Vinnige feite

  • In die Grœnlendinga saga is Erikson beskryf as “lank, sterk en opvallend in voorkoms, skerpsinnig, en in elke opsig gematig en wys.” 6
  • Olaf Tryggvason was so passievol oor sy doel om mense na Christenskap te bekeer, dat hy soms geweld gebruik het. 4
  • Erikson se broers, suster en skoonsuster was ook almal op stadiums in Noord-Amerika. Sy broer Thorvald het ’n ekspedisie daarheen gelei, maar is in ’n bloedige botsing deur ’n Innuïet-boogskutter doodgeskiet. 5
Foto: iStock

Rondom die jaar 1000 het Leif Erikson in vandag se Noord-Amerika voet aan wal gesit. Dit het hom die eerste Europeër gemaak wat die Amerikas bereik het – amper 500 jaar voor Christopher Columbus!

Hoekom was hy daar? Het hy bedoel om soontoe te gaan of was dit ’n toeval? Tot vandag toe is niemand werklik seker nie.

Bronne

Ons kry omtrent al ons inligting oor Erikson se lewe in twee bronne wat as die Vinland-sagas bekendstaan:

  • Eiriks saga rauða, of die saga van Erik die Rooie
  • Grœnlendinga saga, of die saga van die Groenlanders.
Ysberge in Groenland

Hierdie boeke is nie geskryf deur mense wat in dieselfde tyd as Erikson geleef het nie. Dit het eeue ná sy dood eers verskyn.

Sy verhaal in beide sagas is egter meestal dieselfde. Dit word ook aangevul deur mondelingse oorlewering en argeologiese opgrawings. 1

Alhoewel daar dus nie altyd ooreenstemmigheid oor die details van die Erikson se lewensverhaal is nie, is daar geen twyfel dat Erikson wel geleef en Noord-Amerika bereik het nie.

Naam en uitspraak

Leif Erikson se naam word uitgespreek soos die Afrikaanse woord “lyf”. 2

Daar is verskeie spellings van sy naam en van:

  • Sy naam kan gespel word Leiv, Leifr of Leif.
  • Sy van kan gespel word Eiriksson, Erikson, Ericson, Eriksson, of Eiríksson.

Die mees korrekte spelling is waarskynlik Leifr Eiríksson. 1 Die algemeenste spelling, en die een wat hier gebruik word, is Leif Erikson.

Sy van is ’n patroniem, wat beteken dit is afgelei van sy pa se naam. Sy pa is Erik en hy is sy pa se seun. Erik + son = Erik se seun. Sy naam is dus letterlike Leif “Erik se seun”.

Grootwordjare

Erikson is tussen die jare 960 3 en 980 gebore. Sy familie was Vikings. Hy was die tweede seun van Erik die Rooie, en sy vrou, Thjodhild van Ysland. Hy het twee broers en een suster gehad. 1

Erikson se familie was ontdekkingsreisigers wat oorspronklik van Noorweë afkomstig was. Sy oupa was Thorvald Asvaldsson. Hy is uit Noorweë verban omdat hy iemand doodgemaak het. 4 Hy en sy familie het na Ysland uitgewyk, en was van die eerste Vikings wat in Ysland gevestig het. 1

Sy pa, Erik die Rooie, is só genoem omdat sy hare en baard rooi was. Hy is op sy beurt óók vir moord verban. Ysland was vol, en hy het dus besluit om sy familie op skepe te laai en te kyk of die gerugte van land in die weste waar was. 1

Dit wás waar, en Erik en sy familie was die eerste Vikings op Groenland. 1 Hy het waarskynlik die eiland die naam Groenland gegee. Die naam pas glad nie, want Groenland is bedek met ys. Erik het moontlik gehoop dat die naam die plek meer aanloklik sou laat klink, sodat ander Viking-setlaars ook soontoe sou trek. 4

