Vinnige feite

  • Koelakke (Russiese grondbesitters) was baie gekant teen Stalin se bevele dat alle plase gemeenskapsplase moes word. Hulle het landerye aan die brand gesteek, vee doodgemaak en toerusting beskadig. Miljoene beeste en varke is geslag (na raming tussen 20% en 35% van alle vee is doelbewus of opsetlik doodgemaak). Dit het tot ʼn groot hongersnood gelei. In 1932 was die hongersnood katastrofies. In Oekraïne is ongeveer 5 miljoen mense dood. Die koelakke is gedwing om weg te beweeg of is doodgemaak. 22
  • As deel van die Koue Oorlog het die VSA beplan om ʼn kernbom op die maan te laat ontplof om te wys hoe magtig hulle is. 23
  • Gorbatsjof was reeds as student nie bang om sy sê te sê nie. Hy het byvoorbeeld glad nie met die Russiese wetgewing saamgestem dat as iemand skuld beken, die persoon beslis skuldig is nie. Volgens hom kon dit gebeur het dat die beskuldigde gedwing is om te erken dat hy of sy skuldig is. 8
  • In 1897 kon net 33% van mans en 14% van vroue in die destydse Rusland lees. Danksy die USSR se geletterdheidsprogramme (programme om mense te leer lees) was 99,7% van die USSR se bevolking geletterd teen die 1980’s. 24
  • Tussen 1929 en 1940 is ’n sesdagwerksweek ingestel sodat mense nie kans gehad het om kerk toe te gaan nie. Godsdiensbeoefening was verbode in die USSR. 24
  • Die Sowjetunie het ongeveer 27 miljoen mense in die Tweede Wêreldoorlog aan die dood afgestaan: sowat 8,7 miljoen soldate en 19 miljoen burgers (gewone mense). ʼn Kwart van die mense in die Sowjetunie is in die oorlog dood of gewond. Dit is die meeste weermagsterftes van enige land in die wêreld. 25
  • Die USSR het destyds ʼn internasionale sangkompetisie gehad toe televisies vir die eerste keer toegelaat is. Telefone was nog nie algemeen beskikbaar nie. Die enigste manier waarop kykers vir die deelnemers kon stem, was om die ligte in hul huise aan en af te skakel. Die nasionale kragvoorsiener het dan dopgehou wanneer daar ʼn skielike toename in elektrisiteitsverbruik was, en het die uitslag vir die stasie gestuur om te laat weet wie die wenner is. 24
  • Die Sowjetunie was die eerste land om ʼn mens die ruimte in te stuur as deel van die Wostok-program met die ruimtevaarder Joeri Gagarin. Hulle het ook die eerste ruimtestasie gelanseer. 24
  • Tydens die Koue Oorlog het die USSR ʼn wêreldkaart geskep wat só presies (akkuraat) was dat die VSA dit vandag nog saam met ander bronne gebruik. Die kaarte is geheim gehou en enigiemand wat gevang word dat hulle dit smokkel (selfs vandag), word swaar gestraf. ʼn Afgetrede Russiese weermagbeampte is in 2012 twaalf jaar tronkstraf opgelê nadat hy 7 000 landkaarte (kaarte van verskillende lande) verkoop het. Dit het na bewering in die Amerikaanse Pentagon (die VSA se weermaghoofkwartier) beland en het die VSA glo gehelp om Irak in 2003 in te val. 24
Foto: iStock

Tussen 1985 en 1991 het ’n Rus die wêreld én die geskiedenis verander.

Michail Gorbatsjof was toe die leier van die Sowjetunie, amptelik bekend as die Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke (USSR). Met sy beleid van glasnost (deursigtigheid) en perestroika (ekonomies-politiese heropbouing) was hy verantwoordelik vir die einde van die Koue Oorlog, die val van die Berlynse Muur (die grens tussen Oos-Duitsland en Wes-Duitsland) en die ontbinding van die destydse USSR.

Kommunisme het ook ʼn groot knou gekry toe die magtige USSR tot ʼn val gekom het.

Vir die Weste was dié Nobelpryswenner vir Vrede ʼn held wat die moed gehad het om die Westelike en Oostelike deel van die wêreld te versoen. In die oë van die aanhangers (volgelinge of ondersteuners) van die USSR was hy egter ʼn verraaier wat ʼn magtige moondheid vernietig het.

