Vinnige feite

  • Virginia het die wonderlike vermoë gehad om woorde en wysies van liedjies vinnig onder die knie te kry. Deur haar loopbaan was dit vir haar baie voordelig omdat sy nuwe liedjies vinnig geleer het. Uiteindelik kon sy die reusetotaal van 600 liedjies uit haar kop sing! 1
  • Virginia het meer as 200 liedjies geskryf en meer as 800 liedjies opgeneem. Dit is tot vandag toe ’n rekord in die Suid-Afrikaanse musiekgeskiedenis. 1
  • In September 1970 was sy die eerste sangeres in die land wat haar eie platemaatskappy – Dominant Records – begin het. 1
  • In 1974 het sy saam met Wena Naudé in die rolprent Cry Me A Teardrop gespeel. 2
  • Clive Bruce wat vandag steeds ’n bekende sanger in Suid-Afrika is, is Virginia se stiefseun. 1

Om te verstaan presies hoe gewild Virginia Lee op die hoogtepunt van haar loopbaan was, moet mens jouself probeer terugplaas na daardie jare. Daar was geen internet, sosiale media en talle musiektoekennings en -kompetisies of musiekfeeste soos ons vandag gewoond is nie. Mens kon dus nie kitsroem bereik deur vinnig ’n lied op YouTube of TikTok te laai om binne minute duisende trefslae te kry nie. Daar was nog nie eens televisie in Suid-Afrika nie. Jy moes rondry en konserte hou en al waar jou liedjies op ’n ander manier gehoor kon word, was oor die radio. As mens dit alles in gedagte hou, kan jy eers begin verstaan hoe groot haar prestasies was. Sy was ’n superster in die ware sin van die woord.

Die jong Virginia

Virginia de Jager is op 27 Junie 1927 in Port Elizabeth (vandag Gqeberha) gebore. Daar was agt kinders in hul gesin – vier seuns en vier dogters en sy was die tweede oudste.

Sy het skoolgegaan in North End Grey Primary School (vandag die Ethembeni Enrichment Centre)

in Port Elizabeth en later in die befaamde Victoria Girls High School in Grahamstad (vandag Makhanda).

Sy het uitgeblink in duik en het Oostelike Provinsie-kleure in die sport behaal. Nadat sy haar skoolloopbaan voltooi het, het sy as klerk in ’n winkel in Port Elizabeth gewerk en sy het ook kunsklasse begin neem waarmee sy later ’n werk in kommersiële kuns (grafiese kuns) in Port Elizabeth gekry het. Sy was nog ’n tiener toe sy eers by die Trilby School of Models en later by die Gorval Concert Party gewerk het as akrobatiese danseres, ballerina en klopdanser. 1

Sommer van jongs af is sy baie lief vir musiek

Virginia het reeds vanaf haar babadae gewys dat sy baie lief is vir musiek. Sy het na die radio toe gekruip wanneer daar musiek gespeel het en saam geneurie – sy het toe reeds die wysies sommer gou leer ken. Sy was net ses jaar oud toe sy vir die eerste keer op ’n verhoog opgetree het deur ’n gediggie met die titel “I had a penny, A bright new penny op te sê.

Dit was toe sy as jong meisie by verskeidenheidskonserte opgetree het, dat sy toevallig agtergekom het dat sy sangtalent het. Op ’n dag was een van die sangeresse siek en omdat Virginia die lied se woorde geken het net omdat sy dit toe reeds ’n paar keer tydens die repetisies gehoor het, het sy in die sangeres se plek gesing.  Die gehoor het so positief gereageer op haar optrede, dat sy besluit het om haar sangtalent verder te ontwikkel. Sy het aan ’n sangkompetisie deelgeneem en dit gewen en voortgegaan om aan verskeidenheidskonserte deel te neem. 1

Dit was in hierdie tyd dat sy vir Johnny Lee ontmoet het – hy was ’n plaaslike musikant van Port Elizabeth wat saksofoon en klarinet gespeel het. Hulle is in 1948 getroud toe sy 20 jaar oud was. Die volgende jaar is hul enigste kind, ’n dogter met die naam Peggy, gebore. Virginia en Johnny is in 1957 uitmekaar. 1

