tolk, staatsamptenaar en aktivis. 3
  • Plaatje het ses boeke geskryf en vier van Shakespeare se dramas in Tswana vertaal. 3

Solomon (Sol) Tshekisho Plaatje was ’n taalkundige, joernalis, politikus, staatsman en skrywer wat diep spore getrap het in die taalwêreld, die joernalistiek, en in Afrika-aangeleenthede. 1 Sy belangrikste nalatenskap was dat hy ’n stigterslid was van die South African Native National Congress (1912) wat later die African National Congress (ANC) sou word. 2

Vroeë jare

Sol Plaatje is op 9 Oktober 1876 in Boshof se distrik in die Vrystaat gebore. Sy oupa se naam was Selogilwe Mogodi, maar sy werkgewer het hom Plaatje genoem en die familie het die bynaam as ’n van begin gebruik. Sy ouers, Johannes en Martha, was Christene en lede van die Tswanasprekende Barolong. Toe Sol Plaatje vier was, het sy ouers op ’n sendingstasie van die Lutherse Berlynse Sendinggenootskap op Pniel naby Barkly-Wes in die Noord-Kaap gaan woon. 3

Sy ouers het vir die Duitse sendeling op die sendingstasie, Ernst Westphal, en sy vrou Wilhelmine gewerk. So het die jong Sol Plaatje ’n sendingopleiding ontvang. Hy was ’n skrander leerder, en hy het gou die ander leerders uitgestof. Mevrou Westphal het hom privaat onderrig. By haar het hy onder andere klavier en viool leer speel en sanglesse geneem. 2

Ná sy skoolopleiding het hy vir nog ’n paar jaar op Pniel gebly en as assistentonderwyser gewerk. Hy het ook met die hulp van die sendelinge verder studeer. 3

’n Loopbaan in die staatsdiens

In 1894 het hy Kimberley toe getrek. Daar het hy ’n telegrafis vir die Poskantoor geword. Hy het sy private studies voortgesit en die staatsdienseksamen afgelê, waarin hy baie goed presteer het. 3 In die klerkseksamen het hy die hoogste punte van al die kandidate in Nederlands en tik gekry. 2

Op die vooraand van die Vryheidsoorlog is hy as tolk na Mafeking (deesdae Mafikeng) gestuur, en tydens die beleg van Mafeking in 1899-1900 het hy as beide hoftolk en klerk by Mafeking se Administrateur van Naturellesake opgetree. 3 Benewens sy moedertaal, Tswana, kon hy ten minste agt ander tale praat: Engels, Afrikaans, Nederlands, Duits, Frans, Sotho, Zoeloe en Xhosa. 1

Die Suid-Afrikaanse Naturelle Nasionale Kongres afvaardiging na Engeland, Junie 1914. Links na regs: Thomas Mapike, Ds Walter Rubusana, Ds. John Dube, Saul Msane, Sol Plaatjie.

Joernalistiek wink

As ’n swart persoon sou hy nie in die staatsdiens bevordering kry nie. Met sy natuurlike affiniteit vir woorde, het Plaatje hom tot joernalistiek gewend. In 1901 het hy met finansiële steun van Silas Molema, hoof van die Barolong, die eerste Tswana-Engelse koerant, die Koranta ea Becoana, in Mafeking gestig. Hy was sewe jaar lank die redakteur van hierdie koerant.

Daarna is hy terug Kimberley toe waar hy die koerant Tsala ea Becoana, later herdoop tot Tsala ea Batho (“Vriend van die Mense”), gepubliseer het. Plaatje was ’n produktiewe skrywer en het baie artikels vir ander koerante geskryf, veral Kimberley se Diamond Fields Advertiser. 4

Jare van aktivisme

Toe Plaatje begin werk het, was die Kaap nog ’n Britse kolonie. Die Kaapkolonie het gekwalifiseerde stemreg vir alle mans van 21 of ouer gehad. “Gekwalifiseerde stemreg” beteken dat mense stemreg gekry het as hulle aan sekere vereistes voldoen. Mense is nie op grond van ras verhoed om te stem nie. Die vereiste was dat hulle Engels of Nederlands moes kon lees en skryf, en hulle moes meer as 50 pond per jaar verdien. Toe Plaatje dus in 1897 21 jaar oud geword het, kon hy vanweë sy kwalifikasies en inkomste stem. 2

