Vinnige feite

  • Verwoerd se tweede naam, Frensch, kom van sy ma se Friese herkoms af. 3
  • Verwoerd het graag gestap en gehengel. Hy was prakties aangelê en het self herstelwerk by sy huise gedoen. 3
  • Hy was Suid-Afrika se eerste regeringshoof wat nie in Suid-Afrika gebore is nie. 6
  • Hy was die eerste Suid-Afrikaner wat al sy studies tot op doktorale vlak in Afrikaans voltooi het. 5
  • Die dokters wat Verwoerd behandel het ná die sluipmoordpoging op sy lewe in 1960, het gesê dit was ’n wonderwerk dat hy bly leef het. 7
  • ’n Maand voor sy dood het die tydskrif Time sy foto op die voorblad gesit. Hulle was hoogs krities oor apartheid, maar het bygevoeg: Verwoerd was “een van die bekwaamste wit leiers wat Afrika nog ooit voortgebring het.” 5
Foto: iStock

Hendrik Verwoerd was ’n professor, politikus, skrywer en spreker wat van kleins af besonder passievol oor die Afrikaner se belange was. Verwoerd, die staatsman, het ’n enorme invloed op Suid-Afrika se geskiedenis gehad. Hy was nie net die laaste eerste minister van die Unie van Suid-Afrika nie, maar word deur sommige mense as een van die land se mees omstrede leiers beskou.

H.F. Verwoerd en sy vrou, Betsie.

Skolier tot student

Hendrik Frensch Verwoerd is op 8 September 1901 in Amsterdam, Nederland gebore. Hy was die tweede kind van Wilhelmus Johannes Verwoerd en sy vrou, Anje Strik. Die familie het in 1903 na Suid-Afrika verhuis omdat Verwoerd se pa simpatie met die Afrikaners ná die Anglo-Boereoorlog (ABO) gehad het. 1 Verwoerd het in ’n huis grootgeword wat passievol oor die Afrikaner se belange was. 2

Verwoerd woon aanvanklik die Wynberg High School for Boys in Kaapstad by. Nadat die gesin in 1913 na Rhodesië (vandag se Zimbabwe) verhuis het, word hy ’n leerder aan die Milton High School. 3 Danksy sy bywoning van Engelse skole, kon hy dié taal vlot praat. 2 Verwoerd het in die klas én op die sportveld uitgeblink en verskeie beurse ontvang. 1 Van Rhodesië het die familie na Brandfort in die Vrystaat verhuis. Hier lê Verwoerd sy matriekeksamen af en presteer die vyfde beste van alle leerders landwyd. 3

‘n Jong Verwoerd in 1924.

Ná skool studeer hy sielkunde en filosofie aan die Universiteit Stellenbosch (US) en verwerf in 1924 sy doktorsgraad met lof. 4 Reeds op universiteit is sy leierskapvaardighede duidelik met sy verkiesing as voorsitter van die universiteit se studenteraad in 1923. 3

Verwoerd is ’n beurs aangebied om verder aan die gesogte Universiteit van Oxford te studeer, maar hy besluit om Duitsland sy buitelandse studietuiste te maak. 1 Tussen 1925 en 1927 studeer hy in Leipzig, Hamburg en Berlyn, en besoek ook Brittanje en die Verenigde State van Amerika (VSA). 3

Die Verwoerd-gesin in 1908, vyf jaar ná hul aankoms in Suid-Afrika. Van links is Wilhelm, Hendrik, Lucie, Len en Anje.
Die Studenteraad van die Universiteit Stellenbosch in 1923. Verwoerd is in die middelste ry, derde van regs.

