Vinnige feite

  • Diana se ma was op agtien die jongste vrou ooit wat in Westminster-abdy getrou het. 5
  • Diana het verskeie stokperdjies op skool gehad. Sy het graag geswem, geski, tennis gespeel en selfs klavier gespeel. Sy wou baie graag ʼn ballerina word. Op 1,78 meter was sy ongelukkig te lank om ballet as ʼn loopbaan te volg. 2
  • Sir Elton John se verwerkte liedjie “Candle in the Wind”, wat hy tydens Diana se begrafnis gesing het (die liedjie is oorspronklik geskryf vir die aktrise Marilyn Monroe), het 30 miljoen kopieë verkoop, wat dit die suksesvolste popliedjie van alle tye maak. 18
  • Prins Charles, toe 17, het een keer die vyfjarige Diana se “teepartytjie” met prins Andrew onderbreek. 2
  • Diana was verlangs familie van, onder andere, Winston Churchill en die Amerikaanse president Thomas Jefferson. 20
  • Ná Diana se dood het 122 lande in Desember 1997 ʼn ooreenkoms onderteken wat die vervaardiging, vervoer en gebruik van landmyne verbied. 15
  • Diana se trourok het ʼn sleep van 7,6 meter lank gehad. Dit was die langste sleep ooit vir ʼn koninklike troue. Altesaam 10 000 pêrels is ook aan die trourok vasgewerk. 21
  • Om te keer dat dit vervals word, mag die koninklike familie nie handtekeninge uitdeel nie. 22
  • Koning George V het in 1917 besluit dat die koningsgesin se van Windsor is. Voorheen het hulle nie ʼn van gehad nie. 22
  • Park House, waar Diana as ʼn kind gewoon het, is in 1987 omskep in ʼn driesterhotel vir reisigers met gestremdhede. Volgens ʼn resensie word gaste die kamer waar Diana gebore is, gewys. 2
  • Prins William was vir sewe jaar ʼn helikoptervlieënier in die Britse weermag. Prins Harry is in sy 10 jaar in die weermag twee keer na Afghanistan ontplooi. 22
  • Prins William is op 29 April 2011 met Catherine Middleton by Westminster-abdy getroud. 23 Met sy pa, koning Charles III, op die troon ná sy ouma koningin Elizabeth II se afsterwe in 2022, is hy die volgende troonopvolger. 24
  • Prins William en Kate Middleton het drie kinders: prins George (gebore 2013), prinses Charlotte (gebore 2015) en prins Louis (gebore 2018). Prins George is eerste in die ry ná sy pa om koning van Engeland te word. 24
  • Prins Harry het op 19 Mei 2018 met die Hollywood-aktrise Meghan Markle getrou. Hulle het in 2020 egter hul koninklike pligte laat vaar. 25 Die egpaar het in 2020 na Montecito, Santa Barbara in Kalifornië in die VSA verhuis. 26
  • Harry en Meghan het twee kinders: Archie Mountbatten-Windsor (gebore 2019) en Lilibet Diana Mountbatten-Windsor (gebore 2021). 24
  • Charles is op 9 April 2005 met Camilla Parker Bowles getroud. 27 Hy het koning Charles III geword met sy ma, koningin Elizabeth II, se afsterwe op 8 September 2022. Camilla staan sedert Charles se kroning as koning op 6 Mei 2023 as koningin bekend. 28
  • The Crown is ʼn fiktiewe TV-reeks gebaseer op ware gebeure. Die reeks begin by koningin Elizabeth II se troue met haar man, Phillip. Dit vertel haar verhaal en die politieke en persoonlike gebeure tydens haar bewind. Dit is op Netflix te sien. 29
  • Twee rolprente het reeds oor Diana se lewe verskyn. Diana (2013) handel oor die laaste twee jaar van haar lewe waar sy ʼn verhouding met Hasnat Khan aanknoop. 30 Spencer (2021) fokus op Diana se probleme met geestesgesondheid tydens ʼn Kersvakansie saam met die koninklike familie by Sandringham in Norfolk, Engeland. Sy maak ʼn besluit om haar huwelik met prins Charles te beëindig. 31

Sy was die prinses van die mense en ʼn geliefde koninklike. Mense het haar wêreldwyd bewonder vir haar skoonheid en elegansie, maar ook vir haar nederigheid en goeie hart.

