Vinnige feite

  • Die kampe vir wit en swart mense was soos ʼn lokval (soos ʼn strik om iets of iemand te vang) – die doel was totale beheer en om die land van elke lewende mens, dier en eetbare plant te stroop (dit te verwoes of vernietig). 6
  • In 1900, toe daar nog net hier en daar plase afgebrand is, het die Boereleiers by lord Roberts protes aangeteken (gekla). Sy reaksie was dat die Boere se guerrilla-taktiek hom gedwing of genoop het om dit te onderdruk “by those exceptional methods which civilized nations have at all times found it obligatory to use under like circumstances”. 3
  • Die eerste nieamptelike kamp vir wit en swart gesinne was ʼn konsentrasiekamp by Mafeking. Die eerste swart konsentrasiekamp was by Kanya. 1
  • ʼn Boerevrou het oor die afbranding van haar huis uitgeroep: “Daar staan ek toe, omring deur my kindertjies, terwyl die wrede soldate my eiendom plunder. Huisraad, klere, voedsel, alles word op ʼn hoop gegooi en aan die brand gesteek … Hoe ek hulle ook al smeek om ʼn paar oudhede en erfstukke te behou, hulle weier aaneen!” 3
  • Só het iemand in die Brandfort-konsentrasiekamp geskryf: “Onder ons was daar ʼn mev. Coetzer; sy het agt kinders gehad, en nou was vier al dood. Eendag gaan ek verby haar tent, en daar op die grond op kakiekomberse sien ek drie seuntjies lê, en die miere loop oor hulle. Die moeder wat kraamkoors gehad het – haar pasgebore seuntjie reeds dood – lê op ʼn kateltjie (bedjie). Naas haar lê ʼn meisie van sewe jaar, ook siek. Om hul ellende te vererger, was die tent vol luise. As dit nodig was, moes die arme jongetjies sonder hulp opstaan, hoewel hul swak beentjies hulle amper nie kon dra nie.” 3
Foto: iStock

Verbeel jou alles om jou brand – julle hele huis, al jul klere, meubels, elke kosbare boek, foto en herinnering – tot daar niks behalwe pikswart as oor is nie. Dit is presies wat tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO) gebeur het toe Brittanje duisende boere se plase afgebrand het. Die Britte het dit die verskroeideaardebeleid genoem, ʼn taktiek (ʼn plan of strategie) wat letterlik beteken het dat die aarde wat die Boere met bloedsweet bewoon en bewerk het, tot op die grond afgebrand is. 1

Duisende vroue, kinders, bejaardes en plaaswerkers, wat dikwels bang en alleen op die plaas was omdat die seuns en mans in die oorlog gaan veg het, was skielik sonder heenkome. Magteloos. Asof die verlies van al hul besittings, hul woonplek, landerye en selfs diere nie erg genoeg was nie, is hulle gevange geneem en in konsentrasiekampe aangehou! Minstens 48 000 mense, waarvan baie vroue en kinders was, is in dié konsentrasiekampe dood. 2

Guerrilla-taktiek teen die Britte

Die ABO, wat in Oktober 1899 uitgebreek en tot in 1902 geduur het, was ʼn stryd (ʼn gewapende geveg of groot bakleiery) tussen die Boererepublieke – die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR – ook Transvaal genoem) en die Oranje-Vrystaat (ook die OVS genoem) – en Brittanje. Die Boere het aan die begin van die ABO ʼn paar oorwinnings behaal, waarna die Britte weer ʼn paar veldslae (gevegte tussen vyande in die veld) gewen het. Teen September 1900 het die oorlog in ʼn klomp gevegte (skermutselings) verander waarin die Boere in kleiner groepies beweeg en die Britse soldate aangeval het. Dit het as guerrilla-taktiek of die guerrilla-fase bekendgestaan. 1

Die konsentrasiekamp in Potchefstroom.

