Vinnige feite
- Ongeveer 1% van die bevolking – of een uit elke 100 mense – sal gedurende hul lewe skisofrenie ontwikkel. 4
- Struktuur en ’n vaste roetine is goed vir mense met skisofrenie, dit laat hulle veilig voel omdat hulle weet wat om te verwag van elke dag. 7
- Skisofrenie is wêreldwyd een van die 15 belangrikste oorsake van gestremdheid. 3
Ons almal ken legkaarte. En ons weet dat die legkaartstukkies, hoewel verskillend, só gesny is dat al die stukkies uiteindelik in mekaar kan pas om een duidelike prent te vorm.
Maar sê nou maar jy sit voor ’n tafel vol legkaartstukke en die stukke het allerhande vreemde vorms wat glad nie inmekaar kan pas nie. Dink net hoe moeilik dit gaan wees om ʼn prent te bou. Om dinge nog erger te maak, lyk die prent op die boks se deksel nie soos die prent wat mens moet bou nie!
Dit is hoe dit dikwels voel vir iemand wat aan skisofrenie ly – die wêreld is vir hulle ’n plek wat hulle dikwels nie kan verstaan nie.
Wat is skisofrenie?
Skisofrenie is ’n ernstige siekte wat die brein aantas en word veroorsaak deur ’n chemiese wanbalans in die brein. Dit kan nie genees word nie, maar kan deur die gebruik van die regte medisyne onder beheer gehou word. 1
Iemand wat suikersiekte het, moet medisyne drink om te keer dat die siekte nie al hoe erger word nie. Net so moet iemand wat skisofrenie het, medisyne gebruik om te keer dat die siekte nie erger word nie.
Skisofrenie word gewoonlik by mense gediagnoseer vanaf die laat tienerjare tot middel twintigerjare. 2 Dit blyk ook dat dit vroeër by mans as by vroue gediagnoseer word. 3
Wat is skisofrenie nié?
Volgens dr. Greta Brink, ’n psigiater van Johannesburg, is mense met skisofrenie nié mal of gek nie. Hulle het ook nie ’n gesplete persoonlikheid nie.
Mens kan sê hulle verdeel die werklikheid sodat sekere dinge deel is van die werklikheid, en ander deel is van die werklikheid wat hulle self geskep het.
Daar is verskillende grade van skisofrenie en sommige mense wat daarmee gediagnoseer is, kan baie goed funksioneer en kan selfs in ’n werk aanpas. 2
Oorsake en behandeling
Die oorsaak van skisofrenie is nie bekend nie. Dit word waarskynlik deur ’n kombinasie van genetiese, biochemiese en omgewingsfaktore veroorsaak. 4
Daar word deurentyd navorsing gedoen oor skisofrenie. Professor Louw Roos was vir baie jare hoof van Psigiatrie by Weskoppies Hospitaal in Pretoria en word beskou as ’n kenner van skisofrenie. Hy publiseer in die boek Genetiese bevindings in ’n groep Afrikaners met skisofrenie sy navorsing oor die voorkoms van skisofrenie onder ’n groep Afrikaners. Hy het hierdie navorsing oor meer as 20 jaar gedoen, in samewerking met die Departement Psigiatrie aan die Universiteit van Pretoria en die Rockefeller Instituut in New York.
Die doel van die navorsing is om vroeg in ’n persoon se lewe reeds te kan vasstel wie dalk later skisofrenie kan ontwikkel, sodat behandeling vroeër kan begin. Daar word ook klem gelê daarop dat die stigma rondom skisofrenie verwyder moet word. 5
Mense met skisofrenie het gespesialiseerde psigiatriese behandeling nodig om hulle te help om te kan funksioneer. Hulle moet deur ’n psigiater behandel word en medisyne kry om die wanbalans in hul brein reg te stel.
Simptome van die siekte
Skisofrenie veroorsaak probleme met gedrag, emosies en gedagtes. Daar is ’n aantal simptome wat met die siekte verbind word, maar elke persoon word verskillend beïnvloed. Almal by wie skisofrenie gediagnoseer is, het nie al hierdie simptome nie en tree nie dieselfde op nie.
