Vinnige feite
- Die verskil tussen hoof- en laagwater kan soms tot 15 m op sommige plekke wees.
- Hoog- en laagwater is elke dag 30 tot 45 minute later.
Getye is die styging en daling van die seevlak, en dit word hoofsaaklik deur die uitwerking van die son en die maan se swaartekrag veroorsaak. Getye kan ook beskryf word as golwe wat as gevolg van die kragte van die son en maan diep in die see begin en in die rigting van die kus beweeg, waar dit dan hoog- en laagwater veroorsaak.
Hoog- en laagwater en fases van die maan
Twee keer per dag styg die see-oppervlak (hoogwater), en twee keer per dag daal dit weer (laagwater). Vloed is die tyd tussen laagwater en hoogwater wanneer die gety styg, en eb is die tyd tussen hoogwater en laagwater wanneer die gety sak.
Die maan wentel elke 28 dae in ʼn ovaalvormige baan om die aarde. In hierdie tyd is daar vier fases van die maan: nuwemaan, eerste kwartier, volmaan en laaste kwartier.
Gedurende hierdie omwenteling is daar twee keer springgety, eers met nuwemaan, en dan weer 14 dae later met volmaan. Met springgety word die see baie laag met laagwater en baie hoog met hoogwater.
Die eerste kwartier en laaste kwartier word dooiegety genoem. Tydens dooiegety is die verskil tussen laag- en hoogwater nie baie groot nie.
Die tye van hoog- en laagwater is elke dag 30 tot 45 minute later as die vorige dag.
Getyhoogteverskil
Die verskil in waterhoogte tussen hoogwater en laagwater word getyhoogteverskil genoem, en dit verskil van plek tot plek. Soms is hierdie verskille geweldig groot. Seevarende volke het die getye leer ken en dit begin gebruik. Hulle het agtergekom dat getyhoogteverskille van plek tot plek kan wissel. By eilande in die oseaan is daar byna geen verskil nie, maar in die Bristolkanaal in Brittanje is die verskil 10 m, en by die baai van Mont Saint Michel in Frankryk is die verskil 15 m. Aan die kus van Suid-Afrika wissel dit tussen 2 m by Durban en 1 m by Walvisbaai.
Oorsake van getye
Die swaartekragwerking van die maan en die son is die vernaamste oorsaak van getye.
Ander oorsake is:
- die aswenteling van die aarde;
- die struktuur van die seebodem naby die kus; en
- die vorm van die kuslyn.
Gebruik van getye
Voordat sleepbote algemeen gebruik is om skepe veilig in hawens in en uit te sleep, was getye baie nuttig om skepe in en uit hawens te kry. Vandag maak hoogwater dit vir groot skepe moontlik om sommige rivierhawens te bereik wat nie tydens laagwater bereik kan word nie.
ʼn Getykurwe is ʼn maandverslag wat opgestel word oor spesifieke plekke langs die see. Mense wat langs die kus vakansie hou of wat staptogte op die strand beplan, gebruik ook hierdie inligting oor die tyd van hoog- en laaggety.
Vissermanne maak ook gebruik van kennis oor die getye. Omdat die see met springgety ver terugtrek, kan vissers op plekke hengel waar dit gewoonlik nie moontlik is nie. Met springgety kan vissers ook seekatte, krappe en rooiaas uithaal.
Tussentydse strand
ʼn Tussentydse strand is die strook strand tussen die hoog- en laagwatermerk. In die rotspoele en onder die sand in hierdie strook strand kry mens ʼn groot verskeidenheid plante en diere. Hulle leef in moeilike omstandighede, omdat hulle soms onder die water leef en soms buite die water soos die getye verander.
Van die plant- en dierelewe wat hier voorkom, is onder meer klipmossels, mossels, rooiaas, seeanemone, seekastaiings, seekomkommers, seelelies en seesterre.
Woordbank
hawens | Beskutte stuk water aan die kus waar skepe kan anker gooi om passasiers en goedere op en af te laai. |
kus | Gebied/strook waar die land en die see bymekaarkom. |
springgety | Tyd wanneer die see baie hoog styg net ná nuwemaan en volmaan. |
strand |
Strook sand langs die kus wat met hoogwater deur seewater bedek is. |
swaartekrag | Krag wat iets na die aarde toe trek; gravitasie. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer
Kyk dié video’s om meer oor getye te leer
Die verskillende getye wat ‘n mens kry
Hoe werk seestrome?
Só werk getye