Pres. George H.W. Bush en Michail Gorbatsjof

Of jy Gorbatsjof nou as ʼn held of ʼn verraaier beskou, sy veranderinge is die rede waarom miljoene mense vandag hul eie ondernemings (besighede) het, kos en klere in winkels kan koop en selfs godsdiens kan beoefen (kerk toe kan gaan), want dít is die basiese regte waarvan die USSR sy inwoners dekades lank weerhou en ontneem het.

Kinderjare

Michail Sergejewitsj Gorbatsjof is op 2 Maart 1931 in Priwolnoje in die vrugbare suide van Rusland gebore. Hy het die byname Misha en Gorby gehad en was die oudste van twee seuns. Sy broer Alexander, of Sasha, is sestien jaar later gebore. 1

Sy pa, Sergei Andrejewitsj Gorbatsjof, was van Russiese oorsprong en sy ma, Maria Pantelejewna Gorbatsjof, van ʼn Oekraïense familie. 2 Met Michail se geboorte was Oekraïne en Rusland saam met dertien ander lande deel van die USSR. 3

Hoewel Sergei en Maria besluit het om hul seun Wiktor te noem, het sy oupa en ouma aan moederskant hom in die geheim gedoop en hom Michail genoem. 2

Die dertigerjare was ʼn moeilike tyd in Rusland. In 1933 gaan die suide van Rusland onder ʼn geweldige droogte gebuk en ʼn hongersnood breek uit. Twee van Michail se ooms en een tannie sterf van honger. 4

Michail se ouers was kleinboere wat op gemeenskapsplase (in Russies kolkhozy) in die omgewing gewerk het. Hulle was arm en totdat hy skool toe gegaan het, het Michail hoofsaaklik by sy oupa en ouma, Pantelei en Vasilisa Gopkalo, gewoon. 5

Gemeenskapsplase was deel van Josef Stalin, die leier van Rusland in daardie stadium, se politieke beleid van kommunisme.

Kommunisme se doel is om ʼn samelewing te hê waar alles gelykop verdeel word. Alle mense word gelyk behandel en daar is byna geen privaat eienaarskap nie. In ʼn kommunistiese regering beheer en besit die regering omtrent alles, insluitend eiendom. Mense mag dus nie soos Michail se oupa Gorbatsjof (aan sy pa se kant) hul eie plase gehad het nie.

Bob Hawke en Gorbatsjof

Die regering het alle kommunikasie en vervoer, onderwys, asook fabrieke en landbou beheer en streng kontrole oor arbeid (werknemers) uitgeoefen. 6

In 1934 word Andrei Gorbatsjof, Michail se oupa aan sy pa se kant, gevange geneem omdat hy nie sy plaas wou opgee en op een van die gemeenskapsplase wou werk nie. Hy word na ʼn strafkamp (in Russies gulag) in Siberië gestuur waar hy elke dag baie harde werk moes doen. Hy word later danksy goeie gedrag vrygelaat. Terug in Priwolnoje het hy dadelik by die gemeenskapsplaas tot aan die einde van sy lewe begin werk. 5

Teen die einde van 1939 was alle plase wat nog aan individue behoort het, in gemeenskapsplase omskep. 7

In 1941 word Sergei, Michail se pa, deur die weermag opgeroep om die USSR teen Duitsland tydens die Tweede Wêreldoorlog te beskerm (verdedig). In Mei 1944 word die Gorbatsjof-familie in kennis gestel dat Sergei noodlottig gewond (oorlede) is. Die familie het drie dae lank gerou, maar dit was gelukkig ʼn vals berig: Sergei het oorleef, maar het sy been ernstig beseer.

