Vinnige feite
- Volgens die Universiteit van Kalifornië in Santa Barbara in die VSA, is bloed rooi as gevolg van die reaksie tussen yster en suurstof in jou bloed en ook as gevolg van die manier waarop die chemiese verbinding tussen die twee elemente lig weerkaats. 9
- Suiwer yster is eintlik sag en smeebaar. 10
- ’n Ysterpilaar wat ongeveer 1 600 jaar oud is, staan vandag nog in Delhi, Indië. Die pilaar is ongeveer 7,25 m hoog en het ’n deursnee van 40 cm. Ondanks die feit dat dit aan weerstoestande blootgestel is, het die pilaar vanweë die unieke samestelling van metale nie baie geroes nie. 11
- Voorbeelde van ysterryke voedsel sluit in beesvleis, kalkoen, hoender, varkvleis; seekos soos garnale, mossels, oesters en tuna; groente soos spinasie, ertjies, broccoli en patats; volgraanbrood; asook bone, lensies en tamatiepasta. 12
- Die oppervlak van Mars is rooi as gevolg van ’n groot hoeveelheid ysteroksied (roes) op die oppervlak. Mars het meer as twee keer soveel ysteroksied in sy kors as die Aarde. Mars word ook die rooi planeet genoem. 13
- Die Aarde se soliede binnekant en vloeibare buitekern bestaan hoofsaaklik uit yster (tussen 80% en 85%). 14
- Volgens Nasa (Amerikaanse Nasionale Lugvaart- en Ruimteadministrasie) skep die elektriese stroom wat deur vloeibare yster gegenereer word, die magnetiese veld wat die Aarde beskerm. Yster kom ook voor in die kern van al die planete in die sonnestelsel. 15
- Die Latynse naam vir yster is ferrum, wat die oorsprong is vir die simbool Fe wat vir yster op die periodieke tabel gebruik word. 16
- Die meeste meteoriete wat op die Aarde val, lyk soos klippe, maar sommige meteoriete het ’n ysterinhoud van 90% en hoër. 17
Wat het ons in gemeen met die son, skepe, plante, diere en geboue? Ons het almal yster nodig! Yster is ’n metaal wat die volopste op aarde is en is die sesde mees algemene chemiese element in die heelal. Yster maak die grootste deel van die aarde se binneste en buitenste kern uit, en dit is ook ’n groot deel van die aarde se kors.
In sy suiwerste vorm is yster sag en het ’n grys kleur. As dit met ander elemente soos koolstof verbind, word yster baie hard en sterk (dit vorm dan staal). Mense vervaardig staal al vir meer as 5 000 jaar en gebruik dit om, onder meer, motors, skepe, geboue, gereedskap, potte en panne te maak. 1
Yster is teen kamertemperatuur solied en smelt eers as dit teen sowat 1 538 ℃ verhit word. Yster is ook die natuurlike element met die grootste magnetiese aantrekkingskrag. 2 Diere en plante benodig ook yster. Plante gebruik yster in chlorofil, die pigment wat in fotosintese gebruik word. 3
In mense en diere is yster deel van hemoglobien, ’n proteïen in ons bloed wat suurstof van ons longe na ander dele van ons liggaam vervoer. Yster is wel ’n noodsaaklike mineraal, maar te veel daarvan in ons liggame kan baie giftig wees. Slegs 20 mg yster per kilogram liggaamsgewig word as giftig beskou, terwyl 60 mg per kilogram dodelik is. Baie volwassenes kry egter nie genoeg yster in nie en ly aan ’n toestand wat bekend staan as bloedarmoede – ’n tekort aan die aantal of gehalte van rooibloedselle, wat lei tot moegheid. 4
Deur die geskiedenis
Die gebruik van yster dateer uit duisende jare gelede, en die heel eerste yster wat deur mense gebruik is, was van meteoriete afkomstig. Ja, yster het letterlik uit die lug geval! Wetenskaplikes het ook Egiptiese krale gevind wat van ystermeteoriete afkomstig is. Sommige mense het geglo dat yster ’n “geskenk van die gode” was omdat dit “uit die lug geval” het. Yster word reeds in die boek Genesis in die Bybel genoem. 5
Aanvanklik was yster nie so gewild soos ander metale nie. Yster was baie duur – agt keer duurder as goud! Uiteindelik het yster goedkoop genoeg geword om ander metale soos goud en brons te vervang, en het toe baie gewild geword. Yster is meestal gebruik om wapens en gereedskap te vervaardig. Hierdie tydperk staan bekend as die Ystertydperk.
