Vinnige feite

  • Hoewel Robert Mugabe verskeie toekennings en eerbewyse deur die jare ontvang het, is talle weer van hom weggeneem weens die menseregteskendings in Zimbabwe onder sy bewind. Die Massachusetts-Universiteit en Michigan State-Universiteit in die VSA het Mugabe se eredoktorsgrade teruggetrek, asook die Universiteit van Edinburgh in die Verenigde Koninkryk. Selfs wyle Koningin Elizabeth II het hom in 2008 ná 14 jaar van sy ridderskap ontneem. Dit het Mugabe glo min geskeel (gepla). 30
  • Mugabe was nie ten gunste daarvan dat die reggae-musikant Bob Marley se musiek tydens die onafhanklikheidsviering in 1980 gespeel word nie en het eerder die klanke van Cliff Richard verkies. 31
  • Verrassend genoeg is Mugabe in 1981 vir ’n Nobelprys vir Vrede benoem ná sy verkiesingsoorwinning as Zimbabwe se eerste demokraties verkose president ná die land se onafhanklikheid. Ander twylagtige genomineerdes vir dié gesogte vredesprys oor die jare sluit in Adolf Hitler, Joseph Stalin, Benito Mussolini, Evita Peron en Wladimir Poetin. 30
  • In 2000, toe Zimbabwe in hongersnood gedompel was en een uit elke twee Zimbabwiërs werkloos was, het Mugabe wonderbaarlik die nasionale lotery in Zimbabwe gewen en 100 000 Zimbabwiese dollar (net meer as R5 400) in sy sak gesteek. Dit is egter ’n druppel in die emmer as ’n mens dink dat sy 90ste verjaarsdagfeesvierings $1 miljoen (meer as R19 miljoen) gekos het! 32
  • Zimbabwe het in ’n stadium ’n 100 biljoen-dollar (“trillion”)-banknoot gehad, die wêreld se hoogste denominasie (waardesoort) banknoot ooit. Dit het later deel van ’n museumuitstalling in Engeland geword. 34
  • Grace Mugabe, Robert Mugabe se tweede vrou, se fortuin word op sowat $5 miljoen (sowat R95 miljoen) geraam en sy is baie bekend vir haar luukse leefstyl en uitspattige inkopietogte. Tydens een só ’n inkopietog in 2003 in Parys, het sy glo $75 000 (sowat R1,4 miljoen) geblaas (uitgegee). 35
  • Die Chinese regering het Zimbabwe se nuwe parlementsgebou buite die hoofstad, Harare, teen ’n koste van sowat $200 miljoen (sowat R3,8 miljard) opgerig. Die gebou, wat in 2022 voltooi is, vervang ’n koloniale era-gebou, maar kritici is bekommerd oor China se toenemende invloed in Zimbabwe. 36
  • Die Victoria-waterval, wat deel is van die 2 700 km lange magtige Zambezi-rivier, lê op die grens tussen Zambië en Zimbabwe (en word dus deur dié twee lande “gedeel”). Altesaam 500 miljoen liter water vloei elke minuut oor die valle en die geruis van die water kan tot 40 km ver gehoor word! 37
  • Zimbabwe het nie ’n kuslyn nie (met ander woorde daar is nie ’n see wat die land omring of aan die land grens nie). Dié land word deur vier ander lande omring, naamlik Zambië, Mosambiek, Suid-Afrika en Botswana. 38

Hy spog met ses universiteitsgrade, waarvan twee meestersgrade is, en tientalle eredoktorsgrade. Hy was eers ’n onderwyser voordat hy ’n revolusionêre politikus en een van Afrika se mees omstrede en langsdienende leiers geword het. Vir sommige was Robert Mugabe ’n held, maar vir talle was hy ’n meedoënlose magsvraat wat nie geskroom het (bang was) om sy teenstanders se monde te snoer nie. 1

Dié dikwels wrede Zimbabwiese diktator met sy kenmerkende klein vierkantige snorretjie, het nie net vir dekades soos klitsgras aan mag vasgeklou nie, maar hom selfs met Hitler (wat terloops presies só ’n snorretjie gehad het) vergelyk toe hy gesê het: “Ek is die Hitler van die tyd. Hierdie Hitler het net een doelwit: geregtigheid vir sy volk, soewereiniteit vir sy volk, erkenning van die onafhanklikheid van sy volk en hul regte oor hul hulpbronne. As dít Hitler is, laat my dan tienvoudig Hitler wees.” 2