Die aarde begin brand

Gedurende 1900 was lord Roberts die hoof (ook genoem hoofkommandeur) van die Britse weermag in Suid-Afrika. Dit was op Roberts se bevel dat die Britse soldate begin het om plase af te brand. Dit was om te keer dat die mense op hul plase hulp aan die Boeremagte (soldate of krygers tussen 16 – of selfs jonger – en sestig jaar oud wat opgeroep is om vir die Boere te veg) verleen (gee). Meer as 230 huise is net in November 1900 afgebrand! Dit was egter net die begin van grootskaalse verwoesting van die Boere se eiendom deur die Britte. 3

Karkasse van perde wat deur die Britte geskiet is om te verhoed dat die Boere dit in die oorlog kon gebruik.

Die verskroeideaardebeleid

Aan die einde van 1900 het Herbert Kitchener vir Roberts vervang. Kitchener was gefrustreerd met die Boere se guerilla-taktiek. Hy wou die Boere se weerstand (teenstand of verset teen die Britte) finaal breek en die oorlog so gou as moontlik beëindig.

Die oorlog het vir Brittanje te duur begin word (baie geld gekos). Die amptelike taktiek waarmee Roberts vorendag gekom het, was die verskroeideaardebeleid. Die idee of doelwit was om die lewe uit die kommando’s (gewapende magte of groepe Boeresoldate) te wurg deur hulle te ontneem (weerhou of weg te hou) van die kos, skuiling en emosionele steun wat hulle op die Boere se plase ontvang het. 1 As hul kosvoorrade vernietig was, sou die honger hulle forseer (dwing) om oor te gee, het hy gereken. 1

Die Britse soldate het gewoonlik eers die plaashuis geplunder (rot en kaal besteel!) en dit dan aan die brand gesteek of met plofstof (soos dinamiet) opgeblaas. Daarna is die vee weggevat of doodgemaak, en die landerye, groentetuine en vrugteboorde vernietig.

Die vroue, kinders en bejaardes is na die naaste spoorwegstasie (treinstasie) geneem – te voet of soms per wa. Hulle kon soms bietjie kos, klere, en beddegoed saamneem, maar nie altyd nie. 3 Van die treinstasie af is die mense op oop steenkool- of veetrokke na die kampe vervoer, of hulle nou oud, siek of selfs swanger was! Sommige ma’s het in hierdie moeilike omstandighede geboorte geskenk, en sommige het selfs gesterf. 1

Die konsentrasiekampe

As gevolg van die oorlog en die seuns en mans wat weg was om te gaan veg, was daar reeds teen 1900 ’n klomp vlugtelinge wat na dorpe gegaan het omdat hulle nie meer kos of klere gehad het nie. 6 Ná die grootskaalse vernietiging van die plase was daar nóg duisende vroue, kinders, bejaardes en werkers op plase wat nou hawelose vlugtelinge (sonder blyplek) was. 1

Kinders in die konsentrasiekamp, Turffontein, Johannesburg

Die Britte se oplossing was om hulle in kampe te sit. Die presiese datum waarop die kampstelsel in gebruik geneem is, is nie bekend nie. 3

Die Britte het hierdie kampe refugee camps (vlugtelingkampe) genoem, wat later burgher camps geword het. Die Boere het daarna verwys as konsentrasiekampe, doodskampe, of selfs moordkampe. 1 Die kampe was aan die begin dalk vlugtelingkampe, maar die inwoners is verbied om die kampe te verlaat. Hulle was dus in der waarheid krygsgevangenes in ʼn draadtronk met gewapende soldate wat wag gehou het. 2

Daarom is konsentrasiekampe ʼn meer gepaste naam omdat hulle as gevangenes gedurende die oorlog daar aangehou is. 3

Sommige Boervroue het as verpleegsters in die kampe gewerk.

Die wit konsentrasiekampe

Sowat 150 000 Boerevroue en -kinders is in 48 kampe aangehou. Dit was bykans ʼn derde van die totale wit bevolking (insluitende mans, vroue en kinders, en persone van ander lande) van die twee Boererepublieke in 1899. 1

Wasdag in die Norvalspont-konsentrasiekamp.

