Vinnige feite

Kmdt. Gideon Scheepers op Beaufort-Wes terwyl hy herstel het van ingewandskoors.
  • Scheepers se ma het 101 jaar oud geword. Sy is gebore op 17 Januarie 1856 en is oorlede op 25 Mei 1956. Sy oupa aan sy pa se kant was betrokke by die Slagtersnek-rebellie van 1815. 1
  • Toe dit gelyk het of daar oorlog gaan uitbreek, was Scheepers bang dat die Vrystaat miskien nie die Transvaal sou bystaan indien oorlog wel sou uitbreek nie. Hy het vir sy ouers gesê dat hy in daardie geval sy werk sal bedank en by die Transvaalse krygsmag aansluit. 1
  • Die militêre howe, soos die krygshof wat Scheepers skuldig bevind het, was slordig, het swart en bruin getuies gebruik, die mans in die openbaar tereggestel en Rebelle-gevangenes gedwing om die teregstellings by te woon. Dit het die Boere woedend gemaak. 5
  • Scheepers was een van honderde Boere wat in die Kaapkolonie voor militêre howe verskyn het. Dié howe het altesaam 1 012 mense tot gevangenisstraf veroordeel en 34 tereggestel. 4
  • In 1904 is ’n plaaslike kommissie in die lewe geroep om die stoflike oorskot van Boere wat in Graaff-Reinet tereggestel is, op te spoor. Hulle kon egter nie uitvind waar Scheepers herbegrawe is nie. Daar was later nóg ’n kommissie, maar hulle kon ook nie sy oorskot kry nie. Sommige mense het vir jare ná die oorlog geglo dat hy nog gelewe het. 1
  • Scheepers en sy troepe het meer as 1 300 Britse troepe gevange geneem. 1
  • Daar is ’n monument ter ere van Scheepers in Graaff-Reinet. 1
  • Scheepers het ’n dagboek gehou tussen 10 Oktober 1901 en 18 Januarie 1901. Dit is in 1938 gepubliseer as Scheepers se dagboek en die stryd in die Kaapland. 1 Scheepers het in sy dagboek geskryf: “Hoe die vyand ook al mag juig, die Afrikanervolk sal lewe en nie sterf nie!” 4
Foto: iStock

Gideon Scheepers (1878-1902) was ’n Boereverkenner. ’n Boereverkenner se werk in die oorloë van toentertyd was om (soms) alleen of andersins saam met ’n paar gewapende mans die gebied vorentoe te bespied (verken) om seker te maak die vyand is nie naby nie. Indien die vyand wel gewaar word, kan die verkenner(s) vinnig te perd terugry om sy mense te gaan waarsku sodat hulle betyds kan wegkom of voorbereidings vir ’n aanval kan maak.

Vandag word daar van gevorderde tegnologie gebruik gemaak om die vyand oor baie groot afstande dop te hou en presies te weet waar hulle is en/of doen. In die meeste gevalle sit hierdie “verkenners” veilig in ’n gebou voor rekenaars en hoef nie die wind en weer op die rug van ’n perd te trotseer nie of deur die vyand oorval word nie.

Scheepers se prestasies as vegter het hom bekend gemaak, maar die wyse waarop hy gesterf het hom ’n martelaar gemaak en daarom het hy ’n spesiale plek in die Afrikanergeheue. 1

Vroeë jare

Gideon Scheepers is op 4 April 1878 in die distrik Middelburg, Transvaal (Gauteng) gebore en was een van tien kinders van Jacobus Johannes Scheepers en sy vrou, Sophia Charlotte van der Merwe. Hy het op die plase Grootlaagte en Roodepoort in die Middelburg-distrik grootgeword. Hy het redelike goeie primêre opvoeding ontvang, onder andere by Willem Rood se skool by Springboklaagte. Hy was glo so intelligent dat sy ouers wou gehad het hy moet ’n dominee word. Daar was egter nie van sy ouers se kant af geld vir verdere studies nie en hy het dit op daardie stadium laat vaar. 1

Vroeë loopbaan

In 1895, op 17-jarige ouderdom, sluit Scheepers by die Transvaalse Staatsartillerie (soldate wat met kanonne werk) aan waar hy as heliografis opgelei is. 2 Hy het uitstekende aanleg (talent) vir die werk getoon en is vinnig bevorder (het gou hoër range gekry).

