Die woord narratief verwys na ʼn mondelinge of geskrewe beskrywing of vertelling van gebeurtenisse; met ander woorde ʼn storie of verhaal. Narratiewe elemente is die hoofkomponente waaruit ʼn fiksionele verhaal bestaan. Ander verwante terme is narratiewe aspekte, narratiewe strategieë, narratiewe tegnieke, narratiewe strukture en narratiewe eienskappe. Hoewel verskeie narratiewe elemente deur verskillende teoretici onderskei word, blyk karakter, tyd, plek/ruimte,en gebeurtenisse die vier belangrikste narratiewe elemente te wees. In hierdie inskrywing word ook verteller, fokalisasie en plot kortliks bespreek.

Karakter

Die literêre karakter is die hoofentiteit of -entiteite wat die handelinge in ʼn verhaal uitvoer en waarop die gebeurtenisse in ʼn verhaal ʼn invloed het. Afhangend van die teorie waaruit die konsep van die karakter benader word, word terme soos agent, aktant, akteur, figuur, figurant, persona, personasie en persoon ook gebruik. Dit is egter wel so dat nie alle karakters in ʼn verhaal noodwendig menslik hoef te wees nie (dink maar aan die karakters in fabels en volksverhale). Karakterontwikkeling vind plaas wanneer ʼn karakter groei ervaar en verander weens omstandighede en moontlike konflik waarmee hy/sy/sig gekonfronteer word.

Daar word breedweg tussen twee soorte karakters onderskei, naamlik plat karakters en ronde karakters. Plat karakters vertoon gewoonlik ʼn enkele idee of eienskap, is voorspelbaar, is nie in staat om te ontwikkel of om te verras nie, is tweedimensioneel, kan in een sin getipeer word en is dikwels komies. Ronde karakters is in staat tot ontwikkeling en verrassing, het die vermoë om te oortuig, is lewensgetrou, verander deur tonele, kan die leser ontroer en kan tragies wees. Daar word voorts onderskei tussen die hoofkarakter (protagonis), teenstander (antagonis) en newekarakters (tritagonis en ander). Die konflik tussen die hoofkarakter en die teenstander (of in die hoofkarakter self) is gewoonlik wat die plot voortdryf.

Tyd

Dit is byna vanselfsprekend dat al die gebeurtenisse en handelinge in ʼn verhaal met verloop van tyd plaasvind of uitgevoer word. Tyd verskil van ruimte in die sin dat dit altyd voortduur en dus voortdurend verander. Duur en tempo is dus ook belangrike aspekte van tyd. Binne die stromende tyd (duur) kan daar soms versnellings en vertragings (tempo) plaasvind. Voorts kan onderskei word tussen historiese tyd, vertelde tyd en verteltyd. Historiese tyd verwys gewoonlik na ʼn spesifieke tyd in die verlede of geskiedenis waartydens die verhaal afspeel, byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse Oorlog.

Vertelde tyd is die tyd wat in die fiksionele wêreld gedek word, terwyl verteltyd verwys na die tyd wat dit neem om die verhaal te lees. Tempoverskille kom in die verhouding tussen hierdie twee soorte tye voor. Indien die verhaal oor baie jare strek, maar die verteltyd kort is, sal die tempo toeneem, terwyl die omgekeerde ook waar is. Daar word ook onderskei tussen objektiewe tyd en subjektiewe tyd. Die objektiewe tyd waarteen die gebeurtenisse in die verhaal afspeel, kan vergelyk word met die fisiese tyd in die reële wêreld en word ook kloktyd of kalendertyd genoem. Subjektiewe of psigologiese tyd is die karakter se unieke belewing van objektiewe tyd. Die verteller in die verhaal oriënteer die leser ten opsigte van die tyd. Aspekte soos chronologie (die volgorde van gebeurtenisse), vooruitskouings, terugflitse en herinneringe het ook almal met tyd te make.

Plek/Ruimte

Ruimte verwys na die fiktiewe wêreld waarin ʼn verhaal afspeel. In die letterkunde word daar onderskeid getref tussen plek en ruimte. Plek is waar die karakters in ʼn verhaal hul bevind en waar die gebeurtenisse plaasvind. Ruimte verwys na die plek in verhouding tot die subjektiewe waarneming daarvan deur ʼn karakter of ʼn verteller.

Ruimte kan die volgende funksies in verhale of dramatekste vervul:

  • Konkretisering deur ʼn plek waar gebeurtenisse plaasvind in die fynste besonderhede te beskryf.
  • Atmosfeerskepping deur middel van die verhouding tussen karakters en die ruimte.
  • Tematisering wanneer die verhaal oor die ruimte handel en die ruimte die gebeurtenisse in die verhaal beïnvloed.
  • Patroonskepping vir die verloop van gebeurtenisse soos in reisverhale en die briefroman.
  • Karakterisering wanneer sekere karakters voorkeure vir sekere plekke het.
  • Simbolisering deur middel van die skep van verbande tussen ruimtes met simboliese betekenis wat verband hou met karakters en die verloop van gebeurtenisse.