Hier is ’n paar groot woorde, maar daar is mense wat dit mooi kan verduidelik – kom ons kyk.
Illusies
Die persoon sien iets wat werklik bestaan, maar sien dit as iets anders. Hy of sy kan dalk dink dat ’n boomstomp ’n slang is. 2
Delusies
Dit is valse gedagtes wat nie waar is nie. Mens dink dat jy beseer of benadeel gaan word, dat mense oor jou praat, dat jy beroemd is of uitsonderlike dinge kan doen of dat daar ’n groot ramp gaan gebeur. 6
Kom ons kyk na voorbeelde van delusies. ’n Persoon kan byvoorbeeld dink dat sy of haar kop en regterhand kragte uitstraal. Iemand met skisofrenie is soms ook baie agterdogtig en vertrou dan selfs nie eens die mense wat hom of haar help en ondersteun nie, soos gesinslede. 7
Soms het iemand grootheidswaan wat veroorsaak dat hulle dink hulle is ’n belangrike leier of selfs dat hulle God of die Heilige Gees is. 8 Wanneer dit gebeur, help dit nie om vir die persoon te sê dat dit nie waar is nie, want vir hom of haar is dit werklik en waar.
Hallusinasies
Iemand sien of hoor dinge wat nie waar is nie. Dit kan enige van die sintuie betrek, maar dit is meesal die hoor van stemme. 6
Jannie Bekker vertel hoe dit vir hom is: “Die stemme hou nooit op nie. Soms word dit so ’n warboel van stemme dat ek nie meer weet wat hulle vir my sê nie… saans moet ek ’n slaappil drink om hulle stil te kry sodat ek kan slaap.” 8
Vir iemand met skisofrenie, is hierdie hallusinasies werklik waar en dit help nie om vir so ’n persoon te sê dat dit nie waar is nie. Selfs al gee mens vir die persoon die ware feite, gaan dit hom of haar nie oortuig dat die hallusinasie nie waar is nie. 2
Onsamehangende gedagtes en spraak
Wanneer dit gebeur, is dit moeilik om sinvol met die persoon te gesels. Vrae word nie volledig beantwoord nie of die antwoord op ’n vraag kan ook geen sin maak nie. 6
Abnormale of gedisorganiseerde optrede
Iemand kan kinderagtig optree of skielik en sonder rede ontsteld raak. Dis moeilik om gefokus te wees en daarom word take moeilik afgehandel. 6
Dit gebeur soms dat ’n persoon met skisofrenie sonder rede emosies toon – soos om sommer te begin lag of om hartseer te raak.
Negatiewe simptome
Soms kan iemand glad nie normaal optree en funksioneer nie, soos om nie aandag te gee aan persoonlike higiëne nie, om geen emosie te wys nie en in net een stemtoon te praat. Soms verloor ’n persoon alle belang in gewone daaglikse aktiwiteite, onttrek van ander mense en vind geen plesier in enigiets nie. 6
’n Siekte net soos ander siektes
Een van die groot struikelblokke vir mense met skisofrenie, is dat daar in die oë van die wêreld ’n stigma aan skisofrenie is – net soos ook met ander geestessiektes. Dit word dikwels as ’n skande beskou wanneer iemand aan ’n geestessiekte ly.
Professor Roos sê die volgende oor die digbundel van Mornay Grové. Mornay behoort aan Die Woordgilde, ’n digtersgroep in Pretoria. Hy het skisofrenie en skryf gedigte waarin hy dikwels die siekte blootlê en beskryf.
