Vinnige feite

  • Anders as die meeste ander politieke idees, soos kommunisme, kapitalisme, konserwatisme, liberalisme of sosialisme, het fascisme nie ’n vaste filosofie nie. Daar is byvoorbeeld nie ’n stigtingsdokument wat alles daaroor vervat nie.
  • Selfs in Suid-Afrika was daar fascistiese groepe ná 1931, soos die Suid-Afrikaanse Fasciste, Die Suid-Afrikaanse Nasionale Demokratiese Party (Gryshemde) en die Ossewabrandwag.
  • Die leiers van die fascistiese regerings van Italië, Duitsland en Spanje is voorgehou aan hul volgelinge as sterk mense wat hul burgers van politieke en ekonomiese chaos sou red. Japannese fasciste (1936-1945) het geglo dat die Japanese gees uniek is en dat mense onderdanig aan die staat moes wees.
  • Mussolini se sukses het ook fascistiese bewegings oor die hele Europa geïnspireer. In Groot Brittanje het Oswald Mosely byvoorbeeld in 1932 die Britse Unie van Fasciste gestig. 10
  • Nog bekende fasciste tydens die 20ste eeu was Spanje se Francisco Franco en Argentinië se Juan Perón (sy vrou was die bekende Eva Perón).
  • Mussolini het gesê dat demokrasie ’n mislukte stelsel is en dat mense nie vryheid van spraak moes hê nie. Hy het geglo dat alles wat nasionale eenheid kon bedreig, verwyder moes word.
  • Die Eerste Wêreldoorlog het van 1914 tot 1918 geduur en die Tweede Wêreldoorlog het van 1939 tot 1945 geduur.
  • Daar word beraam dat tussen 40 en 50 miljoen in die Tweede Wêreldoorlog dood is. Die oorlog is amptelik op 2 September 1945 beëindig nadat Japan oorgegee het.
Foto: iStock

Lank, lank gelede in antieke Rome was ’n fasces ‘n bondel houtlatte wat om ’n byl vasgebind is en waarvan die bylkop bo uitsteek. Dit was die embleem van die magistrate van antieke Rome en het hulle mag om te straf, voorgestel. 1

Hierdie embleem, oftewel simbool, het honderde jare later die inspirasie vir die naam van ’n nuwe tipe ideologie en regering geword: fascisme.

Die Italiaanse leier Benito Mussolini het in 1919 sy magte fasci na hierdie simbool genoem. Kort voor lank het Mussolini se regeringstyl as fascisme bekend gestaan. Fascistiese leiers glo dat die mag van die land belangriker as burgers se welstand is. 2

Fascisme het in die jare twintig en dertig in Europa ontwikkel. Die bekendste voorbeelde van fascistiese regerings was Benito Mussolini se Nasionale Fascistiese Party in Italië (1922-1943) en Adolf Hitler se Nazi’s, die Nasionale Sosialistiese Duitse Werkersparty (1933-1945). Daar is baie definisies van fascisme, maar die meeste definisies stem saam dat dit outoritêr van aard is en dat dit nasionalisme ten alle koste beskerm.

Goue Nazi Party Kenteken

Jy het bes moontlik, as jy al oor politiek en regerings geleer het, die woorde nasionalisme en outoritêr gehoor. Outoritêr is as jy nie demokraties optree nie, maar eiemagtig. Nasionalisme is weer die liefde en trots vir jou eie land en nasie, maar met die behoefte om onafhanklik te wees. Dit word dikwels deel van die ideologie van nasionalistiese politieke partye of groepe. ’n Ideologie is die idees en sienings wat die grondslag van politieke partye is. 3

Dis gewoonlik juis deur mense se nasionalisme aan te wakker dat fascistiese leiers dit reggekry het om gewild te word en die leiers van hul lande te word.

