Vinnige feite

  • Net 5% van die wêreld se bevolking woon in die VSA, maar dié land gebruik 26% van die wêreld se energie (elektrisiteit). 12
  • Een windturbine kan genoeg elektrisiteit vir 1 400 huise opwek. 13
  • Sedert 2017 het China – die wêreldvoorloper op die gebied van hernubare energie – twee windturbines elke uur opgerig. 14 Drie van die wêreld se 10 grootste sonplase is in China geleë. 15
  • Die wêreld se grootste windturbine – die Haliade-X-windturbine – is in Oktober 2019 by die Rotterdamse hawe opgerig. Die turbine is 260 meter hoog, en sy lemme is 107 meter lank! 16
  • ʼn Windturbine bestaan uit 8 000 verskillende deeltjies (onderdele). 17 Al draai ʼn windturbine se lemme stadig (om dit veiliger vir voëls te maak) is daar ratte binne die turbine wat vinnig draai.
  • Die eerste trein wat deur sonkrag aangedryf word, is in Desember 2017 in Byron Bay in Australië bekendgestel. Dié trein ry elke dag nege keer ʼn 3 km-retoerroete. In sy eerste jaar het dié trein meer as 100 000 passasiers vervoer. 18
  • Dit is moontlik om ʼn vliegtuig alleenlik met behulp van sonkrag te vlieg. In 2016 het die Solar Impulse 2-vliegtuig in 25 dae (oor ʼn vyfmaandetyperk) om die wêreld gevlieg deur net van sonpanele op sy enorme vlerke gebruik te maak. 19
  • Het jy geweet jy kan sonkrag in sout stoor? Een só ʼn plaas wat dít doen, is in Kalifornië in die VSA geleë. Dit gebruik gekonsentreerde sonlig om ʼn soutoplossing tot 538 oC te verhit. Die soutoplossing word in ʼn reuse- geïsoleerde tenk wat stoom maak, gestoor. Dié stoom laat ʼn turbine draai, wat weer elektrisiteit opwek. 20
  • Bangladesj het een van die wêreld se grootste sonkragprogramme. Kleinskaalse sonkragstelsels bied elektrisiteit aan meer as vier miljoen huise en ongeveer 20 miljoen mense in landelike gebiede (ongeveer ʼn agtste van dié land se bevolking). 21
  • In 2017 was daar 17 lande wat meer as 90% van hulle elektrisiteit uit hernubare hulpbronne geput het. 22
Foto: iStock

Hernubare energie – wat ook skoon energie of groen energie genoem word – kom van natuurlike hulpbronne of prosesse wat voortdurend aangevul word, soos sonlig, water en wind. Hoewel hernubare energie baie keer as nuwe tegnologie beskou word, gebruik mense reeds vir honderde jare die natuur se krag vir verwarming, vervoer, beligting, en so meer. Die wind laat seilbote byvoorbeeld op die see vaar en windpompe draai om graan te maal. Die son verskaf weer hitte in die dag, en baie mense gebruik die son om vuur te maak. 1 Mense in Europa het 2000 jaar gelede al begin om windkrag te gebruik toe die waterwiel uitgevind is; dit word as een van die eerste “kragopwekkers” beskou. 2

Mense het die afgelope 500 jaar toenemend goedkoper, “vuil” energiebronne soos fossielbrandstowwe (olie, steenkool en gas) begin gebruik. Dit het egter ʼn negatiewe invloed op die natuur omdat dit lugbesoedeling veroorsaak. Moderne tegnologie stel ons deesdae in staat om wind-, water- en sonkrag op slimmer en goedkoper maniere te gebruik om energie te verskaf (elektrisiteit op te wek). Niehernubare hulpbronne (soos olie, gas en steenkool) verminder by die dag en kan uiteindelik opraak, maar die wind en son sal vir altyd daar wees. 3

Hernubare energiebronne

Sonkrag

Sonkrag is wanneer die lig- en hitte-energie van die son gebruik word om hitte te verskaf of elektrisiteit te genereer. Sonkrag word verkry deur byvoorbeeld sonpanele op huise of geboue se dakke te sit. Die sonpanele absorbeer of vang die sonlig op en gebruik dit om lug of water in pype wat uit die sonpanele kom, te verhit (warm te maak). Elke sonpaneel bestaan uit fotovoltaïese selle wat soos spieëltjies lyk, wat die ligenergie in elektrisiteit verander. Sonkrag word selfs gebruik om sakrekenaars en horlosies te laat werk. 4 Suid-Afrika se grootste sonkragplaas is in Kathu in die Noord-Kaap. Dié plaas wek genoeg krag op om 179 000 huise van elektrisiteit te voorsien. 5

