Vinnige feite

  • Die bekende akteur, skrywer en regisseur, Chris Vorster, het ’n biografie met die titel Uit die perd se bek oor Franz Marx geskryf. 11
  • Sandra Prinsloo is een van die bekende kunstenaars wat jare gelede saam met Franz by TRUK gewerk het. 9
  • Sy kollega Nic Swanepoel sê die volgende oor Franz: “Hy was net vir twee mense bang: Francois Swart en Anna Neethling-Pohl.” 9 Francois was ’n bekende regisseur en Anna Neethling-Pohl was onder andere ’n bekende aktrise en ook dosent by die Universiteit van Pretoria se Dramadepartement.
Foto: iStock

Om te dink dat die man wat soveel vir teater en veral vir televisie in Suid-Afrika beteken het, nie eens beplan het om drama te gaan studeer nie. Gelukkig vir ons het hy wel by drama uitgekom, en daarom het die land ’n uitstekende akteur, draaiboekskrywer, regisseur asook rolprent en televisievervaardiger ryker geword.

Geboorte en lewe

Franz is op 21 Maart 1942 gebore. Hy het ’n seun gehad wat ook Franz genoem is, asook ’n aangenome dogter. Sy vrou se naam was Hildegard. 1

Franz was baie privaat oor sy persoonlike lewe en min is daaroor bekend.

Hy het in Namibië en in Bloemfontein skoolgegaan en was ’n goeie pianis. Daarom het hy na Stellenbosch gegaan om musiek daar te studeer, maar hy het toe oorgeslaan na drama. 2

Sy seun was ’n skut toe hy ouer was en Franz het by hom raad oor wapens gevra toe hy sy eerste boek, Spieëlbeeld, geskryf het. 3

Franz het vir lank in die luukse Michelangelo Towers in Sandton, Johannesburg gewoon. Nadat die reeks Egoli – Plek van Goud geëindig het, het hy byna al sy besittings verkoop en na ’n aftreeoord in Stellenbosch verhuis. 1

Studentejare

Franz het aan die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Potchefstroom gestudeer. Terwyl hy ’n student was, het hy in ’n aantal toneelstukke gespeel, soos onder meer ’n Bruid in die môre (1963), Die jakkalsstreke van Scapino (1963), Agt vroue (1963) en Die boesman Venus (1964). Hy het ook klasgegee aan die Universiteit van Potchefstroom. 4

Dis interessant om te sien dat Franz in 1963 in die toneelstuk ’n Bruid in die môre gespeel het terwyl hy ’n student aan die Universiteit van Stellenbosch was. En in 1972 was hy weer betrokke by ’n opvoering van hierdie toneelstuk, hierdie keer aan die Universiteit van Potchefstroom en nie as speler nie, maar as regisseur. Een van die spelers was Pierre van Pletzen wat vandag steeds bekend is op die verhoog. 5

Universiteit van Potchefstroom

’n Lewe in die toneelwêreld

In 1965 het hy by die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK) aangesluit. 5

Op die verhoog

As ’n professionele akteur het hy in onder meer die volgende toneelopvoerings opgetree – die meeste daarvan deur TRUK aangebied:

Die tas (1965), Die onwillige weduwee (1965), Pa, maak vir my ’n vlieër, Pa (1965), Die Italiaanse strooihoed (1966), Die pluimsaad waai ver (1966), Dokter teen wil en dank (1966), Die huigelaar (1986), Uit die oude doos (1967), Kats in die pekel (1972), Die burgemeester (1973), Die hamer van die hekse (1975), ’n Seder val in Waterkloof (1975), ’n Man met vakansie (1976), Die vrek (1976), Die reënmaker (1976), Saterdag, Sondag, Maandag (1978), Germanicus (1981), Putsonderwater (1981), Wie laaste lag (1988), Dagboek van ’n waansinnige (datum onbekend). 4

