Vinnige feite

  • Het jy geweet? Slegs die Afrika- en Oosterse olifante is groter as die twee grootste renosterspesies. 1
  • Die Krugerwildtuin het onder meer sowat 147 soogdierspesies, 114 reptielsoorte, 34 soorte amfibieë, 49 vissoorte en 336 boomsoorte. 6
  • Prehistoriese renosters het in Noord-Amerika, Europa, Afrika en Asië voorgekom. 1
  • Sumatraanse renosters is die kleinste, maar hulle kan steeds 600 kg weeg! Witrenosters word die grootste en kan meer as 4 ton weeg. ʼn Mens kan nie dink dat hulle so swaar word met ʼn dieet van net gras en blare nie … 12
  • Swartrenosters en witrenosters is eintlik albei grys anders as wat hul name voorgee. Die verwarring het blykbaar toentertyd ingekom toe die Engelse die woord “wyd” verkeerdelik as “white” vertaal het. 11
  • Renosters se horing groei gedurig. Die witrenoster se horing kan ongeveer 7 cm jaarliks groei. Die rekordlengte is 150 cm. 11
  • Die laaste Javaanse renosters wat in die wild voorkom, bly in die Ujung Kulon Nasionale Park in Indonesië. 11

Het jy geweet dat al die renosterspesies in die wêreld bedreig word en dat baie van hulle al amper uitgesterf het? 1 Al renosters wat vandag nog oor is, is twee spesies wat in Afrika bly (die swart- en witrenoster) en drie spesies wat inwoners van Asië is. Dit is die Indiese eenhoring-, die Sumatraanse en Javaanse renoster. Die Sumatraanse, Javaanse en swartrenoster word krities bedreig. Dit beteken dat daar ʼn werklike gevaar is dat hulle heeltemal kan uitsterf

Daar is wetgewing wat renosters beskerm, en die internasionale handel van renosterhoring word verbied, maar ten spyte van die swaar strawwe wat renosterstropers opgelê word, word daar steeds op renosters jag gemaak.

Suid-Afrika is bevoorreg dat ons wit- en swartrenosters het, maar ongelukkig beteken dit ook dat ons swaar deur stropers geteiken word. ʼn Renosterstroper is ʼn wilddief wat op renosters vir hul horings jag maak. 2 ʼn Mens noem die jag op renosters vir hul horings renosterstropery. Daar word beraam dat ongeveer 10 000 Afrika-renosters in die laaste dekade weens stropery dood is. 3

In 2022 is 448 renosters in Suid-Afrika vir hul horings doodgemaak in vergelyking met 2021 se 451 en 2020 se 394. In 2019 is 594 renosters doodgemaak.

Die Wêreldnatuurfonds (WWF) sê renosterbevolkings word deurlopend bedreig, en daar is net een manier om dit te beveg: as alle wetstoepassingsagentskappe saamwerk om dit te beveg. 4

Die krisis

Die renosterstroperykrisis het in Zimbabwe begin waar die moeilike sosio-ekonomiese omstandighede en politieke klimaat ʼn teelaarde vir misdaad geskep het. Nadat renosters in Zimbabwe gestroop is, het stropers besef dat die grootste bevolking van renosters in Suid-Afrika is en dat hier baie geleenthede vir hulle is. 5

Dit het tot die groot stroperykrisis in Suid-Afrika gelei. Die land het vanaf 2007 tot 2014 ʼn enorme styging in renosterstropery gesien. Daar was ʼn groei van meer as 9 000%. Die meeste gevalle het in die Krugerwildtuin plaasgevind, maar dit lyk asof die fokus van stropers nou na kleiner reservate verskuif het.

Die Nasionale Krugerwildtuin is Suid-Afrika se belangrikste wildreservaat. Dit strek oor twee provinsies, Limpopo en Mpumalanga, en grens in die noorde aan Zimbabwe en in die ooste aan Mosambiek. Dit is een van die grootste wildbewaringsgebiede in Afrika en ongeveer 2 miljoen hektaar groot. 6

Die wildtuin se renosters was al herhaaldelik deur stropers geteiken, en hul bevolking is ʼn groot slag toegedien. Die regering en internasionale skenkers het die laaste paar jaar meer en meer geld en hulpbronne aan die park bewillig om dit veiliger vir renosters te maak, maar ten spyte van al die pogings vind stroping steeds plaas.

Dis ook nie net Suid-Afrika en Zimbabwe se renosters wat geteiken word nie. In 2013 het die renosterstroperykrisis ook na nog van ons buurlande, soos Kenia en Namibië, uitgekring. In Kenia is 59 renosters in 2013 doodgemaak. Dit is meer as 5% van hul nasionale renosterbevolking.

