Vinnige feite

  • Skrywers verskil oor die jaar waarin Jim gebore is – sommige sê 1923 en sommige sê 1924. 3
  • Jim het self ook van sy trefferliedjies geskryf, soos “Bimbo”, “Mexican Joe” en “Yonder Comes A Sucker”. 1
  • Jim Reeves het in 1984 steeds ’n treffer op die VSA se lys van Countrymusiektreffers gehad – 20 jaar nadat hy dood is! 2

Wanneer iemand jonk is wanneer hy of sy sterf, is dit altyd ekstra hartseer. Wanneer so ’n persoon wat jonk sterf, in die hele wêreld bekend is en ook een van die mees invloedryke en gewildste sangers van countrymusiek, popmusiek en geestelike liedere is, dan is dit vir die wêreld nóg moeiliker om te aanvaar. Dit is wat met Jim Reeves of “Gentleman Jim” gebeur het. Gelukkig kan ’n sanger se musiek darem vir altyd bly voortleef.

Die jong Jim

Jim Reeves is op 20 Augustus 1923 naby Carthage in Galloway, Texas gebore. Hy was die jongste van agt kinders (sommige skrywers sê hulle was nege kinders) en toe hy ’n kind was, is hy Travis genoem. Sy ouers was Thomas Middleton Reeves en Mary Beulah Adams Reeves. 1

Hy het in ’n arm boeregesin grootgeword. Sy pa is oorlede toe hy nog maar ’n baba was en sy ouer broers moes die skool verlaat om die gesin te help onderhou. 2

Hy het van kleins af in musiek en sport belanggestel en het bofbal gespeel. Hy het vir ’n rukkie spraak en drama aan die Texas-Universiteit in Austin, Texas gestudeer, maar dit ná ses weke gestaak en toe in die skeepsdokke in Houston gaan werk. Dit was tydens die Tweede Wêreldoorlog. 1

Jim het uitgeblink in bofbal – eers by sy skool in Carthage, Texas en later by die Texas-Universiteit. Dit het gelyk asof hy op pad was om van bofbal ’n loopbaan te maak toe hy vir St. Louis Cardinals gespeel het, maar toe beseer hy sy enkel, en dit het veroorsaak dat hy nie langer bofbal kon speel nie. 3

Musiek word sy loopbaan

Jim was van kleins af versot op musiek. Hy was maar vyf toe hy sy eerste kitaar gekry het! Hierdie kitaar het nie meer al sy snare gehad nie (meeste kitare het ses snare en mens kry ook kitare met 12 snare), maar ’n konstruksiewerker het dit vir hom reggemaak en vir hom ’n paar basiese kitaarakkoorde geleer.  Toe hy nege was, het hy vir die eerste keer ’n 15-minuut lange uitsending oor die radio gehad! 4

Toe hy 12 jaar oud was, het hy al by danse gesing en kitaar gespeel. 2

As jong man het hy verskillende soorte werk gedoen terwyl hy besluit het watter loopbaan om te volg. Toe hy in 1947 met ’n onderwyseres, Mary White, getroud is, het sy hom aangemoedig om meer aandag aan sy sangloopbaan te gee. Hy het toe solo gesing en was ook deel van die Moon Mullican Band begin sing. Hy het in hierdie tyd ook as omroeper begin werk, eers by die radiostasie KGRI en later (in 1952) by KWKH in Louisiana. Hy was aanbieder van ’n musiekprogram en een aand toe die sanger Hank Williams nie opdaag nie, het Jim in sy plek gesing. Dit was gedurende hierdie uitsending dat die eienaar van ’n platemaatskappy, Abbot Records, hom gehoor het en hom dadelik ’n platekontrak aangebied het. 4

Dit was die begin van sy suksesvolle sangloopbaan. Sy lied “Mexican Joe”, wat hy ook self geskryf het, was in 1953 die nommer een-treffer. Hy het in 1955 oorgeskuif na die RCA platemaatskappy en sy sukses het net voortgeduur. In 1957 het sy opname van “Four Walls” hom nog verder gewild gemaak onder luisteraars. Daarna het die lied “He’ll have to go” in 1960 van hom ’n internasionaal bekende ster gemaak. Hy het in elke staat in Amerika gesing en ook in die buiteland getoer. 4

Sy tyd agter die radiomikrofoon het hom goed gehelp toe hy as sanger begin optree het. Hy was toe reeds gewoond aan die mikrofoon en hy het dit sommer maklik gedoen sonder om senuweeagtig te wees. 3

Jim se heel grootste treffer tussen al die baie trefferliedjies wat hy gesing en opgeneem het, was “He’ll have to go” wat deur Joe Allison en Audrey Allison geskryf is. Daar is wêreldwyd meer as 3 miljoen kopieë van hierdie solussewe (in Engels: seven single) verkoop en dit het eintlik sy temalied geword.

Hierdie lied het hom ook gehelp om internasionaal bekend te word in Europa, Brittanje en selfs in Indië. Hy het ook baie ondersteuners in Skandinawië en Suid-Afrika gehad. Hy het in al hierdie lande gaan toer en ook liedjies in die tale van lande waar hy getoer het, opgeneem. Dit het hom natuurlik nog meer gewild gemaak onder sy aanhangers in daardie lande. 1

Jim, die man van vele talente

Jim was nie net ’n sanger nie, hy was ook ’n toneelspeler en ’n sakeman.