In 1895 het hy ’n nedersetting, Eiríksstaoir, in die weste van Ysland gebou. In die volgende klompie jare het al hoe meer Vikings daar gevestig. 1

Ons weet nie waar Leif gebore is nie. Sommige bronne reken hy is in Groenland gebore. 3 Volgens ander bronne is hy in Ysland gebore, en 11 jaar oud toe hulle daarvandaan moes vlug. 4

Hebrides

Erikson het rondom die jaar 1000 Groenland verlaat en na Noorweë gevaar. 3

Die wind het hom egter van sy pad af gewaai, en hy het op Hebride, ʼn eiland naby vandag se Skotland, geland. Die weerstoestande het hom verhoed om dadelik weer weg te seil. 1

Op Hebride het hy ʼn verhouding met Thorgunna, die dogter van ʼn plaaslike hoofman, aangeknoop. Hulle het ’n seun, Thorgils, gehad. 5

Thorgunna wou Erikson na Noorweë vergesel, maar hy was nie bereid om ’n vrou van hoë status by haar familie weg te neem nie. Sy was ongelukkig hieroor, en het hom belowe dat sy vir Thorgils na hom toe sou stuur wanneer die seun oud genoeg was om te reis. 1

Noorweë

Erikson het uiteindelik sy pad na Noorweë gevind, waar hy in die hof van koning Olaf I Tryggvason gedien het. Olaf was ’n Christen en passievol oor die verspreiding van Christenskap. 1

Erikson het hom in Noorweë na Christenskap bekeer. Koning Olaf het hom na verloop van tyd afgevaardig om na Groenland terug te keer en Christenskap onder die Vikings daar te verkondig. 3

Daar is twyfel onder historici oor die details van hierdie deel van die verhaal. Koning Olaf het wel in hierdie tyd geregeer en Christenskap versprei. Dit is egter ook moontlik dat sy rol oordryf is, en dat die inwoners van Groenland en Ysland alreeds Christene was. 1

Ontdekking van Vinland

Die twee sagas se weergawes van Erikson se ontdekking van Noord-Amerika, oftewel die land wat hy Vinland (Vínland), of Wynland, gedoop het, verskil met ’n paar details.

Saga van Erik die Rooie

Erikson se skepe is op die seereis van Noorweë na Groenland van koers af gewaai. Hulle het uiteindelik in die ooste van vandag se Kanada geland, op ’n plek waar hulle nie land verwag het nie.

Die land was vrugbaar, en koring, wingerdstokke en esdoringbome het geil gegroei. 3 Dit is juis as gevolg van die volop wilde druiwe dat hy die plek die naam Vinland gegee het. 5

Erikson en sy bemanning het op skipbreukelinge daar naby afgekom. Hy het hulle huis toe geneem en vir hulle beskutte huisvestig gegee. Dít is deur sy bemanning as bewys van sy sterk karakter en goedhartigheid gesien, en het vir hom die naam “Gelukkige Leif” besorg.

Hulle het ’n basis gebou wat hulle Straumfjrór (of Straumfjǫrðr) genoem het.

Dit is nie altyd in hierdie saga duidelik wat Erikson se rol was nie. Op stadiums is die rol van sy skoonsuster, Gudrid, en haar man, Karlsefni, meer prominent, en hulle word as die aanvoerders van die ekspedisie uitgesonder. 1

Reproduksie van ‘n Viking-huis, Newfoundland

Saga van die Groenlanders

In die Grœnlendinga-saga is Erikson se rol meer sentraal. Dit word as meer betroubaar as die Eiriks-saga beskou. 5

In hierdie verhaal het die Vikings alreeds geweet dat daar land was. 3 Veertien jaar voor Erikson het ’n handelaar, Bjarni Herjólfsson, 1 land van sy skip af gesien. Hy het egter nie aan wal gegaan nie. 5

Erikson het Herjólfsson se stories gehoor, en besluit om ondersoek in te stel. 3

Hulle het eers geland op wat waarskynlik vandag se Baffin-eiland is, 3 of moontlik die noordelike deel van vandag se Labrador. Erikson het dit Helluland genoem, wat iets soos steenklipland beteken. Die landstreek is basies een groot klip met gletsers bedek. 1

Daarna het hulle in die bewoude Markland, in vandag se Newfoundland, geland. 3 Markland beteken dan ook Land van Woude.

