Vinnige feite

  • Jefferson se nalatenskap word op ’n paar plekke in Amerika gevier. Hy is een van die vier Amerikaanse presidente wie se gesigte op Mount Rushmore uitgebeeld is. 10 Hy verskyn ook op die Amerikaanse vyfsentstuk. Daarby is daar ook een van die indrukwekkendste gedenktekens in Washington DC, die Jefferson Memorial. 9
  • Jefferson was die eerste Amerikaanse president wat in Washington DC beëdig is. 11
  • Hy kon ses tale praat: Engels, Frans, Grieks, Italiaans, Latyns en Spaans. 9
  • Jefferson het wye belangstellings gehad. Hy het onder meer belang gestel in paleontologie, nog voordat dit ’n amptelike veld van studie was. 12
Foto: iStock

President. Vryheidsvegter. Goewerneur. Stigter. Filosoof. Prokureur. Argitek. Ambassadeur. Slawe-eienaar. Vader. Wetenskaplike. Skrywer. Hierdie terme kan almal gebruik word om Thomas Jefferson (1743-1826) te beskryf.

Jefferson was die skrywer van die Amerikaanse Onafhanklikheidsverklaring, een van die mees invloedryke dokumente in die geskiedenis van die Westerse wêreld.

Grootwordjare

Thomas Jefferson is op 13 April 1743 op sy pa se plantasie in Virginia, tóé ’n Britse kolonie en vandag deel van die Verenigde State van Amerika (VSA), gebore. 1 Sy pa was Peter Jefferson, ’n suksesvolle boer, landmeter en kartograaf. 2 Sy ma was Jane Randolph, lid van ’n vooraanstaande Virginia-familie. 1 Jefferson was die derde van tien kinders. 2

As kind het hy dit geniet om in die woud te speel, viool te oefen en te lees. 2

Hy het met formele opvoeding begin toe hy 9 jaar oud was. Hy het Latyns, Grieks, en later ook letterkunde en wiskunde studeer. 2

Jefferson se pa het gesterf toe hy 14 was en as oudste seun het hy sy pa se plantasie, Shadwell, geërf. 1

Opvoeding en vroeë professionele loopbaan

Toe hy 17 was, het hy by die College of William and Mary regte gaan studeer. 1 Sy studies het wiskunde, metafisika en filosofie ingesluit. 3 As student het hy blykbaar tot 15 uur op ’n dag studeer, en daarna vir ’n paar uur viool geoefen. 4

Jefferson het in 1767 as prokureur begin praktiseer. 4 In 1769 is hy verkies tot die Huis van Afgevaardigdes (in Engels: House of Delegates), Virginia se parlement. 1

Monticello

In 1768 het Jefferson vir homself ’n huis begin bou op ’n bergagtige heuwel in Shadwell. Hy het die berg én die huis Monticello genoem, 1 wat “klein bergie” in Italiaans beteken. 4

Jefferson was van jongs af in argitektuur en tuinmaak geïnteresseerd, en het die huis en uitgestrekte tuine self ontwerp. Dit was ’n lewenslange projek, en met verloop van jare het hy dit gevul met kuns en ander interessanthede. 4

Monticello

Die Amerikaanse Revolusie en die Amerikaanse Onafhanklikheidsverklaring

Jefferson was een van die eerste en mees begeesterde ondersteuners van onafhanklikheid vir die Amerikaanse kolonies. In 1774 het hy in ’n politieke brosjure, getiteld A Summary View of the Rights of British America, sy opinie hieroor neergeskryf. Dit het sy reputasie as ’n republikein gevestig. 2

In 1774 het die Kontinentale Kongres – waartydens die groep leiers gewerk het om die Onafhanklikheidsverklaring te skep – plaasgevind. 5 Op 33-jarige ouderdom was Jefferson die jongste lid wat daarheen uitgenooi is. 3

Jefferson was ’n uitstekende skrywer, en is daarom gekies om die Amerikaanse Onafhanklikheidsverklaring te skryf. In hierdie dokument het hy die redes aangevoer waarom die kolonies wou afstig. 1 Die onafhanklikheidsverklaring sluit onder meer die volgende beroemde woorde in: “We hold these truths to be self-evident, that all men are created equal, that they are endowed by their Creator with certain unalienable Rights; that among these are Life, Liberty, and the pursuit of Happiness.” 2

Jefferson het die dokument op 28 Junie 1776 voltooi. Die Kongres het ná gesprekke ’n paar veranderings daaraan gebring, en die finale weergawe is op 4 Julie 1776 aanvaar. 3

Hierdie datum word steeds vandag gevier as Amerika se Onafhanklikheidsdag.

