Vinnige feite

  • Henry de Villiers se broers was ook almal regspraktisyns. 2
  • Hy kon Engels, Nederlands, Duits, Latyn, Frans en Grieks lees. 2
  • Tydens sy uitsprake het hy die gewoonte gehad om die advokaat van die verloorder aan te spreek. 2
  • De Villiers was ’n geesdriftige Vrymesselaar (lid van ’n geheime organisasie wat broederlikheid en hulpbetoon voorstaan). 2
  • De Villiers was twee keer die goewerneur-generaal (amptelike verteenwoordiger van die Britse koning/koningin) van die Unie (Julie tot November 1912 en Julie tot September 1914). Toe hy gesterf het, was hy in dié amp. 1
Foto: iStock

Toe Suid-Afrika in 1910 ’n Unie geword het, moes die vier kolonies – Transvaal, Vrystaat, Natal en die Kaap – verenig. Elkeen van hierdie plekke het sy eie regering en parlement gehad, wat nou moes saamsmelt in één regering en één parlement!

Nog iets wat moes saamsmelt, was die verskillende gebiede se regstelsels, met ander woorde wette, howe en regters.

Die persoon wat die grootste rol hierin gespeel het, én die mens wat die eerste hoofregter van die Suid-Afrikaanse Hooggeregshof, die hoogste hof in Suid-Afrika, was, was lord John Henry de Villiers, eerste baron De Villiers van Wynberg. 1

Vroeë lewe

Henry de Villiers is op 15 Junie 1842 op sy pa se landgoed Rosenfontein in die Paarl in die Kaapkolonie (vandag Wes-Kaap) gebore. Hy was die vierde van nege kinders van Carel Christiaan de Villiers, ’n landmeter (iemand wat stukke grond afmeet en aantekeninge maak van die landmerke daarop), en sy vrou Dorothea Elisabeth Retief. 2

De Villiers was van jongs af in ’n Engelse skool. Hy het op skool goed presteer en in 1853, toe hy maar 11 was, ’n studiebeurs gekry. Ná skool het hy met nóg ’n beurs na die Universiteit van Utrecht in Nederland vertrek, om as predikant opgelei te word. 2

Universiteit van Utrecht, Nederland

Dit was egter sy pa se droom dat hy ’n predikant word, nie syne nie, en ten spyte van sy eie godsdienstige leefstyl het hy ná 18 maande besef dat hy nie bestem was (daarvoor bedoel was) om ’n predikant te word nie. Hy is toe Duitsland en Engeland toe om te gaan regte studeer. 2

Hy het hierna teruggekeer Kaap toe om homself as advokaat (’n regsgeleerde wat onder meer sake in ’n hof bepleit) te vestig. In Januarie 1866 word hy lid van die Kaapse balie (versamelnaam vir alle advokate wat in die hoër howe werk). Die Kaapse balie was nog baie nuut en klein:  hy was maar die vyfde advokaat wat daaraan behoort het. 3

Vroeë loopbaan en minister van justisie

Daar was min mense in die Kaap in 1866 met De Villiers se agtergrond en vermoëns, en hy het gou opgang gemaak (sukses behaal). William Porter, die Kaapse prokureur-generaal (die persoon wat namens die regering in regsake optree), het as sy mentor opgetree. 1

William Porter

De Villiers wou ook ’n rol in die politiek speel. Toe hy maar 25 jaar oud was, is hy verkies as lid van die Kaap se Wetgewende Vergadering (die parlement). 3

De Villiers het verantwoordelike regering – met ander woorde regering waar die Kapenaars in beheer was, nie die Britte nie – ondersteun, en vir Porter gehelp om die wet te skryf wat dit aan die Kaap gegee het. 1

De Villiers was ’n ondersteuner van , die premier (eerste minister) van die Kaap. 2 In 1872 het hy die minister van justisie in Molteno se kabinet geword. Dit was ’n hoë posisie vir iemand wat slegs 30 jaar oud was. Dit was ook baie uitputtende werk, veral omdat De Villiers net twee klerke gehad.

Sy pligte het ingesluit:

  • Vervolgings (iemand van ’n misdaad aankla en in ’n hof probeer bewys dat hy/sy skuldig is) vir die hooggeregshof hanteer
  • Take vir die rondgaande hof doen
  • Regsadvies vir die regering gee
  • Wette vir die parlement opstel

Hy het ook op daardie stadium sy eie privaat kliënte gehad. Dit was in daardie tyd nog wettig, maar is nie meer vandag nie.

