Vinnige feite

  • Tobias Ballot Muller is vernoem na die eerste twee predikante van George, Tobias Johannes Herold en Johan Stephen Simeon Ballot. 4
  • Muller was in alle waarskynlikheid die eerste predikant wat ’n huweliksplegtigheid in die NG Kerk in Afrikaans voltrek het. Muller en Gordon Tomlinson (die bruidegom) het die oggend van die huwelik die huweliksformulier (voorgeskrewe bewoording) in Afrikaans vertaal. 5
  • By die onthulling van sy gedenksuil is die doek deur sy twee kinders, Christoffel en Tobie, ontknoop. 1
  • Hy is as predikant van Philippolis bevestig deur die bekende J.D. Kestell. 5
  • In ’n toespraak getiteld Die geloofsbelydenis van ’n Nasionalis” het hy oor die Anglo-Boereoorlog gesê: “Die puinhope van die twee republieke het die vrugbare bodem geword, waarin die nuwe Afrikaanse Nasie wortel.” 3
  • Muller se seun, Christoffel, het bekendheid verwerf as historikus onder die naam C.F.J. Muller, en sy dogter, Tobie, was ’n professor in anatomie aan die Universiteit van Pretoria.

Dis nie alle predikante wat meer as net hul beroep uitleef nie. Tog was Tobias Ballot (Tobie) Muller (1884-1918) nie slegs ’n predikant nie, maar ook ’n filosoof, Afrikanernasionalis (iemand wat sy groep se belange wil bevorder) en taalstryder. Hy het ongelukkig op tragiese wyse op die kruin van sy loopbaan van die 1918-grieppandemie gesterf.

Vroeë jare

Tobie Muller is op 13 Augustus 1884 in George gebore. 1 Sy pa was professor C.F.J. Muller, ’n dosent aan die Teologiese Kweekskool (opleidingskool) op Stellenbosch, 2 en sy ma se naam was Johanna Louw. 1

Tobie Muller as 15-jarige in Skotland, 1899

Muller was op hoërskool in Kaapstad en na 1900 in Stellenbosch Gimnasium. 3 Hy het in 1901 matriek geskryf en het tweede plek behaal van alle matrikulante in die Kaapkolonie. 2

Ná skool het hy by die Victoria-kollege (vandag die Universiteit Stellenbosch) teologie gaan studeer, waar hy sy MA-graad in 1905 behaal het. In 1909 het hy deur die Universiteit van Londen ’n BD-graad voltooi. Intussen het hy in 1908 die kandidaatseksamen aan die teologiese kweekskool geslaag. 4

In 1910 het hy na Utrecht in Nederland vertrek, waar hy in 1913 sy doktersgraad voltooi het. 1 Terselfdertyd het hy ook ’n doktersgraad aan die Universiteit van Edinburgh voltooi. Sy professor en studieleier in Utrecht het hom beskou as verreweg die bekwaamste Afrikanerstudent met wie hy ooit te doen gehad het. 4

Tobie Muller en Bennie Keet (links), 1911

Loopbaan as predikant

Ná Muller se terugkeer van Europa af het hy ’n instaanpredikant geword, spesifiek onder die studente in Stellenbosch. 2 Hy is in 1915 georden (seremonie waar iemand amptelik in sy/haar pos verwelkom word). 4

Dr. Muller was drie jaar lank studenteleraar in die moederkerk op Stellenbosch

In 1916 het Victoria-kollege aan hom ’n pos as professor in wysbegeerte (filosofie) aangebied. 2 In dieselfde tyd het die NG gemeente Philippolis vir hom ’n pos as predikant aangebied. 1 Muller het eers die pos by Victoria-kollege aanvaar, maar ná hy ’n diep innerlike stryd met homself gehad het, het hy besluit om eerder die predikantspos te aanvaar. 5

Tobie Muller het in 1902 vir die Victoria-kollege se eerste rugbyspan gespeel. Hy sit voor regs. In die middel, tweede van links, sit Paul Roos. Muller was minstens in 1902 en ’03 lid van dié span

