Vinnige feite

  • Washington is die enigste president na wie ’n staat vernoem is.
  • Hy was so bang dat hy lewendig begrawe sou word, dat hy daarop aangedring het dat daar minstens drie dae ná sy dood moes verloop voordat hy begrawe kon word. Net vir ingeval.
  • Hy was die enigste president wat nie in die Withuis gewoon het nie – dit was toe nog nie gebou nie. 8

George Washington (1732-1799) was opperbevelvoerder van die Kontinentale Leër tydens die Amerikaanse Vryheidsoorlog (1775-1783). Nadat hierdie leër die Britte verslaan het, het hy twee termyne, van 1789 tot 1797, as die eerste president van die splinternuwe staat, die Verenigde State van Amerika, gedien.

Vroeë lewe

George Washington is op 22 Februarie 1732 in die Britse kolonie Virginië (in Engels: Virginia) gebore. Hy was die oudste van Augustine Washington en sy tweede vrou, Mary Ball Washington, se ses kinders. Sy ouers was grondbesitters en boere. 1

Sy pa is dood toe hy 11 was, en sy ouer halfbroer, Lawrence, het sy voog geword. Daar is nie vreeslik baie inligting beskikbaar oor sy vroeë kinderjare nie, maar geskiedkundiges weet dat hy vanaf die ouderdom van 7 tot 15 tuis deur sy broer se vrou onderrig is, en later by die predikant en ’n skoolmeester in wiskunde, geografie, Latyn en die Engelse klassieke werke onderrig ontvang het. 2

Die stories oor sy kleintyd – soos dat hy sy pa se kersieboom afgekap het en ’n muntstuk oor ’n rivier sou gegooi het – is ná sy dood deur sy bewonderaars oorvertel, maar daar is nie bewyse dat dit wel gebeur het nie. 2

Landmeter

Op sewentien is George as die landmeter vir Culpeper County aangestel. Vir hom het die werk avontuur en ’n bestendige inkomste gebied, en dit het hom die geleentheid gegee om grond wat nog nie aan iemand behoort het nie, te koop. Hierdie ervaring as landmeter het die jong George laat besef hoe belangrik dit vir die toekoms van die kolonies is om in ’n westelike rigting uit te brei. 3

Grondbesitter en boer

Toe hy 20 was, is sy broer Lawrence aan pokke oorlede. George het Lawrence se plaas, Mount Vernon, geërf. Hierdie plaas was geleë op die oewer van die Potomac-rivier. Hy het die landgoed geleidelik vergroot totdat dit naderhand meer as 8 000 hektaar (80 km2) groot was. Hy het die huis op die plaas ook vergroot en verbeter. Dit was vir hom belangrik om op hoogte te bly van die jongste wetenskaplike navorsing sodat hy dit op sy eie boerdery kon toepas. 4

Bevelvoerder van die Virginiese burgermag

In Desember van 1752 het Washington, wat geen vorige militêre ondervinding gehad het nie, die bevelvoerder van die Virginiese burgermag (in Engels: militia) geword. 4 Onthou dat die VSA, soos ons dit vandag ken, nog nie een land was nie. Die deelstate waaruit die VSA saamgestel is, was nog Britse kolonies, en gewone mans moes hulle gemeenskappe en besittings teen binnelandse en buitelandse vyande beskerm. 5

In 1754 het Washington, wat toe ’n majoor was, per ongeluk die Frans-Indiaanse Oorlog aan die gang gesit toe sy magte ’n Franse offisier aangeval en vermoor het. Franse en Inheemse Amerikaanse magte het ’n teenaanval aangevoor en Washington se burgermag verslaan. In 1755 het hy aan die rampspoedige Slag van Monongahela deelgeneem, waar die Franse en hul Inheemse Amerikaanse bondgenote ’n groot Britse en burgermag verdryf het. 6

In 1758 het hy uit die burgermag bedank. Alhoewel die Britte uiteindelik die oorlog gewen het, was Washington se reputasie as ’n soldaat onseker. Die Britse leiers het hom as ’n swak bevelvoerder beskou, terwyl koloniste gedink het hy is ’n dapper en standvastige leier. 6

Toetrede tot die politiek

Ná die oorlog het Washington na Virginië teruggekeer om verder te boer, maar toe hy 26 was, is hy tot Virginië se koloniale wetgewer, of regering, verkies. Kort daarna het hy met Martha Dandridge Custis, ’n ryk weduwee met twee jong kinders, getrou. 6

Washington het toenemend in politiek belang gestel. Teen 1771 het hy die Britte openlik gekritiseer oor wat hy as onderdrukkende belastingbeleid teenoor die kolonies beskou het. Hy is deur die Virginiese wetgewer verkies om die kolonie by die Eerste Kontinentale Kongres in 1774 te verteenwoordig, en in April 1775 het Washington die Tweede Kontinentale Kongres bygewoon. Op 14 Junie het die Kongres besluit om ’n Kontinentale Leër tot stand te bring. Die volgende dag is Washington gekies as die nuwe weermag se opperbevelvoerder. Sy persoonlike integriteit, militêre ervaring en status as oorlogsheld het bygedra tot sy verkiesing. 6

Lees gerus ons artikel oor die Amerikaanse Vryheidsoorlog (ook bekend as die Amerikaanse Revolusie) waarin die aanloop tot en verloop van die gebeure breedvoerig bespreek word.