Toe die Unie van Suid-Afrika in 1910 gestig is, wou swart aktiviste dieselfde soort stemreg in die ander provinsies ook hê, maar hul pogings was onsuksesvol. Kiesers in die Kaapprovinsie het wel hul stemreg behou, maar daar was geen waarborg in die Grondwet van die Unie dat daardie regte beskerm sou word nie. 5

Die South African Native National Congress

In die eertydse Transvaal en die Oranje-Vrystaat het swart Suid-Afrikaners nie stemreg gehad nie. Om hierdie Suid-Afrikaners se belange te verteenwoordig, is die South African Native National Congress (SANNC) in 1912 gestig. Die SANNC sou later die African National Congress (ANC) word.

Sol Plaatje is as die eerste sekretaris-generaal van die SANNC gekies. Hy was ’n uitgesproke teenstander van stamgerigte politiek. Dit beteken hy het geglo dat swart Suid-Afrikaners eerder hul ooreenkomste moes gebruik om hul gedeelde belange te bevorder as om op hul verskille en hul verbondenheid aan stamme te fokus. 3

Die Wet op Naturellengrond (Wet 27 van 1913)

Die eerste groot veldtog van die SANNC was teen die Wet op Naturellengrond van 1913. Hierdie wet het die reg van swart mense om grond in die Unie te besit, drasties beperk. Alle grond in die Oranje-Vrystaat was reeds in die besit van wit eienaars, maar in die Transvaal het hierdie wet gelei tot onteiening van swart boere se grond.

In 1914 het Plaatje Brittanje besoek. Hy was deel van ’n afvaardiging wat ’n beroep gedoen het op die Britse regering om teen die diskriminerende wet op te tree. Die besoek was nie suksesvol nie, maar Plaatje het besluit om in Brittanje te bly om daar sy werk voort te sit. Hy was in Brittanje tot Februarie 1917, toe hy na Suid-Afrika teruggekeer het. 3

Protesgeskrifte

Gedurende sy verblyf in Brittanje het hy lesings gegee, as ’n taalassistent by die Universiteit van Londen gewerk, en drie boeke geskryf. Een van dié boeke was ’n uitgebreide en roerende protes teen die Wet op Naturellengrond, Native Life in South Africa, Before and Since the European War and the Boer Rebellion. Hy het die boek in 1916 geskryf.

Sy ander twee werke was Sechuana Proverbs, With Literal Translations and Their English Equivalents en A Sechuana Reader, wat hy saam met Daniel Jones van die Universiteit van Londen geskryf het. Dit het ook in 1916 verskyn. 3

Binnelandse en buitelandse veldtogte

Hy het in 1919 na Londen teruggekeer waar hy die Britse eerste minister, Lloyd George, ontmoet het. In Desember 1920 is hy na Kanada en die Verenigde State, waar hy prominente swart leiers soos Marcus Garvey, president van die Universal Negro Improvement Association, en W.E.P. du Bois, die leier van die National Association for the Advancement of the Coloured People, ontmoet het. 4 Hy het ook gereël dat ’n Amerikaanse uitgawe van sy boek Native Life verskyn.

Aan die einde van 1923 keer hy terug na Suid-Afrika. Tydens die parlementsitting is hy Kaapstad toe om verslag te doen oor die bedrywighede, en om as verteenwoordiger van die ANC die belange van swart Suid-Afrikaners te verwoord. 3

ANC se vlag

Ná sy ervarings in die Verenigde State het hy betrokke geraak by die Joint Council-beweging, Dit was ’n poging om die toenemende rassespanning in die land te verlig. 6 Hy het ook by die African People’s Organisation van Abdul Abdurahman aangesluit, ’n organisasie wat die belange van bruin Suid-Afrikaners in die Kaap bevorder het. 7

Hy is na die Kongo om oor toestande daar te berig, en was aktief betrokke by burgerlike sake in Kimberley. 3

Alhoewel sy verhouding met die ANC soms ongemaklik was, was hy in Desember 1930 deel van ’n ANC-afvaardiging na die Departement Naturellesake om teen die paswette beswaar te maak. 3

Hy het op 19 Junie 1932 aan longontsteking gesterf.

