Vinnige feite
- Die eerste skeppingsverhaal is ’n jonger verhaal as die tuinverhaal.
- In Hebreeus, die taal waarin die skeppingsverhaal opgeteken is, word verskillende woorde gebruik vir wanneer God “maak” en wanneer mense “maak”. In sommige Afrikaanse vertalings van die Bybel word probeer om dié verskil aan te dui deur die woord “skep” te gebruik vir wanneer God iets maak. 5
- In Genesis 1 skep God lig voordat Hy die son en die maan skep. God self is die bron van die lig, soos dit ook uit Johannes 1 blyk. 5
- Daar is verskillende denkrigtings onder Kreasioniste. Sommige glo die aarde is plat, ander aanvaar dit is bolvormig. Party glo die aarde is net sowat 6 000 jaar oud, ander aanvaar dat die aarde miljoene jare oud is. 6
- In die Liedboek van die Kerk is daar 11 liedere in die afdeling “Skepping en Onderhouding”. 7
In beskawings en godsdienste reg oor die wêreld, vind ’n mens oorsprongverhale. Dit is verhale wat vertel hoe alles begin het en waar alles vandaan kom. In die Joods-Christelike tradisie is daar twee sulke verhale. Vandag vind ons hulle in die eerste hoofstukke van die Bybel.
Die eerste skeppingsverhaal
Die eerste skeppingsverhaal vind ons in Genesis 1:1-2:4a. (4a verwys na die eerste deel van vers 4.) In hierdie artikel word die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans deurgaans gebruik.
Dit begin met die woorde: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” Dit is die kernboodskap van die verhaal: dat God alles gemaak het.
Dan begin die verhaal met ’n woeste, leë, donker omgewing van oerwater. Die verhaal vertel dan hoe God in ses dae orde uit die chaos skep en die ruimte wat Hy geskep het, met lewe vul.
Dag 1 – God skep lig, en skei die lig van die donker sodat daar dag en nag kan wees.
Dag 2 – God skep ’n koepel of gewelf wat die water bo die koepel en onder die koepel van mekaar skei.
Dag 3 – God skei die water van die droë grond en laat plante in die grond groei.
Dag 4 – God maak die son, maan en sterre.
Dag 5 – God skep waterdiere en voëls.
Dag 6 – God skep verskillende soorte diere en dan, as hoogtepunt van die skepping, skep Hy die mens na sy beeld. God gee die mens opdrag om oor die skepping te heers.
Dag 7 – God rus en stel die sewende dag in as gereelde rusdag.
In die eerste skeppingsverhaal is daar ’n paar dinge wat opval:
- God se grootheid en mag word gedemonstreer deurdat hy skep deur bloot te praat.
- God sien telkens nadat Hy iets gemaak het, dat dit goed was.
Die skeppingsverhaal word volgens ’n antieke wêreldbeeld vertel. So het antieke mense geglo dat daar ’n hemelkoepel is met water daarbo, en dat dit reën as daar sluise in hierdie koepel oopgemaak word. Verder word diere geklassifiseer in groepe soos wilde diere, mak diere, kruipende diere, voëls en waterdiere. Vandag word diere geklassifiseer in groepe soos insekte en ander ongewerwelde diere, en werweldiere soos soogdiere, voëls, reptiele, paddas en visse. 1 [Lees hier oor gewerwelde en ongewerwelde diere.]
Die tuinverhaal
Van Genesis 2:4b tot aan die einde van Genesis 3 word die tuinverhaal vertel. Dit word so genoem omdat God ’n tuin maak waarin die verhaal afspeel.
Die verhaal verskil in verskeie opsigte van die eerste skeppingsverhaal. Dit begin nie met ’n woeste watermassa nie, maar met leë, droë grond wat dan van onder af deur water natgemaak word. Verder word die mens word volgens die tuinverhaal eerste gemaak – eers net ’n man, en dan later ook ’n vrou. Die fokus val in die tuinverhaal grootliks op die mens.
God maak ook ’n tuin met allerlei plante waarvan die mens kan lewe, en diere wat nie die mens se gelyke is nie.
In Genesis 3 word die verhaal vertel van die verbode vrugte waarvan die mense eet, om daarmee te verklaar hoe sonde en dood deur die mens se ongehoorsaamheid aan God deel van die wêreld geword het. 1
Polemiek oor die skepping
In 1859 verskyn Charles Darwin se boek On the Origin of Species by Means of Natural Selection, waarin hy die gedagte van evolusie as die manier waarop verskillende lewensvorme ontstaan het, verduidelik. Daarna het daar ’n groot polemiek in die Christelike wêreld losgebars wat tot vandag toe nog voortduur. Dit het gelei tot verskillende standpunte onder Christene oor hoe God die wêreld tot stand gebring het, en verskillende vertolkings van veral die eerste skeppingsverhaal.
