Vinnige feite
- Voltaire en ’n wiskundige vriend het uitgewerk dat die Franse regering meer geld in die Franse lotery uitbetaal het as wat die kaartjies werd was. Hulle het dié inligting gebruik om die lotery te fop en skatryk geword. 6
- Daar is baie weergawes van Voltaire se laaste woorde. Volgens een staaltjie het ’n priester hom aangemoedig om vir Satan te verwerp. Voltaire het geantwoord: “Nou is nie ’n tyd om nuwe vyande te maak nie!” Dié staaltjie is egter onwaarskynlik waar. 3
- Katerina die Grote, die beroemde Russiese keiserin, was ’n groot aanhanger van Voltaire, én hy van haar. Hulle het gereeld vir mekaar briewe geskryf. Hy het op ’n stadium ’n portret van haar bo sy bed opgehang. 8
- Voltaire was een van die mense wat met die mite dat Newton aan swaartekrag gekom het toe hy ’n appel uit die boom sien val het, vorendag gekom het en versprei het. Daar is geen bewys dat dit waar is nie. 13
Verbeel jou jy is só bekend en invloedryk dat daar ’n hele tydperk in Europa se geskiedenis na jou vernoem word! Die Franse skrywer en wysgeer Voltaire kan dít van homself sê. Sy impak op hoe mense gedink het, was só diepgaande dat die Verligting in Europa in die 18de eeu soms die Era van Voltaire genoem word.
Grootwordjare
Voltaire was die skuilnaam van François-Marie Arouet. 1 Hy is op 21 November 1694 gebore. 2
Voltaire het uit ʼn gegoede, laer-adellike familie in Parys gekom. 2 Sy ouers was Marie Marguerite d’Aumart en François Arouet, ’n prokureur en staatsamptenaar. 3
Voltaire was die jongste van vyf kinders. Hy was sewe jaar jonger as sy suster, wat die tweede jongste was. Teen die tyd dat hy gebore is, het twee van sy broers alreeds gesterf. 3 Sy ma het gesterf toe hy sewe was. 2
In 1704 het hy by die Collége Louis-le-Grand, ’n uitstekende Jesuïet-skool in Parys, ingeskryf. 2 Voltaire het vakke soos Latyn, retoriek en teologie gehad. 3 Hy was ’n skitterende student. 4
Hy het van jongs af skryftalent openbaar, 4 en waarskynlik op skool al besluit dat hy ’n skrywer wil wees. Dit het sy pa, wat wou hê dat Voltaire in sý voetspore moet volg en ’n loopbaan in regte kies, ontstel.
Voltaire was ’n ywerige leerder en leser. In sy vrye tyd het hy homself Engels, Italiaans en Spaans geleer! 3
Vroeë werkslewe
Voltaire het ná skool in Parys gaan woon, en om sy pa tevrede te stel, vir ’n ruk lank gemaak of hy regte studeer. Hy het egter die tyd gebruik om sy skryfvermoë te verbeter.
In 1713 het hy vir ’n kort rukkie vir die Franse ambassadeur in Nederland gaan werk. Hy het teruggekeer Frankryk toe en begin om ’n loopbaan as skrywer te bou. 3
Vroeë skryfloopbaan en polemiek
Voltaire was van vroeg af uitgesproke oor dít wat hy gevoel het is fout in die samelewing. Hy was veral krities oor die Franse monargie en die Rooms-Katolieke Kerk. Hy het gevoel dat hulle mense onderdruk het. 3 Om hul foute uit te wys, het hy satires oor belangrike politieke figure en die regering geskryf. 5
In sommige kringe was sy skryfwerk baie gewild, maar hy het ook in die proses ’n paar invloedryke vyande gemaak. 3
In Mei 1716 het hy die hertog van Orléans, ’n hegte familielid van die Franse koning, bespot. 6 Hy is tot ’n jaar se tronkstraf in die Bastille, ’n Franse fort wat as tronk vir vyande van die regering gebruik is, gevonnis. 7
Kort nadat hy in 1717 vrygelaat is, is sy debuuttoneelstuk, Oedipus, 1 die eerste keer opgevoer. Dit was ’n sukses. 3
Rondom 1718 het hy die skuilnaam “Voltaire” begin gebruik. 4 Tot vandag toe is niemand seker wat dit beteken, of hoekom hy dit verander het nie. Die beste raaiskoot is dat dit ’n anagram van sy naam is. 6 Hy wou homself moontlik op dié manier van sy pa skei. 8
Voltaire was besig om homself as dramaturg en digter te vestig. In 1723 is sy heldedig La Hendriade met groot lof gepubliseer. 1
Engeland
In 1726 het sy loopbaan ’n knou gekry toe hy in ’n stryery met ’n invloedryke jong adellike betrokke geraak het. Hy is weer in die Bastille aangehou, maar het ná ’n kort rukkie die owerhede oortuig om hom eerder na Engeland te verban. 2 Hy het vir drie jaar in Engeland gewoon. Dié ballingskap sou ’n beslissende invloed op sy lewe hê. Hy is blootgestel aan nuwe idees, 4 soos die liberalisme van John Locke, die wetenskap van Isaac Newton, 5 en die letterkunde van Jonathan Swift en Alexander Pope. 3
In Engeland het sy benadering tot sy skryfwerk meer filosofies geword. 1 Hy het ook sy styl uitgebrei en begin prosa skryf.
