Vinnige feite

  • Matthee het baie daarvan gehou om gholf te speel en het selfs een keer ’n vroue-gholftoernooi in Rondebosch, Kaapstad gewen.
  • Sy is die enigste Suid-Afrikaanse skrywer wat al meer as 1 miljoen Afrikaanse boeke verkoop het!
  • Daar is al meer as een rolprent oor Fiela se kind gemaak en ander boeke, soos Toorbos, is ook in flieks verewig. Die eerste fliekweergawe van Fiela se kind was onder regie van Katinka Heyns met Shaleen Surtie-Richards as Fiela Komoetie.
  • Daar is ook al toneelstukke van Fiela se kind gemaak en selfs ’n opera! Dis in 1993 as ’n Engelse opera deur die studente van die Wits-musiekskool uitgevoer met musiek deur prof. Carl van Wyk en lirieke deur Andries van der Walt.
  • Fiela se kind is in 1999 as ’n musiekblyspel in Kaapstad opgevoer deur Ian von Memerty en is met twee Vita-toekennings bekroon.
  • Fiela se kind is in 1999 as Afrikaanse Boek van die Eeu aangewys. Tolkien se Lord of the Rings was eerste, met Fiela tweede en Kringe in ’n bos in die derde plek.
  • Matthee se eerste bosboek, Kringe in ’n bos, is in Engels, Portugees, Nederlands, Frans, Yslands, Spaans, Hebreeus, Duits, Sweeds, Italiaans, Fins en Noorweegs vertaal.
  • Exclusive Books het in 2006 ’n lys van 101 boeke saamgestel wat mense moet lees voor hulle doodgaan. Slegs drie Afrikaanse boeke het die lys gemaak, en twee daarvan was Matthee se boeke: Kringe in ’n bos en Fiela se kind.
  • Die bekende Afrikaanse skrywer, wyle Elsa Joubert, het oor Matthee gesê dat sy dit reggekry het om mense, wat nooit Afrikaans lees nie, Afrikaans te laat lees.
  • Wyle oudpresident Nelson Mandela het van Dalene Matthee se boeke gelees terwyl hy in die tronk op Robbeneiland was. Hy het Matthee gebel om haar geluk te wens met haar boek Pieternella van die Kaap, wat onder meer op Robbeneiland afspeel.

 

Haar boeke het ’n hele generasie van mense van die Knysnawoud en sy inwoners gemaak. Dalene Matthee (1938-2005) was die skrywer van die bekende “bosboeke”, naamlik Kringe in ’n bos, Fiela se kind, Moerbeibos en Toorbos. Matthee het 12 romans en een kinderboek geskryf en haar boeke is in 14 tale vertaal. Haar boeke word al jare lank as voorgeskrewe boeke in skole gebruik.

Wie was Dalene?

Dalene Matthee is op 13 Oktober 1938 op Riversdal in die Suid-Kaap gebore. Haar pa was ’n bouer en sy naam was Danie Scott. Haar ma se naam was Hester en sy was ’n tuisteskepper. Die Scotts het vyf kinders gehad en Dalene was die middelkind, met twee boeties en twee sussies. Sy het reeds as kind goeie opstelle geskryf en het by die Hoërskool Langenhoven op Riversdal gematrikuleer.

Sy was baie lief vir lees en die eerste boek wat haar aangegryp het, was The Water Babies van Charles Kingsley. 1

Dalene het in 1957 met Larius Matthee, ’n bankklerk by Standard Bank in Riversdal, getrou. Hulle het kort daarna na Oudtshoorn getrek. Dalene was al op skool musikaal en het klavierlesse gevat. Sy het op Oudtshoorn haar klavieropleiding by die Van Zyl-musiekskool verder geneem.

Die paartjie se eerste dogter, Amanda, is in 1959 gebore en nog ’n dogter, Toni, is in 1961 gebore. Die Matthees moes baie rondtrek vir Larius se werk en in 1962 trek hulle na Darling waar hul derde dogter, Hilary, gebore is. Matthee het in daardie tyd begin om kinderstories vir die destydse SAUK (nou SABC) se Siembamba-radioprogram geskryf.

Hulle het in 1967 weer getrek, hierdie keer na Graaff-Reinet en Matthee het ’n halfdagpos as ’n kurator vir die Hester Rupert-kunsmuseum gekry. Sy het ook deel van verskeie restourasieprojekte geword en sodoende baie oor geskiedenis en restourasiewerk geleer.

Haar eerste stories

Dalene het begin om kortverhale vir Afrikaanse tydskrifte soos vir die Sarie en Huisgenoot te skryf. Sy het terselfdertyd haar klavierlisensiaat onder Suster Felix by die Holy Cross Convent op Graaff-Reinet behaal en klavierlesse vir kinders gegee. Haar eerste boek is in 1970 gepubliseer. Dit was ’n kinderboek genaamd Die Twaalfuur-stokkie.

Die gesin het later na Uniondale getrek waar haar man die bankbestuurder van Standard Bank was. Matthee het ervaring as deel van dr. Anton Rupert se restourasiespan opgedoen en het twee historiese geboue in Uniondale gerestoureer. Dit was ’n watermeule en ’n ou fort.

Matthee se man, Larius, het in 1977 weens swak gesondheid afgetree en die gesin het na Hartenbos in die Suid-Kaap getrek. Matthee het begin om boeke te skryf en uit te gee en ’n staptog het gelei tot ’n liefde vir die Knysnabos en ’n reeks boeke wat haar bekend sou maak. 2

Liefde vir die bos

Dit was ’n staptog wat Dalene Matthee geïnspireer het om haar trefferboeke te skryf. Sy en haar man, dogter Amanda, broer Hardy, en skoonsuster Mineé, het in 1978 op ’n driedaagse staptog in die Knysnabos gegaan.

