Vinnige feite

  • Een van die wêreld se oudste kaarte is op ʼn klip in Spanje gevind en is 14 000 jaar oud!
  • Die eerste kaart is in 1155 v.C. in China gedruk.
  • Die aardbol is in 1492 deur die Duitser Martin Beheim ontwerp.

 

As jy die naweek by ‘n partytjie of ‘n vriend se huis moet wees, tik jy die adres sommer gou op jou foon se GPS-program in en siedaar – tien minute later stop jou kar daar! Het jy geweet dat ‘n kaart jou tot daar geneem het? Vroeër jare het mense nog met ‘n dik boek vol padkaarte rondgery om by hul bestemmings uit te kom.

Vandag gebruik ons kaarte dalk nie meer op dieselde manier as vyftig jaar gelede nie, maar kaarte bly ‘n belangrike deel van ons alledaagse lewe. Jy het beslis ‘n voorsprong as jy kaartvaardig is!

ʼn Kaart is ʼn voorstelling van kenmerke van ʼn sekere plek of streek of land. ʼn Kaart word gewoonlik op ʼn plat oppervlak voorgestel. Dit gee dus vir ons inligting oor die wêreld op ʼn eenvoudige en visuele manier. Dit gee vir ons die grootte en vorm van lande en die afstande tussen plekke. Kaarte kan ook wys hoe dinge oor die aarde versprei is, soos die manier hoe mense hulself vestig. Kaarte kan ook die presiese ligging van huise en strate in ʼn woongebied in ʼn stad of dorp wys. 1

Funksies van kaarte

Verskillende kaarte word vir verskillende redes geteken. Hierdie redes sluit onder meer die volgende in:

  • Mense wat met vakansie gaan, gebruik kaarte om hul roete op pad na hul vakansiebestemming te beplan.
  • Metereoloë gebruik kaarte oor die weer om weervoorspellings te maak.
  • Stadsbeplanners gebruik kaarte om te kan besluit waar om dinge soos hospitale en parke te plaas wanneer ʼn nuwe dorp of stad beplan word, of wanneer die dorp of stad uitbrei. 1

Tekens wat op kaarte gebruik word

Kaarte word geteken deur van skale en simbole gebruik te maak.

Skaal

Alle kaarte is skaalmodelle van hoe dinge werklik is. Die skaal gee vir mens ʼn aanduiding van die verhouding tussen plekke op die kaart en die werklike afstande tussen daardie plekke op aarde. Hierdie verhouding word aangedui deur ʼn grafiese of lynskaal, ʼn woordskaal of deur middel van ʼn verhoudingskaal. Mens kry ook grootskaal- of kleinskaalkaarte.

Grafiese of lynskaal

Die grafiese skaal word die meeste van die tyd gebruik, en dit lyk soos ʼn liniaal – dit wil sê, dit is ʼn horisontale lyn wat in kilometer of in ʼn ander afstand afgemeet word.

Woordskaal

ʼn Woordskaal op ʼn kaart sal iets sê soos: “Een sentimeter verteenwoordig een kilometer.”

Verhoudingskaal

Wanneer die skaal in ʼn verhouding aangedui word, kan dit so lyk: 1:1 000 000. Dit beteken dan dat ʼn afstand op die kaart gelyk is aan een miljoen van daardie eenheid op aarde. Een sentimeter op die kaart sal dus 1 000 000 sentimeter of 10 kilometer op aarde beteken.

Grootskaalkaarte en kleinskaalkaarte

Die grootte van die gebied waarvan die kaart geteken word, bepaal die skaal van die kaart. Wanneer ʼn kaart baie detail wys oor ʼn gebied, soos ʼn straat in ʼn woongebied, word dit ʼn grootskaalkaart genoem. Kaarte van ʼn groot gebied soos ʼn kontinent of van die hele wêreld, word ʼn kleinskaalkaart genoem omdat voorwerpe en plekke op die kaart baie klein geteken is.

Simbole

Kartograwe (mense wat kaarte teken) gebruik simbole om geografiese inligting op kaarte aan te dui:

  • Swart punte wys dorpe.
  • Groter swart punte wys stede.
  • Soms word ʼn ster met ʼn sirkel rondom gebruik om hoofstede aan te dui.
  • Stede word meestal deur vierkante aangedui.
  • Verskillende soorte lyne word gebruik om grense, paaie en riviere aan te dui – byvoorbeeld soliede lyne en stippellyne.

Kleure word ook gebruik:

  • Groen vir woude
  • Geelbruin vir woestyne
  • Blou vir water 1

Hoe word ʼn kaart gemaak?

Voor ʼn kartograaf ʼn kaart ontwerp of teken, besluit hy watter gebied hy wil uitbeeld en ook watter soort inligting hy daarop wil aanbring. Hy moet natuurlik ook die behoeftes van sy teikenmark in gedagte hou. Daardeur word ook bepaal watter skaal vir die kaart nodig is.

Die “taal” wat op ʼn kaart gebruik word, is belangrik:

  • Vir blinde persone sal dit nodig wees om brailleskrif op die kaart te gebruik.
  • Indien daar kleure op ʼn kaart gebruik word om byvoorbeeld verskillende soort bome aan te dui, sal iemand wat kleurblind is, dit nie kan “lees” nie. In so ʼn geval sal simbole gebruik moet word.