In Engeland het hy aan ’n reeks essays getiteld Lettres philosophiques, oftewel Filosofiese briewe (ook bekend as Briewe oor die Engelse nasie), begin skryf. 4 Hierin het hy die Engelse en Franse nasies met mekaar vergelyk. Volgens hom het Frankryk maar sleg afgesteek.
Voltaire het gevoel dat Engeland se konstitusionele monargie bo die absolute monargie van Frankryk uitgetroon het. 3 Vir Voltaire was die beste regering een waar ’n monargie regeer het, maar waar die monargie se mag deur ’n grondwet en parlement ingeperk is. 1 Hy het Engeland geprys vir hul vryheid van spraak, 3 vryheid van geloof, en die feit dat verskillende Christelike denominasies toegelaat is (teenoor Frankryk waar almal basies Katoliek moes wees). 1
Inhegtenisname en verbanning
Voltaire het in 1729 teruggekeer Frankryk toe. In dié tyd het hy geld geërf en ook ’n besigheidstransaksie aangegaan wat hom skatryk gemaak het. Hy kon nou heeltyds skryf.
Briewe oor die Engelse nasie is in 1733 in Engeland en die volgende jaar in Frankryk gepubliseer. Die boek is onmiddellik deur die Franse regering verban. Om tronkstraf te vermy, is Voltaire gedwing om uit Parys te vlug. 3
Madame du Châtelet
Voltaire het vir die volgende amper 15 jaar by sy minnares, die markiesin Émilie du Châtelet, op haar man se landgoed in Cirey-sur-Blaise in die weste van Frankryk gaan woon. 2 Sy was getroud, ’n moeder en 12 jaar jonger as hy. 3 Haar man het geweet van die verhouding en dit goedgekeur. 9 Die herehuis was effens vervalle toe Voltaire daar ingetrek het, en hy het betaal om dit op te knap. 3
Émilie du Châtelet was ’n briljante wiskundige en student. Sy en Voltaire het saam geskiedenis en fisika studeer, 1 boeke versamel en eksperimente gedoen.
Hulle was ywerige ondersteuners van Newton. Hulle het baie essays oor sy werk geskryf, en het ’n sleutelrol gespeel om sy idees aan die Franse bekend te stel. 3
Buiten sy werk saam met Émilie het Newton aanhou poësie, drama en fiksie skryf. 4 Hy was steeds uiters uitgesproke oor die godsdienstige onverdraagsaamheid van die Rooms-Katolieke Kerk. 3
Terug in Parys
Teen die 1740’s het Voltaire se verhouding met die Franse regering begin verbeter. 4 Tussen 1745 en 1747 was hy die koninklike historikus. 1 Hy het ook in 1746 lid geword van die Académie Francaise, 4 die raad in beheer van die Franse taal. 10
Hy het ook diplomatieke sendings en spioenasietogte vir die regering onderneem. 1
Voltaire was nou op die kruin van sy loopbaan. Hy was die vooraanstaande Franse digter en dramaturg van sy tyd. 4
Pruise
Voltaire het sedert die 1730’s met Frederik II, die toekomstige koning Frederik die Grote van Pruise, ’n briefwisseling gevoer. Hy het hom in 1743 vlugtig besoek, toe hy vir die Franse koning oor ’n politieke kwessie moes gaan spioeneer.
