Vinnige feite

  • Sy het nooit geleer hoe om motor te bestuur nie. Haar pa het op ’n keer probeer om haar te leer, maar dit het nie gewerk nie! 11
  • ’n Dokumentêre program vir M-Net oor Shaleen se lewe met die titel I am Who I Am waarin haar loopbaan gevier word, was reeds klaar verfilm toe sy oorlede is. Dit is in Junie 2021 uitgesaai. 8
  • Wanneer sy alleen by die huis was en net wou ontspan, het sy dit gedoen met ’n pakkie sigarette, blokkiesraaisels ingevul en televisie gekyk. 12
  • Shaleen het in Witpoortjie aan die Wes-Rand gebly. 3
  • Haar gunstelingakteur was Robert de Niro, en haar gunstelingaktrise Kathy Bates. 12

Sy was op die hoogtepunt van haar loopbaan die liefling van die land met talle pryse agter haar naam, en daar is baie min mense in Suid-Afrika wat nie van haar geweet het nie. Sy het egter voor haar dood baie swaargekry, en haar tragiese dood het uiteindelik ook lig gewerp op die uitdagings wat lede van die vermaaklikheidsbedryf in Suid-Afrika in die gesig staar, en hoe hulle dikwels deur die bedryf in die steek gelaat word.

Die jong Shaleen

Shaleen Rathini Alma Richards is op 7 Mei 1955 in Upington in die Noord-Kaap gebore. 1

Sy het in Upington en ook in Kaapstad skoolgegaan. Haar ouers was albei onderwysers, en haar pa was ook ’n skoolhoof. Shaleen het hulle voorbeeld gevolg en onderwys gaan studeer. Daarna het sy tussen 1974 en 1984 as ’n kinderteateronderwyseres gewerk. 2

Die verhoog roep na haar

Volgens Shaleen was sy altyd “afshowerig” en het sy haar eerste optrede op die verhoog gehad toe sy net vyf jaar oud was – in ’n balletkonsert. Die juffrou het voor die konsert ’n moesie op haar wang geteken, en toe die gordyne oopmaak, het sy na haar pa gehardloop om vir hom die moesie te wys! 3

Reeds van jongs af het sy van die teater gehou, en sy het ook by ’n dramagroep aangesluit. Tussen 1974 en 1981 het sy in ’n hele klompie amateurverhoogopvoerings gespeel. Sy het ook tussen 1982 en 1984 aan opvoedkundige dramaprojekte van die Departement van Onderwys deelgeneem. 2

Dit was ’n akteur met die naam Royston Stoffels wat vir Shaleen oorreed het om haar onderwyswerk te verlaat en voltyds te begin toneelspeel. Dit was vir haar ’n moeilike besluit omdat sy dit geniet het om met kinders te werk, maar in 1984 het sy tog besluit om die verhoog haar professionele loopbaan te maak. 2

Verhoog

Sy het onder meer rolle in die volgende toneelstukke vertolk:

The Comedy of Errors (1986); Die proponentjie (1986); Kyk hoe hol hulle (1986); Blomtyd is bloeityd (1987); Romeo and Juliet (1988); Aap in die mou (1988); Legende! (1988); Just Like Home (1989); Juno and the Paycock (1990); Selle ou storie (1991); Buckingham Palace (2001); District Six (2001); die pantomime RooiKoppitjie (2001); The Vagina Monologues (2002); Cinderella (2005); Shirley Valentyn (2008 – die Afrikaanse vertaling van Shirley Valentine); As ek maar geweet het(2011); Scrooge (2013); Rondomskrik (2014); en Siener in die suburbs. 2

Televisie

Die rol wat Shaleen ’n huishoudelike naam in Suid-Afrika gemaak het, is sekerlik haar rol as die karakter “Ester ‘Nenna’ Willemse” in die land se heel eerste sepie, Egoli: plek van goud. Mense het sommer kortliks van “Egoli” gepraat. Hierdie reeks is destyds uitgesaai in M-Net se “oop tyd”, wat beteken het dat alle kykers daarna kon kyk, selfs al was hulle nie op M-Net ingeteken nie. 2

As Nenna in Egoli

Egoli was Suid-Afrika se heel eerste sepie en is deur Franz Marx geskryf. Die eerste episode is op Maandag 6 April 1992 uitgesaai en die laaste en 4 689ste episode op Woensdag 31 Maart 2010. Net vier akteurs het in elke seisoen van die program gespeel – Christine Basson, Shaleen Surtie-Richards, Brümilda van Rensburg en Hennie Smit. 4

Haar ander verskynings op televisie, sluit in Generations; 7de Laan; Villa Rosa; Fishy Fêshuns; It’s OK, We’re Family; Ou grote; en Rugby Motors.