Kartograwe maak gebruik van opnames wat gedoen word van die gebied waarvan ʼn kaart geteken moet word. Hierdie opnames moet die presiese grootte, vorm en ligging van die gebied aandui. Hierdie opnames kan gedoen word deur mense wat fisies opnames in ʼn gebied gaan doen. Van die instrumente wat hiervoor gebruik word, is onder meer ʼn kompas, meetinstrumente en ʼn teodoliet. ʼn Teodoliet is ʼn instrument wat hoeke meet – soos die hoeke van heuwels en valleie. Hierdie instrument word gewoonlik op ʼn driepoot geplaas wanneer dit gebruik word. 1

Verskillende soort kaarte

Politiese kaarte

Politiese kaarte wys lande se grense en dinge soos hoofstede. Dit wys geen topografiese inligting nie, slegs grense en stede.

Fisiese kaarte

Fisiese kaarte dokumenteer die landskap-eienskappe van ‘n gebied. Dit wys gewoonlik berge,riviere, damme en mere. Verskillende kleur word gebruik om die hoogte bo seespieël aan te dui. Skakerings van groen word gebruik om laagliggende gebiede aan te dui en skakerings van bruin om hoër gebiede soos berge aan te dui. Blou word gebruik om water aan te dui.

Topografiese kaarte

Topografiese kaarte is soortgelyk aan fisiese kaarte, maar daar word nie van kleure gebruik gemaak nie. Tografiese kaarte maak van kontoerlyne gebruik om die topografie van ‘n gebied aan te dui. Kontoerlyne het ‘n vaste interval van bv. 10 m. Hoe nader die lyne aan mekaar is, hoe steiler is die gebied.

Padkaarte

Padkaarte is die mees algemene kaart wat gebruik word. Dit wys hoofweë en ander paaie, asook dinge soos lughawens, dorpe en stede, monumente, parke en ander punte van belang.

Verwysingskaarte

Verwysingskaarte gee aanduidings van onder meer riviere, stede, ensovoorts – dit wil sê, dit wys vir mens waar dinge is.

Tematiese kaarte

Tematiese kaarte gee inligting oor die bevolking van ʼn gebied. Terwyl ʼn verwysingskaart byvoorbeeld wys waar banke in ʼn dorp of stad geleë is, gee die tematiese kaart byvoorbeeld inligting oor die gemiddelde inkomste of reënval in ʼn gebied, asook die bevolkingsverspreiding oor ʼn area. 2

Kaarte op rekenaar

Vandag is daar natuurlik kaarte wat op ʼn rekenaar bekyk kan word. Dan is dit selfs moontlik om met die rekenaar in en uit te zoem, sodat die skaal van die kaart heeltyd verander. Mens kan dalk begin deur na die kaart van ʼn hele stad te kyk en dan in te zoem sodat mens net na ʼn sekere straat in ʼn woongebied kyk.

Kaarte wat met ʼn rekenaar geteken is, kan natuurlik maklik aangepas en verander word. Kleure kan verander word, nuwe paaie kan bygevoeg word, en waar die vloei van ʼn rivier verander, kan dit ook vinnig op die elektroniese kaart verander word. 1

Die geskiedenis van kaarte

Kaarte is deur die eeue op baie verskillende maniere geteken.

  • Die heel eerste kaarte is waarskynlik sommer op die grond geteken.
  • Mense van die Marshall-eilande het palmvesel gebruik om die patroon van die golwe tussen eilande in die Stille Oseaan aan te dui. Hulle het skulpe gebruik om die posisie van die eilande aan te dui.
  • Die Chinese was slim kartograwe. Die eerste kaart is in 1155 v.C. in China gedruk. Dit is 300 jaar voor kaarte in Europa gedruk is.
  • Een van die wêreld se oudste kaarte is op ʼn klip in Spanje gevind. Hierdie kaart is 14 000 jaar oud!

Die antieke Grieke word beskou as die uitvinders van wetenskaplike kartografie. Hulle het naastenby ʼn begrip gehad van die grootte en vorm van die aarde en het die stelsel van lengte- en breedtegrade ontwerp.

In die vyftiende eeu het kartografie in Europa sterk begin ontwikkel. In hierdie tyd het drukwerk moontlik geraak, en dit het beteken dat kaarte wat voorheen met die hand geteken moes word, vinniger geproduseer kon word. In dieselfde tyd het seevaarders verder begin reis en kennis van nuut ontdekte lande opgedoen, wat weer op kaarte oorgedra kon word.

In die negentiende eeu het kartografie baie gevorderd geraak met die ontwikkeling van ʼn nuwe drukmetode wat litografie genoem word. Hiermee kon akkurate kopieë van kaarte vinniger en goedkoper gemaak word. 1

Aardbol

Kaarte kom ook op aardbolle voor waar die wêreldkaart op ʼn ronde bol gedruk is om die aarde voor te stel. Vroeër jare was daar in baie klaskamers in ʼn skool ʼn aardbol. Die heel eerste aardbol is in 1492 in Duitsland gebruik, en dit is deur Martin Behaim ontwerp. Hierdie eerste aardbol het nie ʼn kaart van Amerika gehad nie omdat Christopher Columbus Amerika eers ná die uitvinding van die aardbol ontdek het. 3

Kaarte in die wêreld vandag

Die wetenskap van kartografie het deur die eeue drasties verander. Vandag gebruik die meeste mense nie meer kaarte wat op papier gedruk is nie. Hulle gebruik die tegnologie wat deur die ontwikkeling van die GPS (globaleposisioneringstelsel) en satelliete moontlik gemaak is. Vandag het elke persoon met ʼn selfoon toegang tot kaarte oral in die wêreld – al wat nodig is, is ʼn foon met die nodige vermoë en internettoegang.

Woordbank

kartograaf Persoon wat kaarte teken.
GPS Globaleposisioneringstelsel.
teodoliet ʼn Instrument wat hoeke meet.

Kyk na hierdie skakel om nog meer te leer oor kaartvaardighede

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 7 September 2022 | Bygewerk op 22 April 2024