Professor tot politiek

Verwoerd word in 1927, op 26-jarige ouderdom, as professor in sielkunde aangestel, en in 1932 word hy professor in sosiologie en maatskaplike werk aan die US. 5

Die jare dertig is gekenmerk deur die Groot Depressie, ’n tydperk van groot armoede en swaarkry wat op die ineenstorting van die Wall Street-aandelebeurs in die VSA gevolg het. Dit het nie net banke en sakeondernemings in die VSA en Europa geraak nie, maar tot in Suid-Afrika uitgekring. Verwoerd het hard gewerk om die lot van arm wit mense (wat as armblankes bekend gestaan het) te verbeter. 1

Hy het landwyd bekendheid verwerf vir die werk wat hy gedoen het asook vir die Volkskongres wat in 1934 aangebied is om oplossings vir die armblankevraagstuk te vind. 4 Verwoerd het homself bewys as uitmuntende organiseerder, harde werker en progressiewe (oop vir nuwe idees) denker. 3

In 1934 het D.F. Malan se Gesuiwerde Nasionale Party (GNP) besluit om ’n koerant, Die Transvaler, te begin om die GNP se boodskap te versprei. Verwoerd is die pos van redakteur aangebied, en al het hy nie ervaring in die koerantwese gehad nie, het hy dié posisie aanvaar. 6 Hy verhuis in 1937 na Johannesburg en die eerste uitgawe van Die Transvaler verskyn op 1 Oktober 1937. 7 Verwoerd was egter ’n aansienlik beter spreker as skrywer. 3

Verwoerd het by die Nasionale Party (NP) aangesluit en vinnig bekendheid as opkomende leier verwerf. Hy het ook vriende geword met J.G. Strijdom, wat D.F. Malan later as eerste minister sou opvolg. 1

Verwoerd het swaarde met twee politieke organisasies gekruis, naamlik die Ossewabrandwag (OB) en die Nuwe Orde. Dié twee groepe was teen demokrasie gekant en uitermatig pro-Afrikaner. Die Nuwe Orde was baie ekstreem en het selfs Adolf Hitler se Nazi-ideale ondersteun. 3 Die OB het op sy beurt sonder sukses probeer om Verwoerd te ontvoer om met hom af te reken. 7 Verwoerd het ’n groot bydrae gelewer om die OB en die Nuwe Orde se ondergang te bewerkstellig. 3

Senator en sweep tot eerste minister

Verwoerd word in Julie 1948 ’n lid van die senaat en bedank aan die einde van dié jaar as redakteur van Die Transvaler om al sy aandag aan die politiek te wy. 6 In die senaat verwerf hy gou aansien as bedrewe redenaar (iemand wat toesprake lewer), en word tot sweep (parlementslid wat die ander lede van die party moet organiseer) van die NP verkies. 3 Op 19 Oktober 1950 is Verwoerd deur D.F. Malan, toe die eerste minister, as minister van naturellesake (sake wat te doen het met swart mense, bruin mense en Indiërs) aangestel. 8

Met sy bedanking as eerste minister in 1954, word D.F. Malan deur J.G. Strydom opgevolg. Verwoerd was ’n ondersteuner van Strijdom, en het sy pos as minister van naturellesake behou. Strydom is op 24 Augustus 1958 oorlede, en in die stemming wat daarop gevolg het, word Verwoerd as die nuwe leier van die NP aangewys. Op 3 September 1958 word Verwoerd die sesde eerste minister van Suid-Afrika. 3

Afsonderlike ontwikkeling

Voor 1950 was daar reeds segregasie in Suid-Afrika. Ná 1948 het die NP-regering van D.F. Malan ’n reeks wette en maatreëls aangeneem om dié beleid, wat voortaan as apartheid bekend sou staan, strenger toe te pas. 5

Hoewel Verwoerd nie geglo het dat daar biologiese of genetiese verskille tussen verskillende rasse of bevolkingsgroepe was nie, 4 was daar volgens hom kultuurverskille omdat elke groep anders ontwikkel het. Hy was sterk gekant teen integrasie (as ’n groep mense deel van ’n ander groep word en die twee groepe mekaar aanvaar) en bloedvermenging, met ander woorde verhoudings tussen mense van verskillende groepe wat kon lei tot die geboorte van kinders van gemengde afkoms. 5 Verwoerd het voorts geglo dat integrasie tot geweld lei, en mense keer om hul volle potensiaal te verwesenlik. 9