Nadat hy vir meer as 10 jaar nie self gespeel het nie, het hy in 2000 in Magspel, geskryf deur Deon Opperman, opgetree en in 2007 in Kaburu. 4

Hy was regisseur vir onder meer die toneelopvoerings Die jakkalsstreke van Scapino (1967), en Die drie Van der Walts (1970). 4

Hier moet mens net verduidelik hoe dit gewerk het in die dae toe daar permanente en vaste werk vir toneelspelers was by die verskillende kunsterade waarvan TRUK een was. Jy sal sien dat Franz byvoorbeeld in 1956 in twee opvoerings gespeel het, in 1966 in drie en in 1976 in drie. In daardie dae was daar speelvakke vir toneelopvoerings, dit beteken dat die opvoering soms selfs vir ’n paar weke lank aangebied is en nie net een of twee keer nie. En spelers se werk het nie begin wanneer hulle begin speel het nie, nee, hulle moes vooraf eers hul tekste leer en dan was daar repetisies waarin hulle hul rolle moes oefen. Eers dan kon die opvoering voor ’n gehoor aangebied word. Een toneelopvoering sou dus maklik meer as ’n paar maande neem van die begin tot en met die laaste opvoering.

Rolprente

Hy het in 1968 die eerste akteur in Suid-Afrika geword wat ’n voltydse rolprentakteur geword het toe hy in rolprente soos Jy is my liefling (1968) en Danie Bosman (1969) gespeel het. Jy is my liefling was sy heel eerste rolprent en hierin het hy teenoor Min Shaw gespeel. 1

Sommer stukkies interessante Inligting oor die rolprent Danie Bosman. Die rolprent het die lewensverhaal vertel van die Afrikaanse liedjieskrywer, Danie Bosman. Franz het die titelrol gespeel en ander spelers in die prent was onder andere Louis van Niekerk, Sann de Lange, Siegfried Mynhardt en Don Leonard. In hierdie jare het dit dikwels gebeur dat ’n sanger se stem gebruik is om die akteur se liedjies te sing en Lance James se stem is hier vir die sang gebruik. Hierdie rolprent het ’n groot bydrae gelewer om ’n suksesvolle sangloopbaan vir Min Shaw en Lance James te begin. 6

Nog rolprente waarin hy gespeel het, is Dr. Kalie, Sien jou môre, Groetnis vir die eerste minister en Aanslag op Kariba.

In 1973 het hy rolprente begin regisseer met sy eerste rolprent Seuns van die wolke. Hy het ook die draaiboeke geskryf vir rolprente soos Freddie’s in Love en Ma skryf matriek.  Uiteindelik het hy 18 rolprente gemaak. Hy was ook regisseur van Die Vlindervanger.

Televisiereekse

In 1980 het hy met televisiewerk begin. Hy het self in die televisiereeks Die avonture van Joachim Verwey gespeel. In die TV-reeks Agter elke man het hy ’n rol gehad asook in die reeks Dodedans en die sitkom Louis Motors. 1

Hy het uiteindelik tussen 1980 en 2000 meer as 13 televisiereekse geskryf, sewe TV-dramas en twee minireekse.

Sy heel eerste reeks was Skooldae – ’n baie gewilde reeks waarin Ben Kruger die hoofrol gespeel het. Daarna het hy ook Familiedae en Kampus geskryf. Een van sy minireekse was Adam wat die storie vertel het van Robey Leibbrandt. Robey was ’n Suid-Afrikaanse bokser wat in 1936 ʼn bronsmedalje by die Olimpiese Spele verwerf het en ook vir die Nazi’s teen Brittanje gespioeneer het. 4

Ben Kruger

Hy was ook die regisseur van nog ’n wonderlike televisiereeks – Mattewis en Meraai – die karakters van die skrywer Mikro en waarin Louis van Niekerk en Annette Engelbrecht die hoofrolle gespeel het. 6