Robert Mugabe het verskriklik baie van homself gedink en beslis nie ’n lae selfbeeld gehad nie! Vir hom was wit mense, en spesifiek Brittanje se koloniale beheer oor die destydse Suid-Rhodesië (soos Zimbabwe eers genoem is), die vyand: “Ons party moet aanhou om vrees in die hart van die wit man, ons ware vyand, te saai. Ons gaan nie meer vir die grond vra nie; ons gaan dit vat sonder om te onderhandel.” 3

Kinderjare en opleiding

Robert Gabriel Mugabe is op 21 Februarie 1924 in Kutama, Suid-Rhodesië (vandag Zimbabwe), gebore slegs maande nadat Suid-Rhodesië ’n Britse kolonie geword het. Sy dorpie se inwoners is deur nuwe wette onderdruk en het beperkte opleidings- en werksgeleenthede gehad. 4

Mugabe se pa, Gabriel Matibili, was ’n skrynwerker (iemand wat met hout werk) wat by ’n Jesuïete-sendingstasie in Suid-Afrika gaan werk het toe Mugabe nog net ’n seuntjie was. Hy het egter nooit weer huis toe gekom nie. Mugabe se ma, Bona, was ’n onderwyseres en moes Mugabe en sy drie broers en twee susters – Raphael, Michael (Miteri), Donald (Dhonadhe), Sabina en Bridgette – op haar eie grootmaak. Mugabe het hand bygesit deur die gesin se koeie op te pas en geld verdien deur los werkies te doen. 5

Hoewel baie kinders in Suid-Rhodesië nie veel verder as laerskool gevorder het nie, was Mugabe gelukkig genoeg om goeie onderwys te ontvang. Hy het die plaaslike Jesuïete-sendingskool bygewoon, was nogal leergierig en het baie van die skooldirekteur (soos die skoolhoof genoem is), Vader O’Hea, gehou. O’Hea het ’n groot invloed op Mugabe se lewe gehad. Hy het Mugabe geleer dat alle mense gelyk behandel en opgevoed moet word sodat hulle hul volle potensiaal kon bereik. 6

Mugabe se onderwysers het hom ’n slim seun genoem en sy tyd hiér het hom uiteindelik geïnspireer om self ’n onderwyser te word. Hy het oor ’n tydperk van nege jaar gestudeer en by ’n klomp sendingskole in Suid-Rhodesië onderwys gegee. Mugabe het later sy opleiding aan die Fort Hare-Universiteit in Suid-Afrika voortgesit en in 1951 ’n Baccalaureus Artium-graad (BA-graad) in geskiedenis en Engels behaal. Mugabe het na sy tuisdorp teruggekeer om daar skool te gee, en verwerf in 1953 ’n Baccalaureusgraad in opvoedkunde (BEd) deur ’n korrespondensiekursus 7 aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). 8

In 1955 verhuis Mugabe na Noord-Rhodesië. Daar is hy vir vier jaar ’n onderwyser by die Chalimbana Training College, terwyl hy vir sy derde graad studeer – ’n Baccalaureus Scientiae-graad (BSc-graad) in ekonomie (ook deur ’n korrespondensiekursus) aan die Universiteit van Londen. Hy het uiteindelik nóg drie grade behaal: ’n BA Regte-graad, MSc-graad en ’n meestersgraad (MA) in die regte. 9

Mugabe besluit om Noord-Rhodesië vir Ghana te verruil en dit is ook hier waar hy sy graad in ekonomie in 1958 voltooi. In die tyd dat hy ’n onderwyser by die St. Mary’s Teacher Training College in Ghana was, ontmoet hy sy eerste vrou, Sally Heyfron. Dié paartjie is in 1961 getroud. 10

Die ingang van die Fort Hare-Universiteit.