Daar word voorts tussen die volgende soorte ruimtes onderskei:

Vertelde ruimte is die belangrike plekke in die verhaal soos deur die verteller beskryf. Vertelde ruimte kan op die volgende maniere beskryf word: herhaling van plekke en elemente in die ruimte; benoeming van plekke; die opstapeling van besonderhede; die opnoem van plekke; deur beweging in die ruimte; deur karakters in hul eie privaat ruimte te plaas; die interaksie met ander ruimtes; en die interaksie met ander elemente soos karakters, tyd en gebeurtenisse.

Daar kan ook onderskei word tussen konkrete ruimtes (byvoorbeeld die natuur) en abstrakte ruimtes (byvoorbeeld die politiek). Vertellersruimte is die ruimte waarin die verteller sig bevind tydens die vertelling. Dié ruimte word nie altyd in detail beskryf nie, maar is altyd deel van die verhaal. Vertelruimte is die taalruimte van die teks wat uitgeken word aan woorde, sinne en paragrawe.

Gebeurtenisse

Die gebeurtenisse in ʼn verhaal dui op die verandering van ʼn spesifieke situasie of toestand. Gebeurtenisse vind ook altyd in tyd en ruimte plaas en word ervaar deur ʼn karakter. Daar is gewoonlik ʼn verband tussen die verskillende gebeurtenisse omdat een gebeurtenis aanleiding kan gee tot die volgende gebeurtenis. Die gebeurtenisse in verhale word ook op spesifieke maniere gerangskik en dit bepaal gewoonlik die plot van die verhaal. Alle gebeurtenisse het ook gevolge wat die karakters beïnvloed en waarop die karakters reageer. Gebeurtenisse kan ook voorkom in die vorm van gedagtes, gesprekke en emosies.

Verteller

Die verteller van ʼn verhaal is nie noodwendig die skrywer (of outeur) nie. Die skrywer is die persoon wat die teks op ʼn sekere manier rangskik en struktureer (byvoorbeeld die hoofstukindeling, hoe lank ʼn toneel duur en in watter styl die verhaal vertel word).
Die verteller daarenteen is die entiteit wat oor die gebeurtenisse en karakters in die verhaal verslag doen. Die verteller kan binne of buite die storie staan; oor sigself of ander vertel; die karakters uiterlik of innerlik ken; en minder of meer aanwesig wees. Daar word voorts veral onderskei tussen ʼn eerstepersoonsverteller (ek-verteller) en ʼn derdepersoonsverteller (hy/sy/sig/hulle). Daar bestaan wel ook ʼn tweedepersoonsverteller (jy/julle), maar hierdie soort verteller word weinig in verhalende tekste gebruik.
ʼn Voorbeeld hiervan sou wel die sogenaamde kies-jou-eie-avontuur-verhale wees.

Fokalisasie

ʼn Ander woord vir fokalisasie is vertelperspektief, dit wil sê uit watter oogpunt die gebeurtenisse en karakters in ʼn verhaal gesien word. Die verteller van ʼn verhaal en die entiteit wat waarneem wat in die verhaal gebeur, hoef nie noodwendig dieselfde te wees nie. Fokalisasie kan intern of ekstern wees. Indien die standpunt waaruit vertel word die denke en gevoelens van die fokalisator betref, is die fokalisasie intern.

Indien die gevoelens van die fokalisator onbekend is, is die fokalisasie ekstern. Fokalisasie kan verder deur die perspektief van die verteller geskied (verteller-fokalisator) of deur die perspektief van die karakter (karakter-fokalisator). Wanneer daar slegs een karakter-fokalisator in die hele verhaal aanwesig is, is die fokalisasie enkelvoudig, maar indien daar meer as een is, is die fokalisasie meervoudig. Verskillende vorme van fokalisasie kan in dieselfde verhaal deur die skrywer aangewend word.

Plot

Daar bestaan verskeie definisies van en benaderings tot hierdie literêre term, maar in die eenvoudigste sin verwys die plot (of intrige) van ʼn verhalende teks na die struktuur van ʼn verhaal wat direk verband hou met die manier waarop die handelinge en gebeurtenisse in die verhaal gerangskik word. Dit is belangrik om hier te noem dat daar in die letterkunde onderskeid getref word tussen ʼn storie en ʼn verhaal.

ʼn Storie bestaan uit ʼn reeks chronologies opeenvolgende gebeurtenisse (dus ʼn begin, middel en einde), terwyl die gebeurtenisse in ʼn verhaal (byvoorbeeld in die vorm van ʼn kortverhaal of roman) juis nie chronologies op mekaar volg nie. Die plot bestaan dus uit ʼn uiteensetting, die komplikasie, verwikkeling of ontwikkeling, ʼn hoogtepunt en ʼn afloop, maar nie noodwendig altyd in daardie spesifieke volgorde nie. Die innerlike of uiterlike konflik in die verhaal beweeg dus op sekere maniere deur hierdie fases. Die plot kan nie losgemaak word van die karakter, tyd, plek/ruimte, tema, taal of styl van die verhaal nie.

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 1 Maart 2022 | Bygewerk op 18 Maart 2024