Toestande in die kampe

Die toestande het van kamp tot kamp verskil, maar teen ongeveer die einde van 1901 was die toestande haglik (baie sleg). Daarna het dit effens verbeter. 1

Blyplek

Daar was nie genoeg blyplek nie, en baie mense het buite in die reën en bibberweer geslaap. In sommige kampe is sinkhuisies later opgerig, maar die mense het grotendeels in tente geslaap wat meestal te klein was vir die aantal mense wat daarin moes slaap. Die gehalte van die tente het ook verskil – soms was dit nuut, maar baie was oud en verweer (stukkend), dus het dit nie genoegsame beskerming teen slegte weer gebied nie – in sommige kampe het dit in 1901 én 1902 selfs gesneeu! Dink net hoe koud moes die vroue en kinders gekry het. Daar was ook heeltemal te min matrasse en baie min beddens. 1

Die lykshuis in die Kroonstad-konsentrasiekamp.

Higiëne

Higiëne was ʼn groot probleem. Daar was van die begin af ʼn gebrek aan skoon, vars water. Die water moes ook gereeld oor lang afstande aangedra word. Van warm water vir bad was daar nie sprake nie – die kampbewoners het skaars genoeg hout gehad om hul kos warm te maak en moes met koue water in die ysige winter tevrede wees! Seep was ook ʼn luuksheid en daarom kon hulle nie gereeld bad of hul klere was nie. Boonop was die toiletgeriewe walglik (afgryslik) – almal was dus die hele tyd verskriklik vuil! 1

‘n Uitgeteerde seuntjie in die Bloemfontein-konsentrasiekamp.

Vuurmaakhout

Nóg ʼn probleem was vuurmaakhout. Daar was dikwels ʼn tekort aan hout of eintlik enigiets wat kon brand. Vuur was nodig vir hitte, om lig in die aand te maak én om kos gaar te maak. Die meeste kampe het nie sentrale kombuisvure, -toerusting of -oonde gehad nie. Soms het hulle wel groot stompe gekry, maar daar was nie genoeg byle om die hout mee te kap nie. 1

Vroue maak vuurmaakhout in die Jacobs-konsentrasiekamp naby Durban bymekaar.

Kos

Die kos was heeltemal onvoldoende. Hul rantsoene (die klein bietjie kos wat elkeen gekry het, amper soos ʼn kostoelaag) het meestal uit vleis, koffie, ongesifte meel, kondensmelk, suiker en sout bestaan. Hulle het soms aartappels gekry, maar byna nooit enige ander groente of vrugte nie. Die kos was heeltemal te min en die gehalte daarvan baie swak. 1

Gevangenes by ‘n sopkombuis.

Gesondheid

Die karige (gebrekkige of swak) blyplek, sanitêre (toilet-) geriewe en higiëne, die onvoldoende kosrantsoene en ʼn ongebalanseerde dieet, het die mense se weerstand (die liggaam se vermoë om kieme uit te hou of te beveg) teen siektes laat afneem. Lewensgevaarlike siektes soos masels, brongitis en maagkoors het blitsvinnig deur die kampe versprei. Die konsentrasie van so baie mense in klein, oorbevolkte ruimtes het ook bygedra tot die vinnige verspreiding van siektes. 1

Die mediese sorg was uiters gebrekkig. Daar was te min medisyne, dokters en verpleegsters. Selfs die Britte het in November 1901 erken dat daar nie genoeg bekwame mediese personeel was nie. 1

Baie vroue en kinders het in die konsentrasiekampe gesterf.

Skole

Daar was ʼn groot behoefte aan onderwys, en kort nadat die eerste kampe opgerig is, het sommige onderwysers in die kampe Hollandse “skole” begin. Dit was swak bygewoon, want mense kon dit nie bekostig nie. Die Britse kampowerhede (wat in beheer van die kampe was) het besluit om hul eie skole in die kampe te begin, met die hoofdoel om die kinders te verengels (hulle te dwing om Engels te praat). Al die vakke is in Engels aangebied. Om die Boere-ouers te paai (hulle heuning om die mond te smeer!), het van die Britte belowe dat hulle Hollands as vak óf godsdiens in Hollands sou aanbied. 4

Die kinders wou graag skool toe gaan, so ten spyte van die ongelukkigheid oor die Engels, het die getalle vinnig toegeneem. Teen Mei 1902 was daar bykans 17 000 kinders in Transvaalse kampskole, en 12 000 in Vrystaatse kampskole. 4

Skoolmeisies in Aliwal-Noord.