Skoksyfers

  • Die Krugerwildtuin se renosters se bevolking het sedert 2010 met 70% afgeneem. Daar was eens meer as 10 000, en vandag is daar minder as 3 000 renosters oor. 7
  • Daar word beraam dat daar slegs 76 Javaanse renosters in die wêreld oor is, terwyl daar ook minder as 80 Sumatraanse renosters is.
  • Ongeveer 6 100 swartrenosters is nog oor, en minder as 16 000 witrenosters lewe nog. Die eenhoringrenoster se bevolking word op 4 000 beraam. 8

Renosterhorings se gewildheid

Hoekom word renosterhorings gestroop? Die eenvoudige antwoord is geld. Die horings het groot waarde, en stropers kan dit vir baie geld verkoop. Renosterhorings het al vir tot 65 000 dollar per kilogram verkoop. Dis meer as wat goud kos! Die prys het darem oor die laaste jare tot nagenoeg 20 000 dollar per kilogram gesak, maar dit is steeds baie geld. 9

ʼn Renosterhoring is eintlik slegs ʼn bron van keratien – ʼn proteïen wat in die hare, naels en vel van soogdiere voorkom – maar baie mense glo dat dit allerlei siektes kan genees, en daarom is dit so gesog. Renosterhorings word glo al vir meer as 2 000 jaar in tradisionele Chinese medisyne gebruik om kwale soos rumatiek, jig en koors te behandel. Daar is ook al geglo dat dit ʼn kuur bied teen slangbyte, naarheid en voedselvergiftiging. Daar is ook mense wat glo dat dit as ʼn seksuele stimulant kan dien, hoewel daar geen bewyse daarvoor is nie.

In sekere kulture word dit ook as ʼn statussimbool gesien en ʼn manier om jou sukses en rykdom te wys. As hulle renosterhoring aan iemand as geskenk gee, wys dit op hul welvaart.

Daar is dus talle mense wat renosterhorings soek, en omdat die internasionale handel al sedert 1977 verban is, wend mense hulle tot die onwettige verkryging en handel daarin.

Stropers

Stropers is gewoonlik hoogs gewapend en baie gevaarlik. 10 Stropers het gesofistikeerde toerusting om renosters te jag en dood te maak. Hulle gebruik dikwels ʼn verdowingsmiddel om die renoster plat te kry, en dan saag hulle die horing af. As die renoster dan wakker word, bloei hy hom dood. Dis ʼn stadige en pynlike dood.

As hulle gevang word, moet hulle in die hof verskyn op aanklag van stroping, en ʼn regter moet dan besluit of hulle skuldig is of nie en hulle dan vonnis. Die vonnisoplegging wissel na gelang van die omvang van die stropery. Mike Nyathi, ʼn Mosambieker met Suid-Afrikaanse burgerskap, is byvoorbeeld in 2022 tronkstraf van 53 jaar opgelê. Dit is omdat hy aan 12 aanklagte van stropery skuldig bevind is. 11

Renosterfeite

  • Renosters kom in die suide en ooste van Afrika sowel as in tropiese Asië voor. 1
  • Hulle kan tot 4,3 m lank word en ongeveer 2 m skouerhoogte bereik. Volwasse renosters weeg tot 4 ton.
  • Hulle het kort, stewige bene en het drie tone aan elke poot. Hulle het ʼn dik vel en is gewoonlik grys of bruin. 1
  • Hulle het amper geen hare nie, maar net kort stoppels aan die bopunt van die stert en kort haartjies om die ore.
  • Hulle is herbivore en eet gewoonlik gras en blare. 1
  • Renosters het klein oë, en hulle kan nie baie ver sien nie. Hul gehoor en reuksin vergoed egter hiervoor.
  • Al is hulle so groot, kan hulle verbasend vinnig hardloop, tot 45 km per uur.
  • Hulle is geneig om mense te vermy, maar as jy te naby aan ʼn wyfie met kalfies kom, sal sy jou moontlik bestorm. 1
  • Die swartrenoster (Diceros bicornis) het ʼn oorhangende, gepunte boonste gryplip waarmee dit blare en bossies afstroop, en die witrenoster (Ceratotherium simum) het weer plat, reguit lippe en ʼn duidelike boggel op die skouers.
  • Die ander drie spesies bly in Asië. Die Javaanse renoster Rhinoceros sondaicus is die mees bedreigde spesie en het een horing.
  • Die Sumatraanse renoster Dicerorhinus sumatrensis is die kleinste van die spesies. Hulle het twee horings, swem goed en het meer hare as hul ander renosterfamilie.
  • Die Indiese eenhoringrenoster Rhinoceros unicornis het, soos die naam sê, een horing en dik vellae wat amper soos skilde lyk.

Woordbank

bedreig ʼn Gevaar wees vir iets of iemand 13
bedreigde spesie Diere of plante wat ʼn gevaar staan om heeltemal te verdwyn 13
bevolkings Die inwoners van ʼn land of plek 13
herbivore ʼn Dier wat hoofsaaklik plante eet
renosterstropers Dis ʼn wilddief wat op renosters jag maak vir hul horings 13
uitsterf As iets nie meer bestaan nie 13
verdowingsmiddel ʼn Chemiese middel
vonnis Dit is die straf wat die hof oplê aan iemand wat aan ʼn misdaad skuldig bevind word 13
welvaart Die voorspoed of rykdom van mense 13
wildreservaat Dit is ʼn uitgestrekte stuk grond, soms ʼn hele landstreek, wat nooit deur die mens ontwikkel is nie en waarop die wilde diere en plantegroei wat oorspronklik daar was, bewaar word of heringevoer word. 13

Lees hierdie artikels om nog meer te leer renosterstropery

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor renosterstropery

Leer hier meer oor renosters

Kyk die kalfie en sy pappa!

Red die swartrenoster

 

Gepubliseer op: 26 Mei 2022 | Bygewerk op 20 Maart 2024