Vroeë politieke loopbaan

In 1960 het Mugabe besluit om tydens sy verlof na sy tuisdorp te reis om sy (toe nog) verloofde aan sy ma voor te stel. Mugabe was geskok om te sien hoe ingrypend Suid-Rhodesië verander het. Tienduisende swart gesinne is deur die nuwe koloniale regering verplaas of verskuif (hulle moes na ander plekke trek), en die wit bevolking het drasties gegroei (toegeneem). 11

Die regering het die swart meerderheid ontken en dit het tot gewelddadige betogings gelei. Mugabe was woedend oor die ontkenning van swart mense se regte en spreek in Julie 1960 ’n skare van sowat 7 000 mense tydens ’n protesoptog by die hoofstad Salisbury se Harare-stadsaal toe. Mugabe het homself as ’n Marxis beskou en aan die skare vertel hoe Ghana sy onafhanklikheid deur Marxisme verkry het. Die skare (wat deel van die opposisie was, of teen die koloniale beheer gekant was) het aan sy lippe gehang, want hulle was baie kwaad omdat hul leiers gevange geneem is. 12

Harare, die hoofstad van Zimbabwe.

Slegs weke later is Mugabe tot openbare sekretaris van die Nasionale Demokratiese Party (NDP) verkies. Mugabe het blitsig ’n militante jeugliga op die been gebring om die woord oor die bereiking van swart onafhanklikheid in Rhodesië te versprei. Hoewel die regering die party verbied het, is ’n politieke beweging gevorm wat die eerste in sy soort in Rhodesië was. Die Zimbabwe African People’s Union (ZAPU) het gou tot ’n verbysterende 450 000 lede gegroei. 13

Die beweging se leier, Joshua Nkomo, is genooi om met die Verenigde Nasies (VN) te vergader. Die doelwit was om onder Britse beheer uit te kom, maar ’n lang tyd het verloop sonder dat enigiets gebeur het. Dit het Mugabe baie kwaad gemaak. Sy frustrasie was só groot dat hy teen April 1961 in die openbaar gesê het dat ’n guerrilla-oorlog gaan volg: “Ons neem hierdie land oor en ons sal nie hierdie nonsens verdra nie,” het hy aan ’n polisielid gesê. 13

Van gevangenisskap tot onafhanklikheid

In 1963 het Mugabe en ander voormalige ondersteuners (volgelinge) van Joshua Nkomo hul eie weerstandsbeweging, genaamd die Zimbabwe African National Union (ZANU), in Tanzanië gestig.

Terug in Suid-Rhodesië later daardie jaar, het die polisie Mugabe in hegtenis geneem en hom na die Hwahwa-gevangenis gestuur. Mugabe is vir meer as ’n dekade in verskeie tronke aangehou. In 1964, terwyl hy in die tronk was, het Mugabe op geheime kommunikasie staatgemaak om guerrilla-operasies van stapel te stuur om Suid-Rhodesië van Britse heerskappy te bevry. 14

In 1974 het premier Ian Smith, wat beweer het dat hy hom vir ’n meerderheidsregering beywer (maar steeds sy getrouheid aan die Britse koloniale regering verklaar het), Mugabe toegelaat om die tronk te verlaat en ’n konferensie in Lusaka, Zambië (voorheen Noord-Rhodesië), by te woon. Mugabe gryp dié kans aan om oor die grens na Suid-Rhodesië te ontsnap en Rhodesiese guerrilla-troepe bymekaar te maak. 15

Gevegte het deur die 1970’s voortgeduur en teen die einde van daardie dekade was Zimbabwe se ekonomie in ’n slegter toestand as ooit. In 1979, nadat Smith tevergeefs probeer het om ’n ooreenkoms met Mugabe te bereik, het die Britte ingestem om die oorskakeling na ’n swart meerderheidsregering te monitor en die VN het sanksies teen dié land opgehef. 13

Teen 1980 is Suid-Rhodesië van Britse heerskappy bevry en het die onafhanklike Republiek van Zimbabwe geword. Mugabe, wat die leier van die Zimbabwe African National Union (ZANU) was, het Nkomo se ZAPU-party verslaan om die eerste minister van die nuwe republiek te word.

In 1981 het ZANU en ZAPU begin koppe stamp oor hul uiteenlopende agendas (verskillende idees). In 1985 is Mugabe as leier herkies, terwyl gevegte tussen die groepe voortgeduur het. In 1987, toe ’n groep sendelinge tragies deur Mugabe-ondersteuners vermoor is, het Mugabe en Nkomo uiteindelik ingestem om saam te smelt en die ZANU-Patriotic Front (ZANU-PF) te vorm en op die nasie se ekonomiese herstel te fokus. 16

Robert Mugabe op die Andrews-lugmagbasis tydens ‘n staatsbesoek aan die Verenigde State van Amerika.

