Vinnige feite

  • Dit is nie net gelowiges nie, maar die ganse skepping sien met verwagting uit na die herskepping wat moet plaasvind (Rom 8:19). 15
  • Daarom is daar min sake waarna meer dikwels in die Nuwe Testament verwys word as die wederkoms. 15
  • Daar word alreeds na die opstanding van die dooies in die Ou Testament verwys. Volgens Jesaja 26: “Dié uit u volk wat gesterf het, sal weer lewe, Here, hulle sal opstaan. Word wakker en juig, julle wat in die doderyk is! Soos die dou lewe gee, gee u krag lewe, Here, die aarde sal hulle wat lankal gesterf het, lewend teruggee.” 28

Die wederkoms is die Christelike geloof dat Jesus weer na die aarde gaan terugkeer nadat hy omtrent 2 000 jaar gelede opgevaar het hemel toe. Christene glo Jesus gaan in glorie terugkeer, sy vyande oordeel en gelowiges beloon. 1 Dit sal dan ook die einde van die wêreld beteken, en die begin van God se finale koninkryk.

Wanneer gaan die wederkoms wees?

Die gelowiges wat in Jesus se tyd geleef het, het geglo dat Jesus nog in hul leeftyd gaan terugkeer. 1

In Matteus 16:27-28 sê Jesus: “Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterwe voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.” 2 Die apostel Paulus skryf in 1 Tessalonisense 5 aan die gelowiges dat hulle “gees, siel en liggaam … onberispelik (sonder foute) sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom.” 3

Daar is ook baie verwysings in die Nuwe Testament dat die koms van die Here in die tyd van die vroeë gelowiges al naby was. Só byvoorbeeld staan daar in 1 Korintiërs 7:29: “Die tyd is min,” 4 en in Jakobus 5:8 is geskryf: “Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here.” 5 Volgens Hebreërs 1:2 het die laaste dae aangebreek met Jesus se koms: “In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.” 6 Petrus sê volgens Handelinge 2:16-17: “… hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het: ‘Só sal dit in die laaste dae wees, sê God…’ ” 3 In 1 Korintiërs 10:11 staan: “Hierdie dinge het oor hulle gekom as ’n voorbeeld vir ons en is opgeskryf as ’n waarskuwing vir ons wat die einde van die tye al beleef.” 7 Johannes skryf aan die gelowiges in 1 Johannes 2:18: “Kinders, dit is die laaste uur.” 8

Voorts het die Bybel vele verwysings na die tekens wat die koms van die Here voorafgaan, soos die Antichris (vyand van die Christendom wat gelowiges glo in die laaste dae groot mag sal hê), die vervolging (om iemand onregverdig of wreed te behandel as gevolg van hulle geloof) van gelowiges, en die evangelie (die blye boodskap) van God wat aan alle mense verkondig is. 9

Volgens 1 Johannes 2:18-27: “Julle het gehoor dat daar ’n Antichris kom; en daar is nou reeds baie Antichriste. Daaruit weet ons dat dit die laaste uur is.” 7 Nog ’n teken is die vervolging van God se volgelinge, soos Stefanus in Handelinge 7:54, wat “uit die stad gesleep en gestenig is” (met stene/klippe doodgooi is) omdat hy gesê het: “Kyk, ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.” 10 In 2 Timoteus 4:17 skryf Paulus dat “deur my die prediking tot sy volle reg kon kom en al die heidennasies (mense wat nie aan God glo nie) dit kon hoor.” 11

Die Bybel stel dit duidelik dat dit nie moontlik is om te bereken (bepaal) wanneer die wederkoms gaan wees nie. Volgens Handelinge 1:7 het Jesus gesê: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie.” 12 In Matteus 24:36 sê Jesus: “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.” En in Matteus 24:44: “Julle [moet] ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur wat julle dit nie verwag nie.” 13 Petrus skryf in 2 Petrus 3:10 dat: “die dag van die Here sal so onverwags soos ʼn dief kom.” 14