Die woordeboek sê dus fascisme is die antiparlementêre, regse staatstelsel waarby die wetgewende en uitvoerende mag van ’n diktator berus. Wat is ’n diktator? Dit is iemand wat oor ’n land heers en onbeperkte mag het wat dikwels deur geweld verkry word.

Kenmerke van fascisme

Regerings wat al as fascisties bestempel is, deel ’n paar kenmerke. Nasionalisme word aangemoedig en die land is belangriker as mense se individuele regte. Daar is ’n sterk sin van gemeenskap. Onder hierdie regimes het mense min vryheid en geen sê in die regering nie. Die regering beheer alles. Mense wat nie saamwerk nie of wat krities teen die regering is, word gestraf en in hegtenis geneem. Daar is ’n sterk klem op die land se militêre mag en die weermag word opgebou om hul belange te beskerm. Fascistiese bewegings kapitaliseer gewoonlik op mense se vrese en word gewoonlik gewild tydens tye van ekonomiese swaarkry. 4

Fasciste is gewoonlik uitstekend met propaganda. Dis ’n georganiseerde verspreiding van inligting wat dikwels vals is of net een kant van ’n saak belig om steun te werf vir of afbreuk te doen aan ’n bepaalde saak of persoon. Hulle sal propaganda gebruik om byvoorbeeld groepe te beledig en afbreuk aan hul reputasie te doen. Hierdie groepe sal geblameer word vir alles wat in die land verkeerd is, soos ’n sukkelende ekonomie. Dit is byvoorbeeld wat die Nazi’s met die Joodse volk gedoen het. Die fascistiese leier van die groep/party of land is gewoonlik ’n man en word as ’n redder voorgehou. 5

Hoe het fascisme wortelgeskiet?

Ná die Eerste Wêreldoorlog, wat van 1914 tot 1918 geduur het, het baie lande finansieel gesukkel. Mense was ongelukkig met die nadraai van die oorlog en fasciste het mag verkry deur allerhande dinge vir burgers te belowe. Dit was moeilike tye en mense het swaargekry.

Mussolini het beheer van Italië geneem en Adolf Hitler het Nazi-Duitsland beheer. Hierdie lande het sterk weermagte begin bou en hul militêre mag gebruik om ander lande oor te neem. Dit het tot die Tweede Wêreldoorlog gelei, wat van 1939 tot 1945 geduur het. Italië en Duitsland met hul fascistiese leiers was bondgenote in die oorlog en het dus aan dieselfde kant geveg. Hulle het egter die oorlog verloor en hul regerings het tot ’n val gekom.

Adolf Hitler

Meer oor Mussolini

Mussolini was aanvanklik ’n lid van die sosialistiese party. Hy het egter in die Eerste Wêreldoorlog geveg en ná afloop daarvan, die party verlaat.

Daar was groot probleme in die land en hy het geglo dat hy die land weer kon regruk. Hy het sy eie mag van volgelinge gehad wat swart hemde gedra en gewapen was. Mussolini se party was die Nasionale Fascistiese Party. Hy was ’n goeie spreker en het groot beloftes aan burgers gemaak.

Benito Mussolini

Mussolini en sy volgelinge was teen 1922 so sterk dat hulle gedreig het om Italië se regering omver te werp. Koning Emmanuel III was bang vir ’n burgeroorlog en het Mussolini gevra om sy eie regering te vorm.  Mussolini het op 31 Oktober 1922 die jongste eerste minister in Italië se geskiedenis geword. Hy het homself daarna ’n diktator met onbeperkte mag gemaak.

Aan die begin was baie Italianers gelukkig met Mussolini, want hy het hulle oortuig dat die land nou goed regeer word. In 1935 het hy Ethiopië, ’n land in Oos-Afrika, binnegeval. Hy het gesê dat Italië weer ’n groot ryk het en mense het hom ondersteun.

Mussolini het sy burgers egter al hoe meer beperk. Werkers mag nie gestaak het nie. Opposisiepartye is onwettig verklaar. Daar was geen vryheid van spraak nie en die nuus is streng beheer. Mense wat hom gekritiseer het, is summier in die tronk gegooi.

