Vinnige feite
- ʼn Gesonde ekosisteem is een waarin daar ʼn goeie balans tussen die nielewende en lewende komponente bestaan.
- Elke ekosisteem het verskeie voedselkettings.
- Die mens het ʼn groot verantwoordelikheid om by te dra tot goed gebalanseerde ekosisteme deur bedagsaam te leef en regulasies na te kom wat help om ekosisteme te beskerm.
- Wanneer organismes in ʼn ekosisteem kosbare – en dikwels skaars – hulpbronne soos voedsel en water met mekaar moet deel, is hulle in kompetisie met mekaar.
ʼn Ekosisteem is al die diere en plante in ʼn bepaalde gebied en hul verhouding met mekaar en hul omgewing. Dit word gesien as ʼn biologiese sisteem van organismes wat saam met en op mekaar inwerk, asook die omgewing waarin dit plaasvind. 1
Lewende en nielewende komponente
ʼn Ekosisteem is ʼn gebied waarin lewende (biotiese) en nielewende (abiotiese) komponente op baie verskillende maniere van mekaar afhanklik is. ʼn Ekosisteem kan op sy eie oorleef – sonder enige hulp en produkte van ander bronne – omdat die lewende en nielewende komponente van mekaar afhanklik is vir oorlewing. 2 Daar bestaan dus ʼn interafhanklikheid tussen hulle.
Daar is baie verskillende soorte ekosisteme op die aarde, genaamd:
- Arktiese en Alpynse toendra (mosvlakte in baie koue gebiede naby aan die Noord- en Suidpool). Daar is geen bome nie, maar ʼn paar struike en dwergplante groei in die nat, sponsagtige grond (dit word ysgrond genoem) as dit nie permanent gevries is nie.
- berge
- die see en die rotskuste
- grasvelde: tropiese savannas en gematigde grasvelde
- poele en vleilande
- riviere
- woestyne en semiwoestyne
- woude – insluitend tropiese reënwoude – dennebosse en/of woude van bladwisselende bome in gematigde klimate ondersteun baie soorte herbivore en karnivore
Gesonde ekosisteme
ʼn Gesonde ekosisteem is een waarin daar ʼn goeie balans tussen die nielewende en lewende komponente bestaan. ʼn Gesonde ekosisteem is ook afhanklik van ʼn voldoende biodiversiteit van plante, diere en hul habitat.
Diere is afhanklik van die nielewende komponente in die ekosisteem. Alle diere het suurstof vanuit die lug nodig om asem te haal, en hulle het water nodig om hul dors te les. Sommige diere gebruik ook die nielewende komponente as skuilplekke. So byvoorbeeld maak miere staat op die grond en sand om hul neste in te bou. Water is ʼn noodsaaklike komponent in ʼn ekosisteem. Sonder water kan lewe nie bestaan nie.
In die ekosisteem word die plante die produsente en die diere die verbruikers genoem. Elke ekosisteem het verskeie voedselkettings wat uit produsente, verbruikers en ontbinders (soos erdwurms en bakterieë wat organismes afbreek tot voedingstowwe wat plante kan voed) bestaan. 2
Die grootte van ekosisteme
Die grootte van ʼn ekosisteem word nie deur oppervlak gedefinieer nie, maar eerder deur die interaksies wat daarin plaasvind. Dit kan so klein soos ʼn rivierwal wees of so groot soos die Nasionale Krugerwildtuin. 8
Soorte interaksies in ʼn ekosisteem
In ʼn ekosisteem vind verskillende interaksies tussen die organismes wat daarin leef, plaas. Hierdie interaksies is soos volg: 8
Kompetisie
Wanneer organismes in ʼn ekosisteem kosbare – en dikwels skaars – hulpbronne soos voedsel en water met mekaar moet deel, is hulle in kompetisie met mekaar. Die verskillende organismes ding met mekaar mee om dieselfde hulpbronne.
Byvoorbeeld:
Hiënas en aasvoëls is albei aasvreters en kompeteer om dieselfde voedselbronne.
Simbiose
Die begrip simbiose beskryf die manier waarop twee spesies saamleef in dieselfde gemeenskap en waarin hulle oor ʼn lang tydperk met mekaar in interaksie is.
Byvoorbeeld:
- Parasitisme: Slegs een van die spesies trek voordeel uit die interaksie, byvoorbeeld bosluise.
- Mutualisme: Albei spesies trek voordeel uit die interaksie, byvoorbeeld bestuiwing, waar die by nektar vanaf ʼn blom kry, terwyl die blom deur die by bestuif word sodat voortplanting kan plaasvind.
- Kommensialisme: Een van die spesies trek voordeel uit die interaksie, terwyl die ander spesie nie deur die verhouding beïnvloed word nie, byvoorbeeld waar remoras (suigvisse) stukkies voedsel wat uit ʼn haai se mond val, opsuig. Die haai word nie op enige manier daardeur beïnvloed nie.
