ʼn Fabel is ʼn kort verhaal wat mense se sterkpunte en swakhede uitbeeld, gewoonlik deur middel van niemenslike karakters soos diere, plante, natuurkragte en lewelose voorwerpe. Fabels dra altyd een of ander algemene lewensles of wysheid aan die leser of luisteraar oor.

Waar kom fabels vandaan?

Die fabel het sy oorsprong in die Ooste, maar niemand weet presies waar of wanneer dit ontstaan het nie. Van die vroegste dierefabels is in Mesopotamië gevind, maar daar is ook fabels uit Indië soos opgeteken in die Pantsjatantra-bundel. Van die oudste fabels is in die Bybel opgeteken waar beide Jotam (Rigters 9:7-15) en Joas (2 Konings 14:9) bome as karakters gebruik om ʼn sekere lewensles oor te dra. Omdat dit aanvanklik deur mense oorvertel is, het fabels ʼn volksaard, maar dit moenie met volksverhale verwar word nie.

Teenoor die fabels wat van generasie tot generasie oorgedra is, is daar ook literêre fabels wat gewoonlik vernoem word na die skepper of optekenaar daarvan. Van die bekendste fabelaars (iemand wat fabels vertel en/of opteken) sluit in die Antieke Griekse fabelaars Esopus (620-564 VHJ) en Phaedrus (444-393 VHJ), sowel as die sewentiende-eeuse Franse fabelaar Jean de la Fontaine (1621-1695).

Die fabel moet ook nie met ʼn gelykenis verwar word nie, aangesien laasgenoemde nie van diere, plante, natuurkragte en lewelose voorwerpe gebruik maak om ʼn lewensles oor te dra nie en eerder binne ʼn spesifieke as algemene konteks van toepassing is.

Kenmerke van fabels

Fabels is gewoonlik kort en fokus op slegs een gebeurtenis. Daar is meestal twee karakters in ʼn fabel wat teenoorgestelde sienings verteenwoordig. Hierdie teenoorgestelde sienings veroorsaak spanning in die verhaal en is die manier waarop kommentaar op die mensdom en samelewing gelewer word.

Twee opponerende karakters in ʼn verhaal impliseer dat daar ʼn protagonis en ʼn antagonis is. Die protagonis is die hoofkarakter in die fabel wat gewoonlik die goeie voorstel. Hierteenoor is daar die antagonis wat die teenstander van die hoofkarakter is en gewoonlik die slegte voorstel.

Wat karaktereienskappe betref, is die protagonis gewoonlik die held in die verhaal wat op die ou einde as oorwinnaar uit die stryd tree. Die antagonis probeer egter om die protagonis op slinkse maniere te uitoorlê, maar slaag selde indien ooit daarin. Die karaktereienskappe van die twee opponerende karakters hang natuurlik af van die spesifieke boodskap wat die fabel wil oordra, en sal daarom van fabel tot fabel verskil. Die boodskap van die fabel bepaal ook byvoorbeeld watter diere as karakters in die fabel gebruik sal word om die boodskap oor te dra.

Sommige van die lewenslesse of wyshede wat deur fabels oorgedra word, sluit die volgende in:

Doen aan ander mense wat jy aan jouself gedoen wil hê; ʼn mens kan nie almal tevrede stel nie; ʼn mens moet waardeer wat jy het; niemand is so sterk dat jy nie kan verloor nie; en as jy hard werk, sal jy daarvoor beloon word. Sommige tipiese eienskappe wat veral met diere in fabels geassosieer word, is hardwerkendheid (donkie), krag en slinksheid (jakkals en kat), onskuld (lam), mag (leeu), fluksheid (mier en by), trots (pou) en oneerlikheid (wolf). Fabels kan humoristies of satiries wees.

Heelwat fabels lei ook tot die ontstaan van idiome, gesegdes en uitdrukkings. In Afrikaans is die volgende enkele voorbeelde van hierdie verskynsel:

Die berg het ʼn muis gebaar (groot dinge is verwag, maar slegs iets kleins het gebeur)
Hoe meer haas, hoe minder spoed
(hoe haastiger jy te werk gaan, hoe minder vorder jy)
Die druiwe is suur (iets verkleineer wat jy graag wil hê, maar nie kan kry nie)
Vir iemand sy/haar kastaiings uit die vuur krap (moeilike/vuil/gevaarlike werk namens iemand doen)
ʼn Wolf in skaapsklere (ʼn valse vriend/skynheilige)

Voorbeelde van fabels

Hier volg ʼn kort lys van bekende fabels:

Die donkie en die hond

Die dorpsmuis en die plaasmuis

Die hond en sy weerkaatsing

Die jakkals en die kraai

Die kraai en die waterbeker

Die krap en sy ma

Die leeu en die muis

Die man en die sater

Die muggie en die bul

Die noordewind en die son

Die seun en die wolf

Die skilpad en die haas

Die sprinkaan en die mier

Die verkwister en die swaeltjie

Die wolf en die lam

Die volgende weergawe van Die noordewind en die son verskyn op VivA se webtuiste:

Op ʼn keer het Noordewind en Son stry gekry oor wie van hulle nou eintlik die sterkste was. Net toe kom daar ʼn reisiger verby, toegehul in ʼn lekker warm jas. Hulle besluit toe dat dié een wat dit kan regkry om die reisiger te dwing om sy jas uit te trek, die sterkste is. Toe blaas Noordewind ure lank vir al wat hy werd is. Maar hoe harder hy blaas, hoe stywer knoop die reisiger die baadjie om hom vas. Uiteindelik laat Noordewind al sy pogings vaar. Toe dit Son se beurt is, skyn hy gloeiend, en dadelik trek die reisiger sy jas uit. En so moes Noordewind erken dat Son wel die sterkste van hulle twee was.

Die les van hierdie fabel is dat ʼn mens dikwels meer uitgerig kan kry sonder geweld.

Van die bekendste fabelversamelings in Afrikaans verskyn in die sewentigerjare en sluit in Winnie Schumann se Die groot fabelboek (1966), J.P.J. van Rensburg se Die mooiste verhale van Esopus (1970), E.P. du Plessis se Fabels van La Fontaine (1975) en Pieter W. Grobbelaar se Die groot Afrikaanse fabelboek (1978). Meer onlangse fabelversamelings sluit in Rampe in die ruigte (1996) deur Hennie Aucamp, Esopus se fabels: die volledige versameling (2008) vertaal deur Piet Boshoff en Gafie van Wyk, Die mooiste fabels deur La Fontaine (2020) vertaal deur Kobus Geldenhuys en Donkie se lang pad dorp toe en 19 ander fantastiese fabels (2021) deur Wendy Maartens.

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 10 Januarie 2022 | Bygewerk op 14 Augustus 2023