Die Moroka Hall-gebou by die Sol Plaatje Universiteit

Erkenning

Dekades het verloop voordat Plaatje die erkenning begin kry het wat hy verdien het.

Die volgende tel onder die talle eerbewyse wat aan Sol Plaatje toegeken is: 2

  • In die 1970’s is belangstelling in Plaatje se joernalistieke en literêre nalatenskap geprikkel deur die werk van John Comaroff (redakteur van The Boer War Diary of Sol T. Plaatje).
  • 1978: Sy eerste roman Mhudi is heruitgegee onder die redaksionele leiding van Stephen Gray.
  • 1982: Sy boek Native Life in South Africa: Before and Since the European War and the Boer Rebellion(1916) is weer deur Ravan Press uitgegee.
  • 1982: die African Writers Association stel ’n Sol Plaatje European Union Poetry Award in.
  • 1984: Brian Willan publiseer sy biografie Sol Plaatje: South African Nationalist, 1876-1932.
  • 1998: ’n Eredoktorsgraad word postuum deur die Noordwes-Universiteit aan Plaatje toegeken. Verskeie van sy nasate was teenwoordig.
  • 1998: Plaatje se graf in West End-begraafplaas in Kimberley word tot nasionale monument (nou ’n provinsiale erfenisterrein) verklaar. Dit was slegs die tweede graf in die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat die status van nasionale monument gekry het.
  • 2000: Die gebou van die Departement van Onderwys in Pretoria is op 15 Junie 2000 herdoop na Sol Plaatje House, “ter ere van hierdie politieke reus en uitmuntende opvoeder”.
  • 2000: Die Suid-Afrikaanse Poskantoor het ’n reeks seëls uitgereik met skrywers van die Boereoorlog, met Plaatje wat op die R1,30-seël verskyn het.
  • 2004: Die Orde van Luthuli (Goud) is deur die president aan hom toegeken vir “die toewyding van sy volwasse lewe aan die herstel van die waardigheid van onderdrukte Suid-Afrikaners en uitsonderlike bydrae tot die stryd vir ’n vrye en demokratiese Suid-Afrika”. 4
Die Sol Plaatje-museum en -biblioteek in Kimberley

Woordbank

affiniteit Liefde, aanvoeling en aanleg.
afvaardiging Groep mense wat gestuur is om ’n saak te bespreek.
belange te verteenwoordig Om oor dinge wat vir ander belangrik is te praat.
beleg ’n Omsingeling, veral van ’n dorp of stad gedurende ’n oorlog, waarin die inwoners van die buitewêreld afgesny word en so gedwing word om oor te gee.
benewens Afgesien van.
beroep gedoen het Vra.
drasties Radikaal; erg.
herdoop ’n Ander naam gee.
jou na iets wend Na iets draai; iets kies.
nalatenskap Dit wat ’n mens vir die wêreld agterlaat ná die dood.
nasate Afstammeling; lede van jou familie wat ná jou kom.
op die vooraand van Net voor, maar figuurlik bedoel; nie noodwendig die aand voor nie.
parlementsitting Vergadering van die parlement.
paswette Wette wat van mense van kleur vereis het om ’n pas te dra sodat hulle nie vryelik kon rondbeweeg nie.
postuum Ná iemand se dood.
geprikkel Aanwakker.
produktiewe Met gereelde uitsette.
roerende Wat ’n mens roer; gevoelvol.
roman Storieboek, dikwels fiksie, wat een of ander boodskap aan die leser oordra.
skrander Slim.
stamgerigte politiek Politiek wat stamme se belange verteenwoordig.
telegrafis ’n Persoon wat met ’n telegraaf werk, ’n masjien wat seine oor groot afstande kan stuur.
toenemende Wat groei of meer word.
uitgesproke Die eienskap om maklik te praat sonder om bang te wees.
uitgestof Wen.
vanweë As gevolg van.
verhoed Keer.
verwoord Iets in woorde omskakel; daaroor praat of skryf.
voldoen Nakom.

Lees meer

Kyk hier

Hierdie drie video’s is gemaak van ’n reeks lesings deur dr. Brian Willan, ’n dosent en navorser by Rhodes-Universiteit se Instituut vir die Studie van Engels in Afrika

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 4 Julie 2023 | Bygewerk op 7 Maart 2024