Die tekens dat die wederkoms naby is, is almal in die tye van die vroeë gelowiges al vervul – en intussen al baie keer weer – en daarom glo Christene vandag dat die wederkoms enige oomblik kan gebeur en daarom moet Christene daarvoor reg wees. 15

Meeste Christene glo egter nie dat die doel van die tekens is om mense te help bepaal wanneer die wederkoms gaan wees nie, maar om gelowiges te herinner dat dit enige oomblik kan wees, en dat hulle dus altyd gereed moet wees. 9

Hoe gaan die wederkoms lyk?

In Handelinge 1:11 skryf Lukas dat twee mans in wit klere net ná die hemelvaart aan Jesus se dissipels gesê het: “Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.” 12 Jesus se Wederkoms gaan vol heerlikheid en triomf wees, in teenstelling met sy eerste koms, toe hy in ’n stal gebore is. 16

In 1 Tessalonisense 4:16-17 staan daar: “Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees.” 17

Matteus 24:30-31 beskryf: “Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn, en al die volke van die aarde sal verslae wees. Hulle sal die Seun van die mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit. Die groot trompet sal weerklink, en Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af.” 13

Die doel van die wederkoms

Christene glo dat alles ná die wederkoms weer goed sal wees, omdat almal in God se koninkryk gaan woon.

Petrus skryf in 2 Petrus 3:10 dat: “Ons leef in die verwagting van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wat God belowe het, en waar die wil van God sal heers”. 14 In Hebreërs 9:28 staan daar: “As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag. 18

Die doel van die wederkoms is om hierdie nuwe wêreld aan te kondig en in te lei. Dit word gedoen deur twee gebeure: die opwekking van die dooies en die finale oordeel. 19

Opwekking van die dooies

Die wederkoms moes die gelowiges gered het van vervolging en ’n finale oorwinning oor Christene se vyande bring. Dit het egter naderhand vir die vroeë gelowiges duidelik geword dat die Here nie in hul leeftyd sou terugkeer nie. Maar baie mense wat redding verdien het, veral dié wat vir hul geloof gesterf het, was nou dood en daarom moes hulle dink oor wat met dié mense sou gebeur wat gesterf het voor die wederkoms. Die Christelike geloof is daarom dat met die wederkoms die dooies opgewek sal word sodat alle gelowiges God se Koningkryk kan ingaan. 20

Christene glo dus nie dat die dood die einde is nie. Hulle glo in die onsterflikheid van die siel en lewe ná die dood. 21 Dit word in die Bybel so deur Jesus verduidelik in Johannes 11:25: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. 22

Christene glo dus dat wanneer die Here uit die hemel neerdaal, sal die gelowiges wat gesterf het, eerste uit die dood opstaan.

In 1 Tessalonisense 4:15-17 staan daar: “Dit sê ons vir julle op grond van wat die Here gesê het: Ons wat bly lewe tot met die wederkoms van die Here, sal die ontslapenes (diegene wat gesterf het) hoegenaamd nie voor wees nie. Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet.” 17

Die finale oordeel

Christene glo dat God die regter oor sy skepping is, soos in Handelinge 10:42: “[Jesus] is deur God aangestel … as Regter oor lewendes en dooies,” 23 en Jakobus 4:12: “Daar is egter maar een Wetgewer en Regter, en dit is Hy wat die mag het om te red en te verdelg.” 24 Hy besluit of mense waardig is van beloning (hemel) of straf (hel). 21

Daar is twee bekende verduidelikings oor wat tydens die finale oordeel gaan gebeur, een die gelykenis van die skape en die bokke in Matteus 25 en die tweede die verduideliking van Johannes in Openbaring 20:

Matteus 25:31-46 (1983-vertaling)

31 “Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit. 32 Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei soos ‘n wagter die skape van die bokke skei. 33 Die skape sal Hy regs en die bokke links van Hom laat staan.

