Vinnige feite

  • Reëndruppels word gewoonlik in die vorm van ʼn traan voorgestel, maar wanneer hulle die eerste keer hoog in die atmosfeer vorm, is hulle bolvormig. Namate hulle begin val, verander hul vorm. Reëndruppels lyk inderwaarheid plat en krom soos ʼn jellieboontjie (jelly bean). 7
  • Mawsynram in die Meghalaya-staat van Indië hou die titel vir die natste plek ter wêreld. Dié deel van Indië ontvang elke jaar ʼn verstommende gemiddelde reënval van 11 971 mm.
  • Die Botswana-geldeenheid – die pula – word direk as “reën” vertaal. Dit wys hoe skaars en kosbaar reën in hierdie land suid van die Sahara is. 8
  • Al is Antarktika met ys bedek, kry dit min reënval, wat dit die droogste kontinent op aarde maak. 9
  • Elke winter val ongeveer ʼn biljoen keer ʼn biljoen, oftewel 1 000 000 000 000 000 000 000 000 000, sneeukristalle uit die lug.10
  • Dit is ʼn mite dat geen twee sneeuvlokkies presies dieselfde is nie: In 1988 het ʼn wetenskaplike twee identiese sneeukristalle ná ʼn storm in Wisconsin in die VSA gevind.11
  • Kericho in Kenia ervaar meer haelstorms as enige ander plek in die wêreld. Kericho het gemiddeld 50 dae hael per jaar.
  • Haelkorrels kan teen ʼn snelheid van tussen 14 km/h en 177 km/h val. Hoe groter die korrels, hoe vinniger val dit grond toe. 12
Foto: iStock

Daar is darem niks lekkerder as om na die reën wat op die huis se dak drup-drup, te luister nie. ʼn Mens wil sommer onder ʼn snoesige kombers inkruip en aan die slaap raak.

Net so lekker soos wat dit is om na die reën te luister (of in poele water te plas), is dit groot pret om in die sneeu te speel, mekaar met sneeuballe te gooi of ʼn sneeuman te bou. Ons kry egter nie baie of gereeld sneeu in Suid-Afrika nie, maar ʼn mens kan net soveel pret met ʼn hoop haelkorrels hê!

Al dié vorms van water – waterdruppels (reën), ys (hael) of sneeu – is meestal van wolke afkomstig. Die oomblik wat die water of ys op die grond val, noem ons dit neerslag. Neerslag is natuurlik ʼn baie belangrike deel van die aarde se watersiklus, waarsonder lewende dinge nie kan oorleef nie. 1

Wat veroorsaak neerslag?

Neerslag is een van die drie prosesse wat by die watersiklus betrokke is. Dit is wanneer enige vloeibare of gestolde water wat in die lug vorm, op die grond val. Wanneer vloeistof uit waterliggame – soos oseane, mere, riviere en damme – deur die son verhit word, verdamp dit en word dit waterdamp. 2

Die troposfeer is die deel van die atmosfeer wat die naaste aan die aarde se oppervlak is. Dit word baie koud in die troposfeer – die gemiddelde temperatuur wissel tussen ongeveer 20 °C tot -58 °C. Dit is waar waterdamp kondensasie ondergaan en verander van waterdamp in miljoene druppels wat wolke vorm. Die klein waterdruppeltjies kom bymekaar en word groter totdat dit te swaar is om in die lug te bly. As dit vloeibaar bly, val dit op die grond as reën. As dit vries, kan dit hael of sneeu wees. 2

Hael word gevorm wanneer stygende warm lug waterdruppels hoog in die atmosfeer druk waar dit vries. Namate hulle deur die wolk val, heg meer waterdruppels daaraan en vries ook, wat die korrels groter maak.

Temperatuur en watermassas is van kritieke belang vir neerslae. As dit warm is, maar daar is geen water om te verdamp nie, is daar geen reën nie – daarom is woestyne so droog. Waar water en warm temperature is, is daar ʼn intense watersiklus.