Politieke loopbaan in Virginia

Jefferson het na 1776 uit die Kontinentale Kongres bedank. Hy het homself laat herverkies tot Virginia se parlement, waar hy tot in 1779 gedien het. 1 James Madison, sy goeie vriend en toekomstige Amerikaanse president, het saam met hom gedien. 4

Die hoogtepunt van sy diens in die Virginia-parlement was sy werk aan die Virginia Wet op Godsdiensvryheid (in Engels: Virginia Statute for Religious Freedom). Hierdie wet het die skeiding van kerk en staat in Virginia bevestig. Dit beteken dat die kerk uit regeringsake sou bly, en die regering uit kerksake. 1 Jefferson het hierdie as een van sy grootste prestasies beskou. 4

In 1779 is Jefferson tot goewerneur van Virginia verkies. 1 Dit was gedurende die Amerikaanse Vryheidsoorlog (1776-1783). Jefferson het nie ‘n baie suksesvolle goewerneurskap gehad nie, en in Junie 1781 bedank. 2

Van 1783 af was hy weer deel van die Amerikaanse kongres. 1

Frankryk

In 1785 is Jefferson aangewys as die Amerikaanse ambassadeur in Frankryk. Hy het vir Benjamin Franklin, die beroemde Amerikaanse politikus en wetenskaplike, opgevolg. 4

Jefferson se ampstermyn het saamgeval met die aanloop tot die Franse Revolusie. Hy het vir Abbé Sieyès en Marquis de Lafayette, twee Franse revolusionêre leiers, gehelp om die beroemde dokument die Verklaring van Mense- en Burgerregte (in Engels: Declaration of the Rights of Man and of the Citizen) te skryf. 3

Jefferson het aan die einde van 1789 teruggekeer Amerika toe. 2

Minister van buitelandse sake

Ná Amerika sy stryd om onafhanklikheid gewen het, is George Washington as Amerika se eerste president verkies. Hy het Jefferson gevra om as sy minister van buitelandse sake (in Engels: Secretary of State) te dien. 1

Binne die eerste kabinet was daar konflik oor die rol van die federale regering. Die groot kwessie was hoeveel besluite die nasionale regering mag maak, en hoeveel besluite hy sou los vir die state (soos Virginia).

Die Federale Party, met Alexander Hamilton, die minister van finansies (in Engels: Secretary of Treasury) aan die voorpunt, wou die federale regering se magte beheer oor veral die ekonomie uitbrei. 4

Jefferson het dit teengestaan. Hy wou die nasionale regering se magte beperk, en meer magte aan die state gee. Jefferson het die Demokraties-Republikeinse Party gestig om vir hierdie idees te veg. 4

Die konflik tussen die twee groepe het Jefferson naderhand begin frustreer. Hy het in Januarie 1794 bedank en teruggekeer Monticello toe. 2

Jefferson word president

Ten spyte van sy frustrasie met die regering is Jefferson in 1796 as presidensiële kandidaat vir die Demokraties-Republikeinse Party verkies. 2 Hy het in die 1785-verkiesing net-net teen John Adams van die Federale Party verloor, en is aangewys as visepresident. 1

Vier jaar later, met die verkiesing van 1800, het hy Adams verslaan en die derde president van Amerika geword. 1

Sy verkiesing was ’n mylpaal, en nie net vir Jefferson self nie. Dit was die eerste keer in die geskiedenis dat ’n moderne republiek ’n vreedsame magsoordrag gehad het van een politieke party na ’n ander. 2

Jefferson het vir twee termyne as president gedien: 1801-1805 en 1805 tot 1809. 4

Jefferson se eerste termyn, 1801-1805

Jefferson het ’n suksesvolle en produktiewe eerste termyn gehad. 2

Vername gebeure tydens sy eerste presidentskap sluit in:

  • Die Louisianaaankoop van 1803, wat Amerika se grondgebied basies verdubbel het. 4
  • Die afvaardiging van die Lewis en Clark-ekspedisie. 1 Op daardie stadium het meeste Amerikaners binne 80 km van die Atlantiese Oseaan af gewoon. Die doel van die ekspedisie was om die onbekende lande na die weste, so ver soos tot by die Stille Oseaan, te ondersoek. 4
  • Amerika het die sogenaamde eerste Barbaryse-oorlog (1801-1805) teen Moslem-seerowers in die Middellandse See gewen. 6

Jefferson se tweede termyn, 1805-1809

Sy tweede termyn was minder suksesvol. Hy het gepoog om Amerika uit die Napoleontiese Oorloë (1803-1815) te hou, 4 en om in die stryd tussen Brittanje en Frankryk neutraal te bly. 1 Hy het die Handelsverbod (in Engels: Embargo Act) van 1807 aangeneem. Hierdie wetgewing deur die Amerikaanse Kongres, het Amerikaanse hawens vir alle uitvoere gesluit, en invoer uit Brittanje beperk.

