Vinnige feite

  • Eilers het vir ses maande by Anna Neethling-Pohl geloseer voordat hy begin studeer het. 1
  • Hy het vir etlike jare en tot en met sy dood nou saamgewerk met die pa- en seunspan Piet en Salmon/Sallas de Jager en hul rolprentmaatskappy Bosbok Films. Piet was ’n bekende advokaat in Pretoria wat in Januarie 2023 oorlede is. Sallas was een van die lede van die gewilde musiekgroep Klopjag.
  • As Paul iemand uit die verlede vir koffie kon nooi, sou dit Michelangelo wees. Hy sou hom wou vra hoe hy iets soos die Dawid-beeld uit ’n dooie stuk klip kon skep. En as hy ’n Suid-Afrikaner kon nooi, sou dit André Huguenet wees – die man wat beskou word as die vader van die Afrikaanse teater. 4

 

Paul Eilers was een van daardie kunstenaars wat die bedryf waarin hy gewerk het, van alle kante af leer ken en beoefen het. Hy was ’n rolprentvervaardiger, regisseur van rolprente en verhoogproduksies, radio-omroeper én akteur wat in rolprente en verhoogstukke gespeel het. Dan het hy boonop ’n radiostasie en sy eie rolprentateljee begin – ’n kunstenaar wat uiters veelsydig was en in alles wat hy gedoen het, uitgeblink het.

Sy jong jare

Paul is op 5 November 1944 gebore as die jongste van vier kinders. Sy pa was Marthinus Johannes, sy ma Johanna Susanna en hy het twee broers en een suster gehad. Sy pa is dood toe hy baie jonk was en sy ma moes die vier kinders alleen grootmaak.

Eilers wou ná skool teologie gaan studeer en het dit vir drie maande lank gedoen. Maar in 1963 het hy ’n opvoering van die Johan Fourie-toneelgeselskap in Wellington gaan bywoon en sommer net daarna het hy vir Johan gaan vra of hy daar kan begin werk! Hy het besluit dít is wat hy wou doen. 1

Op die verhoog en voor die kamera

Nadat Eilers in 1963 by die Johan Fourie-toneelgeselskap aangesluit het, het hy aanvanklik vir drie jaar vir hulle as busbestuurder opgetree, werkies gedoen soos kaartjies verkoop en as verhoogbestuurder opgetree voordat hy rolle begin vertolk het.

Hierna was daar nie keer aan hom nie – die verhoog was sy lewe. 2

Hy het tussen 1963 en 1972 vir al die destydse kunsterade opgetree: Kruik (Kaapse Raad vir die Uitvoerende Kunste), Sukovs (Streeksraad vir Uitvoerende Kunste Oranje-Vrystaat), Truk (Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste) en Naruk (Natalse Raad vir Uitvoerende Kunste). 3

Dis nie moontlik om al sy verhoogstukke en rolprente hier te noem nie, ons kyk net na ’n klompie daarvan. Gaan lees gerus hier meer oor al die rolle wat hy vertolk het.

Hier is ’n paar van die rolprente en verhoogstukke waarin Paul opgetree het:

Vroeëre verhoog- en rolprentwerk

Putsonderwater (Bartho Smit), Mattewis en Meraai (P.G. du Plessis), Kinkels in die kabel (André P. Brink), Die Pluimsaad waai ver (N.P. van Wyk Louw), Die laaste van die takhare (C.J. Langenhoven) en The Tempest (Shakespeare). 3

Latere rolprente

Vyfster (1984), Paljas (1997), Song vir Katryn (2003), Oh Schucks… I’m gatvol (2004), Musiek vir die agtergrond (2013), Die Ontwaking (2014), Freestate (2016), Reis na gister – kykNET- dokumentêre reeks (2017), Dominee Tienie (2018). Die rolprent Toorbos is in 2019 uitgereik nadat hy oorlede is. 2

Latere verhoogstukke

Faan se trein (2005), Faan se stasie (2006) en Doodkry is min wat hy vir ’n hele paar jaar aangebied het. 2