Sepies

Franz sal waarskynlik die beste onthou word vir die heel eerste sepie wat op Suid-Afrikaanse televisie uitgesaai is, Egoli – plek van goud. Die eerste episode is op 6 April 1992 en die laaste episode op 31 Maart 2010 uitgesaai en die reeks het vir ’n volle 18 jaar aangehou met 4 706 episodes! 7

In daardie jare was daar nog ’n “oop” tydgleuf op die M-Net-betaalkanaal. Omdat almal daarna kon kyk, selfs al was hulle nie op M-Net ingeteken nie, het groot getalle kykers daarna gekyk en was dit ’n uiters gewilde program.

Franz word beskou as die “vader” of “koning” van sepies in Suid-Afrika. In ’n huldeblyk ná sy dood het die skrywer Leon van Nierop gesê dat Franz almal geleer het hoe om sepies te skryf – om die struktuur te bou en opsommings van elke episode te skryf. 8

Interessant genoeg het Franz niks van die woord “sepie” gehou nie, vir hom was dit eerder ’n “TV-dagvervolgverhaal”. 9

Draaiboekskrywer

Vir Franz as draaiboekskrywer was Jakkalsdraai se mense in 1975 ’n soort deurbraak. Dit was ’n uitstekende reeks waarin akteurs soos Wena Naudé, Wilna Snyman, Jan Bruyns, Magda Beukes, Annette Engelbrecht, Dana Niehaus en ’n jong Lieb Bester gespeel het. Franz het nie alleen die draaiboek geskryf nie, hy was ook die regisseur. 6

Wilna Snyman

Hy was die skrywer en regisseur van die televisiereeks, Agter elke man wat vanaf 1985 tot 1988 gehore aan hulle TV’s vasgekluister gehad het. Kyk bietjie na die skakels onderaan die artikel vir stukkies uit hierdie wonderlike reeks. 1

Hierdie reeks het baie karakters uitgebeeld, maar een van die bekendstes was Antie Stienie, die karakter wat deur Dulcie van den Bergh gespeel is en wat volksbesit geword het.

Nog ’n kunstenaar wat vandag landwyd bekend is en in Agter elke man se tweede reeks sy groot deurbraak op televisie gemaak het, is Steve Hofmeyr wat die rol van Bruce Beyers in die reeks gespeel het. Franz het vir Steve voorheen ook in die reeks Kampus gebruik. 6

Nog reekse en rolprente waarvoor Franz die draaiboeke geskryf het, was Liefste Madelein, Netnou hoor die kinders!, Dit was aand en dit was môre, Web of Persuasion en Grondbaronne. Hy het ook oorklankingsregie gedoen (Lied in my hart), was drama-afrigter (Pikkie) en tegniese adviseur (Groetnis vir die eerste minister). 1

Novelle

Franz het ook ’n Afrikaanse novelleSpieëlbeeld, geskryf wat in 2017 gepubliseer is. 1

Franz, die veelsydige kunstenaar

Kyk net bietjie hoe veelsydig Franz was:

In Die vlindervanger (1976) was hy draaiboekskrywer, regisseur én hy het die rol van Clark Ashley gespeel.

Hy het die draaiboek geskryf vir die skrywer Jac J. Brits se radiovervolgverhaal, Dit was aand en dit was môre. Hy het ook die regie gedoen en ’n rol daarin vertolk. Saam met hom het onder andere Anna Neethling-Pohl, Magda Beukes en Heinrich Marnitz gespeel. 6

Anna Neethling-Pohl

Sy dood

Franz Marx is op 25 September 2021 in sy broer se huis in Pretoria oorlede nadat hy in Julie 2021 Covid-19 gekry het in Stellenbosch waar hy toe nog gewoon het. 4