Sy is in 1987 met Lea Bergman getroud. 2

Sangloopbaan in Suid-Afrika

Virginia het ook as “Ginny” bekendgestaan en van die titels wat sy gereeld in die media gekry het, was onder andere “Die meisie met die goue stem”, “Suid-Afrika se vroulike Jim Reeves” en “Suid-Afrika se singende liefling”. Sy was algemeen bekend as die sangeres met die beste plateverkope van die laat vyftigerjare, die sestigs en die vroeë sewentigs. 2

Die begin van haar loopbaan

Sy het gereeld by die destydse Port Elizabeth Opera House (vandag die Mandela Bay Theatre Complex) opgetree en gewild geword as ’n nagklub– en kabaretsangeres. Sy het onder andere gereeld saam met Johnny se orkes Johnny Lee’s Club Seven opgetree.

Mandela Bay Theatre Complex

Virginia was vasbeslote om haar loopbaan verder te laat groei en sy het na Johannesburg verhuis. Sy is sommer dadelik deur die bekende Dan Hill aanvaar om saam met sy orkes op te tree. Sy het vir meer as ’n jaar saam met hulle opgetree en in hierdie tyd ook oor die radio uitgesaai.

Tydens een van die optredes het Archie Silansky haar gehoor en haar genooi om opgeneem te word op ’n plaat Club International. Hierdie plaat was so suksesvol dat dit rekordverkope in die land opgestel het. Gedurende hierdie tyd het Virginia en Dan Hill se vrou, Artemis, ’n sanggroep met die naam Die Sonskynsusters begin. Hulle het ’n hele paar plate saam opgeneem en een van hul liedjies – “Fräulein” – was die eerste Afrikaanse liedjie waarin ’n trompet in die opname gebruik is. 1

In 1958 het sy ’n groot deurbraak gehad toe sy ’n drie jaar lange platekontrak met die Gallo-platemaatskappy gesluit het. Sy het gereeld in radioprogramme opgetree en het ook 12 gewilde liedjies in Afrikaans vertaal en haar eerste plaat in Afrikaans opgeneem. Hierna het sy nog ’n plaat saam met Archie Silansky opgeneem – Club International No 2 – wat binne ’n week nadat dit bekendgestel is, die nommer een-posisie onder plate in die land ingeneem het. Dit het selfs Cliff Richard se trefferplaat – Cliffuitgestof en uit die nommer een-posisie gestoot! 1

Cliff Richard

Samewerking met buitelandse kunstenaars

Virginia het ook saam met sangers uit die buiteland in Suid-Afrika getoer. Mens moet onthou dat daar nie in daardie jare so dikwels soos vandag buitelandse kunstenaars in Suid-Afrika opgetree het nie, dit was dus nogal groot nuus wanneer ’n kunstenaar uit die buiteland hier kom toer het en ewe groot nuus indien een van ons plaaslike kunstenaars saam opgetree het.

In 1965 het Virginia vir ses weke saam met die bekende buitelandse sanger Slim Whitman in die land getoer en in 37 dorpe en stede konserte gehou. 1

Hulle het ’n lied, “Tennessee Yodel Polka”, saam opgeneem, een van talle treffers wat op haar plate verskyn het. 2

Sy sing in baie tale!

Kyk net bietjie hoeveel tale sy gebruik het! Sy was baie goed daarmee om in verskillende tale te sing. Al kon sy nie al hierdie tale praat nie, kon sy elke taal foneties reg sing. Haar baie goed ontwikkelde musikale gehoor en haar ewe goeie begrip van vreemde tale het haar hiermee gehelp. Sy kon sommer met gemak in 12 verskillende tale sing! Op haar plaat InternationaLee Yours, het sy liedjies in 10 verskillende tale opgeneem. Aan die einde van haar loopbaan, het sy reeds in 16 verskillende tale liedjies opgeneem! 1

Dit is selfs meer as Nana Mouskouri wat liedjies in 13 verskillende tale opgeneem het! 3

Nana Mouskouri

Liedjies en plate

Sy het meer as 800 liedjies opgeneem op ongeveer 75 langspeelplate, 49 45-spoed plate (plate wat kleiner as ’n langspeelplaat was en gewoonlik net twee liedjies aan elke kant gehad het) asook 14 enkelspelerplate (’n plaat met net een lied op). Haar opname van “Tienduisend Myl” is ook op ’n 78-plaat opgeneem.