Die een groep – hulle word soms kreasioniste genoem – glo die wêreld het tot stand gekom presies soos dit in Genesis 1 beskryf word. Hul argument is eenvoudig en duidelik: Die Bybel is die Woord van God en God kan nie jok nie. Daarom moet die Bybel woord vir woord letterlik verstaan word. Op grond van hierdie vertolking word die leer van evolusie deur hierdie groep as ’n gevaarlike dwaalleer bestempel wat aktief deur groepe soos Answers in Genesis bestry word. Answers in Genesis is ’n Amerikaanse fundamentalistiese Christelike apologetiek–bediening wat antwoorde op vrae veral in die boek Genesis soek en wat teen evolusionêre idees gekant is.
Die ander groep sê die Bybel is deur mense geskryf wat deur God geïnspireer is. Hul menslikheid, foute en al, vind ook neerslag in die teks en dit moet in ag geneem word by die vertolking van die verhaal.
Die verhaal wat in Genesis 1 vertel word – so word gesê – het ontstaan terwyl die Jode in die sesde eeu voor Christus in ballingskap in Babilon was. Daar het hulle Babiloniese skeppingverhale gehoor wat vertel het van gode soos Marduk, Tiamat, Sjemesj, Sin en Isjtar. Marduk het in ’n stryd met Tiamat die oorhand gekry, Tiamat se liggaam in twee verdeel en van een deel die aarde gemaak en van die ander deel die hemelkoepel. Sjemesj was die son, Sin die maan en Isjtar die môrester.
Hierteenoor het die Jode ’n verhaal vertel wat heeltemal anders klink. Volgens die Jode se verhaal, wat ons nou in Genesis 1 kry, is daar net een God. Dié God het alles uit niks gemaak. Die son, maan, sterre en alle ander dinge op aarde is nie gode nie, maar maaksels van die een God.
Die eerste skeppingsverhaal wil volgens hierdie vertolking sulke geloofswaarhede oordra. Dit probeer nie natuurwetenskaplike prosesse verduidelik of historiese feite stel nie. Daarom kan hulle gemaklik met die leer van evolusie saamleef en dit selfs sien as die manier waarop God werk.
Terwyl verskillende Christelike strome verskillend dink oor die skeppingsverhaal en hoe die wêreld tot stand gekom het, is daar tog steeds belangrike ooreenkomste. Albei groepe glo dat dit God is wat die wêreld tot stand gebring het. Albei groepe glo dat God se grootheid in handewerk te sien is. 2
Die Christelike tradisie
Die Christelike geloof het die oorsprongverhale van Genesis 1-3 van die Jode geërf. Met die ontwikkeling van die Christelike tradisie het daar egter iets bygekom.
Die evangelie van Johannes begin, soos Genesis 1, met die woorde: “In die begin …” Johannes sê dat die Woord – dit is Jesus – in die begin daar was, en dat alles wat ontstaan het, deur Hom ontstaan het.
Daarby verstaan Christene die verwysing in Genesis 1 na die Gees van God wat oor die water gesweef het, as ’n verwysing na die Heilige Gees. Dit beteken dat al drie persone van die Drie-eenheid – Vader, Seun en Heilige Gees – by die skepping betrokke was. 3
Verwondering
Verder in die Bybel word daar meermale oor die skepping geskryf, en dikwels word dit verbind met verwondering oor die skepping, maar veral ook oor die Skepper.
- Daar is skeppingspsalms soos Psalms 8, 19, 24, 33 en 104 waarin God se lof besing word. Psalm 19:2 lui byvoorbeeld: “Die hemelruim verkondig die eer van God, en die hemelkoepel maak die werk van sy hande bekend.”
- In Job 38-41 gebruik God self die skepping om vir Job aan sy grootheid te herinner. God vra byvoorbeeld in Job 38:4-7 in digterlike taal vir Job: “Waar was jy toe Ek die fondamente van die aarde gelê het? Maak dit bekend as jy die insig verwerf het! Wie het die afmetings daarvan bepaal? Sê as jy dit weet! Of wie het die maatband daaroor gespan? Waarop is sy voetstukke ingesink? Of wie het die hoeksteen daarvan gelê terwyl die oggendsterre saam gejubel en al die hemelwesens gejuig het?”