En toe span Mussolini en Hitler saam en vorm die Spilmoondhede (’n militêre koalisie) tydens die Tweede Wêreldoorlog. Hulle het teen die Geallieerdes geveg. Die oorlog was van die begin af baie sleg vir Italië omdat hulle nie ’n sterk weermag of hulpbronne gehad het nie. Duitsland moes sommer gou-gou vir Italië met wapens help.

Nadat die Geallieerdes Sisilië in 1943 ingeval het, was daar groot burgerlike onrus in Italië en Mussolini moes bedank. Hy is in hegtenis geneem, maar Duitse troepe het hom uit die tronk gered. Hy het sy laaste regering in ’n gedeelte van Noord-Italië gevorm wat steeds onder Duitse beheer was.

Soos die Geallieerdes egter die oorhand begin kry het, het hy probeer om te ontsnap, maar op 28 April 1945 is Italië se fascistiese diktator Benito Mussolini by die Switserse grens gevang en deur Italiaanse patriotte tereggestel. Sy oorskot is teruggebring na Milaan se Piazzale Loreto waar ’n woedende skare sy liggaam verder geskend het. Daarna is hy onderstebo opgehang vir openbare vertoon. 6

Piazzale Loreto

Meer oor Hitler

Die Eerste Wêreldoorlog het ook vir Hitler die bal aan die rol gesit en dinge makliker gemaak om mense te beïnvloed en vir hulle ’n beter toekoms te beloof.

Mussolini was reeds elf jaar aan bewind voor Hitler in Duitsland aan bewind gekom het. Hy was ’n groot bewonderaar van Mussolini en sy fascistiese idees.

Ná die Eerste Wêreldoorlog het Hitler by ’n klein politieke groep aangesluit en in 1921 het hy beheer daarvan geneem. Dié groep is die Nazi-Party genoem.

Nazi-leier Adolf Hitler as Duitse soldaat tydens die Eerste Wêreldoorlog

Teen 1932 was sy party die grootste party in Duitsland en in 1933 word hy die kanselier (leier) van Duitsland. In 1934 het hy volle beheer oorgeneem en sommer gou sy radikale maatreëls in plek gestel. Hitler het Duitsland se militêre mag versterk en begin om stappe teen die Joodse volk te doen.

Joodse eiendom is beskadig en moes later hul eiendom gegee en was nie meer toegelaat om ondernemings besit het nie. Later is hulle na konsentrasiekampe gestuur.  En toe begin Hitler met sy plan om Duitsland groter en groter te maak …

Hy het alliansies met Italië en Japan teen die Sowjetunie geteken. Japan was ook van 1939 tot 1945 fascisties. Hitler het in 1938 troepe na Oostenryk gestuur om dit binne te val. Hy het Oostenryk ingeneem, ’n jaar later ook Tsjeggo-Slowakye en het op 1 September 1939 Pole binnegeval. Op hierdie dag het die Tweede Wêreldoorlog amptelik begin.

Hitler se haat vir die Joodse volk het veroorsaak dat Jode in massas na konsentrasiekampe gestuur is om vermoor te word. Ongeveer ses miljoen Jode is in die menseslagting dood.

Toe die Geallieerdes begin om Duitsland in te val en Hitler besef dit is neusie verby vir hom, het hy sy eie lewe geneem. Hy is op 30 April 1945 in Berlyn, Duitsland, dood. Duitsland het oorgegee en die oorlog in Europa het op 8 Mei tot ’n einde gekom. 7

Fascisme ná die oorlog

Ná die Tweede Wêreldoorlog het die groot fascistiese bewegings tot ’n einde gekom, maar daar was steeds leiers in lande soos Spanje en Portugal, wat die idees bly volg het. Daar was ook politieke partye in lande soos Frankryk, Argentinië, Libië en Irak wat sekere fascistiese idees aangehang het.

