Vinnige feite

  • Florence en haar sister is albei vernoem na die stede in Italië waar hulle gebore is, naamlik Florence en Parthenope (dié stad staan vandag as Napels bekend). 2
  • Florence is “The Lady with the Lamp” (die vrou met die lamp) genoem in die oorlog tussen Brittanje en Rusland wat in 1854 begin het omdat sy in die nagte met ʼn lamp tussen die gewonde soldate rondgeloop het om hulle te verpleeg. 2
  • In 1844 het Florence na lande soos Egipte, Duitsland en Frankryk gereis om te kyk hoe verpleging in hierdie lande gedoen word. 7
  • Nadat Florence siek geword het en naderhand net in haar huis gebly het, het haar oë verswak totdat sy nie meer so baie kon lees en skryf nie. Sy het in hierdie tyd die geselskap van haar katte geniet vir wie sy baie lief was. 8
  • In die tyd toe Florence Nightingale jonk was, het mense nie geweet dat kieme en vuil hospitale siektes kan veroorsaak nie. 8
  • Internasionale Verpleegstersdag word op 12 Mei – Florence se verjaardag – reg oor die wêreld gevier. 9
Foto: iStock

Florence Nightingale het in ʼn tyd geleef waar sommige mense se gewoontes heeltemal anders was as waaraan ons vandag gewoond is. Haar ouers was ryk mense (welgesteld), en in daardie jare was dit tradisie dat jong meisies uit ryk en vername families nie regtig gestudeer het nie en ook nie nodig gehad het om te werk nie. [Lees hier meer oor tradisie.] Hulle kon die hele dag lank ontspan en wag totdat daar eendag ʼn man opdaag wat volgens hul ouers goed genoeg was om met hulle te trou en vir hulle te sorg!

‘n Skildery van Florence Nightingale en haar suster, Frances Parthenope (Parthe).

Florence het egter nie met dié siening saamgestem nie en het heeltemal anders opgetree as die meeste ander jong meisies van haar tyd. Pleks van partytjie hou en haar optof (mooi maak en duur klere dra), het sy boeke gelees en meer probeer leer. Florence se liefde om mense te help het haar nie net wêreldbekend gemaak nie, maar “die vrou met die lamp” (soos sy ook genoem is) se werk het die grondslag gelê vir die verpleegberoep (verpleegkunde) wat ons vandag ken.

Volgende keer wat jy in die hospitaal beland of dalk vir iemand in die hospitaal gaan kuier, kyk gerus om jou na hoe skoon dit is en hoe hard die verpleegsters werk om die pasiënte (die siek of beseerde mense in die hospitaal) te versorg. Dit is alles aan Florence Nightingale te danke!

Kinderjare

Florence is op 12 Mei 1820 in Florence, Italië, gebore. Haar ouers, William Edward Nightingale en Fanny Nightingale, was eintlik Britte, maar toe Florence gebore is, het hulle vir drie jaar in Italië gebly waar hulle vakansie gehou het. 1

Florence se pa was ʼn baie ryk man, want hy was die seun van ʼn baie suksesvolle bankier van Sheffield, Engeland. Haar pa het glad nie nodig gehad om te werk nie omdat hy so baie geld gehad het.

Items wat as kind aan Florence behoort het.

Die gesin het twee landgoedere (groot plase met spoggerige huise) gehad en het elke jaar dieselfde tye hier deurgebring: in die somer het hulle in Derbyshire gewoon en die res van die jaar was hulle in Hampshire, waar Florence se ma baie familie en vriende gehad het. Terwyl hulle in Hampshire was, het familie en vriende gereeld by die Nightingales kom kuier en partytjie hou. Florence en haar suster, Parthe, het nie nodig gehad om enigiets te doen behalwe om hulself mooi te maak en saam met al die gaste te kuier nie.

Vir Parthe was dit lekker om só te leef, maar Florence het glad nie daarvan gehou nie en het verkies om boeke uit haar pa se biblioteek te lees, pleks van om saam met die gaste te kuier. 2

‘n Brief van Florence Nightingale, gedateer 1883.

Liefde vir leer

Florence se pa het sy dogter gesteun met haar studies. Hy het self aan die Universiteit van Cambridge studeer, en het sy dogter onderrig gegee in geskiedenis en filosofie en haar boonop Grieks, Latyn, Frans, Duits én Italiaans leer praat. Tussen 12 en 16 jaar het Florence die soort onderrig gekry wat heeltemal ongewoon was vir jong meisies in daardie jare. In 1837, toe sy 17 jaar oud was, het die onderrig egter opgehou en moes sy weer verveeld rondsit.