Regisseur

Die volgende rolprente en verhoogstukke was net enkeles van dié waarvan Eilers die regisseur was: Afspraak (2008), Roepman (2010), Die Proponentjie (2010), Verraaiers (2012) en Stuur groete aan Mannetjies Roux (2013). 2

Hy het selfs die regie van die operas Lucia di Lammermoor (Donizetti) en Madama Butterfly (Puccini) vir Sukovs gedoen. 3

Hy het as regisseur geglo dat hy vir die spelers ’n veilige ruimte moet skep waarin hulle kon optree. Wanneer hy met ’n speler moes praat oor foute, het hy dit eenkant gaan doen en nie voor die ander spelers nie. 1

Kyk net hoe besig was hy in sommige jare: In 1976 het hy gespeel in Die Nagloper (rolprent), Willem (televisiereeks), Die Rebel (rolprent) en Dokter, Dokter (televisiereeks). Dan was hy boonop ook aanbieder van die oggendprogram op televisie, Goeiemôre Suid-Afrika. 3

In 1996 was hy nie slegs die bemarkingsbestuurder van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) nie, hy begin ook die Suid-Kaap Stereo-radiostasie, hy speel vir drie maande in die M-Net-sepie Egoli én neem aan ander verhoogproduksies deel! 3

In 1983 stig Paul sy eie rolprentmaatskappy wat hy Eilers Films noem en in 1984 het hierdie nuwe rolprentmaatskappy drie rolprente die lig laat sien. 2

Vanaf 2007 het hy saam met sy vrou, Marina, begin om poppeteatervertonings vir skole in die Klein-Karoo, Karoo en die Suid-Kaap aan te bied. 3

‘n Mens kan duidelik sien hoe ernstig hy sy werk opgeneem het uit wat in 2005 by die KKNK gebeur het. Op die dag waarop die opvoering Faan se Trein moes open en Paul die hoofrol moes speel, het hy teen ’n kas geval en drie van sy voorste tande uitgeval. Daar moes inderhaas ’n tandarts gekry word en hy het vir ses uur lank gewerk om Paul se tande reg te maak sodat hy in die eerste opvoering kon optree! 1

Eilers, die radioman

Paul Eilers was sedert 1972 by die destydse Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) se Afrikaanse radiostasie betrokke waar hy diep spore getrap het. 4

Hy het as omroeper en regisseur gewerk en ook talle radioteaters, kleinteaters en vervolgverhale hanteer. 3

Hy het onder andere saam met die omroepers Sarel Myburgh en Cobus Robinson die oggendprogram, Monitor, begin. In 1981 het Paul sy voltydse werk by die radio verlaat om vryskutwerk te begin doen. 3

Suid-Kaap Stereo was ’n radiostasie wat Paul vanaf 1996 uit niks uit opgebou het. Die radiostasie het vanaf Oudtshoorn na Mosselbaai, George, Knysna, De Rust, Calitzdorp en selfs Oudtshoorn uitgesaai. 5

Vir hom het die waarde van gemeenskapsradiostasies daarin gelê dat mense wat in ’n sekere streek woon, graag plaaslike nuus uit hul streek wil hoor. Hulle wil dinge hoor soos hoe dit met plaaslike skole se sportwedstryde gaan en waar die vis in Mosselbaai loop. Hulle wil ook graag hul plaaslike dorpe se predikante oor die radio hoor preek. 4

Paul was vir ses jaar lank die bestuurder van Suid-Kaap Stereo. 6

Sy gesin en Oudtshoorn

Eilers het altyd met groot trots van sy vrou, Marina, en sy seun, Paul jr., gepraat. Marina is ’n joernalis wat steeds in Oudtshoorn woon en wat gedurende 2023 ’n boek met sketse, Wyle, bekendgestel het. Sy het die boek aan Paul opgedra. Paul het daarin vertel hoe sy seun, Paul, op die ouderdom van nege jaar reeds vier tale kon praat – Afrikaans, Engels, Duits en Xhosa. Paul jr. is vandag ’n advokaat in Pretoria. 7

Hulle het in 1995 vanaf Sandton na Oudtshoorn verhuis, waar die gesin veral die natuur baie geniet het. Hy het in ’n onderhoud vertel van 1 700 spesies vetplante wat ‘n mens net in daardie omgewing kry.