Teen Mei 1898, op 21-jarige ouderdom, is hy tot sersant bevorder. Sy taak was om ’n veldtelegraafdiens (elektriese toestelle waarmee seine oor groot afstande oorgedra kon word) in die Vrystaatse Republiek op die been te bring. Dit het hy suksesvol reggekry. 1

Kmdt. Gideon Scheepers as artilleris en hoof van die seinkorps

Anglo-Boereoorlog

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog was Gideon Scheepers in Bloemfontein. Hy het op 11 Desember 1899 as lid van die Vrystaatse Staatsartillerie aan die slag van Magersfontein deelgeneem waar hy onder generaal Christiaan de Wet geveg het en een van die generaal se baasverkenners geword het. 2

Christiaan de Wet

Hierna het De Wet hom gebruik om boodskappe na generaal Piet Cronjé te neem. Hy was by Cronjé se kommando rondom die tyd toe hulle by Paardeberg oorgegee het op 27 Februarie 1900, maar het gelukkig inhegtenisname ontsnap omdat hy elders besig was om telegraafkabels te lê. 1

Generaal Piet Cronje

De Wet het Scheepers se potensiaal raakgesien en hom in Mei 1901 tot kaptein van ’n verkennerskorps bevorder. Scheepers se voorstel dat Britse verbindingslinies (paaie en treine wat gebruik is om verbindings tussen verskillende dele van die leër te behou) verbreek word, het daartoe gelei dat die Boere tydens die Britse opmars van Bloemfontein na Pretoria ’n aantal suksesvolle roofaanvalle op Britse militêre treine uitgevoer het. 1

Scheepers was by De Wet toe die Boere op 15 Julie uit die Brandwaterkom ontsnap het. Daarna is hy Lindley toe om burgers daar aan te spoor. Terug by De Wet het Scheepers (en Danie Theron) se verkenningswerk De Wet in staat gestel om in Julie en Augustus 1900 Britse kolonnes (kleinerige groepe soldate wat die Boere probeer vang het) in die Oos-Vrystaat en in die Transvaalse Magaliesberge te ontwyk. Hierna is hy terug Vrystaat toe, waar hy baie burgers wat oorgegee het, oorreed het om weer te veg.

Danie Theron

Gedurende hierdie tydperk het hy ook keer op keer die  spoorverbindings noord van Kroonstad verbreek. 1

Vanaf die einde van 1900 het die Boere, waaronder Scheepers, met ’n aantal kleinerige kommando’s die Kaapkolonie binnegeval. Oor die volgende tien maande was hulle bedrywig in ’n gebied van die Oranjerivier in die noordooste tot by die Indiese Oseaan in die suidooste, meestal rondom Graaff-Reinet en Cradock. Scheepers se magte is aangevul deur Kaapse rebelle. Hulle was almal Kaapse burgers – en dus Britse onderdane – wat gekies het om aan Boerekant te veg.

Die Boere was só effektief dat die Britte verplig was om hul troepe uit die Boererepublieke te onttrek om teen die kommando’s rondom Graaff-Reinette kom veg. Scheepers is in Maart 1901 tot kommandant bevorder, maar die amptelike nuus daarvan het hom eers in Augustus bereik. 1

Vanaf 20 Julie 1901 het Scheepers begin om, as teenmaatreël teen die verskroeideaardebeleid, die plaaswonings van mense in die Kaapkolonie wat die Boere vyandiggesind was, af te brand. Hy het ook opdrag gekry om gewapende swart mense wat hy gevang het, en wat volgens hom spioenasie gepleeg het, tereg te stel – met ander woorde, met die dood te straf. 1

Sharwood se winkel in Murraysburg, Wes-Kaap provinsie, voormalige Kaapkolonie, Suid-Afrika. Verbrand deur Gideon Scheepers in 1900.