Hy was 79 jaar oud en sy seun Franz was by hom toe hy oorlede is. 10

Woordbank

aangenome Wanneer iemand ander ouers se kind aanneem as hulle eie kind.
aanhanger Bewonderaar en volgeling.
aanslag  Aanval.
akteur  Die persoon wat die rol van ʼn karakter in ʼn storie vertolk.
biografie Die geskiedenis van iemand se lewe wat beskryf word.
deurbraak Iets wat gebeur wat dinge in ’n nuwe rigting stuur – dit het gewoonlik ’n positiewe betekenis.
draaiboek    Die teks van ’n rolprent met aanwysings oor die maak daarvan.
draaiboekskrywer Die persoon wat die teks van ’n rolprent skryf.
grondbaronne Mense wat baie grond, dikwels plase, besit.
huigelaar  Iemand wat nie eerlik is nie en dinge voorgee wat nie waar is nie.
in die pekel In die moeilikheid.
luukse Weelderige.
novelle Kort prosaverhaal wat langer as ’n kortverhaal, maar korter as ’n roman is.
onwillige Wanneer mens iets nie wil doen nie.
oorklanking Om ’n nuwe klankbaan te skep, gewoonlik in ʼn ander taal.
privaat Iemand wat nie sy of haar persoonlike Inligting met ander mense deel nie.
professionele Wat verband hou met ’n beroep, m.a.w. jy kry ’n salaris vir dit wat jy doen.
regie Afrigting van toneelspelers/akteurs.
regisseur  Iemand wat toneelspelers afrig.
repetisies Herhaalde of finale oefeninge, ook kleedrepetisies genoem.
seder Immergroen boomsoort.
sepie Gewilde televisiedrama wat gereeld uitgesaai word, dikwels daagliks, en vir ’n lang tydperk aanhou.
sitkom Situasiekomedie – TV-reeks met dieselfde groep karakters in alledaagse situasies en deurlopende komiese gebeure.
skut Iemand wat skiet.
gespioeneer Om ’n land of persoon of organisasie se geheime te probeer uitvind.
struktuur Samestelling, rangskikking, ontwerp, raamwerk.
teen wil en dank Of jy wil of nie; teësinnig.
titelrol Hoofrol.
toneelstukke    Verhale wat deur toneelspelers op ’n verhoog opgevoer kan word.
uit die oude doos Iets wat nie modern is nie, wat uit die verlede kom.
vasgekluister Om met aandag te sit en kyk om niks te mis nie.
veelsydig Iemand wat ’n hele paar verskillende dinge goed kan doen.
vervaardiger ’n Persoon wat rolprente of TV-reekse maak.
volksbesit Wanneer mense iets as hulle eie beskou en baie daarvan hou.
voltydse Wanneer mens die hele tyd met ’n werk besig is.
vrek ʼn Baie suinige mens.
waansinnige ʼn Geestelik versteurde mens.

Lees hier

Kyk hier

Die heel eerste episode van Agter elke man

Nog ’n uittreksel uit Agter elke man waarin jy ’n baie jong Steve Hofmeyr kan sien!

Antie Stienie in Agter elke man (1)

Antie Stienie in Agter elke man (2)

Antie Stienie in Agter elke man (3)

Egoli – Plek van Goud (Uittreksel uit 1992)

Egoli – Plek van Goud. Kyk na hierdie uittreksel uit 1996 om bietjie meer te sien van hierdie gewilde sepie wat soveel geskiedenis gemaak het. In hierdie uittreksel is bekende spelers soos onder andere Eckard Rabé, Jana Cilliers, Christine Basson, Brumilda van Rensburg, die sanger/akteur Gert van Tonder en David Rees te sien.

Egoli – Plek van Goud (Uittreksel uit 2006)

Episode van Mattewis en Meraai

Huldeblyke aan Franz Marx

Die volledige Danie Bosman-rolprent waarin Frans Marx die hoofrol gespeel het

’n Klompie kitsfeite oor Franz Marx

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 April 2024 | Bygewerk op 26 April 2024