De Villiers het tekens van ooreising begin toon (meer doen as wat jou kragte toelaat). Sy gesondheid, wat nooit goed was nie, het verswak. 2

Kaapse parlement, ongeveer 1872

Aanstelling as hoofregter

In 1873 het Sidney Bell, die Kaapse hoofregter, onverwags afgetree.

De Villiers het aan Molteno voorgestel dat hy die pos vir Porter gee, maar Porter het dit geweier. Molteno het daarop vir De Villiers die pos aangebied. 2

As De Villiers die aanbod aanvaar het, sou dit beteken dat hy nie meer in die politiek kon deelneem nie. Dit was vir hom ’n groot terugslag, maar hy het tog besluit om eerder die hoofregterskap te aanvaar. Hy was trots om op 31-jarige ouderdom die hoogste pos te hê wat ’n advokaat kon kry. Hy was ook die eerste mens wat in die Kaap gebore was, om hierdie pos te beklee. 2

Daar was uiteenlopende reaksies op De Villiers se aanstelling. Sommige mense het dit goedgekeur, maar daar was heelwat kritiek, veral oor sy ouderdom en onwaar bewerings van knoeiery. Die regter wat hom moes beëdig (om iemand ’n belofte te laat aflê om sy/haar werk goed te doen), het geweier om dit te doen, so hy moes homself beëdig! 2 Ná die tyd het hy opgemerk dat hy tydens sy beëdiging innerlik gebewe het, maar uiterlik kalm was. 1

De Villiers was op die ou end vir 40 jaar ’n hoofregter. 1

Politieke aktiwiteite

Net omdat De Villiers die hoofregter was, beteken dit nie dat hy geen politieke invloed gehad het nie. 2

Toe hy aangestel is, was die hoofregter die voorsitter van die wetgewende raad. De Villiers het nie geglo dat die regter deel moes wees van die proses van wette maak nie, maar sy pogings om dit te verander, was vrugteloos (tevergeefs). Ten spyte hiervan het hy die rol as voorsitter geniet en dit goed gedoen. 1

Daar was wel ’n paar keer waar hy amper teruggekeer het na die politiek. In 1888 was hy ’n kandidaat om president van die Vrystaat te word, en in 1893 is die premierskap van die Kaap vir hom aangebied. Ná die Jameson-inval van 1895 het hy self aangebied om die Kaapse premier te word. Tot sy spyt het nie een van hierdie moontlikhede op die ou end uitgewerk nie. 2

Openbare diens, 1873-1910

De Villiers het op verskeie gebiede diens aan die samelewing gelewer. Op opvoedkundige gebied het hy die Universiteit van die Kaap de Goede Hoop gehelp skep. Hy het geglo aan gratis basiese onderrig. Hy het geglo dat Engels die hooftaal moes wees, maar dat Hollands ook ’n plek moes hê. De Villiers was egter gekant teen die strewe om Afrikaans as taal te bevorder. 2

Ná die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) was hy lid van die kommissie wat aan die Pretoria Konvensie – die vredesluiting ná die oorlog – gewerk het. 2

Pretoria beleg Fort Commeline met sy bemanning (Eerste Vryheidsoorlog)

Hy was betrokke by regulasies (reëls wat mens moet nakom) oor diamanthandel, en het gehelp om wette daaroor op te stel, soos die Diamond Trade Act van 1881. 2

In 1896 het regters van Brittanje se kolonies verkiesbaar geword as lid van die Geheime Raad (’n spesiale hof) in Brittanje. De Villiers was die eerste regter van Brittanje se kolonies wat op daardie raad gedien het. Omdat dit so ver was, kon hy egter nie gereeld sittings van hierdie raad bywoon nie. 2

De Villiers het alles in sy vermoë gedoen om die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) te keer, maar sonder sukses. 3

Slagveld by Vlakfontein na die geveg (Anglo-Boereoorlog)

Algemene rol by Uniewording

Tussen 1908 en 1910 was De Villiers betrokke by die Nasionale Konvensie wat Uniewording bespreek het. Omdat hy onkreukbaar (eerlik, opreg en onomkoopbaar) was en nie deel van enige politieke party nie, is hy as die voorsitter van die Nasionale Konvensie gekies. 2

De Villiers het ’n belangrike rol gespeel in die sukses van die konvensie. Hy het veral gehelp om verskille tussen verskillende politieke partye uit te stryk (op te los) deur oplossings of veranderinge aan die nuwe grondwet (die reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word) voor te stel. Hy het geglo mense van enige kleur kon stemreg ontvang, solank hulle beskaafd genoeg was (geleef het volgens ’n ontwikkelde kultuur en leefwyse). Hy was ’n voorstander van die verskansing van die stemreg van bruin mense in die Kaap, met ander woorde, sodat dit slegs weggeneem kan word deur ’n tweederdemeerheid in die parlement. 2