In die middel van die 1740’s het Voltaire se verhouding met Émilie doodgeloop. Hy het ’n verhouding begin met sy susterskind, Marie Louise Mignot. 3
Tussen 1750 en 1753 het hy in Berlyn in Frederik II se hof gaan inwoon. 4 Voltaire het die Pruisiese koning as verligte despoot bewonder, en wou sy regeringstyl bestudeer. 1
Dit het egter nie lank gehou nie. Voltaire het ’n belangrike Pruisiese persoon mondelings aangeval en die koning het sy geduld met hom verloor. Voltaire het Berlyn verlaat, ontnugter deur Frederik en die idee van verligte despotisme. 4
Hulle het egter teen die 1760’s vrede gemaak, 4 en hul briefwisseling voortgesit. 4
Genève
Koning Louis XV het Voltaire verbied om terug te keer Frankryk toe. 3 Hy het dus ná ’n tyd van rondswerwery in 1755 ’n huis in Genève in Switserland gekoop. 4
Voltaire het nou ’n rustiger fase van sy lewe ingegaan. Hy het baie geskryf en gelees. Een van sy invloedrykste werke van dié tyd was Essai sur les mœurs et l’esprit des nations (Essay oor die sedes en gees van nasies), ’n geskiedenisboek wat in 1756 gepubliseer is.
Hy het ook in Genève aan sy bekendste werk, Candide, gewerk. Dit is in 1759 gepubliseer. 1
Voltaire het egter in Genève met die kerklike owerhede in ’n onderonsie betrokke geraak, en besluit om Switserland te verlaat. 4
Ferney
Voltaire kon nie Parys toe gaan nie omdat hy bang was die regering sou hom weer verban. Hy het dus ’n huis gekoop in Ferney, 4 naby die Franse grens met Switserland. 1
Hy het vir die res van sy lewe hier gewoon. Wanneer hy nie geskryf het nie, het hy graag tuingemaak. 1
In sy latere jare het Voltaire se skryfwerk al hoe meer radikaal geword. Hy het mense aangemoedig om te veg vír verdraagsaamheid en geregtigheid, en téén onderdrukking. 4
Van 1762 het hy betrokke geraak by ’n reeks hofsake van Hugenote wat onregverdig vervolg is as gevolg van hul geloof. Een saak was byvoorbeeld dié van Hugenoot Jean Calas. Calas is doodgemartel omdat hy blykbaar sy seun doodgemaak het toe dié ʼn Katoliek geword het. Die aanklagte teen hom was vals, en sy skuldigbevinding is as gevolg van Voltaire en andere se werk teruggetrek. 3
Laaste maande in Parys en dood
In Februarie 1778 het sy vriende hom oortuig om Parys te besoek. Dit was die eerste keer sedert 1750 dat hy Parys besoek het. 4
Hy het ’n heldeontvangs as ikoon van die Verligting gekry. 2
In Parys het hy saam met vriende gekuier. Hy het ook ’n opvoering van een sy toneelstukke, Irene, gesien.
Hy het egter op pad Parys toe siek geword, en was te siek om na Ferney terug te keer. 4
Hy sterf op 30 Mei 1778 in Parys. 2
Omdat hy die Rooms-Katolieke Kerk só fel gekritiseer het, het die kerk geweier om vir hom ’n Christelike begrafnis te gee. Sy vriende het egter in die geheim gereël dat hy begrawe word. 3
Gedurende die Franse Revolusie is sy lyk in die Panthéon-grafkelder in Parys begrawe. 1 Dit is ’n eer wat slegs vir helde van die Franse nasie toegeken word. 11
Voltaire se werke
Voltaire was ’n filosoof, historikus en polemikus. Hy was egter bo alles ’n skrywer, en dít is waar sy ware nalatenskap lê. 4
Hy het in omtrent elke skryfstyl en genre wat daar was, geskryf: poësie, heldedigte, odes, satires, dramas, komedies, tragedies, 4 toneelstukke, boeke en essays. 2
Hy was ongelooflik produktief. 3 Hy het meer as 2 000 boeke en pamflette geskryf. 5 Daarby het hy meer as 20 000 briewe aan vriende en tydgenote geskryf. Hy het tot 18 uur per dag gewerk, en selfs in die bed geskryf! 6
Sommige van sy bekendste werke sluit in:
Poësie
The Hendriade (1723)
Toneelstukke
Mariamne (1724)
Zaïre (1732)
Mahomet (1736)
Nanine (1749)
Historiese werke
Die Era van Louis XIV (1715)
Essays oor die sedes en gees van nasies (1756)
Filosofie
Micromégas (1752)
Plato se droom (1756)
Dictionnaire Philosophique (1764)
Candide (1759)
Candide is ’n satiriese novelle wat alom as Voltaire se grootste werk beskou word.
