Vinnige feite

  • Eybers was vier tale magtig, naamlik Frans, Engels, Nederlands en Afrikaans.
  • Sy het een van haar bekendste gedigte, “Maria”, in 1933 geskryf toe sy slegs 18 jaar oud was.
  • As joernalis het sy artikels gepubliseer, maar sy was ook goed met vertalings en het vertaalde kortverhale gepubliseer. Twee van haar verhale verskyn in die 1957-bundel Kwartet.
  • Eybers is die enigste Afrikaanse digter wat tegelyk in Nederland en in Suid-Afrika gepubliseer het.
  • Sy was ook lief daarvoor om te teken en het blykbaar graag portrette geteken.
  • In 1995 is haar digkuns met ’n simposium aan die Universiteit van Amsterdam gevier.
  • Sy is die enigste skrywer buite Nederland wat met die PC Hooft-prys vir Nederlandse letterkunde bekroon is.
  • Eybers was ’n groot bewonderaar van Engelse digters soos Yeats en Graves en ook van die Nederlandse skrywer Nijhoff.

Elisabeth Françoise Eybers (1915-2007) word as een van Suid-Afrika se grootste digters beskou. As jy nog nie een van haar besonderse gedigte teëgekom het nie, wag maar net geduldig, want jy gaan beslis een of ander tyd van haar poësie by die skool ontleed. Hoekom? Wel, sy word as Afrikaans se eerste vroulike digter (oftewel digteres) gesien omdat sy die eerste vrou was wat ’n digbundel in Afrikaans gepubliseer het. Sy was boonop die enigste vrou wat deel van die Dertigers was. Die Dertigers was een van die belangrikste digtersgroepe in die Afrikaanse letterkunde en hul werk het, soos wat uit die naam blyk, in die jare dertig verskyn.

Elisabeth Eybers is op 16 Februarie 1915 in die pastorie van die Nederduits Gereformeerde kerk in Klerksdorp gebore. Sy was een van drie dogters en haar ouers was John Henry Eybers, ’n predikant, en Elisabeth Susanna le Roux, ’n wiskundeonderwyseres, en later die hoof van die Hoër Meisieskool Oranje. Haar susters se name was Marianne en Jeanette. 1

Dominees word beroep en dit beteken dat ’n gemeente graag wil hê dat hulle daar moet werk en preek. Eybers was omtrent een jaar oud toe haar pa ’n beroep na Schweizer-Reneke in die destydse Wes-Transvaal (vandag Noordwes) aanvaar het. Sy het haar kinderjare daar deurgebring. 2

Eybers het akademies goed gevaar en het reeds op 16-jarige ouderdom haar skoolloopbaan voltooi en na Johannesburg gegaan om aan die Normaalkollege en aan die Universiteit van die Witwatersrand te studeer.

Sy het in 1934 ’n BA-graad aan die Universiteit van die Witwatersrand cum laude behaal. 3 Cum laude beteken dat jy ’n graad met onderskeiding slaag.

Eybers het onder die bekende skrywer en digter C.M. van den Heever studeer en hy het by haar ’n  groter belangstelling vir die Afrikaanse en die Nederlandse letterkunde gewek.

Haar BA-honneursgraad het in 1936 gevolg met ’n verhandeling getiteld “Die ontwikkeling van individualisme in die Afrikaanse liriek”.

Nadat sy haar studies voltooi het, het sy ’n joernalis geword en by die destydse koerant, Die Vaderland, gewerk. Sy het in 1936 die redakteur van die tydskrif Die Moderne Vrou geword.

Eybers is in 1937 met die sakeman Albert Wessels getroud wat self twee verhale gepubliseer het. Dit was Moffie en sy maats (1938) en Tog sterker (1941). Hulle het drie dogters en ’n seun gehad en is in 1961 geskei. Sy het na Nederland verhuis en waar sy aanvanklik net vir ’n jaar sou gegaan het, het sy besluit om daar te bly en te dig. Sy sou uiteindelik omtrent vier dekades daar bly en is op 1 Desember 2007 in Amsterdam oorlede.

Digwerk

Eybers het glo begin dig toe sy in Johannesburg gestudeer het. Dit was vir haar moeilik om so ver van haar familie te wees en hierdie verlange het haar geïnspireer om te begin dig. Die gedigte wat sy in daardie tyd geskryf het, is latere jare in haar eerste bundel vervat. Haar gedigte verwys dikwels na verskeie fases in ’n vrou se lewe. Daar is Belydenis in die skemering wat oor die eerste bewustheid van vroulikheid gaan, Die Stil avontuur oor ’n jong vrou en ma, en Die vrou en ander verse vertel weer die storie van ’n vrou as die beskermer en haar weersin in die dood.