Bogenoemde redes was die grondslag van sy beleid van rasseskeiding en die afsonderlike ontwikkeling van bevolkingsgroepe in hul eie gebiede. Gedurende Verwoerd se bewind het Indiërs in 1961 permanente burgerskap ontvang en ’n Departement van Indiërsake is opgerig. Indiërs is egter aan dieselfde maatreëls ten opsigte van afsonderlike ontwikkeling en rasseskeiding onderwerp. 8

Verwoerd se beleid het veral op drie dinge gefokus, naamlik swart stedelike gebiede, onderwys en tuislande.

Suid-Afrika se kabinet in 1958.

Swart stedelike gebiede

Verwoerd was besorg oor Afrikaners wat in die stede met (goedkoper) swart werkers moes meeding. Hy wou dié probleem oplos deur swart groepe na hul eie gebiede terug te stuur, byvoorbeeld om al die Zoeloes na Zoeloeland in vandag se KwaZulu-Natal te stuur. 5

Omdat swart mense in stede in oorbevolkte en onhigiëniese plakkerskampe gewoon het, wou hy hulle laat trek onder die voorwendsel (verskoning wat gebruik word om die ware rede weg te steek) dat hy dié krotbuurte wou opruim. 8 Die tameletjie was dat wit mense die swart werkers naby hulle wou hê, maar die swart werkers wou op hul beurt sekere regte hê in die gebiede waar hulle woon. 6 In 1954 word die Wet op Hervestiging van Naturelle aanvaar. Kragtens dié wet is sowat 80 000 mense van swart gebiede soos Sophiatown, Martindale en Newclare gedwing om na ’n nuwe buurt, Soweto, te trek. 1

Verwoerd het in sy eerste 15 jaar sowat 100 000 nuwe huise vir swart mense laat bou, maar dit was nie genoeg om in die groot vraag na behoorlike behuising te voldoen nie. Die groot verskuiwing van swart mense het beteken dat hulle dikwels in gebiede aangekom het wat nog net ’n oop stuk veld was. 8

Twee ander wette wat beheer in die stede moes verseker, was die Naturellewet van 1952 en die Wysigingswet op Stedelike Gebiede van 1956. Kragtens die Naturellewet moes alle swart mense, insluitend vroue, passe (identifikasiedokumente) by hulle gedra het. Die passe was nie iets nuuts nie, maar het vorige passe en dokumente met een dokument vervang. Dit het groot protes ontlok. Ingevolge die Wysigingswet op Stedelike Gebiede moes dorpe en stede instromingsbeheer (die kom en gaan) van swart mense toepas. 8

H.F Verwoerd tydens ‘n amptelike besoek aan ‘n radarstasie by Mariepskop.

Onderwys

Verwoerd se onderwysbeleid was veral baie omstrede. Swart onderwys was voorheen in die hande van kerke en sendinggenootskappe, maar die Wet op Bantoe-onderwys van 1953 het swart onderwys onder die beheer van die regering geplaas. Verwoerd se oogmerk was ’n eenvormige beleid in swart skole. 3

Hoewel baie mense meen dat Verwoerd met dié wetgewing ’n stokkie voor die opvoeding van swart mense wou steek, was dit glad nie die geval nie. Die sillabus (of kurrikulum soos ons dit vandag ken) was trouens feitlik dieselfde vir wit én swart leerders, en aansienlik beter as dié wat in die sendingskole onderrig is. Volgens Verwoerd moes swart mense beroepe wat ’n hoë vlak van opleiding vereis het, binne hul eie gemeenskappe beoefen het “waar alle deure oop was”, en nie in wit gebiede nie.

