Vinnige feite

  • Die Nederlandse lugdiens KLM is die oudste in die wêreld en bestaan al van 1919 af. Quantas van Australië is tweede oudste en vlieg al van 1920 af. In 1979 was Quantas die eerste lugdiens wat ’n besigheidsklas begin het. 18
  • Vliegtuigkos is nie noodwendig sleg nie. ’n Mens verloor tot ’n derde van jou smaak as jy so hoog vlieg. 19
  • Al ooit gewonder hoekom vliegtuigvensters ovaalvormig is? Dit keer dat die lugdruk van buite die vensters laat bars. Ronde hoekies keer dat daar dele van die venster is (soos hoekies by vierkantige vensters) wat sterker is as ander dele. 21
  • Die Hartsfield-Jackson Atlanta- internasionale lughawe in die VSA is die besigste lughawe in die wêreld met sowat 5 miljoen passasiers wat elke maand van hier af vlieg. 24 Die OR Tambo Internasionale Lughawe, Suid-Afrika se besigste lughawe, ontvang meer as 20 miljoen passasiers per jaar. 25
  • Die wêreld se grootste militêre “vliegtuigbegraafplaas” huisves meer as 4 000 vliegtuie en is in Arizona in die VSA. 26
  • Die lug op ’n vliegtuig is so droog soos die Sahara-woestyn en jy verloor tot 2 liter vog (water) vir elke 10 ure wat jy in die lug is. 27
  • Die Amerikaanse president gebruik twee identiese vliegtuie met die roepsein Air Force One. Dié vliegtuie, 747-passasierstralers, sal teen ongeveer 2027 (dié datum is reeds n paar keer uitgestel) teen ’n koste van meer as $5 miljard (sowat R90 miljard) deur twee splinternuwe Boeing-vliegtuie vervang word. 28
Foto: iStock

Het jy al daarvan gedroom om hoog in die lug te sweef soos ’n voël; die wind wat deur jou hare waai, die wolke onder jou voete? Dan is jy in goeie geselskap, want dit is presies hoe die idee vir vliegtuie of lugvervoer honderde jare gelede ontstaan het.

Die oudste verhaal hieroor is die Griekse mite (storie) van Daedalus en sy seun, Icarus. Daedalus was ’n kunstenaar en ingenieur, en hy en Icarus is gevange gehou deur koning Minos. Daedalus het die idee gekry om vlerke te maak sodat hy en sy seun kon ontsnap en wegvlieg. Icarus het egter te naby aan die son gevlieg en die was (amper soos kerswas) wat gebruik is om die vlerke aan sy lyf vas te maak, het gesmelt. 1

Hoewel dit net ’n storie is, het baie mense deur die jare regtig probeer vlieg deur vlerke aan hul lywe vas te maak. Hulle het egter begin besef voëls is heeltemal anders as ons geskape en mense is net te swaar om in die lug te bly.

Die eerste vlugte

Leonardo da Vinci (wat onder meer die baie bekende Mona Lisa-skildery geskilder het) was in die 15de eeu die eerste mens wat rowwe sketse (ontwerpe) van ’n vliegtuig en selfs ’n valskerm en helikopter gemaak het, maar hy is dood lank voordat dié idees ’n werklikheid sou word. Hy het meer as 35 000 woorde hieroor geskryf en 500 sketse geteken. 2

In 1783 het die Montgolfier-broers (Joseph-Michel en Jacques-Étienne) van Frankryk daarin geslaag om die idee van vlieg (letterlik!) van die grond af te kry. Hulle het ’n lugballon gebou wat met warm lug gewerk het. Dié warm lug het gekom van ’n vuur wat hulle met hout gemaak het en die ballon het 910 meter hoog opgestyg en 8 kilometer ver gevlieg. Die probleem met dié lugballon was egter dat jy nie die rigting (waarheen hy vlieg) kon beheer nie. Die wind het besluit waarheen die ballon waai of beweeg. 3

Amper 70 jaar later, in 1852, het nog ’n Fransman, Jules Henri Giffard, se lugskip-uitvinding sy eerste vlug onderneem. Dié lugskip, wat 24 km ver gevlieg het, het met stoom gewerk en jy kon dit van rigting laat verander. Die enjin het ’n enorme 113 kilogram geweeg. 4 Verskeie ingenieurs en uitvinders het toe met sweeftuie begin eksperimenteer om, net soos voëls, die wind en lugstrome te gebruik om in die lug te bly.