Diana, prinses van Wallis, was soos geen ander prinses voor haar nie. Sy was ʼn inspirasie vir vroue se haarstyle en modes. Sy het weeskinders op haar skoot getel en vigslyers vertroos. Sy het probeer om vir haar twee seuns ʼn “normale” kinderlewe te gee: Sy het saam met hulle na pretparke gegaan, hamburgers by kitskosrestaurante geëet en saam met ander ma’s resies gehardloop by atletiekbyeenkomste. Sy het ook die seuns met haar saamgeneem wanneer sy kinderhuise of ouetehuise besoek het, sodat hulle simpatie en empatie sou hê vir die mense oor wie hulle eendag gaan regeer.

Haar egskeiding en ontydige dood het ʼn einde aan die sprokie gebring, maar die koningin van harte sal vir altyd in die harte van mense voortleef.

Kinderjare

Diana Frances Spencer is op 1 Julie 1961 in Norfolk, Engeland gebore. Albei haar ouers is afkomstig van families wat baie ryk en belangrik was. 1 Haar pa, John Spencer, se familie het in die vyftiende en sestiende eeu ʼn fortuin met skaapboerdery gemaak. In ʼn stadium was die Spencers een van die rykste families in Engeland. Ten tye van haar geboorte het Diana se oupa die titel van graaf gehad. 2

ʼn Graaf is ʼn adellike titel en kan nie aan enigiemand toegeken word nie. Dit is ʼn titel wat ʼn man van sy pa erf. Die Engelse woord vir graaf, earl, beteken ‘vegter’ of ‘koninklike’. 3

Haar ma, Frances Ruth Burke Roche, se familie was selfs ryker as die Spencers. 4 Frances se pa was baron Fermoy. ʼn Baron is ook ʼn adellike titel, maar minder belangrik as ʼn graaf. Die Roche-familie het sterk bande met die koninklike familie gehad. 5

Prinses Diana dans saam met John Travolta in Cross Hall by die Wit Huis

Frances was 18 jaar oud toe sy met die dertigjarige John Spencer getrou het. Hulle het in die Westminster-abdy getrou. Die Westminster-abdy is ʼn besonderse kerk in Londen waar talle koninklikes trou en begrawe word. John en Frances se troue is, onder andere, deur koningin Elizabeth II bygewoon. Diana was die egpaar se vierde kind. Sy het twee ouer sussies gehad, Sarah en Jane; ʼn ouer boetie John wat 10 uur ná sy geboorte gesterf het; en ʼn jonger boetie Charles wat vier jaar ná Diana gebore is. 5

Diana het die koninklike familie van kleins af geken. Haar pa het ʼn huis gehuur wat op die Windsors (die koninklike familie se van) se landgoed gebou was. Hul huis, Park House, is in 1863 deur die prins van Wallis (later koning Edward VII) gebou vir gaste wat by die Windsors tuisgaan. Wanneer die koninklike familie by Sandringham was, het die twee families oor en weer gekuier. Diana was twaalf jaar jonger as prins Charles en het dikwels met sy jonger boeties, prins Andrew en prins Edward, gespeel. Min het sy geweet hulle sou later haar swaers word! 2

Diana op besoek aan Halifax

Toe Diana sewe jaar oud was, was daar probleme in John en Frances se huwelik nadat haar ma ʼn verhouding met die Australiese sakeman Peter Shand Kydd aangeknoop het. Die egpaar skei in 1969 en die hof besluit dat die kinders permanent by John moet woon. Diana se ma en haar tweede man gaan woon op ʼn klein Skotse eiland ver van haar kinders af. Asof dit nie genoeg is dat haar ma op só ʼn jong ouderdom uit Diana se lewe is nie, word sy, soos haar twee ouer susters, na ʼn kosskool (ʼn skool waar leerders in ʼn koshuis kan tuisgaan) gestuur toe sy nege is. 2

Voor die kosskool het ʼn goewernante (privaat onderwyseres) vir haar skool gegee. Sy was nie mal oor haar lewe by Riddlesworth Hall School nie en op twaalf jaar verander sy weer van skool. Hierdie keer gaan sy na West Heath in Kent, Engeland, ʼn skool wat haar ouer sussies ook bygewoon het. Sy bly by hierdie meisieskool ook in die koshuis en sien haar familie bitter min. 6