Die boek is ’n filosofiese en godsdienstige parodie. 2 Dit bevat sy opinies oor ander filosowe, die Katolieke Kerk en die Franse staat. Die doel van die boek was om die gebreke in die Franse samelewing uit te lig, en te bewys dat praktiese oplossings nodig was. 1
Voltaire en die Verligting
Die Verligting van die 17de en 18de eeu word soms die Era van Rede genoem.
Die “Philosophes” (Frans vir “filosowe”) was skrywers, intellektuele en wetenskaplikes wat die Franse Verligting gedurende die 18de eeu gevorm het. 12
Filosowe het gestreef na kritiese denke, menseregte, godsdiensvryheid en rasionaliteit. 8 Die idee het ontstaan dat mens ’n nuwe samelewing kan skep sonder die beperkings en onderdrukking van konings en die Rooms-Katolieke Kerk. 13
Voltaire is deur Verligting-denkers soos Newton, John Locke en Francis Bacon geïnspireer. Hy het ’n belangrike rol gespeel om hul idees in Frankryk bekend te stel, en die Verligting in Frankryk aan te vuur. 4
Voltaire se idees
So wat wou Voltaire presies hê?
- ’n Vrye, liberale gemeenskap, met vryheid van godsdiens en vrye handel. 2
- Hervorming van ou idees en institusies. 3
- Die gebruik van wiskunde en wetenskap en nuwe tegnologie om mense se lewens te verbeter. 5
As dit kom by geloof, was hy ’n deïs. Dit beteken hy het aan ’n skepper geglo, maar nie een wat ná die skepping verder ‘n aktiewe rol in mense se lewens speel nie. 1
Hy was uiters krities oor georganiseerde gelowe soos Christenskap, Judaïsme en Islam, omdat hy geglo het dat hierdie gelowe onverdraagsaamheid teenoor ander mense aanmoedig.
Voltaire was ’n vroeë voorstander van diereregte. Hoewel daar beweer word dat hy ʼn vegetariër was, is daar geen bewyse dat Voltaire vegetarisme beoefen het nie, alhoewel die idee in sy geskrifte duidelik na vore kom gekom het. 14
Voltaire se impak en nalatenskap
Voltaire is nie noodwendig bekend vir sy eie oorspronklike idees nie.
Sy bydrae tot die Verligting is eerder oor hoe goed hy idees kon uiteensit sodat enigiemand dit kon verstaan. Hy was ’n man van woorde, wat sy skryfwerk gebruik het om mense te oortuig om tot aksie oor te gaan. Hy was soos ’n joernalis in dié opsig dat hy besef het hoe belangrik publieke opinie was. Hy het dus sy bes gedoen om die manier hoe gewone mense gedink het, te verander.
In sy leeftyd het sy persoonlike invloed wyd gestrek. 4 Hy was bekend as iemand wat opgestaan het vir wat hy glo, en nie stilgebly het as mense hom probeer stilmaak het nie. 8
Hy het die idees wat hy teengestaan het – vooroordeel, bygeloof, geloofsvervolging en absolute monargie – só suksesvol verkeerd bewys dat dit tot ’n groot mate in Frankryk gesterf het. Dit het nuwe idees toegelaat om in hul plek te groei en floreer. 1
Daarom kan hy gesien word as die vonk wat die Franse Revolusie, wat in 1789 uitgebreek het, aan die gang gesit het. Die Franse Revolusie wou juis ’n samelewing op Voltaire se idees van verdraagsaamheid, liefde vir rede en vryheid bou. 5
In Frankryk is hy ’n ikoon. Hy is een van die bekendste Franse mense ooit. 4
Woordbank
aan te vuur | Opsweep, aanspoor, aanhits. |
absolute monargie | Wanneer die monargie (koningshuis) al die politieke mag het. |
ambassadeur | ’n Persoon wat sy land in ’n ander land verteenwoordig. |
anagram | Wanneer mens die letters van ’n woord gebruik om ’n ander woord te vorm. |
bygeloof | Geloof aan wonderdadige werkings of verskynsels. |
debuuttoneelstuk | ’n Toneelstuk se eerste optrede. |
deïs | ’n Persoon wat glo in ’n skepper, maar nie een wat daarna ‘n aktiewe rol in sy skepping speel nie. |
denominasies | Klasse, groepe of kerkgenootskappe. |