Teen die tyd dat sy na Nederland vertrek het, het sy reeds sewe digbundels gepubliseer. Dit is Belydenis in die skemering (1936), Die stil avontuur (1939), Die vrou en ander verse (1945), Die ander dors (1946), Tussensang (1950), Die helder halfjaar (1956) en Neerslag (1958).

Die gedig “Verjaardag” deur Elisabeth Eybers – in haar handskrif.

Haar verhuising na Nederland het egter nie die einde van haar digwerk beteken nie en verskeie bundels het gevolg.

Balans is in 1962 uitgegee en van die gedigte gaan juis oor die aanpassing in ’n vreemde land.  Onderdak het in 1968 gevolg met Kruis of munt in 1972. Einder het in 1977 verskyn, Bestand in 1982, Dryfsand in 1985 en Rymdwang in 1987. Dan was daar ook Noodluik in 1989, Teëspraak in 1991, Respyt in 1993, Nuweling in 1994 en Tydverdryf/Pastime in 1996. Verbruikersverse/Consumer’s Verse het in 1997 gevolg met Winter-surplus in 1999 en ’n hele paar bundels met versamelde gedigte tussendeur. Haar laaste bundel was Valreep/Stirrup Cup en dit het in 2005 op haar 90ste verjaardag verskyn.

Eerbetonings

Elisabeth Eybers het in haar leeftyd verskeie toekennings gewen, nie net hier nie, maar ook in Nederland.

Sy word as ’n baanbreker gesien, want sy was die eerste vrou wat die Hertzogprys gewen het. Dit was in 1943 vir haar eerste twee bundels, Belydenis in die skemering en Die stil avontuur. Sy het hierdie prys weer in 1971 gewen. Die Hertzogprys is die grootste prys wat in die Afrikaanse letterkunde toegeken word. Sy het ook in 1961 die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se prys gewen vir haar vertaling van Jules Supervielle se Le boeuf et l’âne de la crèche.

Sy het plaaslik ook die CNA-prys, die WA Hofmeyr-prys, Louis Luyt-prys en die Ou Mutual-letterkundeprys verower.

Die pryse wat sy gewen het, was nie net tot Suid-Afrika beperk nie. Ook in Nederland is sy as ’n uitstekende digter bekroon – in 1974 met die Herman Gorter-prys, in 1978 die Constantijn Huygens-prys en in 1991 met die PC Hooft-prys.

Eybers het eredoktorsgrade van vier universiteite ontvang, naamlik van die Universiteit van die Witwatersrand in 1972, die Randse Afrikaanse Universiteit (vandag die Universiteit van Johannesburg) in 1979, die Universiteit van Pretoria in 1982 en die Universiteit Stellenbosch in 1990.

Elisabeth Eybers is in 1991 tot erelid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verkies en in 1994 het die Akademie en die Albert Wessels Trust die Elisabeth Eybers-beurs gestig.

Die FAK het haar in 1997 met ‘n Prestigeprys vir poësie vereer en in 1999 het sy die Orde vir Voortreflike Diens van oudpres. Nelson Mandela ontvang. Die Orde van Ikhamanga in die goue klas is ook in 2017 aan haar toegeken.

Woordbank

baanbreker Die eerste werk wat in ’n nuwe rigting gedoen word en wat gewoonlik met baie moeite gepaardgaan.
bekroon Iemand se besondere prestasie word uitgelig en hy of sy word daarvoor vereer.
cum laude Dis wanneer ’n mens ’n graad met lof (onderskeiding) slaag.
eredoktorsgrade ’n Mens kry ’n eredoktorsgraad vir uitsonderlike prestasies, maar jy hoef nie ’n eksamen af te lê nie.
poësie Die werke van digters of ’n versameling gedigte.

Lees dié artikels om meer te wete te kom 

Kyk dié video’s om meer te leer

’n Sandra Prinsloo-onderhoud met Eybers

Meer oor Elisabeth Eybers

’n Voorlesing van haar gedig “Busrit in die aand”

Foto: iStock
Gepubliseer op: 12 Oktober 2022 | Bygewerk op 20 Februarie 2024