ʼn Volksverhaal ontstaan tradisioneel in die volksmond en word van geslag tot geslag oorvertel. Die doel van volksverhale is om sin te maak van menslike gedrag en die samelewing of om natuurverskynsels te verklaar. Vóór die ontwikkeling van skryfstelsels is volksverhale mondelings oorvertel of opgevoer.

Vertellers van volksverhale het dikwels tegnieke soos gebare, mimiek, dramatiese handelinge, liedere, verskillende stemtone en spraakritmes gebruik om die vertellings interessant te hou. Ons hoor steeds deesdae volksverhale soos aan ons vertel deur ons ouers en grootouers.

Kenmerke van volksverhale

Aangesien volksverhale mondelings oorvertel word, weet ons nooit wie die oorspronklike verteller is nie, en verander die stories ook met elke vertelling. Die boodskap van die vertelling verander egter nie. Volksverhale word gewoonlik in die derde persoon vertel en die struktuur kan wissel.

Daar is magiese, romantiese, realistiese, herhalende, verklarende, diere- en intrigeverhale. Verskillende temas wat in volksverhale gevind word, sluit in oorgangsverhale waarin die reis van kinderjare tot volwassenheid uitgebeeld word, oorsprongverhale wat verduidelik hoe die aarde, mensdom en gemeenskappe tot stand gekom het, genesingsverhale wat spesifieke tradisionele kennis oordra, verhale oor natuurbewaring en vermaaklikheidsverhale.

Volksverhale het nie noodwendig ʼn sterk hoogtepunt nie, en die slot kan oop, gelukkig of treurig wees. Die ruimte in ʼn volksverhaal kan vaag wees, maar verwys gewoonlik na ʼn spesifieke geografiese gebied, byvoorbeeld Afrika. Die ruimte bly ook dwarsdeur die verhaal dieselfde. Karakters in die volksverhaal kan gewone mense van enige ouderdom wees, maar ook fantasiewesens of vermenslikte diere wat in enige verhouding kan optree. Veral Afrika-volksverhale fokus op diere wat die samelewing reflekteer. Daar is ook geen beperking op die aantal karakters in volksverhale nie. Dit is interessant dat heelwat Afrika-volksverhale oorlewing as tema het. Fabels, heldeverhale, legendes, mites, spookstories en sprokies is verskillende vorms van volksverhale.

Voorbeelde van volksverhale

Hier volg ʼn kort lys van bekende volksverhale:

Anansi die spinnekop
Antjie Somers
Die groot slang en die mooi meisie
Die spook van Uniondale
Die heks van Hexriviervallei
Racheltjie de Beer
Sebra kry sy strepe
Tyl Uilspieël-verhale
Tokkelossie-stories
Van Hunks en die duiwel
Waarom dassie nie ʼn stert het nie
Waarom die son en die maan in die lug woon
Wolf-en-Jakkalsstories
Wolraad Woltemade

Die volgende volksverhaal, Hoekom Seekoei nie hare het nie, verskyn in VivA se Lees-en-Luisterbiblioteek:

Eendag het Haas langs die rivier gestap. Seekoei was ook daar. Sy het lekker groen gras loop en eet. Seekoei het nie vir Haas gesien nie en per ongeluk op Haas se voet getrap.

 “Seekoei! Kan jy nie sien dat jy op my voet trap nie?”

“Ek is so jammer, Haas! Ek het jou nie gesien nie. Vergewe my, asseblief!”

Maar Haas wou niks hoor nie. “Jy het dit aspris gedoen!” het hy vir Seekoei geskree. “Eendag sal jy hiervoor boet!”

Toe gaan soek Haas vir Vuur en sê: “Gaan brand vir Seekoei wanneer sy uit die water kom om gras te eet. Sy het op my getrap!”

“Dis geen probleem nie, Haas, my ou vriend. Ek sal so maak,” antwoord Vuur.

Seekoei het later weg van die rivier af gestaan en wei. Woesj! Meteens bars Vuur in vlamme uit. Die vlamme het Seekoei se pels begin brand.

Seekoei het gehuil en na die water toe gehardloop. Haar pels was heeltemal afgeskroei.

“My hare het in die vuur gebrand!” het sy gehuil. “Al my hare is weg. My pragtige pels!”

Haas was bly dat Seekoei se pels gebrand het. Vandag nog bly seekoeie naby aan die water. Hulle is bang vir die vuur.

In Afrikaans het veral G.R. von Wielligh, Eugène Marais, Minnie Postma, Pieter W. Grobbelaar, Marguerite Poland en Marie Opperman volksverhale opgeteken. In 1984 publiseer J.J. Viljoen, R. Amakali en R. Hasheela Volksverhale van die Wambo/Folk-tales of the Wambo wat 17 volksverhale en vertalings in Afrikaans en Engels bevat. Meer onlangs verskyn Volksverhale van die Reënboognasie/Volksverhalen van de Regenboognatie (2000) saamgestel deur Denise Godwin, Stories op die wind (2008) deur die Instituut vir Geregtigheid en Versoening, en Om die Nguni-vure (2012) deur Myra Scheepers.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 11 Januarie 2022 | Bygewerk op 15 Maart 2024