Vinnige feite

Melrosehuis, waar die vredesverdrag onderteken is
  • Beide sy oupas was bekende figure: aan sy vaderskant was dit Kootjie Burger, wat ʼn lid was van die Natalse en Transvaalse Volksraad, en aan sy moederskant was dit W.F. Joubert, die kommandant-generaal van Lydenburg. 6
  • Hy was die eerste Boereleier wat die Vrede van Vereeniging by die Melrosehuis onderteken het. 2
  • Burger het tydens president Kruger se begrafnis in Pretoria in 1904 voor aan die lykstoet na Kerkplein gestap, saam met generaals Botha, De la Rey en De Wet. Hy het ook ʼn toespraak gehou. 4
Foto: iStock

Schalk Willem Burger (1852 – 1919) was ʼn Boeregeneraal wat veral daarvoor bekend is dat hy die waarnemende president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) tydens die Anglo-Boereoorlog was.

Vroeë jare

Burger is op 6 September 1852 in die Lydenburgse distrik gebore. 1 Hy was die seun van Jacobus Johannes Burger, ʼn Transvaalse Volksraadslid, en sy vrou Cornelia Margaretha Joubert. 2

Hy het sy vroeë onderrig tuis ontvang en later by die Voortrekker-onderwyser Jan Bantjes. 3

Jan Bantjes

Persoonlike lewe

Burger het in 1876 met Alida Claudina de Villiers, dogter van die Lydenburgse pionier (iemand wat eerste na ʼn nuwe land reis om daar te woon) Pieter de Villiers, getrou. 4

Hy was skraal en sieklik, maar het oor ʼn helder verstand beskik. Hy was ʼn goeie redenaar (kon goeie toesprake lewer) en administrateur. In politiek was sy houding kalm, maar soms besluiteloos. 2

Eerste jare op kommando

In 1873, op 21-jarige ouderdom, het hy ʼn klerk in die kantoor van die veldkornet van Lydenburg geword. 3 Hy het deelgeneem aan die veldtog teen die van hoofman Sekhukhune, 3 en die Ndebele-stam van hoofman Nyabele. 1

Gedurende die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) is hy aangewys as die veldkornet (iemand wat vir die regering gewerk het) van Lydenburg. 2 In 1885 is hy bevorder tot kommandant van Lydenburg. 3 Hy het homself in 1895 verkiesbaar gestel as kommandant-generaal – die hoof van al die kommando’s in Transvaal – maar hy het die verkiesing teen generaal Piet Joubert verloor. 2

Volksraadslid

In 1886 is hy as Volksraadslid van Lydenburg verkies. (Die Volksraad was die vergadering in Transvaal wat wette gemaak het.) 3 Sake waarby hy betrokke was, het ingesluit die voorgestelde Delagoabaai-spoorlyn (die trein na die hedendaagse Maputo), 1 nouer samewerking met die Republiek van die Oranje-Vrystaat, konsessies (regeringstoestemming) om te myn en ander besighede te hê, en die vorming van die Tweede Volksraad. 2

Ná die Eerste Vryheidsoorlog was die Transvaalse politiek oorheers deur president Paul Kruger. Sy opponente was ʼn groep wat as die progressiewes (ten gunste van nuwe, moderne idees en metodes) bekendgestaan het. Die progressiewes het die korrupsie (mense in die regering wat oneerlike optrede gebruik om hulself te bevoordeel), konserwatiewe – teen nuwe idees en metodes – opvoedkundige stelsel, wanadministrasie (swak bestuur van die regering), 5 en oor die algemeen bekrompe benadering (om op ʼn eng manier na dinge te kyk en nie van alle kante af nie) wat na hulle mening president Paul Kruger se regering gekenmerk het, beveg. 3 Hulle wou gehad het dat die Transvaal vinniger moes moderniseer. 5

Paul Kruger

Burger was die leier van die progressiewes, 2 en ander bekende progressiewes was Piet Joubert, die visepresident, 1 die toekomstige generaal Louis Botha en generaal Koos de la Rey. 5 Omtrent ʼn derde van die bevolking het hulle ondersteun. 3

Generaal Louis Botha
Koos de la Rey

Burger was meer simpatiek teenoor die Uitlanders op die goudmyne as wat Kruger was. In 1897 was hy die voorsitter van die Industriële Kommissie wat aangestel is om verslag te doen oor die stand van mynwese in Suid-Afrika. Die verslag het Kruger se beleid gekritiseer. 1 Kruger het aangevoer dat Burger deur die mynmagnate (ryk mense wat baie mag gehad het) mislei word, maar Burger het by sy aanbevelings gebly. 2 Hy het teen Kruger in die verkiesing vir president in 1898 gestaan, maar met ʼn groot minderheid verloor. 1

