Vinnige feite

  • ’n Weersatelliet is ’n spesiale soort satelliet wat hoofsaaklik gebruik word om die weer en klimaat van die aarde te monitor.
  • Die meerderheid navorsers sê dat diere hul sintuie (veral hul gehoor) baie meer as mense gebruik, wat maak dat hulle vinnig op veranderende weerpatrone reageer.
  • Radar is ’n elektroniese instrument wat die rigting en afstand bepaal van voorwerpe wat radio-energie na die radarterrein terugstuur.
  • Meteoroloë is wetenskaplikes wat die atmosfeer bestudeer en die weer voorspel.
Foto: iStock

Stel jou voor dit is die aand voor jou beste vriend se verjaardagpartytjie. Die partytjie is ’n piekniek wat buite gehou gaan word. Hoe gaan jy weet wat om aan te trek? Jy wil tog nie ’n trui en denim dra as dit baie warm gaan wees nie, en jy wil ook nie ’n kortbroek en T-hemp dra as dit koud gaan wees nie!

Deur na ’n weerkaart te kyk, kan jy beplan wat om na die partytjie toe aan te trek. Weerkaarte is nuttige hulpmiddels wat in ’n japtrap vir jou wys hoe die weer in ’n sekere gebied op ’n spesifieke dag én vir die komende paar dae sal wees.

Het jy al ooit ’n weervoorspeller op televisie gesien of na die weervoorspelling op die radio geluister? Wel, dan het jy al met ’n weerkundige of meteoroloog te doen gekry. 1

Meteoroloë is wetenskaplikes wat die atmosfeer bestudeer en die weer voorspel. (Ons noem dit ’n weervoorspelling omdat ’n mens nooit 100% akkuraat kan sê hoe die weer presies gaan wees nie). Meteoroloë gebruik rekenaarstelsels, satelliete en hul eie waarnemings om die weer te voorspel. Weerkaarte toon onder meer die maksimum en minimum temperatuur (hoe warm of koud dit deur die dag kan word) en of dit dalk gaan reën of sneeu (ons noem dit ook neerslag). Die windrigting en -spoed asook wolkbedekking is ook deel van ’n standaardweervoorspelling.

Wat is ’n stasiemodel?

’n Stasiemodel is ’n prentjie wat die weer by ’n verslagstasie (’n weerstasie) toon. Meteoroloë het die stasiemodel ontwikkel om verskeie weerelemente in ’n klein ruimte op weerkaarte te kan plaas. Kaarte wat baie stasiemodeldiagramme op het, kan moeilik wees om te lees. Dit stel weerkundiges, vlieëniers en seevaarders egter in staat om belangrike weerpatrone raak te sien en hulle vlugte of vaarte hiervolgens te beplan.

’n Rekenaar teken ’n stasiemodel vir elke waarnemingsplek of weerstasie. Die stasiemodel word meestal gebruik vir oppervlakweerkaarte. Dit kan egter ook gebruik word om die weer in die lug te wys. ’n Volledige stasiemodelkaart stel mense in staat om patrone in lugdruk, temperatuur, wind, wolkbedekking en neerslag te bestudeer. 2

Eenvoudige weersimbole

Die algemeenste weerkaart wat gebruik word, is ’n oppervlakweerkaart (soos die een wat voorspellers op televisie gebruik). Hierop word allerlei eenvoudiger simbole gebruik, soos ’n sonnetjie vir mooiweer en warm temperature, ’n sonnetjie wat agter ’n wolk uitloer vir gedeeltelik bewolkte weer, ’n wolkie vir bewolkte weer, ’n wolkie met druppels vir reënweer, ’n wolkie met ’n weerligstraal vir donderbuie, ’n wolkie met sterretjies (of ’n sneeuvlokkie) wat sneeu voorstel en ’n wolkie met balletjies of sirkeltjies wat haelkorrels uitbeeld.

Windspoed, wat in knope gemeet word (en soms in weervoorspellings ook as kilometer per uur uitgedruk word), word dikwels met ’n lyntjie met strepies of ’n lyntjie met strepies én driehoekies (hoe meer strepies, hoe sterker waai die wind) voorgestel – dit lyk byna soos die voorkant van ’n sleutel. Wind kan ook voorgestel word met ’n sirkel waarin die windspoed as getal getoon word, asook ’n pyltjie wat die windrigting (soos die rigtings op ’n kompas) aandui. Wind word weer voorgestel deur S-vormige patroontjies.

Warm dele van ’n gebied word dikwels in oranje of rooi op ’n weerkaart aangedui, terwyl koue dele gewoonlik geel of groen is. Weervoorspellers kan spesifieke waarskuwings rig, byvoorbeeld as dit baie koud of bloedig warm op sekere plekke gaan wees. Waarskuwings kan ook insluit brandgevare en baie nat toestande (wat moontlike oorstromings kan veroorsaak).

