Vinnige feite

  • Siegfried het vir verskillende toneelgeselskappe, vir die Nasionale Toneelorganisasie (NTO), die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK) asook vir die Kaapse Raad vir Uitvoerende Kunste (KRUIK) in toneelopvoerings opgetree.
  • In The Cape Town Affair het Siegfried onder andere saam met die bekende buitelandse aktrise, Jacqueline Bisset, opgetree. 6
  • Die regisseur van Dingaka, die rolprent waarin hy in 1964 gespeel het, was die bekende Afrikaanse rolprentmaker Jamie Uys wat ook internasionaal bekend was. 9
  • Siegfried het die fotograaf Bob Martin geïnspireer om toneel te speel. 12
  • Hy het vir 60 jaar lank toneel gespeel. 11

Om vir 60 jaar lank toneel te speel, is nie iets wat baie mense kan regkry nie. Siegfried Mynhardt is een van min mense in ons teatergeskiedenis wat hierdie prestasie kon behaal en daarom behoort hy vir altyd in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse toneelwêreld opgeteken wees.

Gesin

Siegfried Charles Ferdinand Mynhardt is op 5 Maart 1909 in Johannesburg gebore. 1 Sy pa was Charles Frederick en sy ma Maud Beatrice. Sy broer was Felix Alexis en sy susters Ursula Cecilia en Maude Beatrice. Sy pa was ’n predikant en hy het ook vertaalwerk gedoen. 1

Meeste mense het hom sommer “Siegie” of “Siggie” genoem. 2 Hy het na homself ook as “Siegie” verwys. 3

Siegfried het in onder meer Wynberg en Carnarvon grootgeword. 4

Hy was getroud met Jocelyn Rose en hulle het twee kinders gehad. 2 Sy kinders se name was Jill en Guy. 1

Opmerking: Verskillende bronne gee verskillende geboorte- en sterfdatums vir Siegfried Mynhardt – volgens sommige bronne is hy in 1906 gebore wat sal beteken dat hy 90 was toe hy oorlede is. Ander bronne gee sy geboortejaar aan as 1909. Volgens ’n onderhoud wat volgens die bron in 1990 met hom gevoer is, was hy toe 81, dus moes hy 87 gewees het toe hy oorlede is. Ook oor die dag van sy geboorte is daar nie ooreenstemming tussen die bronne nie. In hierdie artikel word volstaan met die datums soos dit hier gebruik is.

Toneel word sy loopbaan

Siegfried het in 1929 sy loopbaan as akteur begin tot hy by die toneelgeselskap van Hendrik Hanekom aangesluit het. 4

Sy eerste rol was in die toneelopvoering Onskuldig veroordeel. 1

Hy het hier waardevolle ondervinding opgedoen by senior spelers soos Paul de Groot, Anna Claassen en André Huguenet. In 1937 het hy na Engeland gegaan en ’n lid geword van die Old Vic-teatermaatskappy wat in daardie jare ’n baie beroemde toneelgeselskap was. 4

Paul de Groot

Hy het later vertel dat hy in hierdie tyd in die buiteland geleer het wat dit is om werklik ’n professionele akteur te wees. Hy het onder meer ’n woonstel met die beroemde Britse akteur Alec Guinness gedeel. 5

In 1940 het hy na Suid-Afrika teruggekeer en in 1941 het hy sy eie Afrikaanse toneelgeselskap gestig. Hy en sy geselskap het in 1945 in Noord-Afrika en Italië vir Suid-Afrikaanse troepe opgetree.

In 1947 is hy aangestel as akteur in die eerste geselskap van die Nasionale Toneelorganisasie (NTO). 4

Gedurende 1948 het hy in ’n hele paar opvoerings vir die NTO gespeel saam met spelers soos onder andere André Huguenet, Vivienne Drummond en Mathilde Hanekom. 1

In Haar egskeiding, 1935

Sy indrukwekkende lys van toneelopvoerings

Kyk ’n bietjie na die jare waarin hy sommer in drie of vier verskillende opvoerings gespeel het. As mens dink aan hoe lank een opvoering spelers kon besig hou – saam met die vooraf instudering van die teks, die repetisies en die speelvak wat soms tot ʼn maand lank kon wees, dan verstaan mens wat hy werklik bereik het.

Hierdie is nie ’n volledige lys nie, maar redelik naby aan volledig. In hierdie jare was daar nie iets soos die internet waarop byna alles opgespoor kon word nie. Mense moes jare later uit programme en koerantberigte lyste maak van die toneelstukke waarin spelers opgetree het.