’n Paar ouens wat groot bydraes gelewer het om dié idee vlerke te gee, was George Cayley, Frank Wenham, 5 Otto Lilienthal 6 en John J. Montgomery. Cayley en Wenham het in die 19de eeu in Brittanje aan idees gewerk, en Lilienthal het verskeie sweeftuie en selfs klein vliegtuigenjins gebou. Lilienthal is dood toe die een vlerk van sy sweeftuig afgebreek het. Montgomery het in 1883 die eerste keer gevlieg en is in Oktober 1911 dood toe sy sweeftuig, The Evergreen, neergestort het. 7

Die Wright-broers

Die eerste opgetekende beheerde, aangedrewe vlug was op 17 Desember 1903. Die ontwerpers van dié vliegtuig, genaamd The Flyer, was twee broers, Orville en Wilbur Wright. Dié vlug by Kitty Hawk in Noord-Carolina in die VSA, ná vier jaar se navorsing en ontwerpe, het ’n hoogte van 35 meter in 12 sekondes gehaal. Hoewel hulle nie “vlieg” uitgevind het nie, het die Wright-broers se vakmanskap ’n splinternuwe era in lugvaart begin. 8

Charles Furnas was die eerste Amerikaanse vliegtuigpassasier toe hy in 1908 saam met Orville Wright by Kitty Hawk gevlieg het. 9

Interessant genoeg was Suid-Afrika nie baie ver agter die baanbrekerswerk van die Wrights nie. In 1907 het die Suid-Afrikaanse ingenieur John Weston die land se eerste vliegtuig in Brandfort in die Vrystaat gebou. Ongelukkig het dié vliegtuig nooit gevlieg nie. Eers in Junie 1911, toe die enjin in Europa aangepas en teruggestuur is, kon Weston die vliegtuig in die lug kry. Die vlug het op 16 Junie net buite Kimberley plaasgevind en agt-en-’n-half minute geduur. 10

Elf jaar ná die Wrights se vlug het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek. Vliegtuie het toe vinnig begin ontwikkel en is baie in die oorlog gebruik. Die meeste vliegtuie is van hout gemaak en met ’n soort seil of materiaal oorgetrek. Ná die oorlog het mense aluminium begin gebruik om vliegtuie te maak, want aluminium is baie ligter as hout. Vliegtuie het al vinniger geword en kon al verder vlieg. Die stralerenjin (“jet enjin”) is in die 1930’s in Engeland en Duitsland uitgevind en ons gebruik dié stralerenjins vandag nog. 11

Die Titanic van die lugruim

Graaf Ferdinand von Zeppelin, ’n Duitse militêre offisier, het in die laat 1800’s die eerste stewige lugskepe (met ’n raamwerk) ontwikkel. Hy het sy eerste lugskip, die LZ-1, in 1899 gebou. Zeppelin se naam het naderhand sinoniem geword met alle lugskepe (wat ’n raamwerk gehad het). 12

Ferdinand von Zeppelin

Die Hindenburg was die grootste kommersiële lugskip wat ooit gebou is, en destyds die tegnologies gevorderdste. Dit was volgens Airships.net 245 meter lank en 41,2 m in deursnee. Dit was meer as drie keer groter as ’n Boeing 747 en kon ’n maksimum snelheid (spoed) van 135 kilometer per uur (km/h) bereik. Die Hindenburg was amper soos die Titanic van die lugruim (baie luuks en ook met ’n tragiese storie). Dié lugskip het 72 passasiersbeddens in verhitte “kamers” gehad, ’n eetkamer met muurpapier van sy, ’n sitkamer, ’n skryfkamer, ’n kroeg, ’n rookkamer en promenades met vensters wat tydens die vlug oopgemaak kon word. Die meubels is uit liggewig-aluminium gemaak.

