Vinnige feite
- Die leuse van die Volkskongres wat tot die stigting van die RDB gelei het, was “ʼn Volk red homself”. 4
- Die Volkskongres wat in Oktober 1939 in Bloemfontein gehou is en waar sake soos die Reddingsdaadbond bespreek is, is deur 757 afgevaardigdes van alle dele van die land bygewoon. 2
- Die eerste tak van die RDB is in 1940 in Bloemfontein gestig.
- Die RDB het tot in 1957 bestaan. 6
- Generaal de Wet se plaas naby Koppies in die Vrystaat was die eerste plaas wat in opdrag van Brittanje se lord Roberts afgebrand is. 1
Weet jy wat die Reddingsdaadbond is? Kom ons kyk na wat die verskillende dele van hierdie woord beteken: Redding verwys na iets of iemand wat uit ʼn moeilike plek of situasie gered moet word, daad is dit wat gedoen moet word of die aksie wat geneem moet word om iemand te kan red, en bond dui daarop dat daar ʼn organisasie betrokke is wat die werk moet doen.
Nou kan ons kyk wie dit is wat gered moes word en waarom dit nodig was.
Waarom was die Reddingsdaadbond nodig?
In die Anglo-Boereoorlog het die Britse regering besluit om plase en dorpe te vernietig omdat hulle die Boere so wou dwing om met die oorlog op te hou. Die manier waarop hulle dit wou doen, is die verskroeideaardebeleid genoem.
Die Britse lord Frederick Sleigh Roberts het op 16 Junie 1900 amptelik die opdrag gegee dat daar met die verskroeideaardebeleid begin moet word. Dit het beteken dat dorpe vernietig moes word, plase afgebrand moes word, dat inwoners uit dorpe na konsentrasiekampe geneem moes word en dat die Boere se vee (alle plaasdiere) doodgemaak moes word. Hierdie opdrag het die Vrystaat en Transvaal byna heeltemal vernietig.
Meer as 60 000 huise en 30 000 plase is afgebrand. Voor die oorlog was daar ongeveer 1 000 000 beeste, 200 000 perde en 1 500 000 skape in Transvaal. Ná die oorlog was net 200 000 beeste, 50 000 perde en 400 000 skape oor. 1
Hierdie Britse beleid het baie ernstige armoede veroorsaak. Dit is vererger deur ʼn ernstige droogte wat ook in die 1930’s in die land was. Dit het gelei tot ʼn baie groot armblankevraagstuk (wit mense wat geen geld gehad het om van te leef nie). Van die miljoen Afrikaners wat daar toe in die land was, was ongeveer 300 000 baie arm. 2
Daar moes toe ʼn plan beraam word om al die arm mense te help om weer werk en inkomste te kry om van te leef.
Die Reddingsdaadbond se ontstaan
Die Reddingsdaadbond (RDB) is op 8 Desember 1939 onder leiding van dr. N. Diederichs gestig. Die man wat in 1938 reeds vir só ʼn organisasie begin pleit het (dringend gevra het), was dr. J.D. Kestell. 2 Kestell is in 1854 gebore en in 1941 oorlede. Hy was ʼn predikant en ook iemand wat toneelstukke geskryf het. Hy is ook “Vader Kestell” genoem. Gedurende die Anglo-Boereoorlog was hy ʼn militêre kapelaan (predikant tydens ʼn oorlog) vir die Boere wat oorlog gemaak het. In 1881 het hy ʼn toneelstuk met die titel Die stryd om vryheid geskryf, en hy het die skuilnaam Leinad as sy skrywersnaam gebruik. 3
In Oktober 1939 is ʼn Volkskongres in Bloemfontein gehou. Die Broederbond het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gevra om die kongres te reël, en mense het van oral in die land gekom om dit by te woon. Ds. William Nicol was die voorsitter, en Kestell was die beskermheer.
By hierdie kongres het Kestell onder meer gesê dat die klein Boerevolk in Suid-Afrika die mense met wie dit sleg gaan, moet help om hulself te help, en dat die hele volk homself sal moet help. 4
Wat was die doel van die RDB?