Die prinses van Wallis met Britse polisiebeamptes wat die dwelmgroep van die West Midlands-polisie in 1987 besoek

Tienerjare

In 1975 verander Diana se lewe ingrypend toe haar oupa Spencer sterf. As die oudste seun het pa John die titel van graaf geërf. Omdat hulle dogters van ʼn graaf is, word Diana en haar twee sussies nou lady genoem. 2

Graaf John Spencer het nie net ʼn titel geërf nie. Met sy pa se dood het die familiehuis op die Althorp-landgoed ook syne geword. Maar Althorp was nie ʼn gewone huis nie. Die woning was al 500 jaar in die Spencer-familie se besit ná John Spencer dit in 1508 gekoop het. Negentien generasies (verskillende geslagte van oupa, seun, kleinseun, ens.) het in die herehuis gebly. Op veertienjarige ouderdom word die huis met 90 kamers Diana se nuwe ouerhuis. 2

In 1976 trou Diana se pa met Raine McCorquodale. 5 Nie een van sy kinders word na die troue uitgenooi nie. 2

Te midde van al hierdie veranderings by die huis, gaan dit nie baie goed met Diana se akademie nie. Hoewel sy uitblink in swem, dans en musiek, druip sy twee keer die Britse eksamen wat min of meer gelykstaande is aan Suid-Afrika se graad 10. 2

Op sestien verlaat sy West Heath om ʼn afrondingskool in Switserland by te woon. Dit was Diana se eerste keer buite Engeland en die eerste keer in ʼn vliegtuig. ʼn Afrondingskool word dikwels deur adellike of ryk meisies bygewoon waar hulle, onder meer, etiket moet leer. Etiket is die reëls vir hoe jy jou in verskillende situasies tussen mense behoort te gedra. 2 In 1978 keer sy terug na Engeland. 7

Ná skool, in 1979, gaan bly sy in ʼn woonstel in Earls Court, Londen, wat haar ma vir Diana as ʼn geskenk vir haar 18de verjaarsdag gegee het. Drie vriendinne woon saam met haar in die huis. Hoewel sy nie nodig het om te werk nie, werk sy, onder meer, as ʼn kleuterskoolassistent vir die Young England-kleuterskool in die stad. Dit is vandag steeds een van die vooraanstaande kleuterskole in Londen. 8

Tydens haar besoek aan Halifax, Nova Scotia, in Junie 1983

Die begin van ʼn sprokie

Diana het prins Charles in 1977 vir die eerste keer as ʼn volwassene ontmoet toe hy met haar oudste suster Sarah uitgegaan het. Al het Sarah dit later duidelik gemaak dat sy nie met Charles wil trou nie, het Diana aan vriende gesê sy gaan eendag met hom trou. Hoewel Charles ook beïndruk was met die “vrolike, aantreklike sestienjarige” het hulle eers hul vriendskap hervat toe hy en Diana ʼn partytjie van ʼn gemeenskaplike vriend in 1980 in Sussex bygewoon het. 9

Die prins en prinses van Wallis by prins Andrew se troue

Hulle kon mekaar nie baie sien nie, maar het baie oor die telefoon gesels. Prins Charles vra haar om te trou ná net dertien afsprake. In Februarie 1981 het die paartjie hul verlowing bekendgemaak. Vyf maande later trou hulle in St. Paulus se katedraal in Londen. Ongeveer 3 000 gaste het die seremonie bygewoon en sowat 750 miljoen mense wêreldwyd het daardie dag na die troue op televisie gekyk. Dit word vandag nog beskou as die mees onvergeetlike koninklike troue ooit. 9

Op 21 Junie 1982 verwelkom die paartjie hul eersteling. Prins William was die eerste baba van die Britse koninklike familie wat in ʼn hospitaal gebore is, en nie by Buckingham-paleis soos die gebruik was nie. Prins Charles was teenwoordig tydens die geboorte en koningin Elizabeth II was die eerste familielid om die troonopvolger, ná prins Charles, te besoek. 10

Twee jaar later word William ʼn kleinboet ryker toe prins Harry een week te vroeg op 15 September 1984 gebore word. Hy is, soos sy boetie, ook in die St. Mary-hospitaal gebore. 10

ʼn Prinses vir die mense

Behalwe om ʼn ma vir William en Harry te wees en vir hulle ʼn “normale” lewe – buite die koninklike lewe – te probeer gee, het sy gedurende die tyd toe sy prinses was, haarself op liefdadigheid toegespits.