Dokument van die Algemene Sekretaris van die Sentrale Komitee van die Kommunistiese Party van die Sowjetunie

Sergei ontvang verskeie toekennings vir sy dapperheid tydens die oorlog. Terug by die huis, hervat hy sy werk op die stroper op die gemeenskapsplaas. 5

Opleiding

Michail het besonders goed gevaar op skool, veral in geskiedenis en wiskunde. Een van sy stokperdjies was toneelspel. Hy het selfs saam met die dramageselskap deur die streek getoer. Die akteurs het die bietjie geld wat hulle uit die kaartjieverkope gemaak het, gebruik om skoene vir 35 leerders van baie arm gesinne te koop wat kaalvoet skool toe gegaan het. 5

Tydens sy hoërskooljare leer sy pa die jong Michail hoe om die stroper te bestuur en reg te maak (herstel). Op 17-jarige ouderdom word hy die jongste ontvanger van die Orde van die Rooi Banier van Arbeid vir die rol wat hy en sy pa gespeel het om daardie jaar ʼn oes van 80 ton graan te lewer. 5 Sy pa het die Orde van Lenin-toekenning gekry. 8 Hierdie toekennings is gegee aan mense wat ʼn besonderse bydrae tot die USSR se samelewing gelewer het deur die werk wat hulle gedoen het. 9

In 1950 vaar hy só goed in sy matriekeksamen dat hy by die Moskouse Staatsuniversiteit as student toegelaat word sonder om eers ʼn toelatingseksamen te skryf. Die universiteit het hom ook verwelkom omdat hy op ʼn plaas grootgeword het, omdat hy die spesiale toekenning van die regering ontvang het en omdat hy, in sy matriekjaar, ʼn lid van die Kommunistiese Party se jeugafdeling geword het. 5

As student ontmoet hy die liefde van sy lewe, Raisa Titarenko, ʼn student in filosofie. Sy was een jaar jonger as Michail. Die paartjie trou op 25 September 1953. Nadat hy sy regsgraad in 1955 met lof (gewoonlik ʼn gemiddeld van 80% en hoër) slaag, keer hulle na Stawropol terug, waar hy as prokureur werk. In 1957 word Irina, Michail en Raisa se enigste kind, gebore. 5

Gorbatsjof en sy vrou, Raisa

Tydlyn tot sy presidentskap

Gorbatsjof se pad om uiteindelik as president verkies te word, was baie harde werk. Hy was dekades lank in die Kommunistiese Party en het geleidelik al hoër posisies begin beklee. 4

1948: Gorbatsjof is reeds op skool deel van Komsomol, die jeugafdeling van die Kommunistiese Party in die USSR. 10

1955: Hy het skaars 10 dae as ʼn prokureur gewerk toe hy besluit om eerder ʼn loopbaan in die politiek te volg. Hy is veral aangespoor deur die politieke gebeure in die USSR ná Stalin se afsterwe twee jaar tevore. 4

1956: Hy word as die eerste sekretaris van Komsomol verkies. 4

1958: Hy word as adjunkhoof van Komsomol in die Stawropol-streek aangestel. 4

1961: Gorbatsjof verwerf ʼn tweede graad in landbou deur ʼn korrespondensiekursus (kursus wat oor ’n afstand deur die pos aangebied word). 4

1970: Gorbatsjof werk hom stelselmatig op tot ’n hoër posisie in die Kommunistiese Party tot hy in die vroeë sewentigs as eerste sekretaris vir die Stawropol-streek se Kraikom (komitee van die Kommunistiese Party) aangestel word. 4

1977: Hy word voorsitter van die Staande Kommissie oor Jeugsake. 4

1978: Sy posisie as sekretaris van Kraikom help hom om nog vinniger deel van die belangrike politici in die USSR te word. Hy word as sekretaris van die Sentrale Komitee aangestel, wat baie voordele vir die Gorbatsjof-gesin inhou. Hulle verhuis na Moskou en het toegang tot beter mediese sorg, winkels en selfs ʼn kok. 8 Sy eerste taak is om toesig oor die land se landbou te hou. Hy het deur die USSR gereis en amptelike reise na ander lande onderneem. 5

Gorbatsjof praat in Reykjavik

1980: Gorbatsjof word lid van die Politburo, die hoogste besluitnemingsliggaam in die Kommunistiese Party. 5

1985: Gorbatsjof word verkies tot sekretaris-generaal van die USSR nadat sy voorgangers, Joeri Andropof en Konstantin Tsjernenko, binne ʼn paar maande uit mekaar oorlede is. 11

1988: Gorbatsjof word amptelik die hoof van die land. 11

Gorbatsjof en sy vrou, Raisa

Die USSR in 1985

Teen die tyd wat Michail Gorbatsjof as die sekretaris-generaal van die USSR aangewys is, het dit nie meer so goed met die Sowjetunie gegaan nie. Dit was lankal nie meer die magtige moondheid wat met die VSA se kernwapens en ruimteprogram kon meeding nie.