diplomatieke sendings | ’n Opdrag of taak wat op ’n ander plek verrig moet word. ’n Mens word dus op ’n sending gestuur om werk namens jou land in ’n ander land te doen. |
doodgemartel | Wanneer jy doodgaan nadat iemand jou vir lank moedswillig baie seergemaak het. |
drama | Toneelspel. Direkte voorstelling deur handeling, dialoog, mimiek en gebare van menslike gebeure; gebeurtenis met dramatiese elemente. |
dramaturg | Skrywer van toneelstukke; iemand wat dramas skryf. |
essays | Opstelle, artikels; kort verhandelings. |
fel | Hewig, heftig, sterk, skerp. |
filosofies | Wysgerig, diepsinnig/diepdenkend, geleerd, belese, skerpsinnig, lewensbeskouend. |
fisika | Wetenskap wat handel oor die verskillende vorms van lewelose materie en oor dié van hulle verskynsels waarby geen verandering van hul chemiese samestelling betrokke is nie; natuurkunde. |
fop | Kul, flous, vir die gek hou. |
Franse Revolusie | Die Franse Revolusie het op 14 Julie 1789 in Frankryk begin. Die monargie is omvergewerp, en die land het ’n republiek geword. |
genre | ’n Kategorie of styl van kuns. |
gepubliseer | Om iets soos ’n verhaal in ʼn boek/tydskrif/ens. te laat druk sodat mense dit kan lees. |
geregtigheid | Hoedanigheid wat ʼn mens in staat stel om reg aan ʼn ander te laat geskied; billikheid; regverdigheid. |
gevonnis | Straf wat aan iemand opgelê word wat aan ’n misdaad skuldig bevind word; veroordeling; strafoplegging. |
grondwet | Die reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers besit. |
heldedig | ’n Epiese of verhalende gedig. |
herehuis | Groot deftige woning van ʼn gegoede (ryk) persoon; pronkwoning, villa. |
hertog | ’n Adellike titel wat oorgeërf word. |
historikus | Iemand wat navorsing oor die geskiedenis doen en daaroor skryf. |
Hugenote | Franse Protestante. |
ikoon | Iemand/iets wat merkwaardig/besonders/navolgingswaardig is. |
ingeperk | Die vryheid ontneem. |
institusies | Genootskappe of instansies wat vir sekere sake staan en dinge wil bevorder. |
intellektuele | Geleerde mense wat met ernstige idees en onderwerpe te make het; wat verstandelik en geestelik skrander/baie slim is; denkers, geleerdes. |
Jesuïet | Lid van ’n orde van die Rooms-Katolieke Kerk. |
joernalis | Iemand wat vir ʼn koerant/tydskrif/radiostasie/TV-kanaal/webblad nuusverslae skryf; verslaggewer. |
keiserin | ’n Vrou (hoër as ’n koning) wat oor ’n hele groep lande regeer. |
kerklike owerhede | Die persone in beheer van die Kerk. |
knou | Ernstige skade veroorsaak; verswak. |
konstitusionele monargie | ’n Land waar daar ’n monarg is, wie se magte deur ’n grondwet (konstitusie) beperk word. In so ’n land regeer die parlement wat deur die mense verkies word. |
kritiese denke | Dit behels om dieper na te dink oor wat jy gelees het deur vrae te stel, die betekenis te probeer verstaan, en te oordeel of jy saamstem met die teks of nie. |
laer-adellike | Die laagste van die groep mense (edelmanne en edelvroue) wat in sommige lande tot die hoogste sosiale stand behoort. |
landgoed | ʼn Spoggerige plaas of ander stuk grond buite ʼn dorp/stad, gewoonlik met ʼn groot, deftige huis en ʼn ryk eienaar. |
letterkunde | Kuns in geskrewe vorm, wat poësie, prosa en drama insluit. |
liberalisme | Idees wat oop is vir sosiale en politieke verandering en vryhede soos vryheid van spraak en godsdiens voorstaan. |
minnares | Geliefde in ’n verhouding waar een van die twee persone getroud is. |
mite | Storie wat as waarheid voorgehou word, maar heel waarskynlik nie waar is nie. |
monargie | Staat of regeringsvorm met ’n monarg (soos ’n koning of keiser) aan die hoof. |
novelle | Kort prosaverhaal wat langer as ’n kortverhaal, maar korter as ’n roman is. |