Hier is ʼn paar organisasies of belange (sake) wat Diana na aan die hart gelê het:

MIV/Vigs

In ʼn tyd toe daar nog baie stigma aan dié siekte gekleef het, het Diana moeite gedoen om die publiek meer daaroor in te lig. Sy het sentrums gestig vir die behandeling en ondersteuning van vigslyers. Haar liefdadigheidswerk vir vigslyers het haar ook dikwels na Suid-Afrika gebring. Sy het selfs met pres. Nelson Mandela vergader sodat die Nelson Mandela-kinderfonds en die Diana, Prinses van Wallis-gedenkfonds, saamgevoeg kan word om slagoffers van vigs by te staan. 11 In ʼn tyd toe daar nog baie onsekerheid was oor vigs, het sy nie geskroom om aan vigslyers te raak of hul hande vas te hou nie. 12

Diana Prinses van Wallis besoek Interconnection Systems (Plessey) in South Shields 1992

Stryd teen landmyne

ʼn Landmyn is ʼn bom wat in die grond begrawe word en ontplof wanneer iemand daaroor loop of ry. Selfs lank ná ʼn oorlog verby is, is daar soms steeds landmyne begrawe wat nooit afgegaan (ontplof) het nie. Nadat sy Angola in 1997 besoek het, het sy saam met die Halo-trust begin werk in ʼn poging om landmyne te verwyder. 11 Foto’s waar prinses Diana met beskermingsklere en -toerusting deur ʼn mynveld in Angola loop, het wêreldwyd opslae gemaak en bewusmaking geskep oor die werk wat gedoen moet word om landmyne te verwyder. 13

Armoede

In 1992 het Diana die beskermvrou van Centrepoint geword. Hierdie organisasie fokus veral daarop om huisvesting aan jong volwassenes te gee, hulle te help om werk te kry en armoede te verminder. Prinse William en Harry het hul ma van kleins af na Centrepoint vergesel om met die inwoners te gesels.

President Ronald Reagan dans saam met prinses Diana by ‘n aandete vir prins Charles en prinses Diana

Kankernavorsing

In 1993 het Diana ʼn kankereenheid vir kinders by die Royal Marsden-hospitaal gestig en in 1996 meer as ₤1 miljoen (nagenoeg R22 miljoen) op haar eie ten bate van kankernavorsing ingesamel. Prins William en sy vrou, Catherine, die prinses van Wallis, besoek vandag steeds pasiënte in die hospitaal, net soos hy en sy boetie as kinders saam met hulle ma gedoen het. 11

Tydens Diana se leeftyd was sy ʼn lid en beskermvrou van meer as 100 liefdadigheidsorganisasies.

Gedenkplaat van die besoek van Diana, die Prinses van Wallis, aan die Noordwes-Universiteit, 4-6 Junie 1996

ʼn Sprokie verbrokkel

Agter toe deure het dit egter nie so goed met Charles en Diana se huwelik gegaan nie. Daar was verskeie redes daarvoor. Een daarvan is dat die paartjie mekaar nie baie goed voor die tyd geken het nie. Charles was nog verlief op ʼn vorige vriendin, Camilla Parker Bowles, en het kort ná sy huwelik met Diana ʼn buite-egtelike verhouding (ʼn romantiese verhouding met iemand anders as die huweliksmaat) met Camilla begin. Later het Diana ook buite-egtelike verhoudings gehad. 14

Diana was skaars negentien toe hulle getroud is en het miskien nie heeltemal geweet wat op haar wag nie. Die deurlopende media-aandag en paparazzi wat Diana om elke hoek en draai gevolg het, asook die verwerping in die koninklike familie wat sy ervaar het, het haar geestesgesondheid (emosies en gevoelens) nadelig beïnvloed. Tydens ʼn televisieonderhoud in 1995 het sy erken dat sy aan, onder meer, depressie en bulimie gely het. Hoewel Diana en Charles vanaf 1992 nie meer saam gebly het nie, was hul egskeiding eers op 28 Augustus 1996 afgehandel. 14