In 1963 het hy in die rolprent Kimberley Jim gespeel. Heelwat van die liedjies wat hy gesing het, is in die rolprent opgeneem, soos “I won’t forget you”, “Strike it rich” en “Diamonds in the sand”. 1

Hierdie rolprent is in Suid-Afrika verfilm en dit het hom natuurlik nóg meer gewild te maak onder Suid-Afrika se mense. 1

Hy het selfs liedjies in Afrikaans opgeneem – wat hy natuurlik met ’n vreemde Amerikaanse uitspraak gesing het!

Hy het verskeie radiostasies in Texas en in Louisiana besit. Hy het ook ’n plaas in Brentwood, Tennessee gehad waar hy met beeste en perde geboer het. 1

Ja, Jim was ʼn veelsydige mens, en asof al hierdie dinge nie genoeg was nie, het hy boonop ’n vlieglisensie gehad en ’n Beechcraft Debonair-vliegtuig besit. Hy het die vliegtuig gebruik om na sy konserte en ook na ander afsprake te vlieg. 1

’n Geliefde sanger sterf te vroeg

Op 31 Julie 1964 was Jim en Dean Manuel, sy bestuurder en klavierbegeleier, op pad van Arkansas na Nashville toe hulle deur ’n swaar donderstorm moes vlieg. Hul vliegtuig het in ’n dig beboste gebied neergestort en is eers twee dae later gevind. Volgens forensiese bewyse en opnames van die beheertoring, het hy die bevel om links te draai om die storm te vermy, geïgnoreer en regs geswenk om die Franklin Road-roete na die lughawe te volg. Hy was maar net 40 jaar oud.

Sy begrafnis is deur duisende aanhangers en ander sangers bygewoon. Hy is naby sy geboorteplek in Carthage, Texas begrawe.

Op sy grafsteen staan geskryf:

If I a lowly singer dry one tear

Or soothe one humble human heart in pain,

Then my homely verse to God is dear

And not one stanza has been in vain. 1

Selfs ná sy dood steeds ’n ster

Jim se gewildheid het nie opgehou toe hy dood is nie, dit het aangehou en selfs nog groter geword. Sy weduwee het al die liedjies wat hy reeds opgeneem het, maar wat nog nie bekendgestel is nie, gehou en dit deur die jare geleidelik die een na die ander uitgereik. Baie van hierdie liedjies wat ná sy dood uitgereik is, het groot treffers geword, soos “Distant Drums” en “When Two Worlds Collide”.

Talle van sy plate het goue- of platinumstatus in verskillende lande behaal. Sy naam is in 1967 in die Country Music Hall opgeneem en in 1998 in die Texas Country Music Hall of Fame. Hy het verskeie toekennings ontvang en word beskou as een van die grootste sangers in die geskiedenis asook een van die mees invloedryke kunstenaars in die geskiedenis van countrymusiek. 1

In 2000 is daar ’n album uitgereik met die titel The Unreleased Hits of Jim Reeves. 6

In Nederland is daar in 2003 drie van sy liedjies deur radioluisteraars as hul gunstelingliedjies gekies. 4 Om te dink dit was toe reeds 39 jaar na sy dood!

In 2008 het die Mangalore Damesklub in Indië selfs ’n byeenkoms gehou om die 44ste jaar van sy dood te herdenk. 7

Woordbank

akkoord  ’n Sameklank van drie of meer tone in ’n oktaaf. Op ’n kitaar word dit ook “kitaardrukke” genoem, daarmee maak mens die musiek op ’n kitaar.
bofbal ʼn Balspel met nege spelers aan elke kant, waarvan elkeen een of meer kanse kry om ʼn lopie aan te teken deur die bal te slaan en rondom ʼn vierkant te hardloop.
duetopnames Wanneer twee sangers saamsing.
gewild Wanneer mense baie van ’n persoon of iets hou.
goue status Wanneer daar van ’n musiekalbum (plaat of CD) ’n sekere aantal kopieë verkoop het. Platinumstatus beteken nóg meer verkope as goud.
herdenk Om aan iemand te dink en hulde te bring aan die persoon nadat hy of sy oorlede is.
invloedryk Wat groot invloed het/uitoefen.
konstruksiewerker Persoon wat werk waar geboue gebou word.
loopbaan Die werk wat ʼn mens doen, byvoorbeeld Hy het sy loopbaan begin deur by ʼn koerant te werk.
omroeper Die aankondiger van radioprogramme; iemand wat oor die radio uitsaai
onderhou Van die nodige kos, klere en skuiling voorsien om te oorleef.
platekontrak Platemaatskappye sluit ’n kontrak met kunstenaars om hul musiek op te neem en te verkoop.
platinumstatus Wanneer daar van ’n musiekalbum (plaat of CD) ’n sekere aantal kopieë verkoop het.
Skandinawië Swede, Noorweë, Denemarke en Finland.
skeepsdokke Die plek waar skepe in ’n hawe geanker lê.
solo Om alleen te sing.
solussewe Plaat wat in Engels ’n “seven single” genoem is en gewoonlik slegs een, soms twee liedjies aan elke kant van die plaat gehad het.
uitgeblink Om besonder goed te presteer.
veelsydige Iemand wat baie (verskillende) dinge goed kan doen.
versot Vreeslik baie van iets hou.

Kyk hier

Luister hier

Sy heel grootste treffer: “He’ll have to go”

Jim Reeves se biografie (Deel 1)

Jim Reeves se biografie (Deel 2)

Lees hier

 

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 Februarie 2024 | Bygewerk op 26 Februarie 2024