Daar was ʼn paar redes vir die USSR se agteruitgang: 12

Ekonomie

Die USSR se ekonomie het reeds vir ʼn paar jaar stilgestaan (nie veel gegroei nie). Daar is soveel geld aan die weermag bestee om die Koue Oorlog teen die VSA aan die gang te hou, dat daar nie geld vir nuwe werkgeleenthede was nie. Die winkelrakke was ook leeg. Mense oor die hele land het begin staak vir beter lewensomstandighede en eenvoudige gebruiksartikels soos seep en aartappels. 12

Die Koue Oorlog was ʼn konflik tussen die VSA en die USSR sedert die Tweede Wêreldoorlog waartydens dié twee lande mekaar nooit aangeval het nie. Ná die Tweede Wêreldoorlog was die VSA en die USSR die wêreld se twee grootste magte. Die twee lande het met mekaar meegeding oor hoe sterk hul onderskeie weermagte is en hoe goed hul ruimtetegnologie is. In die wapenstryd wou hulle wys wie die beste wapens en kernwapens het, en in die ruimtewedloop wou hulle wys wie se wetenskap en tegnologie die beste was. Die Koue Oorlog het vir ongeveer 45 jaar lank (van 1946-1991) voortgeduur. 13

Presidensiële Biblioteek en Museum

Nasionalisme

Die USSR is gevorm deur vyftien verskillende lande, elkeen met sy eie nasionaliteit, saam te voeg. Lande in Oos-Europa (soos Pole, die Baltiese lande en Oekraïne) het egter nie meer die ideaal van kommunisme – dat almal gelyk moet wees – aangehang (ondersteun) nie. Hulle het hul onafhanklikheid gesoek. In die drie Baltiese lande (Litaue, Letland en Estland) het ongeveer 2 miljoen mense ʼn menslike ketting oor 670 km gevorm om van Sowjetbeheer weg te breek. Inwoners in Georgië en Armenië wou ook uit Moskou (die Russiese hoofstad en magsentrum) se greep kom. 12 [Lees meer oor nasionalisme.]

Afganistan

Rusland was sedert 1979 in ʼn oorlog met Afganistan gewikkel wat tot baie lewensverlies gelei het. Die ouers van hierdie gesneuwelde (oorlede) soldate het in opstand gekom. 12

Die gevolge van hierdie geleidelike veranderinge het die ekonomie selfs nog verder laat agteruitgaan en die inwoners was al hoe meer ongelukkig. Hulle het hul leefstyl met die inwoners in stede van Wes-Europa begin vergelyk, waar kommunisme nie toegepas is nie.

Die 54-jarige goed opgeleide Gorbatsjof het sekretaris-generaal geword en sy grootste taak was die hervorming van die Sowjetunie. 12

Nancy Reagan en Michail Gorbatsjof

Gorbatsjof se veranderings

Toe Gorbatsjof aan bewind kom, wou hy die USSR se ekonomie herstel en die inwoners tevrede stel. Hy het op straat met mense gesels en selfs sy vrou in sy vertroue geneem. Hy het egter geweet dat hy die ondersteuning van die Politburo sou benodig voordat hy groot veranderinge sou kon maak.

Gorbatsjof het die Sowjetleierskap binne ʼn jaar geskommel (verander), vinniger as die vorige leiers van die Kommunistiese Party, Josef Stalin, Nikita Chroesjtsjof en Leonid Brezjnjef . Hy het meer mag vir sy vriende begin gee. Sy beleid van glasnost (openheid) en perestroika (hervorming) het groter vryheid vir mense gegee en hy wou ook die land demokraties maak sodat mense in die geheim (vertroulik of anoniem) kon stem en meer as een party aan ʼn verkiesing kon deelneem. 8

Hierdie hervormings was natuurlik glad nie gewild onder diegene wat kommunisme ondersteun het nie, ook nie diegene in die regering wat hul greep op die ekonomie wou behou nie! 8

Hy het dadelik met perestroika, ʼn Russiese woord wat hervorming of verandering beteken, begin. Dit was Gorbatsjof se nuwe ekonomiese beleid. Deur hierdie program wou hy aan mense weer beheer gee van hul eie ondernemings en boere en vervaardigers self laat kies watter produkte hulle wil maak, hoeveel hulle daarvan wil maak en hoeveel geld hulle vir die produkte wil hê. Dit het aan mense die voordeel gegee om wins te maak – die teenoorgestelde van die streng prysbeheer wat tot in daardie stadium die basis van die ekonomiese beleid was.