Hindenburg-ramp

Die Hinderburg het sy eerste vlug in Maart 1936 onderneem en 63 keer gevlieg, hoofsaaklik van Duitsland na Noord- en Suid-Amerika, maar dit het op 6 Mei 1987 bo New Jersey in die VSA ontplof. Sommige passasiers en bemanningslede het na veiligheid gespring terwyl ander doodgebrand het. Van die 97 mense aan boord het 62 oorleef. Daar was binne minute net ’n hopie as van die lugskip oor en dit was die einde van dié manier van reis.

Lugvervoer in Suid-Afrika

In 1929 het Union Airways met ’n lugposdiens in Suid-Afrika begin. In September van dié jaar het Union ook begin om passasiers te vervoer. Drie van dié lugdiens se vliegtuie het egter neergestort en die Suid-Afrikaanse regering het ingegryp om die lugdiens te red. Dit was die ontstaan van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), wat op 1 Februarie 1934 begin is. Hier is nog interessante feite oor die SAL: 13

  • Tydens die Tweede Wêreldoorlog (tussen 1940 en 1944) is alle kommersiële vlugte opgeskort en die SAL was deel van die weermag se militêre vleuel.
  • Die eerste oorsese vlug, bekend as die Springbok-diens, is in November 1945 ingestel na Hurn Bournemouth in die Verenigde Koninkryk en het drie dae geduur.
  • Die SAL het sy eerste Boeing 747 op 22 Oktober 1971 ontvang. Die lugdiens het 43 van dié Jumbos oor drie dekades gekoop (Boeing het in 2020 aangekondig dat dié vliegtuig ná 50 jaar nie meer gebou gaan word nie). 14
  • Vlug 295 van die SAL (die Helderberg) tussen Taipei in Taiwan en Johannesburg het op 28 November 1987 in die lug aan die brand geslaan en naby Mauritius in die see gestort. Al 159 mense aan boord is dood. 15

Nog vlieg-eerstes

  • Die eerste geskeduleerde lugdiens is op 1 Januarie 1914 in Florida in die VSA begin. Glenn Curtiss het ’n vliegtuig ontwerp (hy’t dit ’n vlieënde boot of watervliegtuig genoem) wat op water kon land en opstyg. Thomas Benoist, ’n vervaardiger van motoronderdele, het dié lugdiens, genaamd die St. Petersburg-Tampa Air Boat Line, begin en een passasier op ’n slag teen $5 per rit vervoer. Die vlug van 23 minute oor net minder as 30 km was baie korter as die twee ure wat dit gewoonlik per boot geneem het om dié afstand af te lê.
Glenn Curtiss
  • Amerika het in 1918 met ’n lugposdiens begin. Die vliegtuie kon nog nie in die nag vlieg nie en die pos is elke dag voor donker by treine afgelaai, wat dit dan verder vervoer het. Teen 1921 het die Amerikaanse weermag bakens opgerig (liggies wat elke 10 sekondes geflikker het) wat vlieëniers in staat gestel het om in die nag te kon vlieg. Teen die middel van die 1920’s het die Amerikaanse posdiens 4 miljoen kilometer elke jaar gevlieg om 14 miljoen briewe af te lewer.
  • In 1927 het Charles Lindbergh die eerste persoon geword wat sonder om te stop oor dieAtlantiese Oseaan gevlieg het. Hy het binne 33 uur, 29 minute en 30 sekondes van New York in die VSA na Parys, Frankryk gevlieg. Sy vliegtuig se naam was The Spirit of St. Louis. 16
Charles Lindbergh
  • Chuck Yeager, ’n vegvlieënier tydens die Tweede Wêreldoorlog en later ’n baie bekende toetsvlieënier, was in 1947 die eerste mens wat vinniger as die spoed van klank gevlieg het. 17
Chuck Yeager

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Die geskiedenis van lugvaart

Die geskiedenis van lugvaart in 11 ongelooflike voorwerpe

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 13 Januarie 2022 | Bygewerk op 15 Maart 2024