Dié uitgangspunt het vir Verwoerd baie probleme veroorsaak en word gereeld aangehaal as daar na hom as die argitek van apartheid verwys word. 5

Omdat minder geld aan swart onderwys bestee is, het leerders se uitslae begin verswak. ’n Tekort aan onderwysers en gebrekkige toegang tot hoër onderwys (studie ná skool) het die vooruitsig op goeie loopbane gekniehalter. 1 Verwoerd was wel ten gunste van die oprigting van afsonderlike universiteite vir swart studente. 5

Tuislande

In 1951 is die Wet op Bantoe-owerhede aanvaar. Ingevolge hiervan sou swart stamme hul eie nedersettings of reservate beheer, hoewel dit onder die regering se beheer sou bly. 4 Swart mense was nie deel van die regering nie en die idee was dat swart mense tydelike besoekers aan wit gebiede was en na hul eie nedersettings moes terugkeer. 8

In 1959 is die verdeling van Suid-Afrika in swart en wit gebiede gepromulgeer met die Wet op Bantoe-owerhede van 1959. 6 Hiervolgens sou swart mense selfregering kry (hulle sou hulleself volgens hul eie wette in hul eie gebiede kon regeer). 1 Die reservate of nedersettings het as tuislande (bantoestans) bekend gestaan. 5 Alle swart mense moes uiteindelik na hul tuislande terugkeer. 8 Elke groot swart groep in Suid-Afrika (soos die Xhosas, Zoeloes, Tswanas, Sotho’s en so meer) sou sy eie tuisland kry. 4

Verwoerd se plan was dat die tuislande die ontwikkeling van swart groepe sou aanvuur. 6 Hoewel die regering beperkte infrastruktuur, finansiering en opleiding verskaf het, wou mense nie hierheen verhuis nie omdat daar nie werkgeleenthede was nie. 4 Die eerste tuisland wat selfregering aanvaar het, was Transkei in 1963. Verwoerd is egter dood voor hierdie beleid ’n werklikheid kon word. 6

Verwoerd en sy hond, Punch. ‘n Britse bewonderaar het dié hond aan Verwoerd geskenk.
Betsie Verwoerd slaan die eerste sent nadat Suid-Afrika na die desimale stelsel oorgeskakel het.

Referendum tot republiekwording

Verwoerd se droom om Suid-Afrika ’n republiek te maak, het vroeg in 1960 ’n werklikheid begin word.  Op 20 Januarie 1960 het hy ’n referendum (volkstemming) aangekondig waar mense kon stem of hulle ’n republiek wou word of nie. Die referendum was ’n waagstuk omdat ’n oorweldigende ja-stem geensins gewaarborg was nie. Tog is Verwoerd deur ’n paar sleutelgebeurtenisse dié jaar oortuig dat republiekwording belangrik was. 6

In Februarie het Harold MacMillan, die Britse eerste minister, ’n toespraak in Suid-Afrika gelewer. In dié toespraak, wat as die Winde van verandering-toespraak bekend staan, het hy gesê dat swart bevryding in Afrika onomkeerbaar was en dat Brittanje dit nie sou teenstaan nie. Dit het Verwoerd van die belangrikheid oortuig om sterk “teen die vyandige wêreld” te staan. 6

In Maart dié jaar het die Sharpeville-menseslagting plaasgevind, wat gelei het tot hewige internasionale kritiek en grootskaalse protesoptrede teen die regering. Die regering het ’n noodtoestand afgekondig en die African National Congress (ANC) en Pan Africanist Congress of Azania (PAC) as verbode organisasies verklaar. 6 Verwoerd het geweier om toegewings te maak en gepleit vir die vereniging van wit groepe. Dit het sy gewildheid net verder onder wit kiesers laat toeneem. 3