Danksy die beleid van perestroika was daar al meer winkels, restaurante en vervaardigers onder privaat beheer. 14

Hoewel Gorbatsjof se plan met dié hervormings was om die ekonomie weer aan die gang te kry, het sommige van die planne die teenoorgestelde uitwerking gehad. Boere het byvoorbeeld altyd kos teen ʼn baie lae prys aangebied omdat hulle subsidies van die regering gekry het, maar nou kon hulle hul pryse verhoog (duurder maak of meer geld daarvoor vra). Die gevolg was dat talle inwoners dit nie meer kon bekostig nie. 14

Wladimir Poetin en Gorbatsjof

Deur die beleid van glasnost, ʼn Russiese woord wat openheid of deursigtigheid beteken, kon koerante gepubliseer word en radio- en televisieuitsendings is vir die eerste keer in die USSR toegelaat.

Inwoners van die USSR het vir die eerste keer gesien hoe dit in die res van die wêreld gaan en omdat hulle toegelaat is om koerante te publiseer, het hulle die geleentheid gehad om hul eie regering te kritiseer. 12

Gorbatsjof se plan met glasnost was om vir mense te wys wat die Kommunistiese Party al die jare weggesteek het. Hy wou eintlik nog steeds bepaal wat in die openbaar bekendgemaak mag word en wat weggesteek moet word. Dit het egter nie gewerk soos wat hy gedink het nie. Dapper joernaliste het baie meer inligting bekendgemaak as wat hy in gedagte gehad het. 15

Gorbatsjof het in hierdie tyd ook gereeld met ander lande se leiers vergader. Hy het goeie verhoudings gebou met die Weste, waaronder Britse eerste minister Margaret Thatcher; Helmut Kohl, die leier van Wes-Duitsland; en Ronald Reagan, president van die VSA. 14

Carlos Menem en Gorbatsjof

As gevolg van hierdie gesprekke, gaan Gorbatsjof en Reagan in 1987 ʼn ooreenkoms aan om kernwapens in hul lande te vernietig. Danksy dié ooreenkoms vernietig die USSR 1 500 kernmissiele en die VSA sowat 700. 16

Gorbatsjof besluit ook om, anders as sy voorgangers, nie opstande vir vryheid in Pole (wat ook onder Russiese beheer was) te onderdruk nie. Die sukses van Pole om hul onafhanklikheid te kry, gee Hongarye en Oos-Duitsland die moed om ook van die USSR weg te breek.

In 1989 breek Oos-Duitsland weg tydens die val van die Berlynse Muur. 12

Hoe pas die Berlynse Muur in die Russiese prentjie? Ná die Tweede Wêreldoorlog is die oostelike gedeelte van Duitsland aan Rusland gegee omdat die Russiese weermag die Nazi’s oorwin het. Duitsland het dus toe uit twee lande bestaan: Wes-Duitsland en Oos-Duitsland.

President Barack Obama ontmoet die voormalige Sowjet-leier Michail Gorbatsjof in Gostinny Dvor, Rusland

Die kommunistiese regering het in 1961 die Berlynse Muur opgerig om die hoofstad Berlyn in twee te deel. Die Muur is gebou sodat mense nie uit Oos-Berlyn kon vlug nie. Gesinne is opgebreek omdat hulle in verskillende dele van die stad gebly het.

Soos wat mense in Oos-Duitsland begin besef het dat hulle nie onder die Sowjetunie wil val nie en ook nie onder kommunisme wil staan nie, het hulle na die Weste begin vlug.

In 1987 het pres. Reagan ʼn toespraak in Berlyn gehou en by Gorbatsjof gepleit: “Breek hierdie muur af!” ʼn Paar jaar later, op 9 November 1989, is die aankondiging gemaak: die grense is oop en mense mag vrylik tussen Oos- en Wes-Duitsland beweeg. Inwoners het self bakstene uit die muur begin breek. Op 3 Oktober 1990 was Duitsland uiteindelik weer ʼn enkele land.