Ná haar dood is daar tussen 1993 en 1997 ’n aantal CD-versamelings met haar liedjies opgeneem en in 2008 het die Gallo-platemaatskappy ook ’n reeks herdenking-CD’s uitgereik. 2

Gé Korsten is die enigste Suid-Afrikaanse kunstenaar wat meer plate as Virginia verkoop het. 1

Gé Korsten

Virginia het meer as 100 melodieë geskryf, sommige daarvan onder twee skuilname – Maria Hugenot en Jaye Donnavern. 4

In 1976 het sy saam met Nick Taylor “Die Oukraalliedjie” opgeneem. 5

Sy het ook “Tienduisend myl” saam met Cora-Marié opgeneem. 6

Haar laaste opnames is in 1978 gemaak en hoewel haar stemkwaliteit steeds uitstekend was, het sy nie meer kans gesien om op te tree nie ten spyte van talle kollegas asook haar stiefseun Clive Bruce wat haar gesmeek het om weer op te tree en ook op televisie te verskyn. 1

Langspeelplate is 33-spoed plate genoem, wat beteken die plaat draai teen 33 omwentelings of draaie per minuut. Net so draai ’n 45-spoed plaat teen 45 omwentelings per minuut. Die ou 78-spoed plate het teen ’n spoed van 78 omwentelings per minuut gedraai! Gaan soek bietjie na ’n plaat by jou ouers of in jou oupa en ouma se huis en bekyk hom van naby.

Bekendheid in die buiteland

Virginia het ook in die buiteland bekend geraak.  Weer moet mens onthou dat daar nie in hierdie jare iets soos sosiale media of e-posse of selfs eers faksmasjiene was nie! Dit was dus baie moeiliker om jou naam as kunstenaar in ’n ander land te vestig en bekend te maak. Maar Virginia het dit reggekry.

In 1959 is sy Engeland toe waar sy vir 18 maande gesing en ook self sangklasse gekry het by die Jack Miller-ateljee. In dieselfde tyd het kunstenaars wat later beroemd sou word, soos Shirley Bassey en Harry Secombe ook daar klas geneem. Sy het gereeld by verskeie teaters en klubs in onder meer Londen en Manchester opgetree. Sy het ook haar eie kabaretvertoning saamgestel en selfs in Ysland gaan optree waar sy ook in Yslands gesing het! 1

Shirley Bassey

Voordat sy weer na Suid-Afrika teruggekeer het, het sy ook in Nederland, Duitsland, Spanje, Frankryk en Turkye gaan optree. 3

In 1965 het sy Engelse lirieke geskryf vir die lied “Goodbye My Love” wat deur Nino Rosso geskryf is en hier in Suid-Afrika deur die plaaslike trompetspeler Murray Campbell bekend gemaak is. Hierdie opname met haar eie woorde het gou gewild geraak en is ook in Nederland, Engeland en Duitsland uitgereik. Hulle het sommer vooraf reeds 100 000 kopieë van die plaat bestel! Die lied was ook net een week ná die bekendstelling op Springbok Radio Top 20.

Sy het “Goodbye My Love” ook in Afrikaans opgeneem op ’n plaat met die titel Vaarwel my lief – ek sal jou nooit vergeet nie waarvan sy al die lirieke geskryf het. Die titelsnit is in Frans, Duits en Italiaans vertaal en deur internasionaal bekende sangeresse in Frankryk en Amerika opgeneem. Hiermee het Virginia wéér geskiedenis gemaak omdat sy die eerste Suid-Afrikaanse sangeres was van wie ’n lied in die buiteland opgeneem en gesing is. 1

Haar bekendheid in die buiteland het bly groei. Chet Atkins, ’n baie bekende kitaarspeler in Nashville, in die Verenigde State van Amerika (VSA) het haar genooi om opnames saam met hom te maak, en ook Slim Whitman het by haar gepleit om in die VSA saam met hom te gaan optree. Ongelukkig wou haar plaaslike platemaatskappy haar nie toelaat om die uitnodigings te aanvaar nie.