Problematiese presidentskap

Mugabe is net ’n week ná die eenheidsooreenkoms met Nkomo as president van Zimbabwe aangestel en het Nkomo met ’n pos as een van sy senior ministers beloon. Mugabe se eerste groot doelwit was om die land se mislukte ekonomie te herstruktureer en te herstel. 13

In 1989 het hy ’n vyfjaarplan in werking te stel, wat boere in staat gestel het om hul eie pryse vir goedere te bepaal. Teen 1994 het die ekonomie sy kop begin optel en effense groei in die boerdery-, mynbou- en vervaardigingsbedryf beleef. Mugabe het talle klinieke en skole vir die swart bevolking gebou. Mugabe se vrou, Sally, is egter aan kanker oorlede, en hy trou met Grace Marufu, sy voormalige sekretaresse met wie hy reeds tydens sy huwelik met Sally in ’n verhouding was. Hoewel dié huwelik in 1996 voltrek is, is hy in werklikheid glo reeds in 1992 in ’n tradisionele seremonie met Grace getroud. 17

Grace Mugabe.

Mugabe is vir lank deur Zimbabwe se mense as held beskou omdat hy dié land tot onafhanklikheid gelei het, maar onrus het al meer begin toeneem. Baie mense was kwaad omdat hy op wit mense se grond beslag gelê (dit gevat) het, sonder om die eienaars te vergoed. Mugabe het egter voet by stuk gehou: hy wou die ekonomiese speelveld gelyk maak en vir swart mense geleenthede gee wat hulle nie voorheen gehad het nie. 13

Die burgers was ook woedend omdat Mugabe geweier het om Zimbabwe se grondwet te verander sodat meer as een politieke party deel van die politieke landskap kon wees (Zimbabwe het ’n eenpartygrondwet gehad). Inflasie was baie hoog en staatsamptenare (mense wat vir die regering gewerk het) het gestaak vir hoër salarisse. Die eensydige verhoging van staatsamptenare se salarisse het die burgers warm onder die kraag gemaak (kwaad gemaak) en al meer kritiek teen Mugabe laat opvlam. 13

Besware teen Mugabe se omstrede politieke strategieë (beleid of planne) het hom baie ongewild gemaak, ook in ander lande. In 1998, toe hy ander lande gevra het om geld vir grondverspreiding te skenk, het dié lande geweier en gesê hulle sal net help as hy ’n program begin om die arm landelike ekonomie te help. Mugabe het geweier en die buiteland het hul beursies toegehou. 13

In 2000 het Mugabe boonop ’n wysiging aan die grondwet goedgekeur waarmee hy Brittanje wou dwing om op te dok (te betaal) vir grond wat hy van swart mense weggeneem het. Mugabe het gedreig om Britse grond te vat (beslag daarop te lê) as Brittanje sou weier om te betaal. Dit het Zimbabwe net nóg meer die muishond (ongewild) in die buiteland gemaak. 13

Ten spyte van sy ongewilde beleid, omstrede uitsprake en ewe kleurryke hemde wat hy gedra het, wen hy die presidensiële verkiesing in 2002. Bespiegeling dat daar ’n gekonkel (oneerlikheid) met die verkiesing was, het daartoe gelei dat die Europese Unie ’n wapenverbod en ander ekonomiese sanksies op Zimbabwe geplaas het.

Zimbabwe se ekonomie was aan flarde. Hongersnood, siekte, buitelandse skuld en wydverspreide werkloosheid het die land geteister. Tog het Mugabe soos ’n bosluis aan sy amp vasgeklou en alles in die stryd gewerp om op die spreekwoordelike troon te bly. Baie glo dat geweld en korrupsie aan hom die deurslag gegee het om die 2005-parlementêre verkiesing te wen. 13

Klou die leisels met geweld vas

Op 29 Maart 2008, toe hy die verkiesing teen Morgan Tsvangirai, leier van die opponerende Movement for Democratic Change (MDC) verloor het, was Mugabe nie bereid om bes te gee nie (op te gee nie) en het ’n hertelling van die stemme geëis. ’n Tweede verkiesing is vir Junie 2008 beplan, maar Mugabe se volgelinge het die MDC se ondersteuners aangeval en vermoor. 13