In April was daar ’n sluipmoordpoging op sy lewe toe David Pratt, ’n geestelik versteurde man, hom by die Randse Paasskou in Johannesburg twee keer op kort afstand in die kop geskiet het. Al was hy ernstig gewond, het Verwoerd merkwaardig vinnig herstel. 4

Die referendum oor republiekwording het op 5 Oktober 1960 plaasgevind. Meer as 90% van stemgeregtigdes het gestem. Die uitslag was ’n naelskraapse oorwinning ten gunste van republiekwording: 850 488 stemme vír en 775 878 stemme teen. 3

Republiekwording op 31 Mei 1961 was die hoogtepunt van ’n stryd wat sedert 1902 geheers het. Verwoerd het dit gesien as teken dat Afrikaans– en Engelssprekende Suid-Afrikaners kon saamwerk en dit was ’n loopbaanhoogtepunt vir Verwoerd. 5

In Maart 1961 kondig Verwoerd aan dat Suid-Afrika die Statebond gaan verlaat. 3

Isolasie én ongekende groei

Die laaste vyf jaar van Verwoerd se bewind was een van die vooruitstrewendste tye in die geskiedenis van Suid-Afrika, veral vir wit mense. Daar was ongekende ekonomiese groei, met die plaaslike ekonomie wat teen Maart 1962 waarskynlik vinniger as enige ander ekonomie ter wêreld gegroei het. Geld het die land ingestroom en ’n rekordaantal immigrante het in Suid-Afrika aangekom. Dit was ook ’n kulturele bloeityd, met die oprigting van talle nuwe universiteite, die stigting van nuwe koerante en die vervaardiging van rolprente. 7

Die regering het die enorme Oranjerivierskema bekend gestel, wat sou help met besproeiing, kragopwekking en watervoorsiening aan stede. Die grootste dam wat as deel van dié skema gebou is, die Verwoerddam, is na Verwoerd genoem. Dit staan vandag as die Gariepdam bekend. 7

Die staat se veiligheidsmag (polisie en weermag) was baie sterk. Hulle het dit reggekry om organisasies soos die ANC, wat weerstand teen apartheid gebied het, in te perk. Die Rivonia-klopjag is in 1963 uitgevoer en leiers soos Nelson Mandela is in hierdie tyd gevange geneem. 3

Die verkiesing van 30 Maart 1966 het gewys hoeveel steun Verwoerd gehad het: die NP het 126 van 166 Volksraadsetels gewen en 58% van al die stemme verower. Die NP het ook groot steun van Engelssprekendes gehad. 4

Verwoerd se reputasie as visionêre leier het ver buite Suid-Afrika se grense gestrek. In Suid-Afrika kon min mense, selfs buite die NP, sy charisma weerstaan. 5 Op 31 Mei 1966, met die vyfde herdenking van Republiekwording, het Verwoerd 500 000 mense by die Voortrekkermonument in Pretoria toegespreek. Dit was sy laaste groot optrede. 3

In die jare ná Republiekwording het Suid-Afrika internasionaal egter al hoe meer geïsoleerd geword. 3

Die opening van die Hendrik Verwoerddam.

Persoonlike lewe en sluipmoord

Verwoerd se vrou, Elizabeth (Betsie) Schoombee, was saam met hom op die studenteraad in Stellenbosch.  Hulle is op 7 Januarie 1927 in Hamburg, Duitsland, getroud. 1 Sy het hom in alles ondersteun en was die persoon teenoor wie hy sy idees eerste getoets het. Hulle het 8 kinders gehad, waarvan vyf seuns en twee dogters volwassenheid bereik het. 3

Op Dinsdag 6 September 1966 het Verwoerd in die Volksraad gesit toe hy vier keer deur Dimitri Tsafendas, ’n parlementêre bode en Mosambiekse immigrant van gemengde afkoms, met ’n mes in die bors gesteek is. Verwoerd is in die hart en longe getref en het binne oomblikke gesterf. 7

Suid-Afrikaners was in rou en duisende mense het na Verwoerd se begrafnis gestroom. Hy is in die Heldeakker in Pretoria begrawe. 3