As deel van die egskeidingsooreenkoms het Diana ₤17 miljoen (sowat R375 miljoen) ontvang. Sy en Charles het gesamentlike toesig (die kinders het op verskillende tye by elke ouer gebly) oor William en Harry gehad. Sy het haar titel “prinses van Wallis” behou, maar het nie meer bekendgestaan as “haar koninklike hoogheid” nie. Dit alles het haar nie gekeer om met haar liefdadigheidswerk voort te gaan nie. 15

Visepresident en mev. Quayle kuier saam met prins Charles en prinses Diana by die Britse ambassadeur se woning.

In die paar maande voor haar dood het dit gelyk of Diana wel geluk gevind het. Sy het met dr. Hasnat Khan, ʼn hartchirurg, begin uitgaan en uiteindelik net ʼn “normale” lewe gelei waar die media nie deurlopend oor die kleinste besonderhede van haar lewe berig het nie. Sy kon na restaurante gaan en dit was selfs vir haar lekker om in rye te staan wanneer sy vir iets moes wag. “Ek ontmoet sulke interessante mense terwyl ek in ʼn ry staan,” het sy aan ʼn vriendin vertel. 15

Khan wou egter op sy loopbaan fokus en het nie kans gesien vir al die media-aandag wat saam met Diana sou kom nie. Die verhouding het ná ʼn paar maande tot ʼn einde gekom. 15 Hierdie liefdesteleurstelling het Diana nie gekeer om met haar lewe voort te gaan nie. In die laaste twee maande voor Diana se dood het sy meer dinge gedoen as wat die meeste mense in ʼn leeftyd regkry. Sy het onder andere saam met Moeder Teresa hand-aan-hand deur New York se strate gestap; sy het $3,25 miljoen (sowat R70 miljoen) ten bate van vigs en kanker ingesamel; en sy het Bosnië besoek om mense bewus te maak van die skade wat landmyne ook daar aangerig het. 16

Sy het in Julie 1997 een laaste vakansie saam met haar kinders en vriend Dodi Fayed op sy luukse seiljag in St. Tropez, Frankryk, deurgebring. Dodi Fayed was die seun van die Egiptiese miljardêr en eienaar van die Harrods-winkel in Londen, Mohamed Fayed. Dit is na bewering tydens hierdie vakansie dat Diana en Dodi ʼn romantiese verhouding begin het. 16

Aan die einde van Augustus nooi hy haar weer om saam met hom ʼn paar dae op sy seiljag deur te bring. Die paartjie het van die suide van Frankryk na Sardinië, ʼn eilandgebied van Italië in die Middellandse See, gevaar en op 30 Augustus 1997 na Frankryk teruggevlieg. 16

Daardie aand het hulle aandete in die Ritz-hotel in Parys, wat in daardie stadium ook aan Mohamed Fayed behoort het, geëet. ʼn Paar minute ná middernag het hulle in ʼn Mercedes-Benz na Dodi se huis in Parys vertrek. Diana se lyfwag het op die voorste sitplek langs die bestuurder gesit. Langs die pad het paparazzi op motorfietse die motor begin agtervolg. Moontlik in ʼn poging om van hulle weg te kom, het die motorbestuurder by ʼn ondergrondse tonnel ingery teen ʼn spoed van 70 myl per uur (sowat 112 km/h), hoewel die spoedgrens slegs 30 myl per uur (48 km/h) was. In die tonnel het hy beheer oor die voertuig verloor en die motor het teen een van die pilare gebots. Dodi Fayed en die bestuurder Henri Paul sterf onmiddellik (op slag dood). ʼn Paramedikus, wat toevallig op daardie oomblik in die tonnel was, het Diana en haar lyfwag lewend aangetref. Sy was ʼn rukkie by haar bewussyn voor sy in ʼn koma verval het. Ná ʼn operasie van twee uur, sterf Diana om 04:53 die oggend van 31 Augustus aan inwendige bloeding. Trevor Rees-Jones, Diana se lyfwag, was die enigste oorlewende. Hy is ook die enigste persoon wat ʼn sitplekgordel aangehad het. 17