Mugabe het openlik verklaar dat hy, solank hy leef, nooit sou toelaat dat Tsvangirai die septer in Zimbabwe swaai nie. Tsvangirai het besef dat hy ’n onstuitbare vuur met petrol probeer beveg omdat Mugabe se gebruik van geweld en intimidasie in elk geval die verkiesing in sy guns sou laat eindig. Tsvangirai besluit gevolglik om te onttrek. 13

Mugabe se weiering om die presidentskap op te gee, het tot verdere geweld gelei. Duisende mense is beseer en 85 van Tsvangirai se ondersteuners is doodgemaak. In September het Mugabe en Tsvangirai tot ’n magsdelingsooreenkoms ingestem. Tog het Mugabe die meeste van die mag behou deur die veiligheidsmagte (die polisie en weermag) te beheer en die belangrikste ministers aan te stel. 13

Aan die einde van 2010 het Mugabe verder gegaan om sy greep op Zimbabwe te behou deur goewerneurs te kies sonder om Tsvangirai te raadpleeg. In dié tyd het gerugte die ronde begin doen dat Mugabe moontlik prostaatkanker het. Dié bewerings het kommer laat ontstaan oor ’n moontlike militêre staatsgreep indien Mugabe sou sterf. ’n Gewelddadige interne oorlog binne die ZANU-PF was ’n moontlikheid omdat mense sou vuisslaan om die magtige Mugabe se opvolger te word. 13

Begin van die einde

Op 10 Desember 2011, by die Nasionale Volkskonferensie in die stad Bulawayo, het Mugabe amptelik aangekondig dat hy aan die 2012-presidentsverkiesing sou deelneem. Die verkiesing is egter tot in 2013 uitgestel, aangesien die partye ingestem het om ’n nuwe grondwet op te stel. Die Zimbabwiese burgers het die groen lig (goedkeuring) vir die grondwet tydens ’n referendum in Maart 2013 gegee, maar baie het geglo dat die verkiesing weer deur korrupsie en geweld gekenmerk sou word. 13

Aan die einde van Julie 2013, te midde van besprekings oor die komende verkiesing, het ’n 89-jarige Mugabe opslae gemaak toe hy aan ’n verslaggewer van The New York Times, wat gevra het of hy beplan om weer aan die 2018-verkiesing deel te neem (hy sou toe 94 jaar oud wees), gesê het: “Hoekom wil jy my geheime weet?” 13

Vroeg in Augustus het Zimbabwe se verkiesingskommissie Mugabe as oorwinnaar (wenner) in die presidensiële wedloop verklaar (hy het geweier dat enige Westerse land die verkiesing monitor). Hy het 61% behaal, met Tsvangirai wat slegs 34% ontvang het. Tsvangirai het gesê “die verkiesing weerspieël nie die wil van die mense nie”. Mugabe en sy ondersteuners is opnuut beskuldig van intimidasie, inhegtenisneming en ander vorme van vervolging. 13

Die Indiese eerste minister Shri Narendra Modi het Mugabe tydens die derde Indië-Afrika-Forumberaad in Nieu-Delhi ontmoet.

’n Militêre staatsgreep het op die horison gewink. Op 14 November, nie lank nadat Mugabe sy visepresident Emmerson Mnangagwa afgedank het nie, is tenks in die land se hoofstad, Harare, opgemerk. Vroeg die volgende oggend het ’n weermagwoordvoerder op TV verskyn om aan te kondig dat die weermag besig is om misdadigers wat “maatskaplike en ekonomiese lyding in die land veroorsaak, aan te keer en voor die gereg te bring”. 13

Die woordvoerder het beklemtoon dat dit nie ’n militêre oorname van die regering was nie.