Voeding
Verskillende spesies in ʼn ekosisteem is in interaksie met mekaar wanneer een spesie die ander as ʼn voedselbron gebruik. Die een spesie word dus deur die ander spesie gejag.
Byvoorbeeld: ʼn Leeu (roofdier) jag ʼn bok (prooi).
Die belangrikheid van water in ʼn ekosisteem
Water is noodsaaklik vir lewe om te kan bestaan.
Water vervul die volgende belangrike rolle in ʼn ekosisteem: 9
- Dit bring mee dat baie verskillende organismes kan bestaan. Diere en plante kan oorleef en voortplant as water deel van hul habitat is.
- Water help dat belangrike chemiese reaksies kan plaasvind. Water is byvoorbeeld ʼn belangrike bestanddeel vir fotosintese – waarin plante glukose (suiker) skep van sonlig, water en koolstofdioksied – om plaas te vind.
- Water vervoer voeding- en afvalstowwe in plante en diere se liggame.
- Water speel ook ʼn belangrike rol in plantproduksie omdat sommige sade deur water versprei word.
Voedselkettings en voedselwebbe as deel van ʼn ekosisteem
Voedselkettings
Elke ekosisteem het verskeie voedselkettings. ʼn Voedselketting beskryf hoe elke organisme voedsel verkry en hoe energie van die een organisme na die volgende vloei. 10
Alle lewende organismes het energie nodig om te funksioneer. Daardie energie word verkry van ʼn spesifieke bron en weer oorgedra na die volgende lewende organisme. 11
Die produseerder, verbruiker en ontbinder
Voedselkettings begin met die plant wat die produseerder van voedsel is. Plante verskaf energie aan diere – soos beeste – wat dit eet. Die dier wat die plant eet, word die verbruiker genoem. Daar is ʼn voedselverwantskap tussen die produseerder en die verbruiker. Dit is hierdie verwantskap wat met ʼn voedselketting geïllustreer word. 9
Ontbinders is die finale deel van ʼn voedselketting.
Voorbeelde van voedselkettings:
blaar → ruspe → verkleurmannetjie → slang → muishond
plant → insek → padda → slang → arend
Voedselwebbe
Wanneer ons baie verskillende voedselkettings in ʼn ekosisteem saamvoeg, word dit ʼn voedselweb genoem. Hierdie voedselkettings is interafhanklik en aan mekaar gekoppel. 2
Voorbeeld van ʼn voedselweb:
produseerders: stergras, rooigras en akasia
primêre verbruikers: sprinkane, miere, termiete, vlakvarke, gemsbokke, impalas, muise en wildebeeste
sekondêre verbruikers: ietermagogge, aardvarke en muishonde
tersiêre verbruikers: wildehonde, leeus, jagluiperds, rooikatte, tierboskatte en arende
Balans in ekosisteme
Die balans in ʼn ekosisteem kan soms versteur word en dan is die ekosisteem nie gesond nie. Verskillende faktore – byvoorbeeld natuurlike en menslike faktore – kan ʼn rol speel. Natuurlike faktore sluit natuurrampe soos vloede of brande in. Menslike faktore is byvoorbeeld besoedeling of die onwettige jag van dierspesies wat besig is om uit te sterf. 8
Die mens het ʼn groot verantwoordelikheid om by te dra tot goed gebalanseerde ekosisteme deur bedagsaam te leef en regulasies na te kom wat help om ekosisteme te beskerm.
Woordbank
biodiversiteit | Die groot verskeidenheid lewe (diere, plante en mikro-organismes) op die aarde en die prosesse wat alles aan die lewe hou. 1 Dit word gesien as die diversiteit ten op sigte van lewende organismes en die verskillende ekosisteme waarin hulle voorkom en in wisselwerking met mekaar verkeer. 3 |
fotosintese | Dit is die proses waardeur plante deur sonlig sekere stowwe in ander omsit en só suurstof vorm. Dit is die vorming van chemiese verbindings onder die invloed van lig en ander vorme van stralingsenergie, en veral die vorming van koolwaterstowwe in plante uit kooldioksied en water deur sonlig wat op chlorofil inwerk. 1 |
ontbinders | Wanneer organismes doodgaan en ontbind, word hulle gehersirkuleer deur ontbinders (ongewerweldes, bakterieë en fungi). Ontbinders breek organismes af in voedingstowwe wat lewende plante kan voed. Die ontbinders is ʼn lewensbelangrike deel van enige ekosisteem. Sonder hulle sou plante nie voedingstowwe kry nie. 4
Voorbeelde van ontbinders is: 5
|
voedselkettings | ʼn Voedselketting beskryf hoe elke organisme voedsel verkry en hoe energie van die een organisme na die volgende vloei. 6 Alle lewende organismes het energie nodig om te funksioneer. Daardie energie word van ʼn spesifieke bron verkry en dan weer na die volgende lewende organisme oorgedra. 7
ʼn Voorbeeld van ʼn voedselketting is soos volg: gras → sprinkaan → padda → slang → arend |
Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer
Die wetenskap van ekosisteme
Die werking van ekosisteme