Haar ouers wou glad nie hê dat sy verder leer (studeer) nie. Al waarvoor hulle toestemming gegee het, is dat sy siek en arm mense kon besoek. Dit was die gebruik (gewoonte) dat ryk mense sulke dinge doen vir liefdadigheid. Min het haar ouers toe geweet dat hulle daarmee gesorg het vir die loopbaan wat hulle dogter later sou volg en waarvoor sy beroemd sou word! 2

Florence die verpleegster

Florence het begin om arm en siek mense wat op haar pa se landgoedere gewoon het, te besoek. Eers het sy net klein kospakkies vir die siek mense geneem, maar later het sy begin om verpleegsorg ook te doen deur seker te maak dat die siek mense skoon en gemaklik was. Reeds in hierdie vroeë stadium het sy daaraan begin dink dat sy verpleging as beroep wou kies.

Later het sy siek familielede in hul huise gaan versorg. Haar ouers het toestemming gegee omdat hulle dit steeds as liefdesdiens beskou het. Toe sy egter 24 jaar oud was en vir haar ouers gevra het of sy vir drie maande verpleging by ʼn liefdadigheidshospitaal kon gaan studeer, was daar moeilikheid! Verpleegsters is toe beskou as niks minder as bediendes nie, en haar ouers kon glad nie dink dat hul dogter haarself so wou verneder nie.

Eers ná ʼn lang stryd en danksy die invloed en hulp van ʼn Britse amptenaar genaamd Sidney Herbert, het Florence se ouers haar toegelaat om met haar liefdesdiens voort te gaan. Sy moes egter skelm studeer omdat sy geweet het hulle sou dit nie goedkeur nie.

Eers toe sy 33 jaar oud was, het haar ouers uiteindelik ingestem dat sy by ʼn hospitaal kon gaan werk, waar sy die pos van superintendent (hoof) gekry het by ʼn nuwe inrigting genaamd die Institution for the Care of Sick Gentlewomen in Distressed Circumstances. 2

In 1854 het Brittanje by die Krimoorlog betrokke geraak. Florence het as ʼn verpleegster vir diens aangemeld, en sy is gevra om aan die hoof te staan van die verpleegsters wat oorlog toe sou gaan. Toe sy en 38 verpleegsters uit Brittanje in die destydse Scutari (vandag Üsküdar) in Istanboel, Turkye, aangekom het, het dit glad nie goed gegaan in die hospitaal waar die gewonde soldate gelê het nie. Alles was vreeslik vuil, daar was nie genoeg seep en verbande nie, en die pasiënte het nie genoeg kos en medisyne gehad nie.

Daar is meer pasiënte dood aan siektes soos cholera en maagsiektes wat hulle deur die haglike omstandighede in die hospitaal opgedoen het, as aan oorlogswonde. 3

Florence het geweet dat die soldate net gesond kan word as dinge beter gaan in die hospitaal. Sy en haar span verpleegsters het die hospitaal skoongemaak en ʼn kombuis begin. Hulle het ook die gewonde soldate goed versorg deur te sorg dat hulle skoon gewas word en goeie kos kry. Hierdie veranderinge het gemaak dat baie minder soldate in die hospitaal gesterf het. 4

Florence het ook die Britse soldate in Indië gehelp met die kennis wat sy in die Krimoorlog opgedoen het. Sy het nou geweet hoe gevaarlik kieme veral vir siek mense is, en sy het vir die mense in Indië raad gegee oor hoe belangrik dit vir mense is om skoon water te gebruik. Sy het nooit self na Indië gereis nie. 5

Hierdie werk van Florence tydens die Krimoorlog het haar beroemd gemaak in groot dele van die wêreld. Toe sy in 1856 van die Krimoorlog teruggekeer het, het sy ʼn groot bedrag geld by die Britse koningin gekry. Sy wou dit nie vir haarself hou nie en het dit gebruik om die St. Thomas-hospitaal te begin. Sy het as deel van die hospitaal ook ʼn opleidingskool vir verpleegsters op die been gering. 6

Met die kennis en ondervinding wat sy tydens die Krimoorlog opgedoen het, het sy ʼn baie lang verslag geskryf met die titel Notes on Matters Affecting the Health, Efficiency and Hospital Administration of the British Army. In hierdie verslag het sy raad gegee oor hoe militêre hospitale bestuur moet word, en dit het daartoe gelei dat die administrasie van hospitale van toe af heeltemal anders gedoen is. 6

Somme maak siekes gesond!