Faktore wat neerslag beïnvloed

Daar is baie faktore – soos wind, hoogte, humiditeit, breedtegraad en berge – wat neerslag beïnvloed: 3

  • Wind beïnvloed neerslag, veral as dit uit oseane of mere kom, omdat dit meer waterdamp na die land waai.
  • Hoogte beïnvloed die hoeveelheid neerslag, aangesien die temperatuur kondensasie sal beïnvloed.
  • Humiditeit is die hoeveelheid waterdamp in die lug. Daarsonder kan daar geen kondensasie wees nie.
  • Breedtegraad beïnvloed die hoeveelheid neerslag, want hoe verder weg van die ewenaar jy is, hoe laer word die lugtemperatuur, dus kan minder verdamping plaasvind.
  • Uiteindelik kan hindernisse soos berge neerslag beïnvloed. Waterdamp wat van die oseaan af kom, sal kondenseer as dit deur die berg hoër in die atmosfeer gedruk word. Sommige berge is egter baie hoog, en wolke sal saamtrek en reën vrystel voordat dit oor die bergtop kan kom. Die agterkant van ʼn berg wat geen reënval kry nie, word ʼn reënskadu genoem, en dit is dikwels droog.

Soorte neerslag

Alle vorme van neerslag begin op dieselfde manier – as verdamping en kondensasie. Dit eindig egter nie almal dieselfde nie. Die hoofsoorte neerslag is reën, sneeu en hael. 4

Reën en motreën is die enigste neerslag wat water in vloeibare vorm lewer. Miljoene waterdruppels is nodig om ʼn enkele druppel reën te maak. Die reën is sneeu in hoër wolke wat in water verander terwyl dit deur warmer lug gaan.

Sneeu is die neerslag van water in vaste vorm. As die temperatuur in die atmosfeer nie hoog genoeg is om die yskristalle in die lug te laat smelt nie, val daar sneeu. Kapok is gedeeltelik gesmelte sneeu; dit is ʼn kombinasie van reën- en sneeukorrels. Dit kom voor wanneer die sneeu in warm lug smelt en weer in koue lae van die atmosfeer vries.

Hael is ʼn vaste vorm van neerslag wat ontwikkel uit kragtige donderstorms. Dit is yskorrels of bevrore reën. Hael word groter as gevolg van die bykomende vog waarmee dit in aanraking kom soos dit val.

Sommige besoedelingstowwe kan waterdruppels besoedel, en dit het suurreën tot gevolg. Dit kan mere en strome suur maak. Dit benadeel ook plante en diere wat in water woon en nie by suur kan aanpas nie.

Die belangrikheid van neerslag

Neerslag is belangrik omdat dit atmosferiese water aan die aarde verskaf. Sonder neerslag sou die hele aarde so droog soos ʼn woestyn wees. Dit is dus ʼn belangrike deel van die watersiklus wat die beskikbaarheid van water vir alle lewende organismes verseker en die orde in weerpatrone help handhaaf. Dit verskaf ook varswater en help in menslike aktiwiteite, nywerhede en landbou wat water benodig. Neerslag kan ook skade berokken. Te veel reën of sneeu kan oorstromings en ongelukke veroorsaak. Hael en sneeu kan ook plante, bome, gewasse, kragdrade en huise beskadig. 5

Hoe meet ʼn mens neerslag

Die hoeveelheid neerslag (in watervorm soos reën) word met ʼn reënmeter gemeet wat die hoeveelheid in millimeters aandui. Een millimeter neerslag stem ooreen met 1 liter op ʼn horisontale oppervlakte van 1 m². Die neerslag op die aarde wissel op verskillende plekke. So kry ʼn mens neerslag van tussen 50 en 200 mm per jaar in woestyngebiede en tot meer as 10 000 mm per jaar in tropiese gebiede. 6

Die lug bevat altyd ʼn hoeveelheid waterdamp, en die maksimum hoeveelheid is afhanklik van die temperatuur. ʼn Meteoroloog (weerkenner) verwys normaalweg na die relatiewe humiditeit of betreklike vogtigheid in die lug, en hierdie terme verwys na die hoeveelheid vog in die lug op ʼn bepaalde tydstip en by ʼn gegewe temperatuur. Dit word uitgedruk as ʼn persentasie van die maksimum hoeveelheid vog in die lug teen hierdie temperatuur.

Woordbank

humiditeit Vogtigheid of voggehalte.
kondensasie Van ‘n gas in ‘n vloeistof verander, byvoorbeeld waterdamp wat reën word.
meteoroloog Weerkundige.
temperatuur Die meting van hoe warm of koud dit op ‘n plek is.
troposfeer Die dampkringlaag wat ongeveer 11 km bo die aarde is.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Wat is neerslag?

Die watersiklus

Neerslag

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 5 Oktober 2021 | Bygewerk op 29 Februarie 2024