Dit was ’n ramp wat groot skade aan die Amerikaanse ekonomie gedoen het. Sy pogings kon boonop nie keer dat oorlog met Brittanje in 1812 uitgebreek het nie. 2

Jefferson is deur Madison as president opgevolg. 1

Aftrede

Jefferson het op Monticello afgetree. 1

Hier het hy homself besig gehou deur aan Monticello en die tuine te werk, musiek te speel en luister en te lees. 4 Hy het graag besoekers ontvang en briewe vir vriende, soos sy voormalige opponent John Adams, geskryf. 2

Sy grootste prestasie gedurende sy aftrede was die stigting van die Universiteit van Virginia in 1825. 4 Dit was die eerste Amerikaanse universiteit wat vryheid van geloof toegelaat het. 3

Jefferson was in sy laaste jare diep in die skuld. Om hierdie skuld te delg, het hy in 1815 sy versameling van amper 6 500 boeke aan die Amerikaanse regering verkoop. 7 Hy het egter onmiddelik weer begin om boeke te koop, en vir John Adams gesê: “Ek kan nie sonder boeke leef nie.” 8

Hy het nooit sy skuld afbetaal nie, en Monticello is ná sy dood verkoop om sy skuld te delg. 4

Sterfte

Jefferson het op 4 Julie 1826, op die 50-jarige herdenking van die Onafhanklikheidsverklaring, gesterf. 1 Hy was 83 jaar oud en is op Monticello begrawe. 4

Jefferson en slawerny

Slawerny is ’n teenstrydige kwessie in Jefferson se lewe. Aan die een kant was hy ’n kampvegter vir vryheid. Hy het selfs op ’n stadium ’n plan gehad om slawerny stelselmatig uit te faseer.

Aan die ander kant was hy ’n slawe-eienaar wat soveel as 600 slawe besit het. Van hulle het hy net 10 vrygelaat. Die oorblywendes is ná sy dood as slawe verkoop. 4 Hy het boonop geglo, soos meeste mense in sy tyd, dat swart mense ondergeskik aan wit mense was, en dat die twee rasse nie in vrede kon saamleef nie. 1

Thomas Jefferson-monument

Persoonlike lewe

Jefferson het in Januarie 1772 met Martha Wayles Skelton getrou. Hulle het ses kinders gehad, waarvan twee, Martha (Patsy) en Mary (Polly of Maria), tot volwassenheid geleef het. 1

Sy vrou het in die tiende jaar van hul huwelik, op 33-jarige ouderdom, gesterf. 4 Jefferson het haar sy “beminde metgesel” genoem. 1

Jefferson het in alle waarskynlikheid ná sy vrou se dood ’n verhouding met Sally Hemings, een van sy slavinne, gehad. 9 Sy was sy eerste vrou, Martha, se half-suster. 4 Hy was die vader van definitief een, maar meer waarskynlik al ses, van Sally se kinders. 2 Vier van hulle het tot volwassenheid geleef: Harriet, Beverly, Madison en Eston. 1

Sy dogter, Martha Jefferson

Nalatenskap

Jefferson was ’n politieke reus in die beginjare van die Amerikaanse staat. Hy was president, visepresident, minister van buitelandse sake, kongreslid, ambassadeur, goewerneur en lid van die parlement. 1

Hy was egter ook ’n man van teenstrydighede. By tye was hy ’n spreekbuis vir die vryheid van slawe, maar het self honderde slawe besit. Hy het nie regtig van politiek gehou nie, maar was waarskynlik die belangrikste Amerikaanse politikus van sy tyd. 2

Hy het ’n geweldige bydrae gelewer tot die opkoms van die nuwe Amerikaanse staat. Hy het probeer om die uitdagings van politieke vryheid, godsdiensvryheid en opvoedkundige geleenthede onder die loep te neem. Hy het passievol geglo en geveg vir die nuwe staat en Amerika se demokratiese waardes. 1

Jefferson het die epigraaf op sy eie grafsteen geskryf, en van al sy prestasies slegs drie goed uitgelig: Die Onafhanklikheidsverklaring, die Virginia Wet op Godsdiensvryheid, en die stigting van die Universiteit van Virginia. Die feit dat hy dít, eerder as dat hy president was, wou beklemtoon, wys dat sy idees vir hom belangriker as politieke sukses was. 2

