Vinnige feite

  • Cora Marie het ’n paar liedjies met ’n roos in die titel gesing en daarom is ’n roos in 1985 na haar vernoem. Die Cora Marie-roos kan vandag nog in tuine geplant word.
  • Een van Cora Marie se stiefseuns, Anton Myburgh, het self ook ’n sanger en liedjieskrywer geword.
  • Cora Marie is die “bossiekopsangeres” genoem weens haar kenmerkende haarstyl van gekrulde hare.
  • Sy het ook ’n kinderalbum uitgegee, wat Cora Marie in feëland genoem is.
  • Mynhardt het die Suid-Afrikaanse Legendesmuseum in Pretoria geopen waar daar van Cora Marie se aandenkings besigtig kan word. 5

Cora Marie (1953-1994) was ’n baie gewilde Afrikaanse sangeres. Sy het in die vroeë jare tagtig bekend geword en word gereken as een van die voorlopers van Afrikaanse countrymusiek. Sy het groot sukses met haar liedjies behaal en het 21 goue toekennings ontvang. Dit beteken dat 21 van haar musiekalbums goue status bereik het.

Sy het ongelukkig in haar vroeë veertigerjare aan kanker gesterf. 1

Grootwordjare

Sy is as Cora Nell op 3 Januarie 1953 gebore. Haar pa is in ʼn motorongeluk oorlede toe sy slegs ’n jaar oud was. Haar ma Rina was sonder enige heenkome met vier klein kinders. Cora-hulle is toe na die AGS-kinderhuis in Lyndhurst waar sy vir die volgende nege jaar sou bly.

Sy moes van kleins af hard werk in die kinderhuis en het nie ’n maklike lewe gehad nie. Sy is ook glo dikwels deur skoolmaats geboelie en gespot omdat sy in ’n kinderhuis grootgeword het. 2

Toe sy tien jaar oud was, is sy en haar broers, Bobby, Jimmy en Dennis, deur ’n familielid van haar ma aangeneem, en hulle is ook in daardie tyd in Pretoria met haar ma herenig. Dit was steeds nie maklike kinderjare nie en sy het op 17-jarige ouderdom by die huis uitgetrek en gaan werk.

Sy was glo onder meer iemand wat plekke by teaters aangewys het (in Engels: usherette), ’n telefoniste by die Suid-Afrikaanse weermag en het ook by die SAUK gewerk. ’n Telefoniste is iemand wat ’n telefoon beantwoord en oproepe deurskakel na die regte mense. Vandag word mense in dié beroep gewoonlik ontvangsdames genoem.

Cora Marie was glo van kleins af baie lief vir musiek en het graag gesing. Sy het later as volwassene aan talentkompetisies begin deelneem en ook by plekke begin optree.

Dit was glo die sangeres Virginia Lee wat die verhoognaam “Cora Marie” voorgestel het.

Cora Marie het haar eerste enkelsnit (in Engels: seven single) in 1974 opgeneem. Dit is Sou ek ’n lied kon bring genoem, wat die Afrikaanse weergawe van die ABBA-treffer “Hasta manana” was. Dit was ongelukkig nie ’n sukses nie en boonop het ’n bekende in die musiekbedryf vir haar gesê dat haar stem nie goed genoeg was om ’n sangeres te word nie.

Dit het haar egter nie gestuit nie en sy het besluit om nie haar sangdroom te laat vaar nie. Sy het vantevore al ’n plateregisseur genaamd Corrie Myburgh ontmoet en sy het hom om hulp genader. Hy het besluit om haar te help om haar loopbaan te bevorder. Myburgh het vir haar ’n platekontrak beding en haar enkelsnit Vreugde op die plaas is vrygestel.

Die musiek in daardie jare was nog op langspeelplate gespeel. Daarna het kassette gevolg en eers daarna was dit CD’s. Vandag is musiek digitaal en jy laai dit sommer een-twee-drie af.

Sy en Myburgh het ook ’n verhouding aangeknoop en is op 17 September 1979 getroud. Hulle het nie kinders saam gehad nie, maar hy het drie seuns uit ’n vorige huwelik gehad. 3

Gee haar ’n roos

Haar volgende liedjie was ’n groot treffer en het ook ’n interessante agtergrond. Die liedjie se naam was “Gee haar ’n roos”. ’n Sanger genaamd John Edmond het in 1980 vir Corrie Myburgh ’n kasset met liedjies gegee. Dit is deur ’n liedjieskrywer Pieter Britz geskryf.

Myburgh het van die liedjies gehou en Britz besoek en hulle het saam deur ’n lêer van liedjies gewerk. Britz het ’n stuk papier opgefrommel en dit weggegooi en Myburgh was nuuskierig daaroor en het dit uit die asblik uitgehaal. Dit was die lirieke vir “Gee haar ’n roos”.

Britz het nie gedink dat die liedjie goed genoeg was nie, maar Myburgh het anders gedink en Cora Marie het ook glo dadelik daarvan gehou. Sy het die liedjie gesing en opgeneem, maar aanvanklik was die musiekbedryf ook nie gaande daaroor nie en wou dit nie eens oor die radio speel nie. Gelukkig was daar ’n omroeper by die destydse Radio Hoëveld wat wel daarvan gehou het. Sy naam was Sarel Marais en hy het dit op sy program gespeel. Mense was toe mal daaroor en hulle het die radiostasie gevra om dit weer en weer te speel.