Die volgende dag is foto’s van die bejaarde president by die huis saam met ander regerings- en militêre amptenare in Zimbabwe se The Herald gepubliseer. Die amptenare het glo die implementering van ’n oorgangsregering bespreek, hoewel geen openbare verklaring oor die aangeleentheid gemaak is nie. 13

Op 17 November het Mugabe weer in die openbaar verskyn by ’n universiteitsgradeplegtigheid. Nadat hy aanvanklik geweier het om vreedsaam van sy mag afstand te doen, het Mugabe glo ingestem om sy uittrede tydens ’n televisietoespraak op 19 November aan te kondig. Mugabe het tydens dié toespraak egter soos die graf hieroor geswyg (tjoepstil gebly) en aangedring dat die Desember-kongres van die ZANU-PF-regerende party voortgaan. 13

Dit was waarskynlik die strooihalm wat die kameel se rug gebreek het, want die party het aangekondig dat hy beplan om vervolgingsmaatreëls in te stel om Mugabe uit die kussings te lig. Op 22 November, kort ná ’n gesamentlike sitting van die Zimbabwiese parlement om Mugabe in ’n staat van beskuldiging (“impeachment”) te stel, is ’n brief van die omstrede president voorgelees: “Ek het bedank om die gladde oordrag van mag toe te laat,” het Mugabe geskryf. 18

Robert Mugabe ontmoet Shinzō Abe, eerste minister van Japan, in Yokohama.

Die einde van Mugabe se 37 jaar lange bewind (waarvan 30 jaar as president) is met luide (harde) applous begroet en mense het in die strate van Zimbabwe feesgevier. Die voormalige visepresident, Emmerson Mnangagwa, sou as president oorneem en die res van Mugabe se termyn tot die 2018-verkiesing uitdien. 19

Mugabe het net voor die verkiesing op 30 Julie 2018 gesê hy kan nie Mnangagwa ondersteun nie, omdat hy uit die “party wat ek gestig het” gedwing is, en het voorgestel dat die opposisieleier, Nelson Chamisa van die MDC, die presidentskandidaat moet wees. 13

Mnangagwa was glad nie ingenome (tevrede) nie en het gesê: “Dit is duidelik dat Chamisa ’n ooreenkoms met Mugabe gesluit het. Ons kan nie meer glo dat sy voornemens is om Zimbabwe te transformeer (beter te maak) en ons nasie te herbou nie.”

Spanning oor die verkiesings het soos ’n golf deur die land gespoel, en Mnangagwa van die ZANU-PF se verkiesingstriomf het tot gewelddadige betogings gelei. 13

Mugabe sterf

Mugabe is op 6 September 2019 in die ouderdom van 95 jaar in die Gleneagles-hospitaal in Singapoer dood, waar hy vir ’n paar maande vir ’n onbekende siekte (volgens Reuters was dit kanker) behandel is. 20

“Dit is met die grootste hartseer dat ek die afsterwe van Zimbabwe se stigter en voormalige president, Robert Mugabe, aankondig,” het Zimbabwe se pres. Emmerson Mnangagwa op X (voorheen Twitter) geskryf. 21

“Mugabe was ’n ikoon van bevryding, ’n Pan-Afrikanis wat sy lewe aan die bevryding en bemagtiging van sy mense gewy het. Sy bydrae tot die geskiedenis van ons volk en kontinent sal nooit vergeet word nie. Mag sy siel in ewige vrede rus.” 21

Selfs Mugabe se begrafnisreëlings was nie sonder stampe en stote nie. Ministers wou hê dat hy by die National Heroes Acre (heldeakker) in Harare begrawe moes word. ’n Mausoleum is vir die voormalige president op die terrein gebou, wat gereserveer is vir helde van Zimbabwe se bevrydingstryd. Maar Mugabe se familie het gesê hy wou by sy plattelandse huis, naby sy oorlede ma Bona, begrawe word. Hy is uiteindelik in ’n private seremonie in die binnehof van sy huis in Kutama, sowat 90 km wes van die hoofstad Harare, begrawe. 22

Mugabe het vier kinders gehad. Die eerste, ’n seun (Michael Nhamodzenyika Mugabe) by Sally Heyfron, is drie jaar ná sy geboorte in 1966 aan malaria oorlede. Mugabe en Grace Marufu het drie kinders gehad: ’n dogter, Bona, en twee seuns, Robert Peter Mugabe jr. en Chatunga Bellarmine Mugabe. 23

