Vinnige feite

  • Gumbootdanse het op die myne in Suid-Afrika ontstaan.
  • Volkspele is die Afrikaners se tradisionele dans.
  • Inisiasieskole is die seremonie waarmee kinders gehelp word om van kind na volwassene oor te gaan.
  • Riksjas is in 1893 vir die eerste keer in Durban gebruik.
Foto: iStock

Kulturele seremonies en rituele kom wêreldwyd voor. Dit word vanaf die geboorte van ’n persoon tot die dag waarop hy of sy sterf gebruik om belangrike mylpale in sy of haar lewe aan te dui. 1

Suid-Afrika se mense behoort tot baie verskillende kulture. Hierdie kulture verskil van mekaar omdat elke kultuurgroep sy eie gewoontes, seremonies en rituele het. Elke kultuurgroep het ook sy eie tradisionele gebruike, kos en manier van leef.

Ons gaan hier na net enkele seremonies en rituele van die verskillende kultuurgroepe in Suid-Afrika kyk. Sommige van hierdie seremonies word vandag steeds deur mense gebruik, terwyl sommige nie meer so dikwels gesien word nie of slegs in die platteland voorkom.

Musiek, sang en dans

Musiek, sang en dans vorm ’n belangrike deel van baie kultuurgroepe in Suid-Afrika.

Zoeloes: By geleenthede soos troues, inisiasie en voor gevegte het sang en musiek ’n belangrike rol gespeel. Een van die musiekinstrumente wat vroeër gebruik is, is die ugubu – ’n soort musiekboog met net een snaar. Daar is ook ’n uitgeholde, droë kalbas daaraan vasgemaak wat as resonator gedien het. 2

Danse vorm deel van baie seremonies soos, onder meer, by troues, wanneer seuns en meisies hul puberteit bereik en ook voor jagtogte. Voor mans vertrek het om te gaan jag, het hulle in die beeskraal bymekaargekom en gedans. Dan het die verskillende jagters met hul danse gewys hoe dapper hulle gaan wees tydens die jagtog. 2

In die tye toe daar dikwels oorloë en gevegte was, het die soldate ook indrukwekkende danse uitgevoer voor hul vertrek het om te gaan veg. 2

Die bekende gumbootdanse wat op die myne ontstaan het, is ’n meer moderne vorm van dans wat mens vandag nog dikwels sien. Hedendaags word dit dikwels as ’n dansnommer in optredes gebruik. 3

Wit Afrikaners: Volkspele, die tradisionele dans uit die Voortrekkertyd het deel gevorm van geskiedkundige vieringe en word steeds deur groepe as ’n vorm van ontspanning gedoen. Daar word spesiale klere gedra wanneer volkspele gedoen word: dames dra lang, wye rokke in verskillende kleure en mans langbroeke, hemde en onderbaadjies.

Bruin mense se tradisionele dans is, onder meer, die danse wat deur die Kaapse Klopse uitgevoer word. In die Kaap word hierdie danse gewoonlik op die dag ná Nuwejaar deur ’n groot aantal dansgroepe uitgevoer. Hulle oefen maande vooraf vir hierdie feesgeleentheid en elke groep dra interessante, veelkleurige kostuums. Daar is ook ander soort danse soos die rieldans wat deur bruin mense gedoen word.

Begrafnisse

Rituele wat tydens begrafnisse gevolg word, hou normaalweg verband met die een of ander godsdiens. Dit word by sommige bevolkingsgroepe ook beïnvloed deur die geloof in voorouergeeste. Die begrafnisritueel moet dus op ’n sekere manier gedoen word sodat die persoon wat oorlede is, tevrede is en nie ná die dood terugkom om die lewendes te pla nie.

Die volgende word dikwels gedoen by die huis van die persoon wat oorlede is:

  • Foto’s van die oorledene teen die muur word omgedraai sodat die gesig muur toe wys.
  • Spieëls en vensters word toegemaak sodat die persoon wat oorlede is, homself nie kan sien nie.
  • Die bed waarin die persoon oorlede is, word uit die kamer gehaal 4.
  • Daar word ’n byeenkoms – gewoonlik ’n nagwaak – gehou in die oorledene se huis en lede van die gemeenskap kom daarheen om hul simpatie aan die familie te betuig. 4

Die manier waarop die oorlede se liggaam uit die huis geneem word:

  • Soms word ’n gat in die muur gemaak en die liggaam word daardeur verwyder. Daarna word die opening weer toegemaak sodat die oorledene, wat nou deel van die voorouergeeste is, nie weer kan terugkeer nie.
  • Die oorledene word met die voete eerste uit die huis gedra sodat hy wegkyk van die huis af.
  • Daar word met ‘n sigsagpaadjie (zig-zag) na die begraafplaas gegaan om die dooie te verwar as hy probeer teruggaan huis toe.
  • Daar word voorwerpe soos dorings en takke op die pad tussen die huis en die graf geplaas sodat dit vir die oorledene “moeilik is om terug te kom huis toe”. 4

Inisiasie

Inisiasie kom voor by die meeste van die etniese groepe in Suid-Afrika. Inisiasie vind plaas wanneer kinders tieners is en dit word gebruik om die oorgang van ’n kind na ’n volwassene te laat gebeur. Dit is meer bekend by seuns, maar daar is ook inisiasieskole vir meisies.