Die liedjie het op 13 Maart 1981 tot Springbok Radio se Top 20 toegetree, die 16de plek gehaal en vyf weke lank op die treffersparade gebly. Die liedjie is ook op Cora Marie se langspeelplaat, Lang verlang kontrei, opgeneem en dit het aan haar haar eerste goue plaat besorg. Dit is wanneer daar van ’n musiekalbum (plaat of CD) een miljoen kopieë verkoop is. Platinumstatus beteken nóg meer verkope as goud. Van haar 21 albums, het 14 goud, twee dubbelgoud- en een platinumstatus bereik. 2

Cora Marie kry ’n sangmaat

Die sangeres is ook bekend vir die musiek wat sy saam met ’n sangmaat Kupido gesing het. Die vennootskap is gebore toe sy een aand op ’n radioprogram genoem het dat sy na oorspronklike Afrikaanse liedjies op soek was. ’n Man genaamd Johan Wessels het daarna geluister en het ’n kasset van sy komposisies vir Corrie Myburgh gestuur.

Myburgh was baie beïndruk met sy liedjies en stem. Hy het hom toe gebel en ’n platekontrak aangebied en gesê dat Wessels net ’n ander verhoognaam moes kry. Hulle het toe die verhoognaam Kupido gekies. Voordat Wessels en Cora Marie saam sou sing, moes hy egter eers as ’n solosanger bekend geword het. Hy het dit sommer uit die staanspoor reggekry met sy eie komposisie “Was ek maar ’n digter”.

Dit het Springbok Radio se Top 20 op 8 April 1983 gehaal. Hy het tot by die 16de plek gevorder en vier weke lank op die treffersparade gebly. Hy en Cora Marie het in dieselfde jaar hul eerste duetlangspeelplaat, Country in harmonie, bekendgestel en voor 40 000 mense by die Randse Skou opgetree. Hulle het ook ’n album met Kersmusiek uitgegee. Dit is Die klokkespel genoem en is saam met Laurika Rauch en Johan Stemmet opgeneem.

Die volgende jaar het sy die album Goue treffers herleef bekendgestel waarop sy duette saam met legendes soos Jurie Ferreira, Al Debbo, Min Shaw, Gert van Tonder en Virginia Lee opgeneem het.

In 1987 het Cora Marie en Kupido weer saamgespan en die album Totsiens gister, Hello môre uitgegee.

Kupido het meer as 400 liedjies in sy leeftyd geskryf. Hy is op 62-jarige ouderdom op 22 Februarie 2016 oorlede. 4

Kanker eis Cora Marie

In April 1992 is kanker van die dikderm by Cora gediagnoseer. Sy het twee operasies en vele behandelings ondergaan om te probeer om die kanker te verwyder. Die kanker was in 1993 in remissie, maar dit het ongelukkig weer teruggekeer.

Dit was haar droom om ’n Christelike album op te neem en die album is in April 1994 in drie dae onder baie moeilike omstandighede opgeneem. Die album is U wil sal geskied genoem en dit het musiekrekords oortref deur binne sewe weke meer as 80 000 eksemplare te verkoop.

Sy is op 41-jarige ouderdom op 8 Julie 1994 oorlede. Sy is in die Pretoria-Oos-begraafplaas begrawe met die volgende woorde wat op haar grafsteen verskyn: “Daar was maar net een soos sy”.

’n Boek oor haar lewe is in 2012 uitgegee. Die boek, Gee haar ‘n roos – die lewensverhaal van Cora Marie, is deur een van haar grootste bewonderaars Shaun Mynhardt geskryf. Talle bekendes het hul herinneringe oor haar in die boek gedeel.

Woordbank

beding Oor iets onderhandel.
countrymusiek Soort musiek, oorspronklik uit die VSA, met plattelandse en cowboyliedjies as grondslag, veral op ’n kitaar begelei.
duette Musiekstukke vir twee sangers of spelers.
eksemplare ‘n Aantal van dieselfde gedrukte, getikte, geskrewe stukke of boeke.
enkelsnit Plaat wat net een snit aan elke kant bevat; solussewe.
gewilde Iets of iemand waarvan baie mense hou.
komposisie Musiekstuk.
langspeelplate Grammofoonplaat met ’n lang speeltyd, gewoonlik minstens 20 minute aan ’n kant, en ’n driekwartier na ’n uur in totaal; langspeler.
legendes Mense wat beroemd is en bewonder word vir sy iets wat hule gedoen het.
gestuit  Tot stilstand bring, keer, teëhou of stop.
goue status Wanneer daar van ’n musiekalbum (plaat of CD) een miljoen kopieë verkoop het. Platinumstatus beteken nóg meer verkope as goud.
lirieke Die woorde van liedjies.
omroeper Die aankondiger van radioprogramme; iemand wat oor die radio uitsaai.
plateregisseur  Iemand wat met kunstenaars werk om hul albums op te neem.
remissie Die tydelike verligting van ’n siekte, soos kanker.
telefoniste Dis iemand by ’n onderneming wat die telefoon beantwoord en oproepe na die regte mense deurskakel.
treffersparade Lys van die gewildste musiek in ’n land.
uit die staanspoor Van die begin af.
vennootskap ’n Ooreenkoms tussen twee of meer mense om saam sake te doen.
voorlopers Pioniers, mense wat die leiding neem op ’n gebied.

Lees hierdie artikels om meer oor Cora Marie te leer

Kyk hier na video’s om meer oor Cora Marie te leer

Haar lewensverhaal (argiefmateriaal)

Corra Marie gesels oor haar loopbaan

’n Huldeblyk ná haar dood

Luister na haar liedjie “Gee haar ’n roos”

Foto: iStock
Gepubliseer op: 9 April 2024 | Bygewerk op 9 April 2024