Die RDB is gestig om Afrikaners wat baie arm was te help om hulself te help.
Hier is van die dinge wat die RDB wou doen:
- Mense moes gehelp word om werk te kry sodat hulle weer vir hulself kon sorg.
- Mense moes gehelp word met dinge om vir ontspanning te doen.
- Daar moes organisasies vir vroue en vir boere gestig word.
- Mense moes opgelei word om onder meer tegniese werk te kan doen.
- Daar moes kultuurwerk gedoen word.
- Daar moes geld ingesamel word. 2
Waar het die RDB geld gekry?
Die Reddingsdaadbond was ʼn spanpoging deur Afrikaners om hulself te help. In hierdie jare was die meeste Afrikaners baie arm, maar al het hulle min geld gehad, het duisende van hulle by die RDB aangesluit en elke maand ʼn klein bedrag geld vir lidmaatskap betaal. Selfs kinders het klein bedraggies geld betaal. Vyf jaar ná die stigting het die RDB reeds 400 takke met 700 000 lede gehad!
Die geld wat lede elke maand bygedra het, is gebruik om mense te help om hul eie besighede te begin. Op die platteland het die RDB ook baie kafees en winkels oorgeneem.
Al hierdie projekte van die RDB het vir duisende mense wat sonder werk was, weer werk gegee. 4
Toneel en rolprente
Die RDB het gesorg dat Afrikaanse toneelopvoerings vir gehore opgevoer kon word. Van hierdie opvoerings was Oom Paul (dit het die storie van pres. Paul Kruger vertel) en Hans die skipper wat deur die toneelgeselskap van Hendrik Hanekom aangebied is. Hanekom se toneelgeselskap was in die 1940’s baie bekend onder Afrikaanssprekendes.
Die RDB het ook twee ander toneelspelers – Siegfried Mynhardt en Louis de Vriendt – gehelp om toneelopvoerings aan te bied. Siegfried het ʼn toneelgeselskap gestig wat onder meer ʼn toneelstuk (ʼn mens kan ook praat van ʼn toneelopvoering) met die naam Die rooi pruik aangebied het. Siegfried Mynhardt was self ʼn baie bekende toneelspeler wat ook in rolprente en TV-reekse gespeel het. (Dalk kan jy vir jou ouma of oupa vra of hulle hom kan onthou.) Die RDB het weer vir Louis de Vriendt gehelp om met opvoerings soos Die dodelike kus in die land rond te toer.
In 1940 het die RDB ook ʼn rolprentorganisasie gestig – dit is ʼn organisasie wat rolprente wys. Hierdie organisasie het die lang naam Reddingsdaadbond-Amateurrolprentorganisasie (RARO) gehad. 5
Die RDB het saam met die FAK ʼn blad met die naam Inspan begin. Dit het van Oktober 1941 tot in 1948 bestaan en is gebruik om vir lesers inligting oor aktuele sake te gee. 4
Wat het die RDB reggekry?
Die RDB het gehelp om baie nuwe sakeondernemings te stig, wat duisende mense gehelp het om werk te kry. Baie Afrikaners is ook gehelp om studiebeurse te kry sodat hulle verder kon studeer, en sommiges is ook gehelp om opleiding te ontvang om verskillende soorte werk te kon doen. 6
Woordbank
aktuele | Wat op die oomblik van belang is. |
amateur | Iemand wat ʼn werk, sport of kuns vir die plesier beoefen en nie omdat dit ʼn werk is of om baie geld daaruit te verdien nie. |
beskermheer | Iemand wat sorg vir die belange van ʼn vereniging of organisasie. |
inkomste | Geld wat ʼn mens vir ʼn tydperk as salaris, huur of rente ontvang. |
kultuur | Die manier waarop ʼn groep mense leef, hul gewoontes en godsdiens. |
lidmaatskap | Om lid van ʼn kerk, groep of vereniging te wees. |
skuilnaam | Die naam wat ʼn skrywer gebruik in plaas van sy of haar regte naam. |
spanpoging | Wanneer mense almal saam probeer om iets te doen. |
toneelgeselskap | ʼn Groep toneelspelers. |