Die onderwys in die kampe was egter nie baie suksesvol nie. Daar was ʼn gebrek (te min) aan skoolgeboue (of eerder tente), skoolbanke en stoele, en leermateriaal soos boeke en skryfbehoeftes. Die gehalte van die onderwys was nie goed nie, want daar was te veel kinders per onderwyser en die onderwysers (wat almal kampinwoners was) was gewoonlik swak opgelei, en die voertaal (die taal waarin hulle klas gegee het) was Engels (wat hulle sélf nie eers onder die knie gehad het nie!). Daar het later onderwysers uit Engeland aangekom, maar dit was te laat – die Britte se plan om die kinders te verengels, was onsuksesvol (het misluk). 1

Die skole was omtrent net ʼn jaar oop en het nie ʼn groot invloed op die kinders gehad nie. Sommige het wel basiese dinge soos rekenkunde (amper soos rekeningkunde of boekhou), wiskunde en Engels begin leer. Tog het die kampe die kinders besig en dus uit die moeilikheid gehou! 4

Vroue en kinders kom in oop trokke na die konsentrasiekamp

Die vroue van “hensoppers” en “joiners

Sommige van die vroue en kinders in die kampe was gesinslede van “hensoppers” en “joiners”. “Hensoppers” (wapenneerlêers of oorgeërs) was die naam wat aan die Boere gegee is wat hulself vrywillig aan die Britte oorgegee het. Daar was selfs Boere wat saam met die Britte teen hul eie manskappe geveg het! Hulle is “joiners” (of aansluiters) genoem. 3

Die gesinne of familie van dié “verraaiers” het spesiale behandeling ontvang, soos om meer kos te kry. Hul mans was dikwels saam met hulle in die kampe. Dié mans kon ekstra geld verdien deur klein werkies in die kampe te verrig, maar kon ook groter take (soos die aandra van hout en water) verrig. Hierdie “bevoorregte” vroue is deur die ander vroue verag (hulle het geen respek vir hulle gehad nie) en baie sleg behandel. 1

Vrywilligers wat help om mediese voorraad uit te deel.

Die gebruik van vroue om die mans tot oorgawe te dwing

Die kampowerhede het die vroue soms probeer gebruik om hul mans te oorreed om oor te gee. Hulle is byvoorbeeld gedreig dat hulle hul plase sou verloor. Partykeer is hulle met ʼn wit vlag na hul mans gestuur om hulle te oortuig om oor te gee. Dit was nie ʼn suksesvolle plan nie – die meeste vroue het geweier om dit te doen. Dié wat wel ingestem het, het die geleentheid gebruik om hul mans aan te moedig om verder te veg. Hulle het onwrikbaar (vas) geglo dat God aan hulle kant was, en hierdie geloof het hulle staande gehou. 1

Die mans wat op kommando was (wat rondbeweeg het om te veg), het baie min direkte kontak met die Britte gehad. Die vroue in die kampe het weer direkte of regstreekse (elke dag) kontak met die Britte gehad. Daarom het die sterkste of grootste weerstand teen die Britte van die Boerevroue af gekom. Baie het die Britte gehaat. Dit was húlle leefruimtes wat afgebrand was, húlle op wie gruweldade gepleeg is en húlle wat die skrikwekkende lyding (swaarkry) van die kamplewe ervaar het. Sommige vroue wou, en het, verbete (hard) probeer keer dat die mans oorgee. 2

Emily Hobhouse bring verandering

In 1901 het Emily Hobhouse, die dogter van ʼn predikant van Engeland, van die kampe besoek. Sy het daarna die ellendige toestand in die kampe in Brittanje bekendgemaak, en is self terug Brittanje toe om voorrade vir die vroue en kinders in die hande te kry. Toe sy na Suid-Afrika teruggekeer het, het die Britte geweier dat sy weer die kampe besoek. Sy het egter aangehou om vir die kampslagoffers kos en klere bymekaar te maak. 1

Emily Hobhouse

Barbaarse Britte

Lord Kitchener het die konsentrasiekampe probeer goedpraat deur vir die wêreld te vertel dat dit vlugtelingkampe was, en dat dit beter vir die vroue was om in die kampe te wees as in die veld. Maar min mense het hom geglo, veral ná Emily Hobhouse se besoek. 1

