Vinnige feite

  • Die totale opvanggebied van die Oranjerivier (die Vaal ingesluit) strek oor 973 000 vierkante km, dit wil sê ongeveer 77% van die landoppervlak. Ongeveer 366 000 vierkante km (38%) is egter buite die land in Lesotho, Botswana en Namibië geleë. 8
  • Die Vaalrivier is sy hoofrivier.
  • Die Gariepdam is in 1960 gebou as die integrale deel van die Oranjerivierprojek en het ’n opgaarkapasiteit van 5 340 000 megaliter (een megaliter is gelykstaande aan een miljoen liter). 9
  • Die Oranjerivier vloei ook deur Namakwaland en die Ai-Ais Richtersveld Nasionale Park en in baie droë jare bereik dit nie die see nie.
  • Aan die mond van die rivier is daar ryk diamantbeddings.
  • Die Augrabies-waterval is 122 m hoog en die grootste waterval in die rivier (die agtste grootste in die wêreld!), en is geleë in die Augrabies Nasionale Park.
  • Vanweë die geografiese ligging van die rivier is dit in die winter te koud vir krokodille om daar te oorleef.
Foto: iStock

Die Oranjerivier ontspring aan die westelike hang van die Drakensbergreeks in Lesotho op ’n hoogte van meer as 3 000 m bo seevlak. In Lesotho vries dele van die rivier in die winter vanweë die hoogte daar.

Meer as een naam

Die Oranjerivier se oorspronklike naam was die Garieprivier. Gariep beteken “rivier”. In 1779 het die Nederlandse offisier Robert Jacob Gordon die rivier verken. Hy het dit die Oranjerivier genoem ter ere van die Nederlandse koningshuis, wat as die Huis van Oranje bekendgestaan ​​het. Europese setlaars het ook die rivier Grootrivier genoem. In Lesotho word dié rivier die isAngqu genoem. 1

Grense

Vir meer as tweeduisend kilometer ver van waar hy ontspring, kronkel die rivier weswaarts deur berge, koppies, grasveld, Karooland en woestynwêreld om uiteindelik in die Atlantiese Oseaan te vloei. 2

Op sy pad weswaarts vorm die rivier die suidwestelike grens van die Vrystaat-provinsie. In hierdie gedeelte loop die rivier eers in die Gariepdam (die grootste in die land) en dan verder na die Vanderkloofdam. Van die grens van Lesotho tot onder die Vanderkloofdam is die rivierbedding diep ingesny, maar verder stroomaf is die land platter en word die rivier vir besproeiing benut.

Aan die westelike punt van die Vrystaat, suidwes van Kimberley, ontmoet die Oranje sy hoofrivier, die Vaalrivier, wat self ’n groot deel van die noordelike grens van die provinsie vorm. Van hier vloei die rivier verder deur die dorre wildernis van die suidelike Kalahari-streek en Namakwaland in die Noord-Kaap om Namibië op die 20ste graad van die oostelike lengtegraad te ontmoet. Van hier af stroom dit (steeds weswaarts) ’n verdere 550 km en vorm die internasionale grens tussen die Noord-Kaap en die Karas-streek in Namibië. Op die grens loop die rivier verby die dorp Vioolsdrif, die doeane- en aksynspos tussen Suid-Afrika en Namibië. 2

Augrabies-waterval

In die laaste 800 km van sy loop het die Oranje baie systrome en verskeie groot strome vloei daarin. In hierdie gedeelte eindig die Namibwoestyn aan die noordoewer van die rivier. Hier word die rivier se bedding weer diep gesny en tref mens die Augrabies-waterval aan, waar die rivier in ’n loop van 26 km altesaam 122 m val. Ná goeie reëns is dié waterval ’n skouspelagtige vertoon van die krag van water.

Uitmonding

Die Oranjerivier mond uit in die Atlantiese Oseaan tussen die dorpies Alexanderbaai en Oranjemund, wat ongeveer ewe ver tussen Kaapstad en Walvisbaai lê. Die woord Oranjemund is Duits vir “mond van die Oranje”. Sowat 33 km van sy mond af is daar talle stroomversnellings en sandbanke.