Tsafendas is as sielkundig onstabiel (ook genoem ontoerekeningsvatbaar) verklaar en is nooit verhoor nie. Hy het op sy eie opgetree en daar was nie sprake van ’n sameswering om Verwoerd om politieke redes om die lewe te bring nie. Tsafendas is op 7 Oktober 1999 in die ouderdom van 81 jaar aan longontsteking in die Sterkfontein- psigiatriese hospitaal in Krugersdorp oorlede, en is in ’n ongemerkte graf in die begraafplaas langs die hospitaal begrawe. 10

Betsie het haar later in Orania gevestig waar sy deur onder andere oudpres. Nelson Mandela besoek is. Ná haar afsterwe in 2000 is haar voormalige woonhuis omskep in die Orania Verwoerdmuseum. ʼn Deel van die huis is bewaar net soos dit in haar leeftyd gelyk het, terwyl die ander deel museumstukke uit Verwoerd se tyd in die staatsdiens insluit. Dit sluit in beelde, besittings, geskenke en selfs die klere wat Verwoerd met sy sluipmoord aangehad het. 11

Dimitri Tsafendas, die parlementêre bode wat Verwoerd om die lewe gebring het.
Verwoerd as jong dosent saam met Betsie in 1928.
Betsie Verwoerd by haar man se begrafnis, vergesel deur haar dogters, Anna Boshoff (links) en Elsabet du Bois (regs).
Mandela, Betsie Verwoerd en Carel Boshoff tydens Mandela se besoek aan Orania.

Leierskap en nalatenskap

Verwoerd word onthou as toegewyd, energiek en georganiseerd. Hy het soms tot 18 uur per dag gewerk. 5 Hy het ’n innemende persoonlikheid gehad en was geweldig sjarmant. Vir sy teenstanders was hy egter ’n diktator, ’n hardkoppige, intelligente man, met ’n lang geheue en grenslose selfvertroue. 3

Verwoerd het egter nooit gesprekke met sy swart teenstanders gevoer nie en daarom nie besef dat die meeste swart mense teen afsonderlike ontwikkeling gekant was nie. Boonop was sy beleid op verkeerde skattings gegrond oor hoeveel mense in die toekoms in Suid-Afrika sou woon. Daar was miljoene meer swart mense as wat hy gedink het daar sou wees. 5

Om Verwoerd as die argitek of vader van apartheid te beskryf, is nie heeltemal korrek nie. Afsonderlike ontwikkeling of segregasie het reeds vir baie jare gegeld voordat Verwoerd aan bewind gekom en dit in wetgewing ingesement is. Verwoerd was, in sy oorreding van wit kiesers, waarlik oortuig dat dié beleid swart mense op langtermyn sou bevoordeel. Omdat hy en sy ondersteuners só oortuig was dat afsonderlike ontwikkeling in die beste belang van swart mense was, was hy egter blind vir die verwydering en vernedering wat dit uiteindelik meegebring het. 4