Politieke groepe in heelparty lande het ook later hierdie idees verkondig, soos in Suid-Amerika, die Midde-Ooste en Suid-Afrika. Dit word neofascisme genoem, wat eintlik net ’n nuwe tipe fascisme beteken.

Neofasciste het militante nasionalisme en outoritêre waardes verkondig en hulself voorgehou as die beskermers van hul lande se tradisionele kultuur. Hulle was dikwels rassisties en xenofobies. Xenofobie is die afkeer van alles wat vreemd is en vreemdelinge haat. 8

Daar is dus sterk ooreenkomste met gewone fascisme. Neofasciste het ook die blaam vir hul lande se probleme op minderheidsgroepe gelê, veral vlugtelinge van ander lande. Later het neofasciste gesien dat mense liewer deel van demokrasieë wil wees en sommige van hulle het selfs die woorde “demokraties” of “liberaal” deel van hul groepe se name gemaak.

Fascisme is vandag steeds deel van die politieke landskap met organisasies en bewegings oor die wêreld heen wat dit navolg. Daar was al baie debatte oor of Rusland se president Vladimir Poetin ’n fascis is aangesien hy baie kenmerke met sekere diktators deel.

Hoekom?

Fascistiese state beheer alles met ’n ystervuis en Poetin en sy party beheer Rusland op dieselfde manier. Fascistiese leiers het gewoonlik die tipe persoonlikheid wat baie volgelinge na hulle lok, en Poetin het steeds ’n groot aanhang in sy land.

Nes in fascistiese state, is verkiesings in Rusland nie meer vry of regverdig nie en opposisieleiers word dikwels in hegtenis geneem. Die media word beheer en vryheid van spraak is nie meer toelaatbaar nie. Die staat gebruik propaganda om sy 2022-inname van die Oekraïne te regverdig. En nes ander fasciste, blameer Poetin ook alles op ’n sekere groep, soos dat hy sê dat daar “Nazi’s” in die Oekraïne is. 9

Woordbank

bondgenote ’n Groep mense wat mekaar bystaan.
burgers Mense wat lede van ’n stad of staat is.
diktator Dit is iemand wat oor ’n land heers en onbeperkte mag het – dikwels deur middel van geweld.
embleem ’n Kenteken, simbool; draagteken.
fascisme Dis die antiparlementêre, regse staatstelsel waarby die wetgewende en uitvoerende mag van ’n diktator berus.
ideologie Die idees en sienings wat die grondslag vorm van ’n politieke en ekonomiese bestel.
kanselier Die leier van ’n regering.
kapitaliseer Trek voordeel uit.
koalisie Samesmelting/vereniging.
konsentrasiekampe ’n Kamp waar politieke gevangenes en ander mense aangehou en dikwels wreed behandel word, veral gedurende ’n oorlog.
militante Strydlustig, vyandig, aanvallend, militaristies.
nasionalisme Dis die liefde en trots vir jou eie land en nasie, maar met die behoefte om onafhanklik te wees.
neusie verby Die kans is verlore; die gunstige geleentheid is verby.
omver te werp Iets laat misluk.
outoritêr Dit as jy nie demokraties optree nie en eiemagtig optree.
propaganda ’n Georganiseerde verspreiding van inligting wat dikwels vals is of net een kant van ’n saak belig om steun te werf vir of afbreuk te doen aan ’n bepaalde saak of persoon.
rassisties Rasbewus.
regering Die bestuur van ’n land.
sosialistiese Radikaal, linksgesind.
spilmoondhede Militêre koalisie.
summier Dadelik, onmiddellik.
xenofobies Dit is wanneer ’n mens vreemdelinge haat. ’n Afkeer van alles wat vreemd is.

Lees hierdie artikels om meer oor fascisme te leer

Kyk na hierdie video’s oor fascisme

Fascisme: Mussolini kom aan bewind

Fascisme: Hitler aan bewind

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 15 November 2022 | Bygewerk op 23 Januarie 2024