Dit wat by inisiasie-seremonies gebeur, word geheim gehou. Dit word ook nie toegelaat dat foto’s by hierdie seremonies geneem word nie. Dissipline is baie belangrik by inisiasieskole. Dit is die gebruik dat seuns by ’n inisiasieskool – as teken van respek – nie die volwassenes in die oë kyk nie. By die Suid-Sotho dra die seuns om hierdie rede selfs donkerbrille wanneer hulle van die inisiasieskool af terugkom. 5

Inisiasie word ook gesien as ’n band tussen lewende mense en hul voorouers. By die seremonie aan die einde van die Suid-Sotho se inisiasieskole dra die deelnemers lofgedigte aan die voorouers voor en hulle dra elkeen ’n spesiale staf as teken van die band met die voorouers. 6

Kos

Omdat daar so baie verskillende kulture in Suid-Afrika bly, is daar baie verskillende soorte kos wat geëet word en eie aan so ’n kultuurgroep is. Kos vorm dikwels ook deel van rituele.

Hier is ’n paar soorte van hierdie verskillende geregte. Watter daarvan het jy al geëet?

  • Bunny Chow (Indies).
  • Potjiekos en koeksisters (Tradisionele gereg en lekkerny van Afrikaners).
  • Bobotie (Kaapse Maleiers).
  • Mopaniewurms en grondboontjies (Venda).
  • Marog (Sotho). Hierdie gereg word soms Afrika-spinasie genoem, maar daar is eintlik drie verskillende plante met groen blare wat marog genoem word.
  • Poetoepap en chakalaka (Zoeloe). 7

Nog voorbeelde van seremonies en rituele

Lobola

Lobola is nie ’n seremonie nie, maar wel ’n tradisionele gebruik van byna al die swart etniese groepe in Suid-Afrika vóór die trouseremonie. Om lobola te betaal, beteken dat die bruidegom voor die troue ’n huweliksgeskenk aan die familie van die bruid moet gee. In die verlede is beeste hiervoor gebruik, maar vandag word daar soms geld vir lobola gebruik.

Die doel van lobola is om die twee families bymekaar te bring. Dit verseker ook dat die kinders van die twee mense wat trou, in die familie van die man opgeneem word. 8

Modjadji en die reënseremonie

By die Venda-volk word baie belangrike reënseremonies gehou. Die Vendas het ’n koningin wat Modjadji genoem word, gehad, en sy het ’n belangrike rol by hierdie seremonies gespeel. 9 Modjadji is tradisioneel die matriargale leier van die Lobedu-dinastie en daar is/word geglo dat Modjadji spesiale magte het om die wolke te beheer – sy kon reën vir haar eie mense en droogte vir haar vyande bring, en elke November het sy ‘n reënmaak-seremonie gereël.

Tokkelossie

Die tokkelossie word gewoonlik beskryf as ’n kort, harige figuur wat veral vroue en kinders lastig val. Omdat hy baie kort is, is daar vandag steeds mense wat bakstene onder hul beddens se pote sit om die bed hoër te maak en so te keer dat die tokkelossie hulle kan bykom terwyl hulle slaap nie. Daar is baie etniese groepe in Suid-Afrika wat glo in die bestaan van die tokkelossie, maar daar is min inligting oor hom en min mense kan sê dat hulle hom al gesien het.

Riksja

Hoewel riksjas nie meer so dikwels gesien word soos jare gelede nie, was hulle in ’n stadium ’n baie bekende gesig, veral in Durban en was baie gewild onder die toeriste.

Die riksja is ’n man wat ’n kleinerige karretjie met tamaai wiele trek, en waarin daar ongeveer twee mense kon sit. Hierdie karretjies was/word baie kleurvol en mooi versier. Elke riksja se massiewe koptooisel is uniek en netso kleurvol. Wanneer jy inklim vir ’n rit in die riksjawaentjie, betaal jy ’n tarief. 10

Die hele pret van so ’n rit is dat die riksja hoog in die lug spring terwyl hy die karretjie trek. Riksjas het in 1893 in Durban begin verskyn. In 1902 was daar ongeveer 1 700 riksjakarretjies in Durban en meer as 24 000 mans het hierdie karretjies getrek. Aan die begin is die riksjas gebruik om mense te vervoer omdat daar nog nie baie voertuie was nie, maar later is hulle hoofsaaklik vir die vermaak van vakansiegangers gebruik. 10

Woordbank

marog ’n Veldplant wat, wanneer dit klein is, ‘n eetbare groente (baie soos spinasie) lewer. 11
nagwaak Om in die nag by ’n siek persoon te waak of om ná die dood van ’n persoon deur die nag te waak. 12
resonator ’n Apparaat om klank te versterk; klankbord; klankkas. 13
rituele Die manier waarop kerklike bedrywighede gebeur. Dit kan ook gebruik word by gebruike wat nie met die kerk verband hou nie.
etniese Wat met die mense van ‘n bepaalde volk/nasie/stam/ens. en hul gewoontes en tradisies verband hou.
mylpale Belangrike gebeurtenisse.
puberteit Lewensperiode waarin die geslagsrypheid begin en ontwikkel, ongeveer vanaf 12 jaar by seuns en 10 jaar by meisies.
Kaapse Klopse Die Kaapse Klopse is ’n karnaval eie aan Kaapstad en word ook amptelik die Cape Town Minstrel Carnival genoem. Dit vind elke jaar op 2 Januarie (Tweede Nuwejaar) plaas. Soms paradeer daar tot soveel as 13 000 liedjiesangers in “klopse” op, wat “klubs” in Kaapse Afrikaans is.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Gumbootdanse

Rieldanse

Rieldanse

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 16 Februarie 2022 | Bygewerk op 11 September 2024