odes | ’n Gedigte wat iemand prys. |
onderonsie | Wanneer twee mense van mekaar verskil en selfs begin baklei. |
ontnugter | Na die werklikheid terugbring. |
onverdraagsaamheid | Om nie bereid te wees om ander mense toe te laat om te sê of glo wat hulle wil nie. |
oorspronklike | Om iets self uit te dink. |
op die kruin | Hoogste punt. |
owerhede | Die regering. |
parlement | Dis ’n liggaam in ’n demokratiese bestel wat wette maak. |
parodie | Grappige nabootsings van iets soos ’n gedig of skryfstuk. |
philosophes | Die naam vir die Franse intellektuele/filosowe van die Verligting. |
polemikus | Om met iemand te twis, gewoonlik oor ’n saak van die dag en gewoonlik in die openbaar. |
produktief | Die vermoë om iets konstruktiefs na vore te bring; veel lewerend. |
prokureur | Iemand wat (in die) regte gestudeer het en wie se werk dit is om aan mense wette te verduidelik, formele ooreenkomste op te stel en kliënte in die hof te verteenwoordig. |
prosa | Geskrewe taalgebruik, veral as letterkundige genre. |
publieke opinie | Dit wat die mense van ’n land dink; openbare mening. |
radikaal | Wat tot die uiterste gaan; diep ingrypend; wat die wortel raak; geheel en al; grondig; totaal. |
rasionaliteit | Idees of aksies wat op rede en logika gegrond is, en nie emosies nie, of wat getuig van ’n goeie oordeelsvermoë en logiese besluitneming. |
rede | Die krag van die verstand om logies te dink, te verstaan en oordele te vorm/daaroor te redeneer. |
regeringstyl | Die manier hoe ’n regering regeer. |
retoriek | Die vermoë om ander deur debatvoering van jou standpunt te oortuig. |
rondswerwery | Om sonder ’n vaste woonplek rond te trek. |
satires | Dit is wanneer iets bespotlik voorgestel word, soos mense se probleme of dwaashede. |
skuilnaam | Die naam wat ʼn skrywer gebruik in plaas van sy of haar regte naam. |
sleg afgesteek | Wanneer jy twee goed/mense vergelyk en die een is baie swakker as die ander. |
sleutelrol | Om ’n baie belangrike of selfs die belangrikste rol in ’n saak te speel. |
spioenasietogte | ’n Persoon wat in die geheim, sonder dat ander daarvan weet, inligting oor vyande van die regering moet kry, in hierdie geval in ’n ander land. |
staaltjie | ’n Grappige verhaal. |
staatsamptenaar | Iemand wat vir die regering werk. |
teologie | Bestudering van godsdiens en geloofsoortuigings; godgeleerdheid. |
vegetariër | Persoon wat uitsluitlik groente, vrugte, graan en neute eet, en geen voedsel wat deur die doodmaak van diere verkry is nie. |
verban | Verplig om ʼn land/plek vir goed te verlaat; in ballingskap ʼn land uitstuur; uitstoot; verdryf. |
verdraagsaamheid | Om ander mense toe te laat om te sê of glo wat hulle wil. |
verligte despoot | ’n Koning of koningin wat positief staan teenoor nuwe idees. |
Verligting | Tydperk in Europa se geskiedenis waar mense met nuwe idees oor politiek, godsdiens en mense se lewens gedink het. |
vervalle | Dit verwys gewoonlik na ’n gebou wat verwaarloos is en uitmekaar begin val. |
vonk | Aanvuurder. |
vooroordeel | ’n Onredelike opinie oor iemand/iets wat op die een of ander manier van jou verskil. |
wysgeer | Iemand wat oor die lewe dink, die gedagtes neerskryf en aan ander mense leer. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Voltaire
- Wat was die idees van die Verligting?
- Leer meer oor Voltaire
- Die Bastille was ’n beroemde fort wat as tronk gedien het in Frankryk
Kyk hierdie video’s oor Voltaire
Hoe het die Verligting versprei?
Oorsig oor Voltaire se lewe
Sleutelrolspelers in die Verligting
Oorsake van die Franse Revolusie
Leer oor Candide, Voltaire se bekendste werk
Waarom het Voltaire gesê jy moet jou eie tuin maak?