Windkrag

Windkrag gebruik wind om die groot lemme van ʼn turbine te laat draai. Dit werk amper soos ʼn waaier, maar net andersom. Waar ʼn waaier elektrisiteit gebruik om die lemme te laat draai, gebruik ʼn turbine die wind om die lemme te laat draai en elektrisiteit op te wek. As die wind nie waai nie, kan dit nie krag opwek nie; wetenskaplikes weet wel hoe om presies uit te werk waar windturbines gebou moet word om die meeste wind te kry. 6 Hoe meer windturbines daar is (net soos sonpanele), hoe meer elektrisiteit kan opgewek word. Daarom kry ʼn mens windplase met klomp turbines. Suid-Afrika se grootste windplaas is naby Jeffreysbaai in die Oos-Kaap. Dié plaas het 66 turbines wat elkeen 80 meter hoog is. 7

Hidroëlektriese krag

Afrika is gelukkig om baie waterbronne te hê, en daarom kan ons kontinent heelwat krag met behulp van water opwek. Hidroëlektriese krag (of waterkrag) word uit vallende of vloeiende water vanuit ʼn groot rivier, dam of reservoir (soos ʼn groot opgaartenk) verkry. Die water uit die rivier of dam vloei deur pype wat die lemme van turbines draai om elektrisiteit op te wek. (Amper soos ʼn windturbine die beweging van die wind gebruik, word hidroëlektriese krag deur die beweging van water opgewek.) 8

Ander energiebronne

Biomassaenergie – Biomassa is organiese materiaal wat van plante en diere afkomstig is en sluit gewasse, afvalhout en bome in. Wanneer biomassa verbrand word, word chemiese energie as hitte vrygestel en kan dit elektrisiteit met ʼn stoomturbine opwek. Dit is egter nie so omgewingsvriendelik nie omdat die verbranding van veral sekere bome baie koolstof in die lug vrystel. 9

Geotermiese energie – As jy al ooit in ʼn warmwaterbron geswem het, het jy met geotermiese energie te doen gekry. Die aarde se kern (binnekant) is amper net so warm soos die son se oppervlak, en wanneer diep gate geboor word, kan baie warm water na die aarde se oppervlak gebring en deur turbines gepomp word om elektrisiteit op te wek. Dit staan as geotermiese energie bekend en word ook gebruik om geboue te verwarm in die winter en te verkoel in die somer. 10

Die oseaan – Die see se golwe en getye word gebruik om elektrisiteit op te wek. Dit word gedoen deur toestelle of voorwerpe (wat soos ballonne of lang silinders lyk) bo-op of onder die water te plaas. Wanneer die golwe dié voorwerpe beweeg, laat dit ʼn turbine wat elektrisiteit opwek, draai. Seewater word ook in reservoirs opgevang, en elektrisiteit word dan op ʼn soortgelyke wyse as hidroëlektriese krag opgewek. 11

Woordbank

fotovoltaïese selle ‘n Sel wat in staat is om ‘n elektriese stroom te produseer wanneer dit blootgestel word aan stralingsenergie, veral sonlig.
steenkool Harde, meestal swart, brandbare delfstof in lae/beddings onder die oppervlak van die aarde aangetref, ʼn fossielbrandstof wat ontstaan het uit saamgeperste versteende plantreste, wat hitte lewer vir, onder meer, die opwekking van elektrisiteit, en waaruit, onder meer, steenkoolgas (ʼn mengsel van waterstof, metaan en koolstofmonoksied) berei word.
turbines Masjien waarby ‘n rat in beweging gebring word deur ‘n lugstroom, stoom of vallende water.
reservoirs Opgaardam.
gewasse Bepaalde soort plant, veral in die landbou, soos mielies en koring.
biomassa Die totale massa van organismes in ʼn gegewe streek.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor hernubare energie

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor hernubare energie

Die kort en lank van hernubare energie

Hernubare energiebronne

Kan hernubare energie elektrisiteit aan die hele wêreld verskaf?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 25 Februarie 2022 | Bygewerk op 16 September 2024