Die Ystertydperk is die tydperk ná die Bronstydperk. 6 Ysterproduksie het minstens so vroeg soos 1 200 voor Christus (v.C.) plaasgevind, met bewyse wat op nog vroeër datums dui. Dit is die laaste periode van die drie eeuse-stelsel, voorafgegaan deur die Steentydperk en die Bronstydperk. Soos die naam aandui, word die Ystertydperk-tegnologie gekenmerk deur die vervaardiging van gereedskap en wapens deur ystermetallurgie (ysterbewerking), meer spesifiek uit koolstofstaal.
In die Mesopotamiese state Sumer, Akkad en Assirië strek die gebruik van yster ver terug, tot 3 000 v.C. Een van die vroegste artefakte van gesmelte yster is ’n dolk (’n soort mes) met ’n ysterlem wat gevind is in ’n Hattiese graf in Anatolië, wat dateer uit 2 500 v.C. Die wydverspreide gebruik van ysterwapens wat bronswapens vervang het, het teen die begin van die 1ste eeu v.C. vinnig deur die hele Noord-Afrika en Suidwes-Asië versprei.
Voor hierdie tyd het mense brons- of steenwerktuie en erdewerk gebruik. Hulle het geboer en in gemeenskappe gewoon. Die grootste deel van Europa, Afrika en Asië het die Ystertydperk teen 500 v.C. beleef. Yster was maklik om te vind, maar moeilik om gereedskap mee te maak, want dit smelt teen ’n hoër temperatuur as brons. Toe smede leer hoe om ysterwerktuie te maak, kon hulle baie daarvan maak.
Met meer en beter gereedskap kan mense meer doen. Meer mense kon byvoorbeeld ’n ysterploeg besit. Hulle kon hul landerye beter bewerk en meer gewasse plant. Sommige mense het ook muntstukke gemaak om hul oeste en ysterwerktuie mee te koop en te verkoop. Vandag word byna 2 000 miljoen ton staal per jaar wêreldwyd vervaardig. Dit is soveel soos 5 100 Empire State-geboue! 7 Australië is die wêreld se grootste ysterertsprodusent met 930 miljoen ton ystererts wat in 2019 hier ontgin is. 8
Woordbank
suiwerste | Skoonste. |
ystererts | Erts is die stukke grond wat uit myne kom waaruit metaal verkry word; ystererts is erts wat yster bevat. |
vervaardig | Maak, fabriseer, voortbrin |
Ystertydperk | Die tydsduur in die mense se geskiedenis vóór die historiese tydperk toe werktuie en wapens hoofsaaklik van yster en koper gemaak is. |
artefakte | Voorwerp (pot, pylpunt, stuk klipgereedskap, ens.) wat (lank gelede) deur mense gemaak is en waarvan ons kan aflei hoe hulle in die verlede geleef het. |
meteoriete | ‘n Stuk rots of metaal wat deur die ligruim beweeg en uitbrand as dit naby die aarde kom. |
hemoglobien | ’n Proteïen in bloed wat suurstof na die longe en ander dele van die liggaam vervoer. |
chlorofil | Dit is die groen pigment of kleur in die meeste plante. Dit kan energie van die son in koolhidrate (kos) vir die plant verander. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer
Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer
Die ouderdom van metale
Die geskiedenis van yster en staal
Hoe word ystererts in staal verander?