Predikant van Philippolis

Muller was verantwoordelik vir kerkdienste, Sondagskool, bidure en vergaderings. Hy het dit ook baie geniet om tyd te spandeer met die kerk se jeugbeweging, die Christelike Jongeliedenvereniging. Jong mense het hom na aan die hart gelê. Sy huis het oopgestaan en die jongmense het een aand per week in die pastorie (die predikant se huis) deurgebring. 5

Dr. Muller se portret in die NG konsistorie op Philippolis

Die middel van die 1910’s was ’n moeilike tyd in die Afrikanergemeenskap. Die Rebellie van 1914 het die Afrikaners in twee geskeur. Die gemeentelede van Philippolis was erg verdeeld. Hy het dit egter uitstekend reggekry om die eenheid van die gemeente te behou. 5

Dood

Op 25 Oktober 1918, ná ’n siekbed van 11 dae, is Muller op 34-jarige ouderdom van die 1918-grieppandemie (wat vroeër bekendgestaan het as die Spaanse Griep) wat die land getref het, oorlede. 5 Hy het tot op sy laaste siek gemeentelede besoek, terwyl hy self siek was. 4 Sy dood was nie net vir die gemeente nie, maar vir almal wat hom geken het, ’n groot skok en terugslag. 1

Ná sy dood is ’n gedenksuil (pilaar) vir hom by die kerk opgerig, wat op 26 Oktober 1922 onthul is. In die onthullingsrede het dominee J. Blignaut gesê: “Tobie Muller was een van die geleerdste en skranderste (slimste) Afrikaners van sy tyd – ’n intellektuele reus – en verkwikkend (verfrissend met nuwe krag) was dit om te sien hoe kinderlik sy geloof was. Hy het geloof in God gehad, geloof in sy volk en geloof in die toekoms. Tobie Muller was ’n held en as ’n held het hy gesterwe. Tobie Muller was ’n besondere gawe van God aan die Afrikaanse volk.” 1

Prof. C.F.J. Muller en sy gesin. Tobie staan links

Afrikaanse taalstryder

Muller was van jongs af ’n Afrikanernasionalis en kampvegter vir Afrikaans.

Op universiteit is hy ’n beurs aangebied om aan die Rhodes-Universiteit in Grahamstad te gaan studeer. Dit was beurse wat uit Cecil John Rhodes se nalatenskap beskikbaar gestel is. Muller het die beurs egter van die hand gewys omdat hy nie met Rhodes se Britse imperialisme (stelsel waar een land oor baie ander lande regeer) saamgestem het nie. [Lees hier oor imperialisme.] Hy het gesê dat hy “eenvoudig nie geld kon aanneem van ’n man wie se politiek hy verfoei (verafsku) het en wie hy beskou as die aartsknoeier (iemand wat uiters bedrieglik en agterbaks te werk gaan) teen die vryhede van die Afrikaner-volk.” 3

Cecil John Rhodes

In sy studentedae was hy een van die taalstryders van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. 4 Hulle het hul beywer vir die erkenning van Afrikaans op elke gebied van die samelewing. Hy was daarby een van die stigters en voorsitter van die Stellenbosse tak van die Afrikaanse Taalvereniging (ATV). 1 Dit is in Oktober 1907 gestig en het gou een van die prominentste (belangrikste) ATV-takke geword. 4

Ná sy terugkoms uit Europa het hy in 1913 weer by die ATV aangesluit en gou oorgeneem. Deur die leiding van hierdie beweging het hy homself met bekwaamheid en geesdrif vir die erkenning van Afrikaans bewyer. 1

Deur sy toedoen het die ATV ’n tydskrif, Ons Moedertaal, in 1914 uitgebring. Ander lede van die redaksie was professor J.J. Smith en Gordon Tomlinson. Die doel van die tydskrif was om te pleit vir die opheffing (na ’n hoër vlak oplig) van Afrikaans. Dié tydskrif het in Mei 1916 met ’n nuwe tydskrif, Die Huisgenoot, saamgesmelt. 4

Redaksie van Ons Moedertaal

In 1914, toe hy aflosleraar op Stellenbosch was, het hy in die NG Kerk die eerste preek ooit in Afrikaans gelewer. 2 Hierdie preek het ’n storm om sy kop laat losbars. 1 Toe die kerkraad eis dat hy voortaan net in Nederlands moes preek, het hy uit protes bedank. 2