Laastens was hy die voorsitter van die komitee wat die Unie se konsepgrondwet (voorlopige formulering van iets) opgestel het. Hy het gehelp om die Kaapse parlement te oortuig om die wetsontwerp aan te neem, en hy was een van die Kaapse afgevaardigdes wat in 1909 toegesien het dat dit deur die Britse parlement aangeneem word. 2

Die vestiging van ’n appèlhof

Sy grootste bydrae by die Nasionale Konvensie was tot die samestelling van die nuwe hooggeregshof van Suid-Afrika. 2 Hy het voorgestel dat die hooggeregshof ’n appèlhof moes wees en dit is so aanvaar. Die hof het op 4 Junie 1910 geopen. 4

As deel van ’n kompromie (ooreenkoms waar almal minder aanvaar as wat hulle oorspronklik sou hê) het die Nasionale Konvensie besluit dat die hooggeregshof in Bloemfontein in die Vrystaat moes sit. De Villiers was ongelukkig oor hierdie besluit. Deur sy toedoen het die hof in die eerste jare baie rondgereis, en byvoorbeeld in Pretoria en Pietermaritzburg gesit. By verre is die meeste tyd egter in Kaapstad, waar De Villiers gewoon het, gespandeer. 4 Die Vrystaters het egter hierteen geprotesteer, en in 1912 is besluit dat die hof slegs in buitengewone omstandighede buite Bloemfontein mag sit. 2

By die Nasionale Konvensie

De Villiers as hoofregter

Daar was en is verskillende opinies oor hoe goed De Villiers homself as hoofregter van sy taak gekwyt het.

By tye het mense hom as die grootste Suid-Afrikaanse regter van die negentiende eeu beskou. Sir James Rose Innes, wat De Villiers as hoofregter opgevolg het, het hom geprys vir sy uitstekende begrip van regsidees en vermoë om moeilike sake te vereenvoudig. In regsake waar daar nie reëls in Suid-Afrika was nie, was De Villiers bereid om reëls van ander regstelsels te gebruik, maar hy was versigtig om dit nie te veel te doen nie. 2

Ander regsgeleerdes was meer krities oor hom. Hy was egoïsties (geglo hy is beter as ander mense) en wou nie sy eie foute erken nie. Hy was soms onduidelik en dubbelsinnig (iets wat op twee maniere verstaan kan word). Hy wou te veel verwys na die regstelsel van Engeland, en het dus die Romeins-Hollandse Reg, waarop Suid-Afrika se regstelsel gebaseer was, verlê. Hy het ook soms ’n gebrek aan noukeurige en volgehoue ondersoek getoon. 2

Die uitsprake wat hy gemaak het, kan dus as positief én negatief beskou word.

Almal stem egter saam dat hy daartoe bygedra het dat die hof onpartydig (neutraal) gebly het. Hy het voortdurend daarna gestreef dat die hof almal regverdig behandel. Die advokate het sy oordeel (menings) vertrou, en hy het sy uitsprake vinnig gemaak. Hy het ’n stempel van voortreflikheid (uitstekendheid) op die Suid-Afrikaanse reg oorgedra wat tot lank ná sy aftrede sou bly. 2

De Villiers was ’n indrukwekkende regter met ’n sterk persoonlikheid. Hy het nie vrypostigheid (voorbarig of astrant) of ligsinnigheid (laf of verspot) in die hof geduld nie. Hy het objektiwiteit (om so neutraal as moontlik te wees) aan die dag gelê en dit was moontlik om hom te oortuig. 2 Hy het prestige (goeie reputasie) en dekorum (gepaste gedrag) aan die hof gebring, en was hoog gerespekteerd deur almal wat hom geken het. 4

Persoonlike lewe

De Villiers het in 1871 met Aletta Johanna Jordaan getrou. Hulle het vier kinders gehad, twee seuns en twee dogters. Sy huislewe was rustig. 1

De Villiers het ’n streng voorkoms gehad, en was formeel en afsydig (om jouself eenkant te hou). Hy het nie eintlik ’n humorsin gehad nie. In sy later jare was hy vriendeliker en goedhartigheid het soms deurgeskemer. 2

De Villiers het in geskiedenis, politiek, natuurstudie en reis belanggestel. Hy was lief vir die buitelug. Sy belangstelling in boerdery het gemaak dat hy ’n plaas in die Paarlse distrik gekoop het. 2