Woordbank

berug Baie goed bekend wees, maar in ’n ongunstige sin.
besproeiing Die natgooi van landerye.
beurse Bedrag geld wat aan ʼn student geskenk word vir verdere studie; studiebeurs.
bloeityd Tydperk waarin daar groot vooruitgang is.
charisma ’n Natuurlike vermoë om mense na jou toe aan te trek, hulle in jou te laat belang stel en hul bewondering af te dwing.
demokrasie ’n Regering wat verkies word deur verteenwoordigers van al die inwoners van ’n land.
die spit afbyt Die slegste daaraan toe wees.
diktator Dit is iemand wat oor ’n land heers en onbeperkte mag het – dikwels deur middel van geweld.
dryfveer Die oorsaak of rede wat iemand iets laat doen.
filosofie Wetenskap wat die betekenis van die lewe ondersoek.
Groot Depressie  ’n Tydperk (1929-1939) van ernstige insinking in die handel wêreldwyd waartydens min sake gedoen kon word en baie mense werkloos was.
infrastruktuur Die basiese strukture en stelsels wat ’n land of organisasie nodig het om behoorlik te funksioneer, byvoorbeeld paaie, ’n spoornetwerk, banke, ens.
integrasie Wanneer ’n groep mense deel van ’n ander groep word en die twee groepe mekaar aanvaar.
geïsoleerd Wanneer een mens of groep van ander geskei is.
klopjag ʼn Onverwagte besoek of soektog deur byvoorbeeld die polisie om iets/iemand op te spoor.
gekniehalter Iemand/mense aan bande lê of hul planne belemmer.
merkwaardig Buitengewoon.
naelskraapse Net-net.
omstrede Waaroor mense sterk, uiteenlopende menings het en hewig verskil.
onaantasbaar Wat nie aangeval/gekritiseer kan word nie.
onhigiëniese Nie skoon nie, waar bakterieë, infeksies en siektes maklik kan versprei.
oogmerk Doel, ideaal, mikpunt.
passe Verlofbriewe om toegang tot sekere gebiede te beheer.
professor ’n Dosent van die hoogste rang aan ’n universiteit.
progressiewe Ten gunste van nuwe, moderne idees en metodes.
protes Mondelinge of skriftelike verklaring of optrede om te wys dat mense nie met ’n besluit of handelwyse saamstem nie.
redakteur Die persoon aan die hoof van ’n koerant/tydskrif (of deel van ’n koerant/tydskrif) wat oor die inhoud daarvan besluit.
redenaar Iemand wat ’n toespraak lewer.
referendum Stemming waarin almal van ʼn volk mag deelneem, gewoonlik oor ʼn spesifieke saak.
reputasie Dit waarvoor iemand bekend is, hetsy goed of sleg.
reservate Gebiede wat vir ’n spesiale doel opsygesit word.
sameswering Die daad van mense wat in die geheim saamwerk om iets verkeerds of onwettigs te doen, byvoorbeeld om die regering omver te werp.
segregasie Beleid waarvolgens rasse, klasse, etniese groepe geskei word.
selfregering Regering volgens die wense van ’n eie parlement, nie deur dié van ’n ander land nie.
senaat Regeringsvorm met twee wetgewende kamers in die parlement, bv. ’n senaat en Volksraad.
setels Amptelike sitplekke/stoele in die parlement of regeringsplek.
sielkunde Leer van die wese en die eienskappe van die menslike siel/gees; psigologie.
sillabus Leerplan.
sluipmoordpoging Moord op ’n (dikwels belangrike) persoon, in die geheim beplan en dikwels in die openbaar uitgevoer.
sosiologie Die wetenskap wat die aard, ontwikkeling, instellings, struktuur, funksie, en dies meer van die menslike samelewing bestudeer.
swaarde gekruis Teen mekaar geveg; mekaar teengestaan.
sweep Die parlementslid van ’n politieke party wat onder meer moet sorg dat almal by belangrike stemmings teenwoordig is.
tameletjie ʼn Probleem, moeilikheid, kwessie.
veiligheidsmag Organisasie wat die veiligheid van ’n land, die bevolking en eiendom moet verseker, soos die weermag en die polisie.
visionêre Iemand wat met wysheid, insig en verbeelding oor die toekoms dink of daarvoor beplan.
voorsitter Die persoon wie se werk dit is om ’n vergadering te lei.
voorwendsel ʼn Vals verskoning/ekskuus gebruik om die ware rede vir iets weg te steek.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Die storie van apartheid

Verwoerd se definisie van apartheid

Republiekwording (31 Mei 1961)

Aankondiging van Verwoerd se moord

Die amptelike opening van die Hendrik Verwoerd-dam (1972)

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 27 Mei 2024 | Bygewerk op 26 Junie 2024