1940’s

What Every Woman Knows (1943), Blithe Spirit (1944), Milestones (1944), Squadron X (1944), Flare Path (1943-44), Laburnum Grove (1946), A Man With Red Hair (1946), A Month in the Country (1964), Lady Frederick (1947), Hamlet (1947), Altyd my liefste (1947-48), Dear Brutus (1948), Nag het die wind gebring (1948-49) en An Inspector Calls (1948-49). 1

1950’s

Macbeth (in Afrikaans, 1950), Hassan (1950), Die vrek (1951), Volpone (1952), Twelfth Night (1953), Someone Waiting (1954), Hamlet (1955), Periandros van Korinthe (1956), Bitter einde (1956-57), Oupa Kanniedood (1957), Bohaai oor ’n otjie (1956), The School for Scandal (1958), Die jakkalsstreke van Scapino (1958), Voorlopige vonnis (1958), Saint Joan (1959) en Moeder Hanna (1959). 1

Mynhardt in die 1958-opvoering van The School of Scandal deur die NTO

1960’s

The Caretaker (1960), Rookery Nook (1960), Irma la Douce (1960), The Caretaker (1961), The Tenth Man (1961), Wie de drommel is Paskwaal? (1961), Beyond the Fringe (1961), The Birthday Party (1962), The Night of the Iguana (1962), The Cockpit Players (1962), Dear Liar (1962), The Affair (1963), The Cherry Orchard (1963), The Playboy of the Western World (1963), Romeo and Jeanette (korrekte titel, 1963), The Miser (1964), Ring Round the Moon (1964), A Sleep of Prisoners (1965), The Caucasian Chalk Circle (1965), Rashomon (1965), The Devils (1966), Faust (1966), The Beaux’ Stratagem (1966), The Mask and the Face (1967), Mourning Becomes Electra (1967), The Imaginary Invalid (1967), Heartbreak House (1967), Rosencrantz and Guildenstern Are Dead (1968), You Never Can Tell (1968), The Fighting Cock (1968), Hadrian VII (1969), A Month in the Country (1969), The Magistrate (1969). 1

Sewentig- tot tagtigerjare

Ouers-Vra (1970 [die korrekte spelling is “ouersvra”]), King John (1970), Child’s Play (1971), Koning Lear (1971), Hotel Paradiso (1971), Gentlemen (1972), Do You Know the Milky Way? (1972), Black Comedy (1972), Skoene-skoene (1973), Sagmoedige Neelsie (1973), Iemand om voor nag te sê (1973), Die verhoor (1973), Charley’s Aunt (1973), Macbeth (1973), Twigs (1974), Drie susters (1976), Die nag van Legio (1976), Plaston: DNS-kind (1981) en Comrades (1986). 1

Rolprente

Siegfried het nie net op die verhoog bekend geword nie, hy het ook in talle rolprente gespeel en so nog meer aanhangers gekry.

Hierdie is net enkele van die rolprente waarin hy opgetree het:

Die Skerpioen (1946), 1 Dingaka (1964), Tokoloshe (1965), The Cape Town Affair (1967), Jy is my liefling (1968), Dr. Kalie (1968), Danie Bosman: Die verhaal van die grootste SA komponis (1969), Die bankrower (1973), Vreemde wêreld (1974), Funeral for an Assassin (1974), 6 Die vlindervanger (1976), 1 Auf Achse (1980) en Blind Justice (1988). 6

Siegfried Mynhardt en Dulcie van den Berg

Enkele besondere gebeure in sy loopbaan

In 1937 is Siegfried deel van die opname van die eerste Afrikaanse radiovervolgverhaal. Die naam daarvan was Tamboere in die nag en dit was ’n verwerking van Hendrik Brand se speurverhaal, Die skerpioen. Enkele van die bekende spelers wat ook deelgeneem het, was Hendrik en Mathilde Hanekom, Berdine Grünewald en André Huguenet. Die hele vervolgverhaal is op 70 plate opgeneem. 7

Sodat mens kan verstaan watter groot werk dit was, luister net bietjie hier: Elke opname moes perfek wees – dis nie moontlik om opnames op ’n plaat te stop, of iets uit te vee en te vervang nie. As iemand ’n verkeerde woord sê of hoes of iewers ’n verkeerde geluid maak, moet alles weer van vooraf gedoen word! Die spelers moes hul rolle instudeer, saam oefen en dan ook die klankeffekte saam oefen. Dan moes die tydsduur presies reg uitgewerk word, want onthou, die plaat moes as ’n volledige episode oor die radio gespeel word. Soms het dit ’n hele dag geneem om ’n plaat te maak met ’n halfuur se episode daarop! 7

In die jare tussen 1939 en 1943 was daar soms tot 25 toneelgroepe wat deur die land getrek het om toneel na die mense te neem – na stede en ook die hele platteland vol, selfs tot in die destydse Suidwes-Afrika, vandag Namibië. Terwyl Siegfried se eie toneelgeselskap bestaan het, was hulle ook deel van hierdie groepe. Die volle tydperk waarin toneelgroepe deur die land getrek het, was vanaf 1925 tot 1950. 7