Hoe meer inligting in die Britse en Europese media na vore gekom het, hoe meer kritiek het die mense na Brittanje geslinger. Europese koerante het die Britte as wreed uitgebeeld. In Brittanje is die Britse regering deur hul opposisie (teenstanders) daarvan beskuldig dat hulle barbaarse (baie wrede of onmenslike) metodes in die stryd teen die Boere gebruik het. Dit is danksy Hobhouse se volgehoue pogings en harde werk dat die omstandighede in die kampe mettertyd verbeter het. 1

Verwoesting van die verskroeideaardebeleid

In Oktober 1902 het die Britte erken dat daar omtrent 30 000 plaasopstalle (plaashuise) verwoes is. Dit beteken daar was baie min huise wat ongeskonde (nie beskadig) gebly het. 1 En natuurlik was dit nie net die plaas- en arbeidershuise wat vernietig is nie, maar ook die plaasdiere, die landerye, die groentetuine en vrugteboorde. 1

Die Britte het nie net huise afgebrand nie, maar ook enkele dorpies soos Reitz, Ventersburg en Lindley in die OVS. Hierdie dorpies is heeltemal verwoes – selfs die kerke is afgebrand! 1

In enkele gevalle was lede van die Boeremagte doelbewus betrokke by die vernietiging van wonings en plase van Brits-gesinde families. 1 Daar is egter ʼn belangrike verskil: Die Boerekommando’s wat plase afgebrand het, het op hul eie opgetree, sonder die toestemming van hul regering. Daarteenoor het die Britse soldate bevele gehoorsaam, want dit was Brittanje se amptelike opdrag (proklamasie) vir só ʼn beleid. 3

Omvang van die konsentrasiekampsterftes

Die meerderheid van sterftes in die kampe kon waarskynlik verhoed (gekeer) word deur beter kampadministrasie (beheer of bestuur). Die mense het gesterf aan siektes, die siektes het versprei weens oorbewoning, wanvoeding en haglike higiëne. Laasgenoemde is veroorsaak is deur swak watervoorsiening, gebrekkige toiletgeriewe, en somtyds die kampinwoners se eie onhigiëniese gewoontes. 3

Die meeste wit mense wat in ʼn sekere tydperk gesterf het, is tussen Augustus en Oktober 1901 aangeteken. 1 In Oktober 1901 is die hoogtepunt bereik toe 3 205 mense dood is. Dit kom neer op 344 per 1 000 per jaar! Skattings oor hoeveel mense in totaal gesterf het, verskil, maar baie bronne meen dat daar sowat 28 000 mense in die kampe dood is. 2

Begrafnis in ‘n konsentrasiekamp.

Die uitwerking van die konsentrasiekampe

Die kampe was eerstens ʼn traumatiese ervaring vir die vroue. 1 Die lyding het dit duidelik gemaak dat oorlog ʼn jammerlike en slegte gebeurtenis eerder as ʼn heldhaftige of dapper avontuur is. 2 Dit het by baie vroue ʼn haat vir die Britte geskep – ʼn gevoel wat hulle vir jare gekoester het.

Vir die Boerevegters het die sterftes en lyding van hul vroue en kinders hulle emosioneel ondermyn (hulle baie seer gemaak). 2 Dít, en die verwoesting van hul plase, was uiteindelik een van die belangrikste redes waarom die Boere besluit het om oor te gee.

Baie kindertjies is wees (sonder ouers) gelaat.

Generaal Koos de la Rey het in sy besluit om oor te gee, só daarna verwys: “Daar word gesê dat ons tot die bitter einde moet veg. Hou in gedagte dat alles – vee, goedere, geld, vrou en kind – opgeoffer is. Daar is mans en vroue wat niks meer as blote vel oor hul naakte liggame dra nie. Is dít nie die bitter einde nie?” 5

Die totale Boeresamelewing wat deur die oorlog geraak is, was sowat 200 000 mense. 2

Swart konsentrasiekampe

Daar het ook talle swart mense op die plase gewoon en gewerk. Hulle het dikwels hul eie gewasse (soos mielies en koring) en vee (diere soos beeste en skape) op die plase gehad. Die afbrand van die plase het hulle dus óók haweloos en hulpeloos gelaat. Konsentrasiekampe, wat Native Refugee Camps genoem is, is spesiaal vir húlle opgerig. 2