Daarna het hulle op meer welige land afgekom, waar hulle ’n basis gebou het wat hulle Leifsbúoir (of Leifsbudir of Leifsbúðir), oftewel Leif se kamp, genoem het. 1

Van daar af het hulle verder verken en uiteindelik op die meer herbergsame Vinland afgekom. 3

Waar presies is Vinland?

Niemand is seker waar presies Erikson geland en sy basisse gebou het nie. 6

Die mees waarskynlike ligging vir Vinland, Leifsbúoir en/of Straumfjrór is in die noorde van Newfoundland. In 1963 is ruïnes van ’n 11de eeuse Viking-nedersetting by L’Anse aux Meadows in die gebied ontdek. Dit is steeds die oudste Europese nedersetting wat al ooit in Noord-Amerika gevind is.

Dit is vir seker ’n Viking-nedersetting, want daar is meer as 2 000 Viking-voorwerpe daar gevind, 3 asook hutte, stoorplekke en werkswinkels. Die voorwerpe en geboue dateer uit 980-1020, wat die regte tydperk is. 1 Dit ondersteun die idee dat Erikson en sy bemanning ’n basis daar gebou het en ten minste een winter daar vertoef het. 3

Sommige historici reken egter L’Anse aux Meadows is te ver noord om met die Vinland-sagas ooreen te stem. 5

Tog, die Vikings het definitief met inheemse mense kontak gehad. Viking-artefakte is in Innuïet– argeologiese terreine gevind, en andersom. 2 Daar is egter nie bewyse dat Erikson persoonlik met die inheemse mense kontak gehad het nie. 6

Die Vikings was vir omtrent ’n dekade in Noord-Amerika. Daarna het hulle weggetrek, waarskynlik as gevolg van die afstand van Groenland af en konflik met die inheemse mense. 1

Die Vikings het dus nooit die gebied gekoloniseer nie. 3

Lewe in Groenland

Erikson het in Groenland voortgegaan met sy missie om mense te bekeer. 1 Volgens oorlewering het sy ma, Thjodhild, haar bekeer, maar sy pa wou nie. 5

Thjodhild het Groenland se eerste Christelike kerk gebou. Dit was by Brattahlid, Erik die Rooie se landgoed, in die ooste van die Viking-nedersetting. 3

Erikson het ná sy pa se dood, min of meer in die jaar 1000, die hoofman geword. 1 Sy seun Thorgils het wel op ’n stadium in Groenland aangekom, maar hy was nie baie gewild nie, en het nie vir Erikson opgevolg nie. 5

Erikson het vir die res van sy lewe in Groenland gebly. 3 Hy is deur ’n ander seun, Thorkel Leifsson, as hoofman opgevolg. Dit is nie duidelik wie Thorkel se ma is nie, maar die feit dat hy vir Erikson opgevolg het dui daarop dat hy Erikson se wettige seun was. 5

Ons weet ook nie presies wanneer Erikson gesterf het nie. Hy het vir seker nog in 1019 geleef, maar is waarskynlik teen 1025 dood, want dis die jaar wat Thorkel hoofman geword het. 1

Nalatenskap

Erikson was wel die eerste Europeër wat Noord-Amerika “ontdek” het. Dit het egter nie met volksplanting of migrasie gepaard gegaan nie. Daarom is Columbus se reise uiteindelik meer belangrik.