Wêreld se langsdienende leiers

Die Verenigde State van Amerika (VSA) beperk sy president se ampstermyn tot twee termyne van vier jaar elk. Die Amerikaanse grondwet is in 1951 gewysig (dit staan bekend as die 22ste wysiging of “The 22nd Amendment”) ingevolge waarvan ʼn persoon tot twee presidentstermyne beperk word. Voor dié wysiging was Franklin D. Roosevelt (ʼn neef van Theodore Roosevelt) vier keer tot president van die VSA verkies (in 1932, 1936, 1940 en 1944). 24

Suid-Afrika se president mag volgens ons Grondwet slegs twee termyne van vyf jaar elk dié amp beklee. 25 In Brittanje word die Britse premier ook vir ’n tydperk van vyf jaar verkies, hoewel daar nie ’n beperking is op die aantal vyfjaartermyne wat die Britse premier aan stuur van sake kan wees nie. Van die 57 Britse eerste ministers deur die geskiedenis, het nege meer as 10 jaar gedien, terwyl agt vir minder as ’n jaar in dié pos was. Sir Robert Walpole hou die rekord van 20 jaar en 314 dae (vanaf 1721), terwyl Liz Truss die kortste dienende Britse premier was. Sy het in 2022 ná slegs sewe weke bedank. 26

In baie lande is daar nie ’n beperking op hoe lank iemand die staatshoof mag wees nie, soos in Rusland waar Wladimir Poetin reeds vir bykans twee dekades aan bewind is (2000-2008 en vanaf 2012 tot tans). Poetin het boonop in 2021 ’n wet uitgevaardig wat hom in staat stel om tot in 2036 aan bewind te kan wees! 27

Die rekord vir die leier wat tans die langste aan bewind is, behoort aan Ekwatoriaal-Guinee se pres. Teodoro Obiang Nguema Mbasogo, wat in November 2022 vir ’n sesde termyn van sewe jaar verkies is. 28

Net soos Robert Mugabe vir 30 jaar Zimbabwe se president was, was daar nóg wêreldleiers wat vir jare die leierskapstroon beset het.

Hier is nog ses sulke leiers wie se name in die geskiedenisboeke verewig is: 29

  • Boaan die lys met 49 jaar aan bewind, is Kuba se revolusionêre leier Fidel Castro, wat die leierskap uiteindelik in 2008 aan sy broer Raul oorgegee het.
  • Taiwan se eerste president, Chiang Kai-shek, was in beheer van die eiland en die vasteland van China vir altesaam 47 jaar tot en met sy dood in 1975.
  • Noord-Korea se Kim Il-sung het dié staat vir 46 jaar gelei voordat hy in 1994 in sy amp gesterf het.
  • Muammar Gaddafi het Libië vir byna 42 jaar met ’n ystervuis geregeer voordat hy in 2011 deur rebelle vermoor is.
  • Omar Bongo Ondimba het die olieryke Gaboen vir meer as 41 jaar regeer tot hy in 2009 oorlede is.
  • Albanië se Enver Hoxha was vir 40 jaar tot sy dood in 1985 aan bewind.