Eilers was aktief by die gemeenskap betrokke. Hy het onder meer die Applous Drama-akademie tot stand gebring, waar hy vir kinders van graad 6 tot graad 9 die basiese beginsels van teater geleer het. 5

Paul en Marina was 26 jaar lank getroud toe hy op 28 Junie 2019 by hulle huis in Oudtshoorn aan sy hart oorlede is. 8

Toekennings

Die Akademie vir Wetenskap en Kuns het hom bekroon vir sy regie van die verhoogstuk Die vroue van Troje. 1

Vir sy rol in die rolprent Song vir Katryn het hy ’n Artes-toekenning gekry. 5

Eilers het in 2005 by die KKNK die Kanna-prys vir die beste vertolking in toneel en woordkuns ontvang vir sy vertolking van die gestremde seun Faan Oosthuizen in Faan se Trein (geskryf deur die dramaturg Pieter Fourie). 9

In 2015 ontvang Paul by die eerste rolprentfees in Prins Albert ’n toekenning vir sy lewensbydrae tot die rolprentbedryf. 10

Eilers in sy eie woorde

Toe hy in matriek was (vandag graad 12), was hy hoofseun van die koshuis én van die skool. Hy was ook die debatsvoorsitter en tamboermajoor van die skoolorkes – volgens hom was hy toe “windgat en onuitstaanbaar”. 1

Hulle gesin was lief daarvoor om Swartberge toe te gaan wanneer hulle kans gekry het om weg te breek – dan kyk hulle na die fynbos, wandel in die woud rond en leer van voëls en die natuur. 4

Eilers het vertel dat hy soms in sy lewe nie ’n maklike mens was om mee klaar te kom nie. In ’n onderhoud met Marguerite Robinson het hy oor homself gesê: “Ja, ek was terrible. ’n Man met ’n humeur.” 5

Hy het groot respek gekry vir akteurs wat in TV-sepies speel toe hy in Egoli opgetree het. “Jy moet weet, hulle skiet ’n episode per dag! En dit hou nie op nie – Maandag tot Saterdag. Saterdagmiddag as die Bulle teen die Haaie speel, staan jy op die verhoog en jy probeer woorde leer. Ek het my gesin baie in dié tyd gemis.” 4

Hy vertel dat hy in sy geloof begin twyfel het in die tyd toe dit so moeilik gegaan het – hy is in 2002 met kanker gediagnoseer en Suid-Kaap Stereo moes in dieselfde jaar sy deure sluit. “Ek het begin vrae vra. God, waar is Jy? En dan sê ek weer vir myself daar is ’n rede vir alles. God het net ’n lang manier om met my by sy plan uit te kom.” 4

Sy filosofie oor hoe hy deur moeilike tye leef, het hy soos volg beskryf: “Ek staan in die môre op en ek sê dankie vir nog ’n dag. Ek gaan hom vol maak. Een dag op ’n slag.” 5

Kommentaar deur van sy kollegas

Leon van Nierop (resensent en vervaardiger van rolprente) het Eilers vanaf 1975 geken. Paul was in daardie stadium ’n omroeper en ’n regisseur en Van Nierop wou graag presies dieselfde werk gedoen het. Volgens hom was Eilers streng oor hoe mense moes werk en hy het hulle reggehelp waar hulle foute gemaak het. Hy onthou ook al die poetse wat Eilers hom gebak het.

Sallas de Jager (rolprentregisseur) vertel hoe ernstig en professioneel Eilers oor sy werk was. Hy was altyd voorbereid wanneer hy moes begin werk. Hy kon ook altyd van enige karakter ’n werklike mens maak, hy het nie net toneelgespeel nie. Vir De Jager was Eilers ’n mentor by wie hy baie geleer het.