Die paparazzi het aanvanklik die skuld gekry vir die ongeluk, maar in 1999 het ʼn Franse regter bepaal dat die bestuurder onder die invloed van alkohol nalatig bestuur het. Hy het ook medikasie saam met die alkohol gedrink wat sy vermoë om te reageer en besluite te neem, beïnvloed het. ʼn Britse polisieondersoek het in 2006 ook die bestuurder skuldig bevind. ʼn Britse jurie het tydens ʼn geregtelike doodsondersoek in 2008 bevind dat die paparazzi én bestuurder verantwoordelik was vir die ongeluk as gevolg van nalatige bestuur. Daar is geen bewyse gevind dat dit ʼn beplande moord was soos wat Dodi se pa al die jare geglo het nie. 18

Prinses Diana-gedenkteken by Harrod, Londen

Richard Shepherd, ʼn forensiese patoloog, het in 2019 bevind dat Diana van ʼn piepklein skeurtjie aan ʼn aar in haar long oorlede is. Volgens hom is die besering só seldsaam, dat hy in sy loopbaan nog nie weer daarop afgekom het nie. Hy glo sy sou geleef het as sy ʼn sitplekgordel gedra het. 17

ʼn Roudiens is sewe dae ná haar dood in Westminster-abdy in Londen gehou. ʼn Geskatte 2,5 miljard mense het na haar begrafnis op televisie gekyk. (In 1997 was daar sowat 6 miljard mense op aarde. Dit beteken dat meer as twee uit elke ses mense op aarde dit gevolg het!) Meer as een miljoen mense het langs die strate van Londen gewag om haar kis te sien. 19

Sowat 2 000 mense het die diens by Westminster-abdy bygewoon, onder andere die voormalige Britse eerste minister Margaret Thatcher, die voormalige Amerikaanse presidentsvrou Hillary Clinton, Suid-Afrika se voormalige president Nelson Mandela, Tom Hanks, Steven Spielberg, Mariah Carey, Richard Branson, Tom Cruise en Nicole Kidman. 19

Prinses Diana is later daardie dag op Althorp, waar sy ʼn groot deel van haar kinderjare spandeer het, begrawe. Sy het ʼn swart rok aangehad wat sy toevallig ʼn paar weke voor haar dood bestel het. In haar hande was ʼn bidsnoer wat sy van moeder Teresa gekry het. Haar laaste rusplek is op ʼn eiland in die middel van die landgoed se meer. Altesaam 36 eikebome – een vir elke lewensjaar – is geplant in ʼn pad wat na haar graf lei. 19

Diana, die prinses van harte, het haar laaste rusplek gevind.