Die vrede is herstel toe hulle ooreengekom het dat hy slegs by sekere geleenthede vir studente in Afrikaans kon preek. Dit was nie ’n totale oorwinning nie, maar ’n groot slag teen die vooroordeel (onredelike opinie oor iets hê wat op een of ander manier van jou verskil) en konserwatisme (om nie te hou van verandering of nuwe idees nie) wat daar in die NG Kerk was. 4

Terwyl hy predikant op Philippolis was, was hy ’n lid van die eerste Afrikaanse Bybelvertalingskommissie. 1 Voor sy dood het hy die Bybelboek Hosea 3 tot 8 vertaal. 5

Hy was ook ’n gewilde spreker wat gereeld toesprake ten gunste van Afrikaans gehou het. 4

Die kerkgebou van die NG gemeente George waar Tobie Muller se pa predikant was tot hy sowat drie jaar oud was

Persoonlike lewe

Muller was getroud met Elizabeth Thom, die dogter van NG-predikant George Thom. Hulle het twee kinders gehad, ’n seuntjie Christof en ’n dogter, Tobie. 4

Nalatenskap

Muller het waarskynlik meer as enigiemand anders op Stellenbosch die voortou (leiding) geneem vir die beweging wat later Afrikaans die erkende taal van skool, kerk en staat sou maak. 4 Hy was nooit bang om ’n sterk standpunt in te neem nie, soos bewys deur die preek wat hy in Afrikaans gelewer het.

Muller was ’n vurige vegter vir die Afrikanervolk. By een geleentheid het hy verklaar: “Ons volk het selfbewus geword – toe is daar in sy hart ’n onsterflike liefde tot sy taal gebore.” 2 Hy het ook gesê: “Laat Jong Suid-Afrika sy nasionale geloofsbelydenis onderteken, nie met sy naam nie, maar met sy lewe, en dan het ons niks te vrees vir die toekoms nie.” 1

De Nieuwe Kerk se hoeksteen is op 18 April 1832 gelê ten aanskoue van ‘n skare van 12 000. Dit is eers einde 1847 voltooi. Tobie Muller se vader was leraar van die Groote Kerk met opdrag Nieuwe Kerk tot hy in 1891 die eerste leraar van die dogtergemeente geword het. In dié gemeente het die Mullers gebly tot Tobie sowat 16 jaar oud was en sy vader ‘n hoogleraarskap aan die Kweekskool op Stellenbosch aanvaar het

Hy was baie geliefd, en mense het hom as nederig en ongekunsteld (natuurlik en sonder spoggerigheid) ervaar, en iemand wat warmte en menseliefde getoon het. 5

Hy het ’n spesiale plek in jong mense – soos die studente op Stellenbosch – se harte gehad. As begaafde en nasionalistiese Christenmens was hy ’n inspirasie in ’n tyd toe die jong Afrikanervolk inspirasie dringend nodig gehad het. 4

Woordbank

formulier Voorgeskrewe bewoording van ’n plegtige verklaring.
imperialisme ’n Politieke stelsel waarin een land oor baie ander lande regeer.
knoeier Iemand wat bedrieglik en agterbaks te werk gaan.
konserwatisme Wat nie hou van verandering of nuwe idees nie.
kweekskool Opleidingskool, veral vir predikante.
nasionalis Mense van ‘n sekere groep wat hulle eie belange wil bevorder.
ongekunsteld Natuurlik en sonder spoggerigheid.
ophef Boontoe rig, veral tot ’n hoër intellektuele/geestelike vlak.
orden ’n Seremonie hou om iemand (veral die hoof van ‘n kerk) amptelik in sy/haar pos te verwelkom.
pastorie Die huis/woning van ‘n predikant.
prominent Belangrik en dikwels op die voorgrond.
skrander Slim of intelligent.
suil Pilaar.
verfoei Verafsku.
verkwik Iemand minder moeg/warm laat voel.
vooroordeel ’n Onredelike opinie oor iemand/iets wat op die een of ander manier van jou verskil.
voortou Leiding.
wysbegeerte Filosofie. 6

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Tobie Muller

Kyk hierdie videos om nog meer te leer oor Tobie Muller

Die ontstaan van die 1918 grieppandemie

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 8 Februarie 2023 | Bygewerk op 27 Februarie 2024