Lizz Meiring (aktrise) beskryf Eilers as ’n wonderlike radioman, regisseur en akteur wat uiters slim was. “Hy was net so natuurlik in sy spel, so effortless. And he didn’t suffer fools. Sommige was bang vir hom, ek was nie. Hy was nie giftig of kleinlik nie, net reguit, eerlik en so sonder sentiment … ’n warm hart, ’n groot liefde, ’n wilde, vrye gees.” 11

Woordbank

akademie Opleidingsinrigting.
bekroon ’n Prys ontvang
bemarkingsbestuurder ʼn Bemarkingsbestuurder is verantwoordelik vir die beplanning, implementering en bestuur van reklameveldtogte om produkte, dienste of handelsmerke te bevorder.
debatsvoorsitter Die voorsitter se rol is om die spanne bekend te stel en orde te handhaaf tydens die debat. (ʼn debat is die besprekings van die voor- of nadele van ’n saak; gedagtewisseling of ’n rede.)
diep spore getrap Om belangrike en betekenisvolle dinge te doen en ’n goeie indruk te maak.
dramaturg Skrywer van toneelstukke; iemand wat dramas skryf.
film vs. rolprent ʼn Film is die rolletjie in ʼn (outydse) kamera. ʼn Rolprent/fliek is dit waarna ons in rolprentteaters/bioskope kyk – die plek waar die rolprent draaigewys of vertoon word. Ons sê ’n rolprent word verfilm of geskiet. 
filosofie Wetenskap wat die betekenis van die lewe ondersoek/sy besluit oor wat om in sy lewe te doen.
fynbos Digstaande struikgewas; planteryk wat bestaan uit ’n verskeidenheid plantsoorte en struikgewasse wat in bepaalde streke aan die kus en in die berge in die suide van die land voorkom.
geloseer Ingewoon, tuisgegaan.
humeur Dit bepaal hoe mense reageer as iets met hulle gebeur.
inderhaas Baie vinnig; omdat iets dringend gedoen moet word.
joernalis Iemand wat vir ʼn koerant/tydskrif/radiostasie/TV-kanaal/webblad nuusverslae skryf; verslaggewer.
mentor Iemand wat raad en leiding gee.
omroeper Iemand wat op die radio uitsaai, gesels.
poetse Streep getrek/ gekul/om die bos gelei/vir die gek gehou.
professioneel Om so te werk en op te tree dat ander aan hom/haar dink as bekwaam, betroubaar en respekvol.
regie Afrigting van toneelspelers.
regisseur Iemand wat toneelspelers afrig; spelleier.
reklameveldtogte ’n Veldtog om iets te adverteer en só verhoogde verkope binne ’n spesifieke mark te bereik.
resensent Persoon wat boeke of rolprente beoordeel en ’n mening daaroor uitspreek/skryf.
takhare Iemand wat onversorg en nie netjies lyk nie.
tamboermajoor Die leier van ʼn marsjerende orkes.
veelsydig Iemand wat baie (verskillende) dinge goed kan doen.
verhoogbestuurder Die persoon verantwoordelik vir die beligting en ander tegniese reëlings vir ’n verhoogstuk.
verhoogproduksies Toneelstukke wat op die verhoog opgevoer word eerder as om uitgesaai of as ’n rolprent vertoon te word.
vertolk Om jou in te leef in die storie en dit te lees/speel asof jy werklik die karakter is.
vryskutwerk Wanneer mens vir jouself werk en nie ’n vaste maandelikse salaris by ’n werkgewer kry nie.
windgat Iemand wat baie van hom- of haarself dink.

Lees hier meer oor Eilers

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Hannes voer ’n onderhoud met Paul in 2019

Paul in die rolprent Ontwaking (2016)

Nuusberig na sy dood

Foto: iStock
Gepubliseer op: 29 Januarie 2024 | Bygewerk op 14 Maart 2024