Die rivier se totale lengte is ongeveer 2 200 km. 3

Damme

Die Gariepdam, naby Colesberg, is die belangrikste opgaarstruktuur in die Oranjerivier. Van hier af word water in twee rigtings aan ander gebiede voorsien, naamlik weswaarts langs die Oranjerivier (via hidro-elektriese kragopwekkers) tot by die Vanderkloofdam, en suidwaarts deur die Oranje-Visriviertonnel na die Oos-Kaap. 4

Besproeiing

Besproeiing wat duisende hektaar droë grond in hoogs produktiewe landbougrond verander het, is moontlik gemaak deur die konstruksie van die Vanderkloofdam onder die Gariepdam. Ou gevestigde besproeiingskemas soos in Boegoeberg, Upington, Kakamas en Vioolsdrif is ook bevoordeel vanweë die regulering van die rivier se vloei.

Besproeiing in die Oos-Kaap het ook ’n geweldige hupstoot gekry, nie net deur die bykomende water wat beskikbaar gestel word nie, maar ook die verbetering van die watergehalte. 5

Hidro-elektrisiteit

Eskom bedryf hidro-elektriese kragstasies by die Gariep- en die Vanderkloofdam. Die hidro-elektriese kragsentrale by die Vanderkloofdam was die eerste kragopwekkingsentrale in Suid-Afrika wat ondergronds geleë was.

Gariepdam

Wingerdbou

Die rivier skep ’n pragtige oase langs sy oewer en dra by tot die lewendige landbougemeenskap in die streek. Tien persent van die land se wingerde is geleë in die Upington-streek, wat ook die tuiste is van die bekroonde Orange River Cellars, die tweede grootste koöperatiewe kelder ter wêreld.

Toerisme

Kanovaart op die Oranjerivier is ’n baie gewilde aktiwiteit en ’n groot toeriste-aantreklikheid, en toere word deur die hele jaar aangebied.

Die Richtersveld-gedeelte van die Oranjerivier is waarskynlik die maklikste deel om in te roei, en dus begin die meeste riviervaarte in die Noordoewer-omgewing.

Rivier- en kanovaart gaan nie net oor die roei nie, maar ook oor die wilderniservaring, die manjifieke rotsformasies en landskap, en die kameraadskap en vriendskappe wat ontwikkel soos die reis vorder. Dit gaan ook daaroor om die rustigheid en die fauna en flora in hierdie deel van ons land te waardeer. 6

In die droë wintermaande verminder die volume water in die rivier aansienlik as gevolg van die vinnige afloop en verdamping. By die bron van die rivier is die reënval ongeveer 2 000 mm per jaar, maar die neerslag neem af namate die rivier weswaarts vloei; by sy mond is die reënval minder as 50 mm per jaar. Die faktore wat verdamping ondersteun, neem gewoonlik in ’n westelike rigting toe.

In die nat seisoen (somer) word die Oranjerivier egter ’n magtige, bruin stroom.

Diamante

Natuurlike diamante is sowat 3,3 miljard jaar gelede gevorm in toestande van intense hitte en druk sowat 150 km onder die aarde se oppervlak.

Alluviale diamante was die eerste diamante wat in Suid-Afrika ontdek is. Alluviale beteken dit is diamante wat oor miljoene jare deur erosie uit hul oorspronklike plek verwyder is en in ‘n rivierbedding, op die seebodem of aan die kuslyn beland het.

In 1867 is die eerste diamant wat in Suid-Afrika ontdek is, die Eureka, naby Hopetown langs die Oranjerivier gevind. Twee jaar later is ’n veel groter diamant, bekend as die Ster van Suid-Afrika, in dieselfde omgewing gevind wat ’n diamantstormloop veroorsaak het. Die daaropvolgende ontdekking en ontginning van diamante by Kimberley het ’n nuwe diamantstormloop soontoe veroorsaak.

Vandag werk verskeie kommersiële diamantmyne op die laaste stuk van die rivier, sowel as op die strande waar hy uitmond. Diamantmyne kan ook op die middelste gedeelte van die rivier gevind word. 7

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Roei tussen twee lande!

Op toer, al langs die Oranjerivier

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 1 Maart 2022 | Bygewerk op 26 Junie 2023