Die bome het haar gefassineer en sy het allerhande vrae oor die inheemse en uitheemse bome gehad. Sy het byvoorbeeld akkerbome in die middel van die inheemse bos gesien en gewonder hoe hulle daar beland het. Met haar terugkeer huis toe, het sy ’n museum op Knysna besoek om meer oor die bome uit te vind en het toe op baie inligting afgekom. [Lees meer hier oor inheemse en uitheemse plante.]

Sy het begin om navorsing te doen en Kringe in ʼn bos geskryf en het selfs gestop om klavier te speel en haar heeltemal aan haar skryfwerk toegewy. Die boek is in 1984 uitgegee.

Sy was baie lief vir die Knysnabos en het dikwels vir ’n paar dae daarheen gegaan. Sy het ook nagte daar deurgebring as deel van haar navorsing. Oor die bos, het sy die volgende gesê: “Ek gaan bos toe om te herlaai. Ek is op my gelukkigste in die bos. Dit maak jou siel skoon, jy raak van ’n paar onnodige dinge ontslae.” 1

Laaste jare

Matthee se man, Larius, het in 2000 aan kanker gesterf en sy het in 2003 na Mosselbaai getrek. Sy het daar haar vierde bosboek Toorbos voltooi. Sy het ook Die uitgespoeldes, ’n historiese roman, voltooi.

Sy het op 20 Februarie 2005 aan hartversaking gesterf en het slegs tien dae voor haar dood die Engelse vertaling van Die uitgespoeldes voltooi. Dit was haar wens dat haar as by Krisjan-se-Nek in die Knysnabos gestrooi moet word. Dit is ook so gedoen. Daar is ná haar dood ’n gedenkteken vir Matthee in die Knysnabos opgerig. Dit staan langs ’n groot geelhoutboom, wat omtrent 900 jaar oud is, en dit is by die begin van die Kringe in ’n Bos-staproete. 1

Toekennings

Matthee is verskeie kere in haar leeftyd en selfs ná haar dood vereer. Sy was vier keer die ontvanger van die ATKV-prosatoekenning. Sy het ook onder meer ’n eremedalje van die Universiteit van Pretoria ontvang, en ’n toekenning van die Suid-Afrikaanse Instituut van Boswese vir haar werk oor die Knysnawoud.

Sy het ook ereburgerskap van die dorpe Riversdal en Hartenbos gekry. Sy was ook die eerste Suid-Afrikaner om ’n toekenning van Die Stiftung für Abendländische Ethik und Kultur (STAB) – in Afrikaans: Die Stigting vir Westerse etiek en kultuur – in Zürich, Switserland te ontvang. Die toekenning erken werk wat ’n bydrae tot die Westerse kultuur lewer. Die Suid-Afrikaanse departement van kuns en kultuur het ook in 2007 die Suid-Afrikaanse literêre toekenning postuum aan haar toegeken. Nog ’n toekenning wat ná haar dood aan haar toegeken is, was in 2016 toe sy by die Sanlam Knysna-toekennings vir haar bydrae tot Knysna en die gemeenskap vereer is. 3

Dalene Matthee se boeke

Die twaalfuur-stokkie, 1970

’n Huis vir Nadia, 1982

Die Judasbok, 1982

Petronella van Aarde, Burgemeester, 1983

Kringe in ’n bos, 1984

Fiela se kind, 1985

Moerbeibos, 1987

Brug van die esels, 1992

Susters van Eva, 1995

Pieternella van die Kaap, 2000

Toorbos, 2003

Die uitgespoeldes, 2005

Om ’n man te koop, 2007

Nadia, 2013 4

Woordbank

ereburgerskap Iemand word op ’n spesiale manier vereer deur ’n burger van die stad genoem te word.
fort ’n Vesting waar troepe gestasioneer word.
generasie ’n Geslag van mense. Gemiddelde tydperk wat ’n groep leef.
inheemse Eie aan ’n gebied.
kurator Iemand wat toesig hou oor versamelings (in hierdie geval kuns en geskiedkundige voorwerpe).
lisensiaat Sertifikaat wat ’n mens kry as jy ’n gevorderde eksamen aflê.
postuum Ná iemand se afsterwe.
restourasie Herstel/opknap.
romans ’n Lang prosaverhaal.
SABC Suid-Afrika se nasionale uitsaaier, die South African Broadcasting Corporation.
watermeule ’n Meul wat deur water aangedryf word.
voorgeskrewe boeke ʼn Boek wat skoolkinders as deel van die kurrikulum lees en bespreek.
uitheemse Uitlands, kom nie natuurlik in ’n gebied voor nie.

Lees die volgende artikels oor Matthee

Kyk hierdie video’s oor die interessante skrywer Dalene Matthee

ʼn Kort kykie na haar lewe

Sandra Prinsloo voer ʼn onderhoud met Dalene Matthee

Knysna-kunstenaars bring hulde aan Matthee

Kyk na die oorspronklike, vollengte en eerste rolprent van Fiela se kind (1988)

ʼn Kort uittreksel uit die musiekblyspel Fiela se kind (2011)

In 2019 het hulle ʼn nuwe weergawe van Fiela se kind gemaak. Kyk hier na die lokprent

Lokprent van die fliek Toorbos (2020)

Stap saam deur die Knysnabos

Oupoot, die laaste oorlewende olifant in die Knysna-bos

Is daar feetjies in die Knysnabos?

Gepubliseer op: 16 Oktober 2023 | Bygewerk op 22 Februarie 2024