In 1947 word die NTO gestig en daarin word al die klein toneelgeselskappe saam opgeneem. Tussen Augustus 1948 en April 1949 het die NTO die toneelstuk Nag het die wind gebring, geskryf deur W.A. de Klerk, aangebied. Die rolbesetting van hierdie stuk word beskou as waarskynlik die sterkste wat tot op daardie stadium in ’n toneelopvoering gesien is, en sommer vir baie jare daarna ook. Die spelers was Hendrik en Mathilde Hanekom, André Huguenet, Siegfried Mynhardt, Gert van den Berg, Enone van den Berg en Erna Eksteen. Om alles te kroon, was die bekende Anna Neethling-Pohl die regisseuse. 7

Anna Neethling-Pohl

Siegfried Mynhardt en Wena Naudé

Hierdie twee geliefde akteurs het deur die jare talle kere saam in rolprente opgetree en diep in kykers se harte ingekruip.

Net soos Siegfried, was Wena Naudé ook deur haar loopbaan gewild onder die publiek en saam het die twee ’n gedugte span uitgemaak. Wena was een van die baie pioniers van die Afrikaanse toneelwêreld. Ook sy het saam met André Huguenet opgetree en deur die land getoer. Sy het in meer as 30 rolprente opgetree waarvan die Tant Ralie-rolprente van die bekendstes was.

Dis juis hier waar sy en Siegfried so heerlik saam opgetree het – Tant Ralie se losieshuis (1974) en die opvolg daarop, Die troudag van tant Ralie (1975). Hierdie prettige twee rolprente vertel die storie van twee ouerige susters wat ’n losieshuis in die Kaap het. 8

Maar hulle het ook in ander rolprente saam opgetree, soos Daar kom tant Alie, Dr. Kalie en Vlug van die seemeeu. 9

Siegfried se briewe en hulde aan André Huguenet en aan P.P.B. Breytenbach

Vandag is dit vreemd om te dink aan briewe wat met die hand geskryf is en by ’n poskantoor gepos is met ’n posseël daarop. Maar in die jare toe Siegfried Mynhardt geleef het, was dit hoe mense met mekaar gesels het. Briewe is sommer vinnig deur die posman op sy posfiets afgelewer omdat daar toe nog op elke dorp ’n poskantoor was wat goed gefunksioneer het. Kyk op die foto’s na voorbeelde van posseëls uit 1961.

P.P.B. Breytenbach

In so ’n brief wat Siegfried in Julie 1961 vir André Huguenet geskryf het terwyl hy in die trein van Durban na Bloemfontein gereis het, leer mens hoe André die inspirasie was vir Siegfried se besluit om toneelspeel sy loopbaan te maak. Hy sê onder meer: “My sterkste indrukke van en assosiasies met toneel in my loopbaan is met jou. Ek was nog op skool toe ek my eerste Afrikaanse (of Engelse) opvoering gesien het. Dit was Paul de Groot se opvoering van Ibsen se Nora en jy het die jong man gespeel – ek was verruk.”

“En toe kom jy met jou eie geselskap in Mal Hans – ’n metamorfose het in my plaasgevind. Ek het besef ek moet toneelspeel.” 10

Siegfried vertel ook hoe hy later by André se toneelgeselskap aangesluit het en hoe André op ’n stadium daarop aangedring het dat die hele geselskap tydens toere op Sondae die kerkdiens moes bywoon. Hulle was eers onwillig, maar het tog ingestem. Hulle het geweet dat André opreg godsdienstig was, maar die geselskap het ook besef dat dit ’n goeie indruk gemaak het wanneer die hele klompie toneelspelers op ’n Sondag in ’n ry in die kerk ingestap en in die heel voorste ry gaan sit het! 10

As deel van hierdie toneelgeselskap het Siegfried sy eerste rol gespeel in die opvoering Johannes van Wyk. Daarna het onder meer Die swart hand, Ek het ’n man vermoor en Haar egskeiding gevolg.