Woordbank

adellike (In sommige lande) die groep mense (edelmanne en edelvroue) wat tot die hoogste sosiale stand behoort.
baron ʼn Edelman laer as ʼn graaf.
beskermheer Eretitel van ʼn man/vrou onder wie se besondere sorg die belange van ʼn vereniging/ens. gestel word.
bewind Beheer; bestuur; regering.
bidsnoer String van 15 maal 10 klein krale, telkens gevolg deur ʼn grote – gebruik om gebede op af te tel; ook genoem ʼn rosekrans.
bulimie Aanhoudende sieklike hunkering na kos by iemand met anoreksie of ʼn ander psigiatriese toestand, gekenmerk deur heimlike ooretery waarna die lyer skuldig voel en opsetlik braak om van die kos ontslae te raak.
depressie Ernstige terneergedruktheid wat jou laat dink daar is geen hoop vir die toekoms nie.
egskeiding Die wettige beëindiging van ʼn huwelik in ʼn hof.
empatie Vermoë om jou in die plek van ʼn ander te stel om sy/haar reaksies en houding te begryp.
forensiese Met betrekking tot die gebruik van wetenskaplike tegnieke en metodes in misdaadondersoeke.
geestesgesondheid ʼn Toestand van psigologiese welsyn waar die persoon op ʼn bevredigende emosionele wyse funksioneer en sy/haar gedrag wys dat hy/sy in staat is om die lewe te geniet en ʼn balans te handhaaf tussen psigologiese veerkragtigheid en lewensaktiwiteite a.g.v. eie persepsie van outonomie, bevoegdheid, vermoëns, produktiwiteit en gemeenskapsdeelname, en die vermoë om alledaagse stres te hanteer.
generasies Enkele trap in die opeenvolging van natuurlike afstamming; al die nakomelinge van een ouerpaar.
goewernante Private onderwyseres vir die kind/kinders van ʼn gesin.
graaf ʼn Man met ʼn hoë adellike rang in sekere lande.
jurie ʼn Groep gewone mense wat gekies word om na getuienis in ʼn hofsaak te luister en dan moet besluit of die beskuldigde(s) skuldig of onskuldig is.
katedraal Die grootste/belangrikste kerkgebou (van veral die Rooms-Katolieke Kerk) in ʼn bepaalde gebied, gewoonlik met ʼn biskop as hoof.
koma ʼn Onnatuurlike diep slaap; ʼn toestand van volkome bewusteloosheid.
lady (Die titel/aanspreekvorm van) ʼn Britse vrou van hoë stand.
landgoed ʼn Spoggerige plaas of ander stuk grond buite ʼn dorp/stad, gewoonlik met ʼn groot, deftige huis en ʼn ryk eienaar.
landmyn ʼn Bom wat in die grond begrawe word en ontplof wanneer iemand daaroor loop/ry.
liefdadigheid Die handeling van steun/geld/goed/ens. te gee aan mense wat arm/siek/ens. is en hulp nodig het.
nalatig Nie doen wat jy behoort te doen nie; agte(r)losig wees.
paparazzi Fotograaf wat bekendes/beroemdes oral(s) probeer voorlê om hulle in onbewaakte oomblikke te fotografeer; steelfotograaf.
paramedikus Iemand wat opgelei is om mense te help wat beseer is of om mediese werk te doen, maar nie ʼn dokter of verpleegkundige is nie.
patoloog Dokter wat lyke ondersoek en dissekteer om die oorsaak van dood te probeer vasstel.
simpatie ʼn Gevoel van jammerte vir iemand wat hom/haar in ʼn slegte situasie bevind.
sleep ʼn Deel van ʼn kledingstuk wat op die grond sleep.
stigma ʼn Sterk gevoel by mense dat om in ʼn bepaalde situasie te (ge)wees (het) of ʼn bepaalde siekte te hê, iets is om oor skaam te wees.
stokperdjies Iets wat jy in jou vrye tyd doen omdat jy dit geniet.
swaers Die broer van jou man/vrou of die man van jou suster.
titel ʼn Naam soos “meneer” of “professor”, of ʼn afkorting soos “mev.” of “dr.”, wat voor iemand se naam gebruik word om sy/haar rang of beroep aan te dui, of hy/sy getroud is, ens.
troonopvolger Die persoon wat ʼn regerende vors se plek sal inneem.
uitgegaan In ʼn romantiese verhouding wees.
verlowing Die tydperk waarin twee mense aan mekaar verloof is (voordat hulle trou).
vigs ʼn Baie ernstige siekte, deur bloed en ander liggaamsvloeistowwe oorgedra, wat veroorsaak dat jou liggaam nie meer teen infeksies kan weerstand bied nie (uit die afkorting verworwe immuniteitsgebreksindroom).
vooraanstaande Wat leiding gee en belangrik is; op die voorgrond; vernaam. 32

Lees hier meer oor Diana se lewe

Kyk hierdie video’s om meer oor Diana te wete te kom

Diana as kind:

Diana en Charles se troue:

Charles, Diana en die twee seuns:

Diana en die twee seuns by ʼn pretpark:

Diana hardloop ʼn resies saam met ander ma’s:

Hoe Diana ʼn mode-ikoon geword het:

Prinses Diana speel Rachmaninoff se Concerto nr. 2, een van die moeilikste klavierstukke:  

Diana en die paparazzi:

Diana se begrafnis:

Elton John sing “Candle in the Wind” tydens Diana se begrafnis:

Diana se nalatenskap:

Binne ʼn virtuele museum ter nagedagtenis aan Diana:

Gepubliseer op: 3 November 2022 | Bygewerk op 10 April 2024