Chet Atkins

In 1967 is sy genooi om by die Barcelona Festival of Song in Barcelona, Spanje te gaan sing en het onder die eerste 10 deelnemers geëindig. 1

In Mei 1973 het sy ook in Parys, Frankryk aan ’n internasionale musiekfees deelgeneem. 3

Deur die loop van haar loopbaan het sy gereeld veral na Engeland gereis om nuwe materiaal te soek en om haar musiek daar te bemark. Sy het steeds gewild gebly in Engeland en het met elke besoek ook daar opgetree. 1

Sy ploeg terug in die land en in jong sangers

Virginia het altyd ’n sterk standpunt gehad oor die vermoë van Suid-Afrikaanse sangers en gevoel dat hulle glad nie nodig het om terug te staan vir sangers uit die buiteland nie. Hierdie standpunt van haar het veroorsaak dat sy een keer amper nie saam met die bekende Duitse sanger – Freddy Quinn – wou optree toe hy in die land kom toer het nie.

Freddy Quinn

In 1967 het sy by haar platemaatskappy aangedring dat sy toegelaat moet word om liedjies van slegs plaaslike kunstenaars op te neem omdat daar genoeg plaaslike talent was om te kan kers vashou by internasionale musiek. Sy het selfs vir nege maande “gestaak”, totdat hulle haar toegelaat het om dit te doen. Hierna het sy die plaat My lieflike dag opgeneem met slegs plaaslike musiek en lirieke soos onder ander Flippie van Vuuren se bekende “Groen Koringlande”. 1

Virginia Lee Academy

In 1963 het sy in Durban die Virginia Lee Academy gestig – ’n musiekskool waar studente opgelei is in sang en ook in die fyner punte van optredes en opnames. Sy het ook ’n opnameateljee met kwaliteitstoerusting as deel van die skool ontwikkel. Een groot voordeel van die musiekskool is dat haar studente gewaarborg is dat hulle werk sou hê nadat hulle klaar gestudeer het. Enkele van die studente wat hier opgelei is, het later bekend geword in die land se musiekkringe, soos onder andere Linda Barrie, Jody Wayne, Eve Madison, Howard Carpendale en Darryl Jooste.

Virginia het ook vir Cora-Marie in haar loopbaan gehelp. Dit was ook Virginia wat hierdie verhoognaam vir haar gegee het. 1

Cora-Marie

Durban Song Festival

In 1964 het Virginia heeltemal op haar eie en met haar eie geld die Durban Song Festival begin. Die naam is later verander na die South African Song Festival. Daardeur het sy aan plaaslike komponiste die geleentheid gegee om hul musiek bekend te maak. Die eindronde van hierdie eerste fees is op 10 Januarie 1965 gehou en die wenner was Jody Wayne met sy lied “Voice in the Dark”. Sedert 1968 het die Suid-Afrikaanse Musiekregte-Organisasie (SAMRO) fondse beskikbaar gestel om dit aan te bied. 1

In 1969 het Virginia steeds die kompetisie aangebied. 7

Ongelukkig moes die fees in 1969 gestaak word omdat die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) in Oktober 1969 besluit het om presies dieselfde soort fees aan te bied. Mense uit die musiekwêreld het hulle hieroor gekritiseer en gevra waarom hulle nie liewer met die bestaande South African Song Festival saamwerk nie. Na bewering was die reaksie van die destydse organiseerder van ligte musiek by die SAUK dat hulle “meer geld as Virginia het”. Daarmee is een van Virginia se drome en een waaraan sy baie geld en tyd gegee het, vernietig. 1

Toekennings

Virginia het deur haar loopbaan talle toekennings ontvang.

Op 21 Oktober 1965 het sy haar eerste SARIE-toekenning vir beste Afrikaanse sangeres ontvang. In daardie jare was die SARIE-toekennings die groot prestigeprys in die Suid-Afrikaanse musiekwêreld en hierdie was een van talle daarvan wat sy ontvang het. Die ander was in die kategorieë Beste Sangeres (1968/1969), Beste Langspeelplaat van die Jaar (1968/1969), en Beste Country en Western Sangeres (1971). 4

Virginia was die eerste sangeres in Suid-Afrika wat ’n goue plaat vir plateverkope ontvang het – dit het in Desember 1965 gebeur en dit was vir die verkoop van een miljoen solussewes met die titel Goodbye My Love. 3