Siekte en inhegtenisname

Scheepers was teen die einde van September 1901 in die Klein Karoo bedrywig toe siekte, vermoedelik longontsteking, hom begin teister het. Dit het hom naderhand so verswak, dat hy nie verder kon veg nie. Op 10 Oktober 1901 het hy sy kommando oorreed om hom, teen hul sin, op die plaas Koppieskraal in die distrik Prins Albert agter te laat, sodat hy deur die Britte krygsgevange geneem kon word in die hoop dat hulle goeie mediese behandeling aan hom sou verskaf. 3

Scheepers het ’n dagboek gehou, en oor die insident geskryf: “Een burger na die ander kom in, huilende. Rondom my bed staan my offisiere en manskappe almal diep bewoë … My adjudant, Karl Rehmkühl, ’n jongeling van 16 jaar, so dapper en braaf as wat mens maar van kan droom, lê met sy kop op my bors, snikkende. Dit is oorbodig om te sê dat die trane langs my wange afrol.” 4

Gideon Scheepers, Beaufort-Wes

’n Britse kolonne het hom op dieselfde dag gevange geneem. Hy is vriendelik deur die Britse dokters en verpleegsters behandel. 3 Hulle het hom eers na die Matjiesfontein-hospitaal geneem, en toe na die tronk in Beaufort-Wes. 1 Hier was hulle so bekommerd dat hy kon ontsnap, dat hy alleen in ’n groot tent aangehou is, omring met ’n doringdraadheining van 24 drade, asook wagte met bajonette (’n steekwapen/lem wat vooraan ’n geweer vasgesit is). 3

Van Beaufort-Wes is Scheepers per trein na Graaff-Reinet geneem, maar hy het op pad so siek geword dat hy eers in Noupoort in die hospitaal opgeneem is. Nadat hy herstel het, is hulle Graaff-Reinet toe waar hy in die tronk opgesluit is. 1

Hofsaak en teregstelling

Scheepers was ’n Transvaalse burger, en ná sy inhegtenisname deur die Britte dus ’n krygsgevangene. Daarvolgens kon die Britte hom aanhou, maar nie straf nie. Die Britte het egter besluit om hom aan te kla dat hy die bepalings van die krygswet (’n wet wat slegs gedurende die oorlog toegepas is) in die Kaapkolonie oortree het. 3

In Graaff-Reinet het hy dus voor ’n militêre hof verskyn. Hy is aangekla van moord, brandstigting, vernietiging van treine, en mishandeling van gevangenes. Die hof het sy saak in die verhoor, wat by tye deur sy siekte onderbreek is, op 28 Desember 1901 afgesluit. Hy is skuldig bevind en ter dood veroordeel. Die Britse opperbevelvoerder, lord Horatio Kitchener, het die besluit op 14 Januarie bekragtig (sy goedkeuring daaraan gee en dit wettig gemaak).

Scheepers se verhoor in Graaff-Reinet

Die vonnis is op 17 Januarie op die openbare plein in Graaff-Reinet in Scheepers se teenwoordigheid aangekondig. 1

Scheepers het gedurende die verhoor en vonnis groot moed en kalmte aan die dag gelê. 1 Hy het agterna in sy dagboek geskryf: “Ek voel geheel en al nie bevrees nie. Ek is net jammer vir my dierbare moeder … my grootste troos is dat ek onskuldig is.” 3

Scheepers is die volgende dag, 18 Januarie, na ’n veld buite die dorp geneem sodat sy teregstelling nie deur ’n skare bygewoon kon word nie. Hy is op ’n stoel vasgemaak, geblinddoek, en toe deur ’n vuurpeloton doodgeskiet. 3  Hy was slegs 23 jaar oud.

Scheepers is eers op die plek waar hy geskiet is begrawe, maar is nog dieselfde nag deur Britse troepe opgegrawe uit vrees dat sy kommando sy liggaam sou probeer terugkry. Daarna is hy op ’n onbekende plek herbegrawe, moontlik in die bedding van die Sondagsrivier. 1

Sy lyk is nooit gevind nie.