Op 31 Mei 1896 het hy ʼn lid van die Transvaalse Uitvoerende Raad geword, en kort daarna was hy een van die afgevaardigdes wat Bloemfontein toe is om nouer samewerking met die Vrystaat te bespreek. 2

Aanloop tot die ABO

Burger het alles in die stryd gewerp om oorlog te probeer keer. 6 Hy het Kruger vergesel na die Bloemfonteinse Konferensie, ʼn vergadering met die Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika, sir Alfred Milner in Mei 1899, wat ʼn laaste poging was om die oorlog te vermy.

Toe dit duidelik word dat oorlog gaan uitbreek, is hy as generaal aangestel, en op die vooraand van die oorlog het sy kommando, die Lydenburgse kommando, die grens met Swaziland beman. 2

Betrokkenheid by die oorlog

Aan die einde van Oktober 1899 is sy kommando na die Natalse front ontbied, waar hulle op 30 Oktober aan die geveg by Nicholsonsnek deelgeneem het.

Boere by ‘n Britse veldkanon wat hulle by Nicholsonsnek buitgemaak het

Burger was die aanvoerder van die Boeremagte by die beleg van Ladysmith, en toe weer van die magte wat Platrand probeer verower het. Hy was egter nie ʼn goeie militêre leier nie – in beide gevalle was sy leierskap té versigtig.

Ná die Slag van Spioenkop op 24 Januarie 1900 het hy van die gevegsfront af na Pretoria teruggekeer om as lid van die Uitvoerende Raad die Transvaalse oorlogspoging te help bestuur. 2

Spioenkop

Ná Piet Joubert se dood op 27 Maart 1900 is Burger bevorder tot visepresident. In Junie 1900, toe die Britte daarheen opgeruk het, moes die Transvaalse regering Pretoria ontruim.

Boere bou verskansings op Spioenkop

Kort daarna het president Kruger na Europa vertrek, en Burger het die waarnemende president geword. Die regering het vir die res van die oorlog rondgetrek, maar dit tog reggekry om uitvoerende funksies, soos die uitreik van papiergeld en die aanstel van landdroste (daardie mense wat in plaaslike howe optree as regters), uit te voer. Die Britte het hul bes probeer om die regering gevange te neem, maar met die beskerming van onder andere generaal Louis Botha kon hulle die Britte ontwyk. 2

Op die kruin van Spioenkop, die dag na die geveg

Pogings tot vrede

Burger was bereid om aan te hou veg terwyl hy gereken het daar was ʼn moontlikheid dat die Boere kon wen. Teen 1901 het hy egter gevoel dat daar nie meer ʼn kans was nie, 2 en dat vrede oorweeg moes word – selfs al sou dit beteken dat die Boere hul onafhanklikheid verloor. 4

In Mei 1901 het hy by ʼn krygsraadsvergadering (vergadering waar die leiers strategie bepaal) voorgestel dat hulle vredesonderhandelinge moes oorweeg, maar hy het nie ondersteuning gehad nie, en sy voorstel is nie aanvaar nie. 2

In April 1902 het Burger met die goedkeuring van die Transvalers met die Vrystaters gaan praat, en hul ondersteuning gekry om onderhandelinge met die Britte te begin. ʼn Afvaardiging is onmiddellik na Pretoria. Sy rol in die finale onderhandelinge was beperk, want generaals Jan Smuts en Hertzog, wat meer geesdriftig en besig as hy was, het die leidende rolle gespeel. 2

Jan Smuts

Rondom die einde van die oorlog het Burger hom vir twee sake beywer (ingespan). Die een was om die bittereinders (daardie burgers wat tot aan die einde van die oorlog geveg het en nooit gevang of oorgegee het nie) te oortuig om die vrede te aanvaar en hul wapens neer te lê. Saam met Botha het Burger op 31 Mei 1902 ʼn ope brief aan die burgers gerig, waarin hulle gevra is om die vrede te aanvaar. Burger het ook krygsgevangenekampe (kampe vir soldate wat deur die vyand gevang en opgesluit is) in Natal besoek om Boeregevangenes te oorreed om die eed van getrouheid aan die Britse regering af te lê. 2 Daarbenewens het hy die konsentrasiekampe in Natal besoek om die Boerevroue oor die vrede in te lig. 6