Slegs sewe maande later het sy ’n tweede goue plaat ontvang vir die verkoop van een miljoen solussewes met die titel Darling It’s Wonderful. 2

Net ’n paar maande later het haar plaat, Cu Cu Ru Cu Cu Paloma, ook ’n goue toekenning ontvang. 1

Talle van haar liedjies het ook op Springbokradio Top 20 geboer. 1

Virginia se stem word stil

In 1986 is borskanker by Virginia gediagnoseer. Sy het die siekte vir twee jaar geheim gehou van die publiek en selfs haar familie. Toe sy dit uiteindelik bekendmaak, was dit te laat vir ’n operasie. Sy het tot met haar dood op 7 Januarie 1990 ’n kluisenaarslewe gelei. Sy was maar net 63 jaar oud. 1

Woordbank

akrobatiese danseres Danseres wat ook onder meer gimnastiekbewegings en spronge in haar danse doen.
ateljee Plek waar klankopnames gemaak word.
befaamde Beroemde.
deurbraak Sukses, welslae, triomf, oorwinning, vordering.
foneties Volgens die klank van die woorde.
gewild Iemand van wie mense baie hou.
grafiese kuns Om grafieke, tekeninge of ontwerpe vir ’n maatskappy te maak.
kabaret ’n Uitvoering wat bestaan uit sang en stories.
kers vashou Om soos ander te kan presteer.
kitsroem Roem wat kunsmatig is en nie werklik verdien word nie.
klarinet Blaasinstrument met gaatjies wat deur die musikant se vingers met plaatjies oop- en toegemaak word.
klopdanser Vorm van dans waarin dansers met hulle skoene klopgeluide maak.
kluisenaar Iemand wat alleen woon en hom/haar van ander mense afsonder.
lirieke Die woorde van ’n lied.
materiaal Temas waaroor liedjies gekry kon word en nuwe liedjies om hier te gebruik.
melodieë Liedjies se wysies.
nagklub Kuierplek waar mense laat in die aande kuier en drankies drink en soms na musiek luister.
onder die knie te kry Om iets reg te kry.
plaat Voordat daar CD’s was, is liedjies op plate opgeneem – plat, ronde skywe met fyn groefies waarin die platespeler se naald geloop het terwyl die plaat teen ʼn sekere spoed in die rondte draai.
prestasies Iets belangriks wat ʼn mens regkry.
prestige Belangrike prys waaraan mense baie waarde heg.
repetisies Herhaalde oefeninge om iets reg te kry.
saksofoon Blaasinstrument wat gewoonlik van geelkoper gemaak word.
skuilname Om ’n ander naam as jou eie te gebruik.
superster Kunstenaar wat oral bekend is en talle prestasies behaal het.
toevallig Iets wat gebeur sonder dat dit so beplan is.
trompet Soort blaasinstrument.
uitgeblink Om besonder goed te presteer.
uitgestof Gewen.
vasbeslote Om te besluit om iets beslis reg te kry.
verhoognaam Naam wat ’n kunstenaar op die verhoog gebruik as hulle nie hul eie naam gebruik nie.
verskeidenheidskonserte Konserte met verskillende nommers, soos sang, dans en voordrag.

Lees hier meer

Kyk hier

Luister hier

“All I Want To Do In Life” – Virginia se laaste openbare optrede. Teen die tyd dat sy opgehou het om op te tree, was daar nog nie televisie nie

Goodbye my love – die lied waarvan Virginia die liriek geskryf het en wat vir haar nog meer roem in die buiteland gebring het. Hier sing sy dit saam Murray Campbell, die trompetspeler wat aanvanklik die lied opgeneem het.

Die oorspronklike opname van “Goodbye My Love”, slegs op trompet gespeel deur Murray Campbell. Hier kan jy sommer sien hoe ’n platespeler en 45-spoed plate lyk!

“When The Snow Is On The Roses”

“Seeman”

“Green Grow The Lilacs”

“A Tear Fell”

“Wish Me A Rainbow”

“Tien duisend myl”

“Tell Me Why”

Virginia het selfs “The Click Song” met sy klapklanke opgeneem!

Foto: iStock
Gepubliseer op: 6 April 2024 | Bygewerk op 9 April 2024