Oorlogsheld in die Amerikaanse Vryheidsoorlog

Vyf jaar lank het Washington as die hoof van die weermag gedien terwyl die Vryheidsoorlog teen die Britte gewoed het. Die Britte het uiteindelik in 1781 by Yorktown in Virginië oorgegee. Washington was nou ’n held, en hy is beskou as die persoon wat die kolonies, al was dit met die Franse se hulp, uiteindelik onafhanklikheid van Groot-Brittanje laat verkry het. 6

Die eerste Amerikaanse president

Toe die Verdrag van Parys in 1783 ’n einde gemaak het aan die Vryheidsoorlog, het Washington sy kommissie bedank. Dit het beteken dat hy al die mag wat hy as aanvoerder van die leër gehad het, prysgegee het. Sulke optrede was byna ongekend en het hom ’n internasionale held gemaak. 7

Sy loopbaan as verteenwoordiger van sy staat was egter nie verby nie. In 1787 is Washington deur Virginië as ’n afgevaardigde na die jong VSA se Grondwetlike Konvensie gestuur. Die afgevaardigdes by hierdie konvensie het ’n grondwet saamgestel wat ’n regering geskep het met aansienlik meer gesag en gesentraliseerde mag. Hulle het gehoop dat die nuwe regering die ekonomiese, diplomatieke en huishoudelike rampe wat die nuwe staat in die gesig gestaar het, sou kon oplos. Die afgevaardigdes by die konvensie het George Washington met die presidentskap vertrou. Tot vandag toe is hy die enigste Amerikaanse president wat eenparig verkies is. 7

Op 16 April 1789 is George Washington as die eerste president van die Verenigde State ingehuldig. 7

Nadat hy twee agtereenvolgende termyne as president gedien het, het Washington in 1797 na Mount Vernon teruggekeer en daar afgetree. Twee jaar later, op 14 Desember 1799, is hy oorlede. 8

Nalatenskap: die standaard vir ander Amerikaanse presidente

As die land se eerste president het Washington die voorbeeld vir ander presidente gestel. Hy het bepaal hoe die nasie verdrae met ander lande sou sluit. Hy het besluit hoe die president kabinetslede sou kies en raad sou kry. Hy het ook die gewoonte begin van om ’n gereelde Stand van die Unie-toespraak (in Engels: State of the Union Address) te hou, waarin hy elke jaar aan die land verslag gedoen het van hoe sake staan. Hy het federale regters aangestel en basiese regeringsdienste soos banke gevestig. As president het hy ook hard gewerk om te verhoed dat die nuwe land in oorloë met Inheemse Amerikaners en Europese nasies betrokke raak. 8

Gedurende Washington se tyd as president was New York eers die land se tydelike hoofstad, toe Philadelphia in Pennsilvanië. Alhoewel Washington gehelp het om ’n permanente nasionale hoofstad te beplan, het sy presidentskap geëindig voordat die federale regering na die stad verhuis het wat later na hom genoem is: Washington, DC. 8

Woordbank

bestendige Standvastige; wat nie verander nie en waarop ’n mens kan vertrou.
bevelvoerder Iemand wat beheer of gesag oor ander het.
burgermag ’n Militêre mag wat uit burgerlikes bestaan.
deelstate Die state waaruit ’n federale staat, soos die Verenigde State van Amerika, saamgestel is.
eenparig Sonder ’n teenstem.
gesentraliseerde Mag onder die beheer van een verenigde owerheid of geleë op ’n enkele plek,
hektaar ’n Maateenheid vir grondoppervlak, veral plase.
in die gesig gestaar het Deur iets, gewoonlik iets negatiefs, gekonfronteer word; figuurlik bedoel.
integriteit Baie goeie karakter.
kolonies Gebied wat aan ’n ander staat/moondheid onderhorig en daarvan afhanklik is.
koloniste Inwoners van die land wat ʼn kolonie van ʼn groter land is.
kommissie bedank As offisier uit die weermag bedank.
landmeter Iemand wat grondgebied opteken en kaarte daarvan opstel.
majoor Offisier net onder ʼn luitenant-kolonel in rang.
ongekend Die eienskap dat dit nog nie gebeur het nie.
opperbevelvoerder Persoon in ’n leër met die hoogste gesag.
pokke Aansteeklike siekte wat tot blindheid kan lei en swere veroorsaak wat merke op die vel agterlaat.
reputasie Dit waarvoor iemand bekend is, hetsy goed of sleg.
rampspoedige Met ’n baie slegte einde.
standvastige Bestendige; wat nie verander nie en waarop ’n mens kan vertrou.
status Posisie, rang.
termyne Vasgestelde beperkte periodes, tydsduur; ampstyd, sitting.
verdrae Ooreenkomste tussen state.
voog Volwasse persoon wat na ’n minderjarige omsien wie se ouers nie meer leef nie of nie meer kan sorg nie.

Verbreed jou kennis met hierdie artikels

Kyk ook hier

Kort biografie oor George Washington

’n Geanimeerde video oor al sy prestasies

Kort vasvra oor Washington

 

Gepubliseer op: 9 April 2024 | Bygewerk op 9 April 2024