Generaal Schalk Burger

Tweedens het hy gepleit vir verdraagsaamheid en versoening onder die Boere. Hy wou die burgers oortuig van die belangrikheid van eenheid, en dat dit daarom noodsaaklik was dat hulle die hensoppers en joiners – daardie Boere wat wapen neergelê het tydens die oorlog, óf selfs aan Britse kant gaan veg het – moes vergewe. 5

Ná die vredesluiting is hy na Europa waar hy by ander Boeregeneraals aangesluit en ʼn besoek aan Kruger gebring het. 2

Naoorlogse openbare lewe

Ná die oorlog het Burger hom beywer vir die opbou van die twee voormalige republieke. Hy het, onder meer, geveg teen die isolasie (wanneer een groep van ʼn ander geskei word) van die Afrikaners, teen die emigrasie (om jou eie land te verlaat en in ʼn ander land te gaan woon) van Boere wat nie onder die Britse kroon wou wees nie, en teen die invoer van Chinese arbeiders om op die goudmyne te werk. 2

In die politiek was hy een van die medestigters en toe medevoorsitter van die Transvaalse Afrikaners se Het Volk-party onder Louis Botha in 1905. 5 Tydens die 1907-verkiesing is hy onbestrede verkies as lid van die Wetgewende Vergadering. 2

Burger was een van die Transvaalse afgevaardigdes by die Nasionale Konvensie (die vergadering waar Uniewording bespreek is) en was ʼn voorstander van die Unie. Ná Uniewording het hy die voorsitter van die Transvaalse tak van die Suid-Afrikaanse Party geword. Hy het vir Lydenburg in die regering verteenwoordig, en op 1 Januarie 1911 het hy ʼn lid van die Transvaalse Uitvoerende Komitee geword. Hy was ʼn getroue ondersteuner van die eerste minister, Louis Botha.

Nasionale Konvensie: Die Unie van Suid-Afrika is op 31 Mei 1910 ingehuldig met Louis Botha as eerste minister

In 1913 het hy ʼn senator geword, ʼn pos wat hy beklee het tot sy dood. 2 Hy het op 5 Desember 1918 in die tuig (terwyl hy nog gewerk het) gesterf. 1

Woordbank

bekrompe Dinge baie eng sien of om nie ʼn saak van alle kante te bekyk nie.
bevorder Aan iemand ʼn beter werk of hoër rang gee.
beywer Jou inspan/ten doel stel om iets te doen.
bittereinders Benaming vir ʼn Boer wat tot aan die einde van die oorlog voortgeveg het.
emigrasie Jou eie land verlaat en in ʼn ander land gaan woon.
isolasie Toestand om afgesonderd te wees.
in die tuig Sterf terwyl jy nog in diens is.
konserwatiewe Wat nie hou van verandering of nuwe idees nie.
konsessie Vergunning deur ʼn owerheid om te prospekteer of myn.
korrupsie Op ʼn oneerlike of onwettige manier jou mag gebruik om jouself te bevoordeel.
krygsgevangenekampe Kampe vir soldate wat deur die vyand gevang en opgesluit word.
krygsraad Vergadering van leiers om strategie te bepaal.
landdros Iemand, gewoonlik ʼn regsgeleerde (prokureur/advokaat), wat in ʼn plaaslike hof as regter werk en uitspraak oor minder ernstige misdade en regsake gee.
magnate Iemand, gewoonlik ʼn regsgeleerde (prokureur/advokaat), wat in ʼn plaaslike hof as regter werk en uitspraak oor minder ernstige misdade en regsake gee.
pionier Een van die eerste mense wat na ʼn nuwe land of gebied reis en daar begin woon of boer.
progressiewes Ten gunste van nuwe, moderne idees en metodes.
redenaar Iemand wat ʼn toespraak lewer.
veldkornet Amptenaar in die bestuur van plaaslike sake wat in militêre, administratiewe, regterlike en polisieaangeleenthede belangrike funksies vervul het, ondergeskik aan ʼn landdros.
wanadministrasie Swak beheer en bestuur van ʼn organisasie.
weifelend Om besluiteloos te wees. 7

Kyk hierdie video om nog meer te leer oor die tyd van Schalk Burger

Die Vrede van Vereeniging

 

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 15 November 2022 | Bygewerk op 18 April 2024