’n Mens kan gewoonlik ook die minimum en maksimum temperature op ’n weerkaart sien. Die minimum temperatuur word gewoonlik eerste genoem en dan die maksimum temperatuur. In Suid-Afrika wys weervoorspellers die weer per provinsie (asook in Namibië), met veral die hoofstede en vername dorpe of stede wat aandag geniet. Plekke waar spesifieke weergebeurtenisse plaasgevind het (soos sneeu, wat nie so volop in Suid-Afrika is nie), of waar die weer dalk vreemd of anders gaan wees, word ook uitgelig in weervoorspellings. 3

Wat beteken dié vreemde uitdrukkings?

  • ’n Hoëdrukstelsel kom voor wanneer droë, koel lug in ’n kloksgewyse rigting beweeg, wat gematigde weer en sonnige, blou lug meebring. Dit word gewoonlik met die letter H op ’n weerkaart aangedui.
  • ’n Laedrukstelsel is vogtige, warm lug wat antikloksgewys beweeg. Laedrukstelsels beteken gewoonlik stormagtige, nat weer. Laedrukstelsels word met die letter L op ’n weerkaart aangedui.
  • Relatiewe humiditeit (of vogtigheid) verwys na hoeveel vog daar in die lug is in vergelyking met hoeveel vog die lug kan bevat. Hoe vogtiger dit is, hoe warmer voel dit in warm weer en hoe kouer voel dit in die winter.
  • ’n Front is wanneer twee lugmassas van verskillende temperature mekaar ontmoet. As koue en warm lugmassas mekaar ontmoet, kan jy onstuimige, stormagtige weer verwag.
  • ’n Koue front ontstaan wanneer koue lug en slegte weer na ’n bepaalde gebied beweeg. Op ’n weerkaart toon ’n blou lyn met driehoekies (amper soos ’n haai se tande) in watter rigting die kouefront beweeg.
  • ’n Warm front kom voor wanneer warm lug na ’n sekere gebied beweeg. ’n Rooi lyn met halwe sirkels dui ’n warm front op ’n weerkaart aan.
  • ’n Trog is ’n langwerpige gebied met relatiewe lae druk. Trôe bring bewolkte en reënerige weer. ’n Trog word met ’n stippellyn op ’n weerkaart uitgebeeld.

Wat is ’n weersatelliet?

’n Weersatelliet is ’n spesiale soort satelliet wat hoofsaaklik gebruik word om die weer en klimaat van die aarde te monitor. Satelliete kan polêr wentel en elke 12 uur dieselfde deel van die aarde waarneem, of dit kan geostasionêr wees. Dit is as hulle oor dieselfde plek op die aarde oor die ewenaar wentel terwyl hulle teen dieselfde snelheid as die aarde draai. Hierdie meteorologiese satelliete neem meer as net wolke en wolkstelsels waar. Stadsliggies, brande, gevolge van besoedeling, sand- en stofstorms, sneeubedekking, ys, grense van seestrome en energievloei is van die soorte omgewingsinligting wat met weersatelliete versamel word.

Wat is radar?

Radar is ’n elektroniese instrument wat die rigting en afstand bepaal van voorwerpe wat radio-energie na die radarterrein terugstuur. Radar staan vir “Radio Detection and Ranging”. Meteoroloë gebruik radar onder meer om reën of sneeu waar te neem.

Wat is ’n Doppler-radar?

’n Doppler-radar bespeur neerslagintensiteit, windrigting en -spoed, en gee ramings van byvoorbeeld die grootte van die hael en die hoeveelheid reënval of sneeu. ’n Doppler-radar stel weervoorspellers in staat om donderstorms wat sterk wind, groot hael, swaar reën en moontlik tornado’s kan veroorsaak, vroeg raak te sien. In kombinasie met satelliete bied radar aan voorspellers die beste hulpmiddels om akkurate voorspellings en gevorderde waarskuwings vir swaar of gure weer te kan maak. 4

Kan diere die weer voorspel?

Het jy al opgelet hoe jou hond altyd die huis binnedraf voordat dit reën? Dit lyk amper asof hy die weer kan voorspel! Dit is waarskynlik meer akkuraat om te sê dat diere op sekere omgewingseine reageer, en nie op die weer self nie. ’n Algemene mening is dat diere sekere gebeurtenisse, soos aardbewings, kan aanvoel, selfs al is die oorspronklike aardbewing baie ver weg. Die meerderheid navorsers sê dat diere hul sintuie (veral hul gehoor) baie meer as mense gebruik, wat maak dat hulle vinnig op veranderende weerpatrone reageer.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Leer ken die verskillende simbole op ’n weerkaart

Weerkaarte en die meting van weer 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 13 Januarie 2022 | Bygewerk op 26 Junie 2023