- In die Nuwe Testament is daar tekste soos Johannes 1:3, Kolossense 1:16-17 en Hebreërs 1:2 wat die rol van Christus in die skepping beklemtoon.
Ook in die kerklike tradisie sien ’n mens die verwondering oor God se skepping byvoorbeeld in kerkliedere. Dink maar aan die bekende gesang wat begin met:
O Heer my God, as ek in eerbied wonder
en al u werke elke dag aanskou …
– en antwoord met die refrein:
Dan moet ek juig, my Redder en my God!
Hoe groot is U; hoe groot is U! 4
’n Mens sien dit ook in die breër kultuur, soos in die digter T.T. Cloete se vers “God die Digter”. Dit begin met die woorde:
daar is meer poësie in die sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
– en sluit af met die gevolgtrekking:
die aarde is deur ’n digter gemaak. 5
Woordbank
afmetings | Die hoeveelheid, grootte of lengte van iets wat verkry word deur dit af te meet. |
antieke | Baie oud; uit die ou tyd. |
apologetiek | Wetenskap van geloofsverdediging. |
argument | In hierdie geval: beredenering, bewys (grond); standpunt. |
ballingskap | Iemand wat in ballingskap is, het sy of haar land verlaat om vervolging deur die regering te voorkom. |
bediening | Kerklike diens. |
deurgaans | Gewoonlik, gebruiklik; in die reël. |
digterlike taal | Baie mooi taal wat emosies op ’n sensitiewe of roerende manier uitdruk; poëtiese taal. |
dwaalleer | Opvatting wat afwyk van die erkende godsdienstige leer. |
evangelie | Die Christelike leer, Woord van God. |
fondamente | Dit waarop iets gegrond is; grondslag; basis. |
fundamentalistiese | ’n Benadering wat die wese van die kerklike leer wil beklemtoon, dikwels deur letterlike vertolkings van die Bybel. |
gedemonstreer | Laat sien, vertoon. |
gewelf | Koepel. |
handewerk | Dit wat geskep/gemaak is. |
hemelwesens | Wesens wie se doel dit is om God te dien en eer (ook bekend as aartsengele, gerubs/engelagtiges, bewakers/beskermers, serafs/engele om God se troon, geeste). |
historiese | Bekend uit die geskiedenis; wat werklik gebeur het; geskiedkundig. |
hoeksteen | Die eerste steen van ’n gebou wat gelê word; fondamentsteen, fondamentklip. In hierdie geval: dit waarop die skepping gegrond is. |
insig | Begrip wat met die verstand gevorm is. |
kernboodskap | Hoofboodskap, belangrikste boodskap. |
koepel | In hierdie geval word die lug-/hemelruim beskryf soos die bolvormige dak van ʼn kerk of moskee. |
kreasioniste | Diegene wat glo dat die wêreld tot stand gekom het presies soos dit in Genesis 1 beskryf word. |
lof besing | Prys. |
maaksels | Skepsels deur God gemaak. |
môrester | Die planeet Venus. |
natuurwetenskaplike | Natuurkundige; volgens die metode van die natuurwetenskap. |
oerwater | Paleowater; ’n antieke watermassa wat al vir millennia in een of ander ongestoorde ruimte vervat is. |
ongewerwelde | Sonder ʼn ruggraat of bene in die lyf. |
oorhand gekry | Gewen. |
paleo- | Eerste woorddeel in samestellings met die betekenis: oud, oeroud, voorwêreldlik. |
para- | Voorvoegsel wat die betekenis uitdruk van: naas, langs, bykomend. |
poësie | Die werke van digters of ʼn versameling gedigte. |
polemiek | Argument tussen die voorstaanders en teenstaanders van ‘n aktuele saak, wat veral in die media soos in koerante gevoer word. |
reptiele | Koudbloedige, kruipende diere wat deel van die Reptilia-klas is. |
soogdiere | Diere wie se kleintjies melk van die ma’s drink. |
strome | In hierdie geval verwys dit na verskillende “denkrigtings”. |
tradisie | Oorgelewerde sedes, gewoontes, kultuurwaardes van ’n volk. |
verbode | Iets wat nie toegelaat word nie, taboe, onwettig. |
vertolking | Interpretasie/weergawe van iets; uitbeelding. |
vind ook neerslag | Verskyn. |
wêreldbeeld | Die manier waarop mense die wêreld sien en verstaan. |
werweldiere | =Met ʼn ruggraat en bene in die lyf. |
woeste | Wilde, ongerepte, verlate. |
Loer en luister om meer te leer
Die skepping volgens Gen. 1 (Afrikaanse voorlesing)
Luister hier na die bekende gesang ‘O, Heer, my God’