34 “Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, 35 want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My gehuisves; 36 Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.’ 37 Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? 38 En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee? 39 Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’ 40 En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’ ”

41 “Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is, 42 want Ek was honger, en julle het My niks gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink nie; 43 Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My nie gehuisves nie; sonder klere, en julle het My nie klere gegee nie; siek en in die tronk, en julle het My nie versorg nie.’ 44 Dan sal hulle ook antwoord: ‘Here, wanneer het ons U honger of dors of ‘n vreemdeling of sonder klere of siek of in die tronk gesien en U nie gehelp nie?’ 45 En Hy sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.’ 46 En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe’.” 25

Debat

Soos wat dit soms gaan met geloof, glo verskillende Christene verskillende dinge oor die wederkoms. Sommige Christene glo dat Jesus tydens die wederkoms in sy fisieke liggaam na die aarde sal terugkeer. Ander glo nie dat dit ’n fisieke gebeurtenis gaan wees nie, maar eerder iets wat die wederkoms simboliseer, soos ’n weerligstraal. 21

Sommige Christene glo dat mense se siele geoordeel word die oomblik as hulle doodgaan, en hierdie siele gaan reguit hemel of hel toe. Tydens sy kruisiging sê Jesus vir een van die misdadigers wat langs hom hang: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” 26 Dit is moontlik dat hierdie siele weer tydens die finale oordeel geoordeel gaan word. Ander Christene glo dat alle siele wag tot die oordeelsdag, wanneer almal saam geoordeel word. 21

Betekenis van die wederkoms

Omdat die vroeë Christene so swaar gekry het, het hulle intens na Christus se wederkoms uitgesien. Tot vandag toe is daar soveel ellende (toestand van groot ongelukkigheid) en onreg op aarde dat mense nie kan vrede vind nie, en dus God ook nie. 15 Gelowiges weet nie wanneer en presies hoe die wederkoms gaan gebeur nie, maar die Bybel maak dit duidelik dat dit wel gaan gebeur. Dit gaan die einde van die sonde wees en die begin van ’n ewige heerlikheid waar gelowiges altyd in God se teenwoordigheid gaan wees. 19 As die kerk en Christene swaarkry, beloof die wederkoms dus dat daar ’n einde aan die lyding gaan wees. 16

Die idee dat die mens nie weet wanneer die wederkoms gaan wees nie, kan vertroostend wees, want dit beteken die wederkoms is onafhanklik van wat mense doen. God is in beheer van die geskiedenis, en onder sy bestuur sal daar die wonderlike klimaks van die wederkoms wees. 16

Die dood is dus nie die einde nie. Met die wederkoms sal mens die onsterflikheid waarmee God hom geskep het, herwin. 16 Die gevolge van die sonde op die menslike liggaam – siekte, pyn en hartseer en die dood self – sal finaal iets van die verlede wees. Dit staan ook so in Openbaring 21:4: “Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan. Toe sê Hy wat op die troon sit: ‘Kyk, Ek maak alles nuut’.” 27

Woordbank

Antichris Vyand van die Christendom wat gelowiges glo in die laaste dae groot mag sal hê, maar uiteindelik oorwin sal word deur Christus.
ellende ’n Toestand van groot ongelukkigheid.
evangelie Blye boodskap; leer van Christus.
heiden Iemand wat nie aan ‘n god glo nie en aan geen van die gevestigde godsdienste behoort nie.
onberispelik Sonder fout(e)/gebreke/ens.; waarmee geen fout gevind kan word nie.
ontslapene Iemand wat gesterf het.
stenig Met stene (klippe) doodgooi.
vervolg Iemand of ‘n groep wreed/onregverdig behandel, veral as gevolg van sy/haar/hulle godsdienstige of politieke oortuigings.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die wederkoms

Kyk hierdie videos oor die wederkoms, die Bybel en Jesus

Die wederkoms

Die geskiedenis van die Bybel

Gepubliseer op: 6 Desember 2023 | Bygewerk op 27 Maart 2024