Woordbank

afstig

Om iets nuuts te vorm uit ’n alreeds bestaande groep of organisasie.
ambassadeur Verteenwoordiger van ʼn staat in ʼn ander staat.
afvaardiging ’n Groep mense wat ’n regering of ’n vereniging moet verteenwoordig, gewoonlik by ’n vergadering of onderhandeling.
ampstermyn Tydperk wat ’n persoon diens doen of ’n spesifieke posisie beklee, soos die leier van ’n land.
amptelike Wanneer iets kom van iemand of iets wat gesag het.
argitek Ontwerper van geboue en bestuurder van die uitvoering van die ontwerpe; boumeester.
argitektuur Wetenskap van die ontwerp, optrek en versiering van geboue, boukuns.
bedank Sê dat jy nie meer vir iemand of by ʼn plek gaan werk nie; jou diens beëindig.
begeesterde Wanneer iets jou baie entoesiasties maak en met geesdrif vul.
beklemtoon Om die klem op iets te lê, met ander woorde dit te benadruk of die fokus daarop te plaas.
beminde metgesel Iemand vir wie jy baie lief is en met wie jy jou lewe deel.
delg Finaal afbetaal.
demokratiese ’n Regering of land is demokraties wanneer daar onder meer vryheid van spraak is en die lede daarvan aan die regering mag deelneem.
ekspedisie Lang reis wat deeglik beplan is, veral na ’n onbekende en gevaarlike plek.
epigraaf Die inskripsie op iets.
federale Die regering van ’n klomp state wat hul eie sake bestuur, maar deur ’n nasionale regering beheer word.

filosoof

Iemand wat oor die lewe dink, die gedagtes neerskryf en aan ander mense leer.
filosofie Wetenskap wat die betekenis van die lewe ondersoek.
gepoog Probeer.
goewerneur Die titel wat gebruik is vir die regeerders uit Brittanje wat in die Kaap geregeer het.
kabinet Al die ministers wat saam die regering van die land vorm.
kandidaat Iemand wat hom- of haarself beskikbaar stel vir ’n verkiesing tot ’n posisie in die openbare lewe, soos byvoorbeeld die posisie van ’n politikus.
kartograaf ʼn Tekenaar van landkaarte.
kolonies Gebied wat aan ’n ander staat/moondheid onderhorig en daarvan afhanklik is.
konflik Stryd/botsing/rusie tussen mense/groepe/lande.
landmeter Persoon wie se werk dit is om ’n stuk land te meet en op ʼn kaart uit te beeld.
onder die loep te neem Iets krities te ondersoek.
Louisiana-aankoop Transaksie tussen die VSA en Frankryk, waar Amerika ’n groot deel van Frankryk se kolonies in noord-Amerika gekoop het.
metafisika Filosofie wat nie deur eksperimentering bewys kan word nie, maar oor gesels moet word.
minister ʼn Politikus wat aan die hoof staan van een van die departemente van ʼn land se regering.
Mount Rushmore ʼn Kolossale beeldhouwerk van die ikoniese gesigte van vier voormalige Amerikaanse presidente wat in ’n berg in Suid-Dakota se Black Hills uitgekap is.
mylpaal ’n Belangrike gebeurtenis.
neutraal Onpartydig, sonder om kant te kies.
onafhanklikheid Die reg om jouself te regeer.
onafhanklikheidsverklaring Veral in Amerika. ʼn Dokument waarin jy die reg om jouself te regeer, neerskryf.
ondergeskik Onder iemand se bevel, van ʼn laer rang of afhanklik wees van iemand.
paleontologie Die studie van fossiele.
parlement Dis ’n liggaam in ’n demokratiese land wat wette maak.
plantasie Stuk grond waarop bome of ander plante aangeplant is; terrein waarop suiker/katoen/koffie/ens. gekweek word.
praktiseer Jou beroep beoefen; werk.
prokureur Iemand wat (in die) regte gestudeer het en wie se werk dit is om aan mense wette te verduidelik, formele ooreenkomste op te stel en kliënte in die hof te verteenwoordig.
regte Die studie van wette.
republikein Iemand wat ’n demokratiese regering wil hê, waar die mense self die leiers kies.
revolusionêre Om idees voor te staan wat ’n algehele ommekeer in die politiek tot gevolg sal hê.
spreekbuis Iemand wat namens iemand anders of ’n groep praat.
stelselmatig Bietjies-bietjies soos wat die tyd verloop.
stigter Persoon wat iets begin.
uit te faseer Om stadig maar seker iets tot ʼn einde te bring.
vreedsame magsoordrag Wanneer die mag in ’n land van een groep na ’n ander groep oorgedra word, maar sonder bloedvergieting of geweld.
vryheid van geloof Wanneer mense die reg het om hul eie geloof te beoefen en daardie reg deur die regering beskerm word.
Westerse Eie aan, afkomstig van of met betrekking tot die westelike deel van die wêreld (Europa/Amerika).

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Thomas Jefferson

Video’s oor Thomas Jefferson

Wie was Amerika se stigters?

Biografie van Thomas Jefferson

Nog inligting oor Jefferson

Die geniale Thomas Jefferson

Die 13 kolonies wat vir onafhanklikheid geveg het

Die Onafhanklikheidsverklaring

Monticello, die huis van Thomas Jefferson

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 Februarie 2024 | Bygewerk op 9 April 2024