Die val van die Berlynse Muur was die begin van die einde van die USSR. 17

Gorbatsjof se besluit in 1991 om die Kommunistiese Party te ontbind (op te breek), was die finale spyker in die USSR se doodskis. Sonder die mag wat die Kommunistiese Party vir sewentig jaar oor die USSR gehad het, kon Gorbatsjof al sy veranderings doen. Die regering het egter nie geweet hoe werk demokrasie nie en met ekonomiese vryheid was daar al hoe meer korrupsie. Entrepreneurs het maniere gekry om hulself verder te verryk. 12

Oudlede van die Politburo was baie ontevrede en wou ʼn einde aan Gorbatsjof se bewind maak. Op 18 Augustus 1991 ontvoer hulle die Gorbatsjof-gesin en hou hulle in hul vakansiehuis langs die Swartsee aan. Hulle vertel aan die mense dat hy siek is. 12

Boris Jeltsin, die president van die Russiese Republiek in daardie stadium, kry egter snuf in die neus. Die staatsgreep misluk toe Jeltsin Gorbatsjof en sy gesin drie dae later red (bevry). 12

Tussen Augustus en laat Desember 1991 was Gorbatsjof eintlik net in naam die president van die USSR. Die mag en invloed was nou in Jeltsin se hande. Hy het met lande soos Oekraïne, Belarus en Kazakstan saamgewerk om ʼn statebond van onafhanklike state te skep.

Op Kersdag, 25 Desember 1991, word die vlag met die hamer en sekel, wat vir langer as 70 jaar voor die Kremlin-staatsgebou in Moskou gewapper het, vervang met die wit, blou en rooi vlag van Rusland. 12

Gorbatsjof bedank op dieselfde dag as president van die USSR en dit is finaal die einde van die Sowjetunie. 18

Gorbatsjof het in 1990 die Nobelprys vir Vrede ontvang vir sy aandeel in die val van die USSR en die vreedsame beëindiging van die Koue Oorlog. 19

Lewe ná sy presidentskap

Ná sy bedanking as president was Gorbatsjof steeds by die politiek betrokke. In 1996 probeer hy weer vir president staan (verkies word), maar hy kry skaars 1% van die stemme. 8 Hy spandeer baie tyd aan die Gorbatsjof-stigting wat onder meer navorsing oor politiek en geskiedenis doen. As deel van hierdie werk, het hy tussen 1992 en 2008 sowat 266 besoeke aan 50 lande gemaak. Gorbatsjof se vrou, Raisa, sterf op 20 September 1999 aan leukemie (bloedkanker). 5

Hoewel hy in die laaste paar jaar van sy lewe ernstige gesondheidsprobleme gehad het, was Michail tot die dag van sy dood op 30 Augustus 2022 uitgesproke oor die politiek. Hy het groot kritiek gehad teen onder andere die Russiese president Wladimir Poetin se inval in Oekraïne. 20 Hy laat sy dogter, Irina, en twee kleindogters agter en is langs sy geliefde Raisa begrawe. 21