Woordbank

aan sy lippe gehang Aandagtig na iemand luister.
agendas Lys van sake wat op ’n vergadering behandel moet word; sakelys.
amptenare Iemand in diens van die owerheid of ’n groot instelling.
ampstermyn Tydperk wat ’n persoon diens doen of ’n spesifieke posisie beklee, soos die leier van ’n land.
betogings Optog/demonstrasie om ontevredenheid oor ’n aangeleentheid te toon.
bevry In vryheid stel; vry maak; van ’n verpligting onthef.
demokraties Regeringsvorm deur verteenwoordigers wat deur die hele volk gekies is, gekenmerk deur vryheid van spraak, van die individu, van die media, ens.
denominasie Klas of groep, byvoorbeeld kerkverband/kerkgenootskap.
diktator Heerser met onbeperkte mag, veral met geweld verkry; alleenheerser.
fortuin Groot som geld.
grondwet Wet wat in hooftrekke die regeringsvorm van ’n staat, die funksies van staatsorgane en die verpligtinge en regte van die burgers bepaal; konstitusie. Wet wat onder alle omstandighede geldend is of waarop ander gegrond is.
guerrilla-oorlog Oorlog wat meestal gevoer word deur klein groepies by wyse van strooptogte, sabotasie, hinderlae.
heerskappy Mag, gesag; oppermag; oorheersing.
heldeakker Stuk grond waar mense hul helde saam kan begrawe.
hongersnood Volslae, langdurige voedselgebrek in ’n groot gebied.
ikoon Iemand/iets wat merkwaardig/besonders/navolgenswaardig is; beroemde persoon wat deur baie mense bewonder word.
inflasie Waardevermindering van geld, veral deur die grootskaalse uitgee van ongedekte papiergeld.
ingrypend Wat ’n verreikende, groot of belangrike invloed/uitwerking het.
intimidasie Deur dreigemente of geweld tot een of ander handeling dwing of daarvan weerhou; bang maak.
kolonie Gebied waar ’n groep mense hulle in ’n nuwe land gevestig het en ’n gemeenskap gevorm het wat geheel of gedeeltelik afhanklik is van die moederland.
korrespondensiekursus Kollege/universiteit wat kandidate skriftelik, oor die pos, vir eksamens voorberei.
korrupsie Oneerlike/onwettige gedrag/optrede, veral deur iemand met mag/gesag.
leergierig Wat graag wil leer; nuuskierig.
magsdelingsooreenkoms Die verdeling van mag tussen partye sodat een party nie meer mag as ’n ander besit nie; gelyke mag.
Marxis Leer van Karl Marx (1818-1883), grondlêer van die revolusionêre sosialisme wat ten doel het om private deur gemeenskaplike besit te vervang en ’n klaslose maatskappy tot stand te bring.
mausoleum Groot, statige graftombe; praalgraf; eregraf.
menseregteskendings Skending van die basiese regte wat elke mens behoort te hê om regverdig behandel te word en vry te kan leef.
militante Strydlustig; aanvallend.
Nobelprys Enigeen van ’n aantal geldpryse jaarliks toegeken uit die nalatenskap van die Sweedse uitvinder van dinamiet, Alfred Nobel, aan uitblinkers op verskillende gebiede van die kuns, wetenskap, geneeskunde en ekonomie.
omstrede Oor wie of waaroor daar verskillend geoordeel word; betwis.
onafhanklikheid Nie onderworpe/onderhorig/onderdanig nie; vry; selfstandig.
onderhandel Mondeling of skriftelik ’n bespreking of handeling aangaan met ’n ander party of partye om tot ’n ooreenkoms te (probeer) kom.
onrus Voorvalle van burgerlike onrus; oproer; woelinge; beroeringe, dikwels met geweld.
operasies Handeling/sending/veldtog/ekspedisie deur ’n militêre mag of deur die polisie onderneem om ’n bepaalde doel te bereik.
opposisieleier Teenstand; beswaar; protes; teenparty.
protes Iets wat jy doen om vir almal te wys iets is verkeerd en onregverdig.
revolusionêre Iemand wat revolusie voorstaan, bewerkstellig; opstandeling; opstandige.
ridderskap Vereniging van ridders; spesiale toekenning soos gemaak deur die Britste koningshuis.
sanksies Dwangmaatreël om besluite te laat uitvoer; strafmiddel, meestal met politieke motiewe, bv. van een staat teen ’n ander, vir nienakoming van verdragsbepalings of op grond van bepaalde morele of ander oorwegings.
sendingskool Skool wat deur sendelinge bedryf word.
skrynwerker Persoon wat professioneel houtwerk kan doen, veral ’n meubelmaker.
soewereiniteit Opperste en onbeperkte mag/heerskappy van ’n staat.
staatsgreep Gewelddadige poging om die regering van ’n staat te verander of om die mag in ’n staat in die hande te kry.
staatshoof Persoon in die/’n staat wat met die hoogste gesag beklee is.
verkiesingstriomf Oorwinning; groot/besonderse sukses.
verkiesing Geleentheid waarby stemgeregtigde kiesers (deur middel van ’n geheime stembus) hulle verteenwoordigers vir ’n parlement/munisipaliteit/stadsraad kies.
weerstandsbeweging Groep mense wat weerstand bied, hulle verset teen ’n saak of teenstand bied.
woordvoerder Persoon wat namens ander praat.

Lees meer oor Mugabe en Zimbabwe

Kyk dié video’s oor Robert Mugabe

Al ooit gewonder hoe lyk ’n 100 biljoen (“trillion”)-banknoot?

Van Mugabe se omstrede sêgoed

Gepubliseer op: 18 Mei 2023 | Bygewerk op 13 Februarie 2024