“Wat vir my uitstaan, is dat Mornay se bundel psigiatrie destigmatiseer. Hierdie bundel bewys dat ’n jong man wat met ’n ernstige psigiatriese toestand te kampe het, steeds sy besondere talent kan beoefen om ’n kunssinnige en literêre produk van hoë gehalte te lewer.” 9
Jannie Bekker, wat op 17 met skisofrenie gediagnoseer is en ook tot en met sy dood vir baie jare aan Die Woordgilde behoort het, sê: “Ek wens dat gesonde mense ons wil verstaan en aanvaar. Ons word misverstaan, verwerp en verkeerd hanteer. Ons het net soveel liefde nodig soos iemand wat aan kanker ly. 8
“Hierdie bundel is ’n weergawe van myself, van my wêreld en van my onvolmaaktheid. Dit is ook ’n danklied aan God, omdat ek deur my siekte kon besef hoe afhanklik ek van sy genade is. As jy hierdie dagboek lees, hoop ek dat jy ’n beter perspektief van my wêreld sal kry… en wanneer jy met my of ander soos ek in kontak kom, sal weet ons is ook spesiaal, ons is ook uniek, al is ons ‘anders’.” 10
Familie vertel hoe ’n persoon prakties deur die siekte beïnvloed word
Studies: Dit is moeilik om sy studies te voltooi, veral omdat konsentrasie deur skisofrenie aangetas word. 11
Higiëne: Dis moeilik om te sorg dat jou kamer netjies is en ook om gereeld te bad of te stort. Iemand anders moet gewoonlik die persoon motiveer om goeie higiëniese gedrag vol te hou. 12
Werk: Om ’n werk te behou, is in die meeste gevalle nie moontlik nie. Die druk van ’n “normale” lewe is net te veel. Mense wat aan skisofrenie ly, kry dikwels maklik werk, maar hulle verloor die werk ook net so maklik. Omdat dit soms moeilik is om self te sorg dat jy skoon en netjies is, veroorsaak dit natuurlik probleme by ’n werkplek.
Daar is ook uitsonderings. Marga van Rooy vertel hoe haar dogter Henriëtte in 1986 siek geword het met skisofrenie. Met die gebruik van die regte medikasie het sy egter so gestabiliseer dat sy deeltyds kan werk en ook baie by haar kerk en die gemeenskap betrokke kan wees. 7
Finansies: Dis ’n stryd om die gebruik van geld te hanteer. Iemand wat aan skisofrenie ly, kan soms geld uitgee sonder om te dink en soms sonder om te kan verduidelik waar al die geld heen is.
Eetgewoontes: Dis moeilik vir iemand met skisofrenie om eetgewoontes te beheer. Hulle sal soms aanhou eet as mens dit nie dophou en beheer nie. 11
Stokperdjies: Selfs wanneer iemand van ’n sekere stokperdjie gehou het voordat hy siek geword het, is dit nie vanselfsprekend dat hy daarmee kan of gaan aanhou nadat hy siek geword het nie. Die motivering om vir ’n lang tyd met iets besig te wees, is nie daar nie. 11
Wat gebeur met ’n gesin?
Die invloed op ’n gesin wanneer een van die gesinslede met skisofrenie gediagnoseer word, is ingrypend. Ouers, asook broers en susters, moet leer om aan te pas om die gesinslid wat siek is, steeds deel van die gesin te laat voel.
Omdat skisofrenie so ’n moeilike siekte is om te verstaan en te beheer, moet almal in die gesin help om probleme te hanteer en die siek gesinslid help om so normaal as moontlik te leef. Gesinslede moet baie opoffer en hul eie planne en lewe verander om die gesinslid te help en te ondersteun. In Marga se geval, moes sy eenkeer besluit om nie ’n rol in ’n toneelstuk te aanvaar nie omdat haar dogter haar nodig gehad het. Haar ander kinders het al vier gehelp wanneer daar ’n skielike krisis of probleem met hul suster was. 7
Een van die dinge wat gesinslede gou moet leer, is om nie oor alles met die siek persoon te verskil nie – besluit wat werklik belangrik is om oor te verskil. Dis nie moontlik om die heeltyd die persoon te probeer reghelp nie en dit veroorsaak net konflik. 12
YANA – You Are Not Alone
YANA is ’n tuiste in Pretoria vir mense met skisofrenie. Dié tuiste bestaan sedert 1994 en inwoners woon permanent en onder gespesialiseerde sorg in.