Die Universiteit van die Kaap de Goede Hoop het in 1902 aan hom ’n eredoktorsgraad toegeken. Hy was ook lid van die Raad van die South African College. 2

De Villiers is in 1877 deur die Britse regering tot ridder geslaan (wanneer jy deur die Britse heerser die titel “sir” gegee word vir uitstaande prestasie). 3 Toe hy in 1910 die hoofregter word, was sy titel amptelik baron De Villiers van Wynberg. Sy oudste seun, Charles Percy de Villiers, het hom as baron opgevolg. 2

De Villiers het op 2 September 1914 in Pretoria aan longontsteking gesterf. Sy liggaam het vir twee dae lank in staatsie gelê. Hy is op 7 September, ná ’n staatsbegrafnis in die Groote Kerk in Kaapstad, ter ruste gelê. 2

Groote Kerk

Woordbank

advokaat ‘n Regsgeleerde wat regsadvies aan kliënte gee en namens ’n beskuldigde, eiser of die staat sake in ’n (hoër) hof bepleit.
balie Die stand van advokate; al die advokate saam.
beëdig Iemand ’n belofte laat aflê om sy/haar werk goed te doen.
beginsel Iets waaraan mens vas glo en nie van afwyk nie.
beskaaf(d) Met ’n ontwikkelde kultuur en leefwyse; met wette en gebruike wat regverdig en moreel aanvaarbaar is.
bestem Vir iets bepaal/bedoel wees.
dekorum Gepaste/fatsoenlike gedrag; goedgemanierdheid.
dubbelsinnig Iets wat op twee maniere verstaan kan word.
goewerneur-generaal Verteenwoordiger van ’n koning/koningin.
grondwet Die reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers oor beskik.
in staatsie gelê Wanneer die kis en liggaam van ’n gestorwe hooggeplaaste/belangrike persoon in ’n kerk of ander gebou ten toon gestel word.
justisie Die stelsel waarvolgens vermeende oortreders in howe verhoor en misdadigers gestraf word.
kabinet Ministers van die regering.
knoeiery Bedrog; konkelry.
kompromie Ooreenkoms waarin al die betrokkenes minder aanvaar as wat hulle oorspronklik wou hê; skikking waarby elke kant iets toegee.
konsep ’n Voorlopige formulering van iets.
kritiek Beoordeling van die waarde van iets/iemand, veral deur te sê wat jy dink minder goed is.
landmeter Iemand wie se werk dit is om stukke grond af te meet en aantekeninge te maak van die landmerke daarop.
ligsinnigheid Laf/verspot wees; nie ernstig oor jou dade nadink nie.
objektiwiteit Wat op feite gebaseer is, eerder as op wat iemand glo of hoe hy/sy voel; so neutraal as moontlik.
onkreukbaar Volkome eerlik en opreg; wat nie omgekoop kan word nie.
onpartydig Neutraal.
oordeel ’n Mening van iemand/iets gee.
ooreising Meer doen as wat jou kragte toelaat.
opgang gemaak Sukses behaal.
prestige ’n Goeie reputasie en/of eer verwerf deur prestasie.
prokureur-generaal Hoogste staatsamptenaar wat in ’n provinsie namens die regering in regsake optree.
regulasies ’n Reël of voorskrif wat ’n mens moet nakom.
ridder geslaan Manlike persoon wat deur ’n Britse heerser of monarg vereer is met die nie-erfbare titel “sir”, wat vir uitstaande persoonlike prestasies of openbare dienslewering toegeken word.
uit te stryk Uit die weg ruim; oplos; oorkom.
verskansing Dele van die grondwet wat alleen deur spesiale maatreëls, bv. met ’n tweederdemeerderheid van die parlement, gewysig word.
vervolgings Iemand van ’n misdaad aankla en in ’n hof probeer bewys dat hy/sy skuldig is.
vervolg Iemand of ’n groep wreed/onregverdig behandel, veral as gevolg van sy/haar/hulle godsdienstige of politieke oortuigings.
voortreflikheid Baie goed; uitstekend.
vrugteloos Tevergeefs; sonder enige positiewe resultaat. 5
Vrymesselaar Lid van ’n geheime internasionale organisasie wat onder meer broederlikheid onderling, geestelike en sedelike verheffing, onderlinge waardering en hulpbetoon voorstaan. 6
vrypostigheid Baie vrymoedig, soms selfs voorbarig/astrant. 5

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor regter John de Villiers

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor regter John de Villiers

Wat is die regstelsel?

Die drie arms van Suid-Afrika se regering: skeiding van magte

Die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 25 Mei 2023 | Bygewerk op 17 April 2024