Soos met die ander kampe wou die Britte keer dat die swart mense nie vrywillig (of onvrywillig) hulp aan die Boere – soos kos, vee, of inligting – bied nie. Daarom mag hulle nie die kampe verlaat het nie – dit was die Britte se manier om hulle te beheer. 6

Daar wás egter ʼn paar verskille tussen die wit en swart kampe. Eerstens wou die Britte swart arbeid vir hul oorlogspoging hê, en daarom is dié kampe naby aan treinstasies opgerig. Tweedens het die Britte probeer om die swart mense selfversorgend te maak deur aan hulle grond en toerusting te gee om mee te boer. 6

Die lewe in die swart kampe was waarskynlik erger (slegter) as in die wit kampe. Die swart kampbewoners het minder kos as die wit mense gekry , moontlik omdat die Britte bang was dat dit hulle sou keer om selfversorgend te word. 5 Siektes was epidemies (die mense het vinnig by mekaar aangesteek of siektes gekry) en daar was min (soms geen) behuising en toiletgeriewe nie. 7

Daar was ook nie sprake van skole in die swart kampe nie. Mediese dienste was beperk. Indien daar wel mediese sorg was, was die doel hoofsaaklik om te keer dat siektes nie na die wit gemeenskappe of kampe versprei nie. 7

Syfers oor die swart kampe se inwoners en sterfgevalle is skattings, want daar was nie goeie of behoorlike verslaggewing gedoen nie. 2 Na beraming was daar teen Augustus 1901 sowat 53 000 swart inwoners in kampe uit ʼn totale bevolking van meer as 923 000 – dus 6% van totale bevolking. Met die vredesluiting was daar 38 swart kampe in Transvaal met byna 56 000 inwoners, en sowat 60 500 mense in 30 kampe in die Oranje-Vrystaat. 5

Die sterftesyfer onder die swart mense was baie hoog as gevolg van siekte. Teen November 1901 het ongeveer 363 per 1 000 mense gesterf. Die hoogste getal sterftes in die swart kampe is in Desember 1901 gemeet, toe 2 831 mense dood is. Die totale sterftes in al die swart kampe saam word op tussen 14 000 en 20 000 gereken. 5

Die swart mense wat aan die einde van die oorlog nog in kampe was, se situasie was benard (baie sleg). Daar was min werkgeleenthede en baie wou nie weer vir die Boere gaan werk het nie. Die Britse regering het ook nie juis veel gedoen om hulle te help nie. Daar was boonop ʼn gebrek aan saad vir landbou, en die vergoeding wat hulle gekry het, was ’n druppel aan die emmer. 6

Boerekrygsgevangenis in die Deadwood-kamp, St. Helena.

Woordbank

barbaarse Onbeskaafde mens, wreedaard, monster, geweldenaar, ongevoelige mens.
guerrilla-taktiek Klein oorloggie, waarin die een kant in klein, beweeglike groepies rondbeweeg.
haglik Ellendig of sleg.
hawelose Sonder blyplek of besittings.
heenkome Toevlug (huisvesting) of middel van bestaan.
higiëne Iets wat betrekking het op die behoud van gesondheid (skoon en kiemvry).
ondermyn Heimlik iemand of iets se posisie verswak.
onwrikbaar Iets wat baie stewig vassit; iets onvoorwaardelik glo.
staande bly Oorleef, jou man staan, nie ondergaan nie.
plunder Roof of steel.
traumaties Veroorsaak deur ʼn baie slegte of onaangename ondervinding/gebeurtenis.
vlugteling Iemand wat gevaar ontwyk/vryspring en veiligheid soek deur te vlug.
voertaal Die taal wat ʼn onderwyser gebruik om ʼn les te gee.  8

Lees hierdie om meer te leer oor die ABO

Kyk hierdie om meer te leer oor die ABO

Die Anglo-Boereoorlog (deel 1)

Die Anglo-Boereoorlog (deel 2)

Emily Hobhouse ontbloot die lot van Boerevroue en -kinders in Britse konsentrasiekampe

Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902)

Kinders en die ABO (1899-1902)

 

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 20 Julie 2022 | Bygewerk op 27 Februarie 2024