Doodsvonnis word oor Scheepers uitgespreek

Impak van sy teregstelling

Scheepers het ongetwyfeld die aktiwiteite waarvoor hy aangekla is, uitgevoer. Sy verdediging was dat hy bevele uitgevoer het, presies soos honderde Britse soldate gedoen het – en vir hulle was daar geen gevolge nie! Daar is ook gevra of ’n Britse militêre hof die reg gehad het om die doodsvonnis uit te spreek oor ’n Boere-krygsgevangene wat nie ’n Britse onderdaan was nie. 1

Scheepers se teregstelling het tot groot verontwaardiging in Suid-Afrika en oorsee gelei. Baie Afrikaners het die Britte van moord beskuldig. 1 Scheepers se teregstelling – ten spyte daarvan dat hy nie ’n Britse onderdaan was nie en boonop ’n gesiene offisier – het sommige Britse parlementslede laat twyfel oor die behoorlikheid van die militêre howe in Suid-Afrika. 5

Selfs in die VSA is daar voor sy teregstelling gepleit dat hy nie tereggestel moet word nie. Dit was egter alles tevergeefs. 1

Kommandant Gideon Scheepers was ’n intelligente man wat dapper vir sy mense geveg het, maar is later van sy regte en rangorde gestroop, wreed tereggestel en in ’n onbekende graf gegooi. 1

Inligtingsbord langs die gedenknaald ter nagedagtenis aan kmdt. Gideon Scheepers aan die grens van die Camdeboo Nasionale Park buite Graaff-Reinet.

Persoonlike lewe

Scheepers het nie getrou nie, maar was ten tye van sy dood verloof aan Johanna Scheepers (nie ’n bloedverwant nie). 1 Nadat hy in 1895 by die Staatsartillerie aangesluit het, het hy sy studies voortgesit. Hy het hom toegespits op die studie van tale: Engels, Duits en Frans. Sy dagboek getuig daarvan dat hy goed kon skryf en ’n groot liefde vir die natuur gehad het. 1 Die Boere het verskillende tale geskryf en gepraat. Die spreektaal op kommando was Afrikaans, maar goed geleerdes soos Scheepers het in Nederlands geskryf. 4

Hy was een van die mees onverskrokke, waaghalsige en begaafde guerrillaleiers wat die oorlog opgelewer het. Die hoë aansien wat hy onder sy manskappe gehad het, het hom in staat gestel om ’n gedugte vegeenheid te vorm. 3

Woordbank

aanleg Talent; baie bekwaam om iets te doen.
Staatsartillerie Die groot geskut (kanonne, ens.) van ’n leër.
bajonette ’n Steekwapen wat vooraan ’n soldaat se geweer vasgesit word.
bekragtig Dit wettig maak; jou goedkeuring daaraan gee/heg.
bespied Noulettend waarneem; afloer; spioeneer.
bevorder Aan iemand ’n hoër rang gee.
heliografis Iemand wat met ’n spieël waarmee boodskappe gesein wor (seinspieël), werk.
kolonnes Soldate in ʼn kleinerige groep.
verkennerskorps Afdeling van ’n strydmag.
krygsgevangene ʼn Soldaat wat deur die vyand gevang en opgesluit word, meestal in ʼn krygsgevangenekamp.
krygswet Daardie wette wat gedurende ’n oorlog in gebruik is.
martelaar Iemand wat bereid was om vir sy/haar oortuigings of ‘n goeie saak te sterf en daarvoor bewonder word.
rebelle Iemand wat teen sy/haar land se wettige regering veg.
teenmaatreël Stappe om die (moontlike) nadelige uitwerking/gevolge van iets te voorkom, dit af te weer of te verminder.
telegraaf Elektriese seintoestel waarmee boodskappe oor groot afstande oorgedra kon word.
tereg te stel Om iemand met die dood te straf.
verbindingslinie Paaie of ander middele wat gebruik kan word om verbinding tussen of kontak met verskillende leëreenhede te behou.
verontwaardiging Ergernis; ontevredenheid; misnoeë.
vuurpeloton ’n Klein groepie soldate wat op bevel ‘n aantal skote afskiet om iemand tereg te stel. 6

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Gideon Scheepers

Kyk hierdie fliek om nog meer te leer oor Gideon Scheepers

Kyk hier na ’n rolprent wat gebaseer is op Gideon Scheepers se omstrede lewe.

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 September 2022 | Bygewerk op 27 Februarie 2024