By YANA word inwoners binne ’n omgewing met struktuur en roetine gehuisves en versorg. Hulle word ook gestimuleer deur onder meer musiekprogramme, sport, kunsprojekte en arbeidsterapie. Die doel is om elke inwoner tot sy of haar persoonlike maksimum vermoë te laat funksioneer en elkeen soveel te laat doen as wat hy of sy kan. Inwoners word ook gehelp om hul vrye tyd sinvol te gebruik. 1
Woordbank
agterdogtig | Om nie vertroue te hê in die mense rondom jou nie. |
arbeidsterapie | ʼn Geneeswyse wat gebruik word om ’n pasiënt fisieke take/gepaste arbeid te laat verrig. |
biochemiese | Wat verband hou met die chemiese prosesse en stowwe wat in lewende organismes voorkom. |
chemiese | Dit wat te make het met die stowwe in ’n mens se brein – hierdie stowwe moet in balans wees sodat jy gesond kan wees. |
destigmatiseer | Om die stigma van iets weg te neem. |
gediagnoseer | Vasstel watter siekte iemand het of wat ʼn probleem veroorsaak. |
gefokus | Om jou aandag aan iets te kan gee sodat jy dit goed kan doen. |
genetiese | Wat verband hou met gene of oorerflikheid. |
gespesialiseerde | Wat presies uitgewerk is vir ’n spesifieke siekte. |
gesplete persoonlikheid | Iemand met ‘n gesplete persoonlikheid tree op verskillende tye so verskillend op dat dit lyk asof hy/sy meer as een karakter het. |
gestabiliseer | Wanneer medikasie mens gebalanseerd en stabiel hou. |
gestimuleer | Om jou te motiveer, energie te gee om iets te doen. |
grootheidswaan | Die waanoortuiging dat jy belangrik, kragtig of beroemd is. |
higiëne | Die gewoonte om jouself en die omgewing skoon te hou. |
ingrypend | Wat ’n verreikende, groot of belangrike invloed/uitwerking het. |
konflik | Stryd/botsing/rusie tussen mense/groepe/lande. |
konsentrasie | Om jou aandag aan iets te kan gee. |
motivering | Dit wat ʼn persoon aanmoedig om iets te doen. |
opoffer | Om dinge prys te gee, daarsonder klaar te kom ter wille van iemand anders. |
perspektief | Manier van dink wat beïnvloed word deur jou eie omstandighede en ervaring. |
psigiater | Dokter wat mense behandel wat ’n breinsiekte het. |
psigiatriese | Wat verband hou met geestesongesteldheid of die behandeling daarvan. |
redeneer | Iemand van iets probeer oortuig. |
roetine | Dinge wat elke dag dieselfde gebeur. |
sintuie | Die sinsorgane wat jou laat sien, hoor, voel, ruik of proe. |
sinvol | Volgens ’n slim plan en nuttig. |
skande | Iets wat skaamte of vernedering veroorsaak. |
skisofrenie | ʼn Ernstige geestesiekte waartydens iemand se gevoelens en gedagtes nie verband hou met die werklikheid nie. |
stemtoon | Om harder en sagter te praat, jou stem hoër en laer te gebruik. |
stigma | ʼn Sterk gevoel by mense dat om in ʼn bepaalde situasie te wees of ʼn bepaalde siekte te hê, iets is om oor skaam te wees. |
struikelblokke | Belemmering; hindernis; beletsel. |
struktuur | Samestelling, konstruksie, rangskikking, ontwerp, raamwerk. |
suikersiekte | Diabetes, siekte van die niere waardeur gereeld suiker (glukose) in die urine afgeskei word. |
uitsonderlike | Iets wat spesiaal is. |
wanbalans | Die toestand waarin daar nie ’n balans is tussen dinge of sake nie. |
warboel | ʼn Deurmekaarspul, warspul, verwarring. |
weergawe | ’n Verduideliking oor die lewe van ’n persoon. |
Lees hier
- Hier kan jy meer lees oor skisofrenie by tieners
- Meer info oor die wisseling in die gemoedstoestand van mense met skisofrenie
- ’n Ma vertel oor haar seun wat met skisofrenie gediagnoseer is
- Hier kry jy inligting oor verskillende aspekte van skisofrenie
- Hier is inligting oor SABDA (Schizophrenia and Bipolar Disorder Alliance) wat ondersteuning gee aan mense met skisofrenie en ook aan hulle families
- Nog inligting oor skisofrenie
- Die interessante geskiedenis van YANA – tuiste vir mense met skisofrenie in Pretoria