Sy het in 2001 ook haar eie gespreksprogram op M-Net aangebied, en sy was vir ’n paar jaar een van die beoordelaars van die kompetisie Supersterre. 2

Rolprente

Van die bekende rolprente waarin sy gespeel het, is onder meer Nag van die 19de (1992); twee van Leon Schuster se rolprente – Panic Mechanic (1996) en Mama Jack (2005); Halfmanspunt (1986), Susanna van Biljon (2010); Jimmy in pienk (2013); Agent 2000: die laksman (2014); Knysna (2014); Treurgrond (2015); Twee grade van moord (2016); Funny Enough (2016); Draadloos (2019); Showmax se Swirl: A Letter to Hair on the Cape Flats (2021); en Slay (2021). 2

Fiela se kind

Haar heel bekendste rol in ’n toneelstuk was dié van “Fiela Komoetie” in Fiela se kind. Met die eerste speelvak van Fiela se kind in 1986 by die destydse Nico Malan-teater in Kaapstad, was al die kaartjies uitverkoop drie weke voor die opvoering begin het! Die speelvak is verleng en uiteindelik het dit vanaf 13 Augustus tot 4 Oktober 1986 geduur met meer as 61 opvoerings. 5

Ná die 1986-toneelstuk is daar in 1988 ’n rolprent met dieselfde naam vrygestel. 2 Net soos die rol van Nenna in Egoli haar aan televisiekykers landwyd bekendgestel het, het haar vertolking van Fiela in die rolprent Fiela se kind haar nog verder deur die hele land bekend en geliefd gemaak.

30 jaar ná die eerste verhoogopvoering, het sy in 2017 en 2018 weer die rol op die verhoog vertolk toe die opvoerings deur Lefra Produksies aangebied is. 1

Die toneelstukke en rolprente Fiela se kind is almal verwerkings van Dalene Matthee se ikoniese en aangrypende 1985-roman met dieselfde titel.

Dalene Matthee

Toekennings

Volgens ’n onderhoud wat in 2010 met Shaleen gevoer is, het sy op daardie stadium reeds 40 toekennings ontvang. 3 Die eerste daarvan was toe sy nog ’n amateuraktrise in 1978 was. 1

Sy het twee keer ’n Fleur du Cap-toekenning as beste aktrise ontvang – die eerste keer vir haar heel eerste professionele optrede in Hallo en koebaai (1985) en toe weer in 2009 vir haar rol in Shirley Valentyn. 2

In 2005 is sy deur die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) as Afrikoon aangewys – ’n toekenning wat sy vir haar lewenslange bydrae tot die kunste ontvang het. 1

In 2014 het sy tydens die Royalty Soapie Awards in Durban ’n toekenning vir haar lewenslange bydrae tot toneel ontvang. 2

Shaleen en Tobie Cronjé

Shaleen in haar eie woorde

’n Mens leer gewoonlik iemand die beste ken wanneer hulle self oor hul lewe vertel. Shaleen het oor die jare talle onderhoude gedoen waarin sy vir aanhangers ’n blik op haar lewe en loopbaan gegee het.

Haar ouers

Shaleen was van kleins af baie naby aan haar ma en pa. Sy vertel dat haar pa baie streng was, maar dat sy nog nooit spyt was oor hoe sy grootgemaak is nie. Haar pa is in 2000 oorlede. Sy het toe haar ma in die Kaap gaan haal om in Johannesburg te kom woon. Sy het vir haar ma ’n woonstel gekoop, maar omdat haar ma gewoond was aan ’n huis én ’n agterplaas, het sy nie lekker in die woonstel gebly nie. Toe koop Shaleen vriende se huis as ’n verrassing vir haar ma, en hulle het daar gaan woon. 6

Haar ma was haar rolmodel. Sy het haar ma se deursettingsvermoë en haar geloof in die Here bewonder. Dit was ook waar haar eie geloof vandaan gekom het. 7

Shaleen se ma

Huwelik

Shaleen was getroud, maar die huwelik het nie gewerk nie. Daarna was haar lewe te vol, en sy was daarna nie weer in ’n verhouding met ’n man nie. 3

Haar gesondheid

In die laaste jare voor haar dood was haar gesondheid nie goed nie. Sy het onder meer aan diabetes gely. Sy het eenkeer tydens ’n optrede op Vrouedag ’n ligte beroerte gehad en was vir ’n paar dae in die intensiewesorgeenheid van ’n hospitaal. Sy was ongelukkig ook baie lief vir sjokolade, en dit was natuurlik nie goed vir haar diabetes nie. 7