Erikson se reise word wel wyd gevier en herdenk. Kanada, Noorweë, Ysland en Groenland het almal toekennings in sy eer vir prestasies in ontdekking. 3

In 1925 het Calvin Coolidge, die Amerikaanse president, amptelik aangekondig dat Erikson die eerste Europeër was om Amerika te ontdek. In September 1964 het die Amerikaanse Kongres besluit dat 9 Oktober as Leif Erikson Dag gevier moet word. 5

Woordbank

aanloklik Aantreklik (dit wat jou aantrek); om iets aangenaams of goed oor iets te sê sodat mense na daardie plek toe wil gaan.
Amerikaanse Kongres Die Amerikaanse parlement.
Amerikas Ook bekend as die Nuwe Wêreld. Dit sluit in Noord- en Suid-Amerika en die Karibiese Eilande.
argeologiese opgrawings Die studie van ou beskawings, oftewel plekke waar mense honderde jare gelede gewoon het, wat opgegrawe word om te kyk hoe dié mense geleef en gewerk het.
artefakte Voorwerp (pot, pylpunt, stuk klipgereedskap, ens.) wat (lank gelede) deur mense gemaak is en waarvan ons kan aflei hoe hulle in die verlede geleef het.
bekeer Dit is as iemand oorgehaal word om ’n Christen te word of tot ’n ander godsdiens oor te gaan.
bewoude ’n Plek waar daar baie bome is.
details Besonderhede, inligting.
ekspedisie Lang reis wat deeglik beplan is, veral na ’n onbekende en gevaarlike plek.
geil Baie vrugbaar.
gekoloniseer Wanneer ’n land onder die oorheersing/besit van ’n ander land gebring word.
gerugte Onseker/onbevestigde berig/praatjie/storie.
gletsers  Groot massas ys wat stadig by ʼn vallei afbeweeg.
herbergsame Iets wat lyk soos ’n goeie plek om te bly; wat ʼn woonplek verskaf, bewoonbaar.
hof Die plek waar ’n koning of koningin woon en werk.
inheemse Mense, plante en diere wat oorspronklik in ʼn gebied voorkom.
Innuïet Die naam vir ’n persoon wat oorspronklik van die dele van die noorde van Kanada, Groenland en Alaska afkomstig is.
ligging Die plek waar iets geleë is.
migrasie Om van een gebied na ʼn ander te beweeg/trek.
missie Belangrike opdrag of sending.
mondelingse oorlewering Wanneer mense iets vertel, maar dit nie neerskryf nie.
nedersetting Woonplek, kolonie; vestiging.
ontdekkingsreisigers Mense wat na onbekende plekke reis en vreemde wêrelddele ontdek.

 

oordryf Om iets groter of beter voor te stel as wat dit werklik was.
oorspronklik Waar iets begin het.
patroniem ’n Persoon se naam wat afgelei is van sy/haar pa se naam.
prominent Iets wat uitstaan.
ruïnes Oorblyfsels van geboue wat oor ʼn lang tyd verniel het/tot niet gegaan het.
sagas Ou Noorse heldeverhale van mense in die Yslandse en ander Skandinawiese geskiedenis.
setlaars Mense wat van ’n ander gebied af kom om in ’n bepaalde gebied te kom woon.
skipbreukelinge Mense op ʼn sinkende skip.
uitgewyk Padgee; vlug, die hasepad kies; wegbeweeg, vertrek.
verban Verplig om ʼn land/plek vir goed te verlaat; in ballingskap ʼn land uitstuur; uitstoot; verdryf.
Vikings Skandinawiese seevaarders van die 8ste tot 11de eeu.
volksplanting Om ’n nedersetting in ’n vreemde land te bou, waar ’n gemeenskap later ontstaan.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Leif Erikson

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer

Die storie van die Vikings en Leif Erikson

Die Vikings se era van ontdekking

Die Geskiedenis van Ysland

Vergelyking tussen Groenland en Ysland

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 19 April 2024 | Bygewerk op 19 April 2024