Florence het van jongs af in wiskunde belanggestel. Nadat sy gesien het hoe sleg dit vir pasiënte was om in vuil hospitale verpleeg te word, het sy haar bes gedoen om dit te verander. Daarvoor het sy syfers en statistieke gebruik om te verduidelik hoe belangrik goeie higiëne (om dinge altyd skoon te hou) in ʼn hospitaal is. Die diagram wat sy ontwerp het, is die Roosdiagram (“Rose Diagram”) genoem. Hierdie diagram het gewys hoe goeie kos, goeie ventilasie en ʼn skoon slaapplek siektes kan keer. 3

Met die steun van koningin Victoria het Florence met navorsing begin – waaraan twee belangrike statistici genaamd William Farr en John Sutherland ook gewerk het – om te kyk waaraan soldate doodgaan. Hulle het vasgestel dat 16 000 uit 18 000 soldate wat doodgaan, aan ander siektes as hul oorlogswonde sterf. 1

Hierdie navorsing het van Florence in 1858 die heel eerste vroulike lid van die Koninklike Statistiese Vereniging in Brittanje gemaak. 3 Sy het ook ʼn erelid van die Amerikaanse Statistiese Vereniging geword. 1

Beroepsbaanbreker

Vroeër jare se verpleegsters het nie dieselfde opleiding as hedendaagse verpleegsters ontvang nie. Hulle was meestal vroue wat linne gewas het, vuurgemaak en kos gekook het. Eintlik was hulle amper soos huiswerkers met geen kennis van siektes of medisyne nie. Dit is in die 1840’s ook glad nie as betaamlik (mense het dit nie so aanvaar nie) beskou dat vroue uit ryk en vername families verpleeg nie.

Florence het dit egter vir vroue moontlik gemaak om verpleging as ʼn beroep te beoefen en ʼn salaris daaruit te verdien. Die wêreld het ook begin aanvaar dat vroue uit enige klas van die samelewing (arm én ryk) kan verpleeg. Sy kan daarom voorwaar as ʼn baanbreker in dié beroep beskou word!  2

Haar laaste jare

Terwyl Florence in die Krimoorlog gewerk het, het sy siek geword, en sy het nooit heeltemal gesond geword nie. Toe sy net 38 jaar oud was, moes sy die meeste van die tyd by die huis en in die bed bly, maar sy het steeds met haar werk voortgegaan.

Mense soos politici het haar by die huis besoek om raad oor gesondheidskwessies te kom vra. In 1859 het sy die boek Notes on Hospitals geskryf om mense te leer hoe om hospitale op ʼn goeie manier te bestuur.

Terwyl die Amerikaanse burgeroorlog aan die gang was, het die Amerikaners byvoorbeeld by haar raad gevra oor hoe hulle veldhospitale moes bestuur. 1

In 1907 het sy die eerste vrou geword om die Britse Orde van Verdienstelikheid (British Order of Merit) te ontvang. Sy was toe 88 jaar oud. In Mei 1910 het sy op haar 90ste verjaardag ʼn boodskap van gelukwensing van koning George ontvang. 1

In Augustus 1910 het Florence siek geword en ʼn week later, op 12 Augustus, is sy in haar huis in Londen oorlede. Sy het vooraf gevra dat sy nie ʼn groot begrafnis wou hê nie, en haar familie het haar wense gerespekteer.

Die Florence Nightingale-museum is gebou waar die Nightingale-opleidingsentrum vir verpleegsters was. Daar is meer as 2 000 voorwerpe in die museum wat haar werk en lewe gedenk. Florence Nightingale sal vir ewig onthou word as die pionier van die moderne verpleegkunde. ʼn Ligdraer wie se lamp in donker tye vandag nog wêreldwyd skyn! 1

Die Florence Nightingale-museum.
Florence Nightingale (middel) in 1886 saam met haar klas verpleegsters van St. Thomas buite Claydon House, Buckinghamshire.

‘n Standbeeld ter ere van Florence Nightingale in Derby.
‘n Gedenkplaat van dié merkwaardige vrou by die Royal Edinburgh Hospitaal.
Die Florence Nightingale-belofte wat deur verpleegsters afgelê word.

Woordbank

beroep Die werk wat ʼn persoon, soos ʼn onderwyser, dokter, kunstenaar, predikant of verpleegster, doen.
Krimoorlog Die oorlog wat in 1853 tussen die Turkse Ryk en Rusland uitgebreek het.
liefdadigheid Om hulp te gee aan mense wat dit nodig het, soos om kos te gee aan mense wat nie kos het om te eet nie.
pionier Iemand wat vir die eerste keer iets nuuts doen, soos Florence die veld van verpleging heeltemal verander het.
statistici Iemand wat statistiek gebruik om hulle werk te doen en om dinge mee te bewys.
tradisie Gebruike en die manier hoe mense oor dinge dink wat van ouers na kinders oorgedra word.
veldhospitale Verplaasbare hospitaal (soos toegeruste tente) vir gewonde soldate en wat van een plek na ’n ander geskuif kan word. 
vername Wat hoë aansien geniet of belangrik is. 10

Lees hierdie om nog meer oor Florence Nightingale te leer

Kyk hierdie video’s om meer oor dié merkwaardige vrou te leer

Florence Nightingale se lewensverhaal

Stap saam met “Florence” deur die Florence Nightingale-museum

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 11 April 2023 | Bygewerk op 3 November 2023