Haar finansies

Tydens ’n 2019-onderhoud het sy vertel hoe swaar sy die laaste paar jaar gekry het omdat sy nie werk gehad het nie. Sy het amper haar huis verloor omdat sy nie meer die paaiemente kon betaal nie, en sy het haar mediese fonds verloor. Op ’n stadium het sy nie eers geld gehad om kos te koop nie, en vriende moes vir haar kos koop. In hierdie tyd het die Teaterbystandsfonds (TBF) haar ook gehelp. Al die toekennings wat sy deur die jare vir haar werk gekry het, het haar niks gehelp nie, want as sy nie gewerk het nie, was daar nie geld nie. 7

Haar gewig en diëte

Soos sy altyd was, het Shaleen sommer reguit gepraat oor haar gewig en ook met haarself gespot. Sy het gesê dat sy al soveel diëte gevolg het om gewig te verloor, maar dat dit niks gehelp het nie. “Ek is vet, vet, vet. Ek lyk soos ’n bus. Ek is die vetste vark op die boer se plaas.” 7

Hartseer einde

Shaleen is op 7 Junie 2021 in ’n gastehuis in Kaapstad oorlede. Sy was besig met die verfilming van tonele vir Arendsvlei vir kykNET & Kie. 8 Sy is in die Durbanville Memorial Park in Kaapstad begrawe. 9

Dit is hartseer wanneer enige mens sterf. Wat Shaleen se dood nog tragieser maak, is dat hierdie aktrise wat so bekend was en vir jare mense in vervoering en verwondering gelaat het met haar toneelspel, moes sterf terwyl sy gesukkel het om haarself te onderhou. Dit is ongelukkig die hartseer realiteit vir baie Suid-Afrikaanse kunstenaars en ander mense betrokke by die kunstewêreld. Van buite lyk dit asof hulle ’n glanslewe lei, maar in die meeste gevalle is hulle inkomste te wisselvallig om al die gewone maandelikse uitgawes te betaal en ook nog genoeg te kan spaar vir wanneer hulle oud raak en nie meer kan werk nie. Soos met Shaleen gebeur het, is daar ook baie kunstenaars wat nie genoeg verdien om ’n mediese fonds te kan bekostig nie.

Verskeie uitsprake van vriende en kollegas na haar dood en ook tydens haar begrafnis vertel hoe kunstenaars in die steek gelaat word. In ’n huldeblyk het een van haar vriende die voormalige minister van kuns en kultuur wat die diens bygewoon het, direk toegespreek en hierdie pleidooi aan hom gerig: “I speak to Minister Nathi Mthethwa, and I plead with you: Please let us launch a fund that will ensure the longevity of all South African people in the arts and entertainment industry.” 10

Shaleen Surtie-Richards-roos

Woordbank

aangrypende Treffend; indrukwekkend.
amateur Iemand wat ’n werk, sport of kuns vir die plesier beoefen en nie omdat dit ’n werk is of om baie geld daaruit te verdien nie.
deursettingsvermoë Vermoë om vol te hou met iets; deur te druk totdat iets uitgevoer/afgehandel is.
huldeblyk Om ná iemand se dood aan hom of haar eer te betoon wanneer hy/sy iets goeds of belangriks gedoen het.
pantomime Teaterproduksie waarby slegs nieverbale kommunikasie soos gebare en gesigsuitdrukkings gebruik word.
seisoen Televisiereekse word soms ná ’n klompie episodes onderbreek, en wanneer dit later weer uitgesaai word, is dit ’n volgende seisoen.
sepie Gewilde televisiedrama wat gereeld uitgesaai word, dikwels daagliks, en vir ’n lang tydperk aanhou.
vervoering Om sommer vreeslik baie van iets te hou.
verwondering Om soveel van iets of iemand te hou dat jy jou daaroor verwonder.
wisselvallig Iets wat dikwels verander.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Shaleen

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Shaleen se werk en lewe

Die daggakoekietoneel in Egoli

Uittreksel uit Fiela se kind

Onderhoud met Shaleen op die program Bravo in 2012

Onderhoud met Shaleen op Kwêla in 2019

Lokrolprent van die dokumentêre program ter ere van Shaleen (2021)

Huldeblyk aan Shaleen deur ’n kollega en groot vriend, Royston Stoffels. Hier is ook mooi foto’s uit van die toneelstukke waarin sy opgetree het (2021).

Huldeblyke deur kollegas op Carte Blanche in 2021

Shaleen se begrafnisdiens met huldeblyke deur van haar kollegas en vriende

Gepubliseer op: 19 April 2024 | Bygewerk op 26 April 2024