Vinnige feite
- Voor antibiotika se koms, het 90% van kinders met bakteriële meningitis gesterf. Van die kinders wat oorleef het, het die meeste ernstige en blywende gestremdhede gehad, wat strek van doofheid tot verstandelike gestremdheid.5
Aansteeklike siektes het vroeër jare geweldig baie sterftes veroorsaak. Dokters moes toekyk hoe duisende mense sterf omdat daar nie ’n geneesmiddel was nie. Mense is egter nie net aan aansteeklike siektes dood nie, jare gelede het selfs iets so klein soos die infeksie van ʼn klein skrapie of ’n tand wat getrek is, tot baie mense se dood gelei. 1
Die ontdekking van penisillien kon dus nie op ’n beter tyd plaasgevind het nie en was een van die grootste wetenskaplike prestasies van die 1900’s. Penisillien het letterlik miljoene lewens gered.
Penisillien behoort tot ’n groep mediese middels wat antibiotika genoem word. Hierdie medisyne bestry of beveg infeksies wat deur klein lewende organismes – wat bakterieë genoem word – veroorsaak word. Penisillien werk deur te keer dat bakterieë nuwe selwande vorm. As hulle nie nuwe selwande kan maak nie, groei daar nie nuwe selle nie, en dan kan die bakterieë nie groei nie.
Deur die geskiedenis
Die eerste naam vir penisillien was “swamsap” (mould juice). Die Skotse bakterioloog (’n wetenskaplike wat organismes soos bakterieë bestudeer) Alexander Fleming het dié antibiotika per ongeluk in 1928 ontdek toe hy van ’n vakansie af teruggekom het.
Met sy terugkeer het hy gevind dat ’n blougroen swam (amper soos die groen muf wat ’n mens op ou brood aantref) genaamd Penicillium notatum van die glasbakkies (petribakkies) in sy laboratorium besmet het. Dié swam het van die bakterieë wat hy in die glasbakkies gekweek (gegroei) het, doodgemaak.
Fleming het dié swam geïsoleer, meer daarvan gegroei en begin eksperimenteer om te kyk hoeveel ander bakterieë dit kon doodmaak. Dit het soos ’n bom gewerk, en dit het Fleming geïnspireer om maniere te vind om infeksies te beheer. 2
As kaptein in die Royal Medical Corps tydens die Eerste Wêreldoorlog het hy in slagveldhospitale in Frankryk gewerk, waar duisende soldate aan besmette wonde gesterf het. Daarom het hy dit sy doelwit gemaak om antibakteriese stowwe te vind.
Fleming het Penicillium notatum eers op 7 Maart 1929 formeel penisillien genoem. Hy kon nie genoeg produseer om al die mense wat dit nodig gehad het, te help nie, maar hy het wel sy navorsing gepubliseer.
In 1938 het die Oxford-patoloog Howard Florey die navorsing van Fleming ontdek en dit saam met die biochemikus Ernst Boris Chain – wat uit Duitsland gevlug het – verder ontwikkel. Die Britse biochemikus Norman Heatley het ook ’n groot bydrae gelewer deur penisillien te laat groei en te suiwer.
Anne Miller was in Maart 1942 die eerste mens wat suksesvol met penisillien behandel is. Sy het ’n miskraam gehad (wanneer ‘n baba te vroeg en dood gebore word) en ’n ernstige infeksie opgedoen. Penisillien het haar lewe gered.
Ná baie navorsing en eksperimentering, asook ’n reis na die VSA waar Florey en Heatley saam met Amerikaanse wetenskaplikes gewerk het, was ’n inspuitbare, massageproduseerde vorm van penisillien in 1942 gereed. Dit was net betyds om soldate wat in die Tweede Wêreldoorlog gewond was, te help.
Die syfers bewys die suksesverhaal van penisillien: Bakteriële longontsteking het tot die dood van 18% van gewonde soldate in die Eerste Wêreldoorlog gelei, maar in die Tweede Wêreldoorlog – toe die entstof geredelik beskikbaar was – het minder as 1% van die soldate aan bakteriële infeksies gesterf.
Ernest Boris Chain, Fleming en Florey het in 1945 die Nobelprys vir Geneeskunde vir hul baanbrekerswerk ontvang. Op 62-jarige ouderdom is Fleming tot die Royal Society verkies, tot ridder geslaan en as “sir” bekendgestaan. Alexander Fleming sterf in 1955 op die ouderdom van 74 jaar aan ’n hartaanval by sy huis in Londen.
Penisillien het die manier waarop ons siektes en wonde behandel, vir ewig verander. Penisillien word vandag in die behandeling van onder meer keelinfeksies, mangelontsteking, longontsteking, meningitis (breinvliesontsteking) en ander infeksies gebruik.
Daar is ’n hele groep antibiotika afkomstig van Penicillium, insluitend penisillien G, prokaïenpenisillien, bensatienpenisillien en penisillien V. Om te dink dit het begin as “swamsap”! 3
Sommige mense is egter allergies vir penisillien. Simptome van ʼn allergiese reaksie vir penisillien sluit in naarheid, diarree of ’n uitslag. Pasiënte wat allergies vir penisillien is, kry soms koors, braak of ly aan ’n ernstige velirritasie. Omdat penisillien so ’n gewilde antibiotika is, is penisillien die algemeenste oorsaak van ernstige allergiese reaksies op medisyne, maar dit raak net sowat 1% van alle mense.
Dankie antibiotika!
- Keelinfeksie was ook in sommige gevalle ’n dodelike siekte, en oorinfeksies het dikwels van die oor na die brein versprei en ernstige gesondheidsprobleme veroorsaak.
- Ander ernstige infeksies – van tuberkulose tot longontsteking en kinkhoes (ʼn aansteeklike infeksie in die boonste lugweë) – is deur aggressiewe bakterieë wat met buitengewone spoed voortplant en tot ernstige siektes en soms die dood gelei het, veroorsaak. 4
Woordbank
allergiese |
Oorgevoelig vir allergene en ‘n sterk reaksie veroorsaak, soos hooikoors of asma. |
antibiotika | Stof van swamme/kieme verkry wat lewende organismes soos bakterieë vernietig of hul ontwikkeling rem. |
eksperimenteer | Proefneming om iets te bevestig/weerlê na aanleiding van navorsing. |
miskraam | Te vroeë bevalling waarby die vrug/fetus dood is; ontydige geboorte. |
tuberkulose | Besmetlike, bakteriële siekte gekenmerk deur die vorming van knoppies in verskillende weefsels, veral die longe, wat vermoeidheid/nagsweet/koors/anemie veroorsaak. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer
Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer
Alexander Fleming en die ontdekking van penisillien
Penisillien en mikro-organismes
Hoe penisillien die wêreld per ongeluk verander het