Gorbatsjof se begrafnis

Woordbank

beleid ʼn Program waarvolgens iemand of ʼn groep besluit het (hoe) hulle gaan optree.
demokraties Georganiseer volgens die beginsel dat almal die reg het om besluite te help neem; georganiseer volgens die beginsel dat almal in ʼn gemeenskap ewe belangrik is, ongeag hul sosiale stand of hoeveel geld hulle het.
ekonomie Die stelsel waarvolgens ʼn land se goedere vervaardig en geld gebruik word.
entrepreneurs Iemand wat ʼn nuwe onderneming begin of planne bedink om geld te maak, soms op ʼn manier wat geldelik (finansieel) ʼn risiko kan inhou.
filosofie Die studie van die aard en betekenis van die lewe, waarheid, goed en sleg, ens.
gemeenskapsplase Plaas wat behoort aan en bewerk word in belang van die hele gemeenskap, gewoonlik deur ʼn aantal persone gesamentlik.
geselskap ʼn Groep mense wat saam optree.
glasnost Regeringsbeleid of -praktyk van groter openheid en deursigtigheid, veral wat die bekendmaking van inligting betref, soos in 1985 ingestel deur Michail Gorbatsjof, laaste president van die voormalige Sowjetunie.
hervorming ʼn Stelsel/wet/organisasie/ens. verbeter deur baie veranderings daaraan aan te bring sodat dit doeltreffender/regverdiger funksioneer.
hongersnood ʼn Ernstige tekort aan kos in ʼn gebied.
katastrofies Rampspoedig.
kernwapens Wapen waarin kernkrag gebruik word, atoomwapen. Wapen wat kernenergie kan vrystel en grootskaalse vernietiging en sterftes veroorsaak.
kommunisme ʼn Politieke stelsel waarin die regering die produksie en vervaardiging van alle voedsel en goedere beheer en niemand sy/haar eie eiendom (mag) besit nie.
konflik Stryd/botsing/rusie tussen mense/groepe/lande.
korrupsie Oneerlike/onwettige gedrag/optrede, veral deur iemand met mag/gesag.
Koue Oorlog Toestand van uiterste vyandigheid tussen die VSA en USSR met hul onderskeie bondgenote; ongeveer 1947-1991.
missiele Selfaangedrewe of afstand(s)beheerde wapen wat ʼn plofkop bevat en, nadat dit afgevuur is, na ʼn spesifieke teiken beweeg.
moondheid Onafhanklike, dikwels invloedryke, welvarende land.
nasionalisme Die begeerte van ʼn groep mense (van dieselfde volk, met dieselfde taal, ens.) om hul eie, onafhanklike land te vorm.
Nobelprys Enigeen van ʼn aantal geldpryse jaarliks toegeken uit die nalatenskap van die Sweedse uitvinder van dinamiet, Alfred Nobel, aan uitblinkers op verskillende gebiede van die kuns, wetenskap, geneeskunde en ekonomie.
ontbinding (Laat) ophou om te bestaan; (formeel) beëindig.
party ʼn Groep mense, veral ʼn politieke organisasie met bepaalde idees en doelwitte, vir wie jy in ʼn verkiesing kan stem.
perestroika Poging in die 1980’s deur pres. Michail Gorbatsjof van die voormalige Sowjetunie om die ekonomiese en politieke struktuur van dié land te hervorm, waarvan die sukses beperk was, maar wat nietemin tot die verbrokkeling van die Sowjetunie, die onafhanklikheid van die voormalige Oosbloklande en die einde van die Koue Oorlog met die Weste gelei het.
politieke Idees en aktiwiteite wat verband hou met die verkryging en gebruik van mag, meestal in ʼn land of stad.
ruimteprogram Program waarvan die einddoel is om die ruimte te verken, ruimtenavorsing te doen en ruimtetegnologie te ontwikkel.
sekretaris Die lid van ʼn klub/organisasie wat die notules van vergaderings hou, amptelike briewe skryf, ens.
spyker in die USSR se doodskis Iets wat iemand of iets (in hierdie geval die USSR) se dood/einde/ondergang verhaas.
staak Tydelik ophou werk in ʼn poging om jou werkgewer oor te haal om aan jou eise te voldoen.
staatsgreep Wanneer die regering van ʼn land met geweld oorgeneem word.
statebond Vereniging van state tot ʼn bond van so ʼn aard dat elke staat grotendeels selfstandig bly.
stroper ʼn Masjien wat graan oes en dors (graankorrels met ‘n masjien verwyder).
subsidies Geld wat deur ʼn regering/organisasie aan iemand of ʼn instansie betaal word om pryse/gelde te verlaag, dit moontlik te maak om iets goedkoper te produseer/koop/ens.
toelatingseksamen Eksamen wat ʼn mens moet aflê voordat jy tot ʼn kursus/inrigting/vereniging/ens. toegelaat word. 26

Lees hierdie om meer oor Rusland te wete te kom

Kyk hierdie video’s om meer oor Gorbatsjof te leer

Michail Gorbatsjof se laaste ure as president op 25 Desember 1991

Gorbatsjof gesels oor kommunisme in ʼn onderhoud met CNN se Larry King (1993)

Gorbatsjof en sy kleindogter in ʼn Pizza Hut-advertensie in 1997

Die oprigting en simboliek (betekenis) van die Berlynse Muur

Wat is kommunisme?

ʼn Kort geskiedenis van die USSR

’n Kort verduideliking van die Koue Oorlog

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: Jacques du Plessis
Gepubliseer op: 6 Desember 2022 | Bygewerk op 12 April 2024