Jare later het Siegfried saam met Anna Neethling-Pohl die regie gedoen van Hamlet waarin spelers soos André Huguenet, Gideon Roos, Berdine Grünewald, Anna Neethling-Pohl en Siegfried self gespeel het. 10

In nog ’n brief, van 28 Maart 1982, het Siegfried hulde gebring aan P.P.B. Breytenbach, of “Breytie” soos hy bekendgestaan het. Hierin het hy onder meer vertel van al die opofferinge wat Breytie gemaak het om kunstenaars en teater in die algemeen aan die gang te hou. 3

Siegfried Mynhardt se inskrywing in die program van die NTO se produksie van Die Vrek van 1951

Toekennings

  • In 1950 het hy die Queen Elizabeth II Coronation Award vir sy bydrae tot teater ontvang. 1
  • In 1957 het hy die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Erepenning vir Toneelkuns (spel) ontvang. 4
  • Die Orde vir Voortreflike Diens is in 1989 deur die regering aan hom toegeken. 11

Ander toekennings wat hy ontvang het, is onder meer die volgende:

  • Die Stewart Leith-trofee wat hy twee keer ontvang het.
  • Talle ander toekennings as beste akteur vir sy toneelwerk. 1

Siegfried die mens

Op sy 81ste verjaardag het Siegfried in ’n onderhoud oor sy lewe vertel. Op die vraag oor of hy enige hoogtepunte uit sy loopbaan kan uitsonder, was sy antwoord dat dit nie moontlik is nie. Hy het vertel hoe spesiaal die konserttoere was en gesê hoewel dit soms moeilik was, hy niks daarvan sou verander nie. Hy het gesê dat hy reeds as klein seuntjie geweet het dat hy eendag wil toneelspeel. Sondagaande het hy en sy gesin gaan luister na mense wat kom voordra het in Wynberg waar hulle gewoon het. Dit was vir hom wonderlik en dit het die koers van sy latere lewe bepaal.

Wanneer hy soggens wakker word, sê hy: “Thank you God for a new day, I’m gonna use it well.”

Op ’n vraag oor hoe dit met hom gaan, was sy antwoord: “Ek is ’n miljoenêr. ’n Miljoenêr in gesondheid. Ek dank die liewe Vader daarvoor.” 11

Siegfried Mynhardt is op 28 Maart 1996 in Johannesburg oorlede. 4

Woordbank

aanhangers Bewonderaars.
akteur Die persoon wat die rol van ʼn karakter in ʼn storie vertolk.
assosiasies Verbinding van gedagtes/voorstellings met mekaar; om wat vroeër ervaar is, weer op te roep.
gedugte Span wat tot baie in staat is en vir wie mense ontsag het.
geselskap Groep mense wat saam iets doen.
hulde Iets moois/positiefs van iemand sê; lof toeswaai.
indrukwekkend Iets besonders wat ʼn groot indruk op ’n mens maak.
jakkalsstreke Skelmstreke.
kanniedood Iemand wat nie maklik ondergekry word nie.
klankeffekte Klanke wat gebruik word om te help om ’n storie te vertel, soos byvoorbeeld deure wat oop- en toegaan, motors wat ry, ’n ketel wat kook, ens.
opofferinge Om dinge prys te gee, daarsonder klaar te kom omdat jy jou medemens wil dien.
otjie Ander woord vir ’n vark.
ouersvra Om die ouers van die persoon met wie jy wil trou, te vra of dit hul goedkeuring wegdra.
pioniers Persone wat baanbrekerswerk doen, die pad oopmaak vir ander om te volg.
plate Plat, ronde, gewoonlik swart vinielskywe met fyn groefies daarop en ’n gaatjie in die middel waarop musiek en klank gestoor is. Langspeelplate, grammofoonplate.
prestasie Iets belangriks wat ʼn mens regkry.
professionele Wat verband hou met ’n beroep, m.a.w. jy kry ’n salaris vir dit wat jy doen.
regie Afrigting van toneelspelers/akteurs.
repetisies Herhaalde of finale oefeninge, ook kleedrepetisies genoem.
rolbesetting Rolverdeling in ʼn toneelstuk.
sagmoedig Iemand wat nie graag baklei nie en saggeaard is.
speelvak Die aantal opvoerings van ’n toneelstuk direk na mekaar.
toneelgeselskap Groep mense wat saam rondreis om toneelopvoerings aan te bied.
troepe Soldate.
tydsduur Lengte wat iets neem van begin tot einde.
verwerking Wanneer ’n boek so verander word dat dit vir ’n radiodrama of toneelopvoering gebruik kan word.
vrek Baie suinige persoon.
waardevolle Iets wat baie waarde het.

Lees en kyk hier

Luister hier

Siegfried as “Nefie” in een van Oom Kaspaas se stories

Kyk hier

Die rolprent The Cape Town Affair waarin hy opgetree het

Onderhoud deur André Walters met Siegfried op sy 81ste verjaardag

Die rolprent Dr. Kalie waarin hy die hoofrol gespeel het saam met mense soos Wena Naudé en Franz Marx

Die rolprent Tant Ralie se losieshuis, hier sien mens sommer ook ’n jong Pieter-Dirk Uys.

Lokprent van Die Troudag van tant Ralie

 

Gepubliseer op: 18 April 2024 | Bygewerk op 8 Mei 2024